Скачать книгу

      

      Lerina Erasmus

      Sondes

      van die vaders

      Human & Rousseau

      Opgedra aan

      Stefan-Pieter Schmikal

DEEL EEN

      Hoofstuk 1

      Junie 1985, Pretoria

      Dis nog pikdonker toe Hansie Roodt tien oor vyf sy fiets by die hek uitstoot. Die skarniere skree asof hulle ook die koue voel.

      Sy linkervoet is seer, al het hy dit gisteraand gebaai en pleisters opgesit. Dis die ellendige skoen. Hy weet hy moet dankbaar wees daarvoor; hy kon dit kry danksy ’n barmhartige Samaritaan se skenking twee jaar gelede toe Hansie nog in die weeshuis was. Noudat hy agtien is, is die skoen te klein. Hy sweer sy voete groei nog.

      Hy klim op die fiets en begin trap – met Proesstraat af na Potgieter, dan op, dan regs na waar die tronk is: Pretoria Sentraal Gevangenis, waar hy werk. Waar die terdoodveroordeeldes aangehou word. Hy trap al hoe meer gemaklik. Wanneer hy op sy fiets is, pla die voet nie.

      Dis hangdag. Sewe van hulle. Vier is swart politieke gevangenes – hulle het ’n polisiestasie probeer opblaas – en twee Indiërs wat aan hoogverraad skuldig bevind is. Daar is net een wit man: ’n moordenaar, Piet du Toit. Hy’t by Hansie gehuil toe hy sy kos vir hom gee. Die laaste aand se kos is die beste. Piet het gesê hy’s onskuldig, sy vrou het die vee-inspekteur gif gegee en die blaam op hom geplaas. Hansie wou weet hoekom, maar Piet het net harder gehuil.

      Hy het almal wat vandag uitgelei gaan word, leer ken tydens die weke wat hulle in die sekuriteitselle was. Die swart manne kan baie mooi sing. Hulle is trots en sê hulle sterf vir vryheid. Die Indiërs sê dieselfde. Hansie weet nie of enige van hulle regtig skuldig is nie. Verdien hulle om te hang? Hulle het hom altyd met respek behandel – niemand het eens verwys na sy voet, soos die bewaarders aanhoudend doen nie.

      Húlle hou nooit op om sy siel uit te trek nie, veral oom Kallie, onder wie hy direk werk. Oom Kallie sê altyd hy wil van hom ’n man maak. Hansie Horrelpoot, het hy hom gedoop, en toe val die ander daarby in. Hulle spot ook met hom omdat hy aan die huil raak wanneer hy in die gang af moet skree: “Baadjie en adres!” Dan weet almal wat daar ingehok is dat een of meer van hulle uitgehaal gaan word. Daarna word die ongelukkiges na die balju geneem, net om te hoor dat hulle appèl geweier is. Party van hulle, soos Piet du Toit, begin dan pleit, sy skuld ontken. Dit help alles niks nie. Almal word gemeet en geweeg vir die laksman se tou. Daarna moet die bewaarders die manne – een maal ’n vrou ook – begelei na die Pot.

      Dit is die plek waar hulle die laaste sewe dae deurbring. Die veroordeeldes noem dit die Pot, want hulle glo daardie hokke waarin hulle moet bly, is bedoel om hulle verder te laat stowe tot hangdag.

      Hel, nee, dis nie ’n lekker werk nie, maar wat anders kan hy doen? Hy’t net standerd agt en ’n horrelvoet. Hy het die aanvoerder al gevra of hy nie eerder in die tuin kan werk nie, maar die antwoord was nee. Swart manne werk in die tuin, nie wittes nie.

      By die tronk klim hy af en stoot sy fiets deur die groot hek. Dis vir hom mooi, die tuine. Selfs nou in die winter is die gras groen en staan daar bloedrooi kannas. Dis nie nou tyd om daaraan te dink nie. Hansie klim terug op sy fiets. Hy ry na die gebou doer agter, die vierverdieping tussen die groot sinkwatertenks. Dit is sy werkplek, daardie soort fabriek waar mense doodgemaak word. Sy oë begin brand en hy probeer homself wysmaak dis die koue wat hulle laat traan. Hy moet regkom voor die ander bewaarders dit dalk sien.

      ’n Paar minute later, op die kop halfses, is al die dagbewaarders in die stafkamer. Die laksman vir die dag is meneer Boet Erasmus – een van net drie in Suid-Afrika. Al drie bly glo baie besig.

      “Ons moet aan die werk kom, manne,” sê die hoofbewaarder. “Daar is baie te doen. Ek wil die spulletjie laat lug trap voor brekfis.” Die ander lag vir sy kwinkslag.

      Oom Kallie stamp aan Hansie. “Hoop nie jy beskyt jouself weer vandag sodat ek my vir jou moet skaam nie. Jy’t nog nooit soveel gedoen op een dag nie.”

      Hansie antwoord nie. Knik net. Sy adamsappel voel te groot vir sy keel.

      “Ou Hansie-huilbalie,” kom dit van Burger, en sy beste pel lag. “Miskien moet ons hom liewer Hannie noem – het jy ooit ’n peper, jong?” Hy knipoog in die rondte. “Kom ons trek sy broek af en kyk.”

      “Voertsek, man!” Hansie retireer vinnig, tot groot vermaak van die ander.

      Hy weet goed hy kom nie so rof soos hulle voor nie. Want hy is nie. Seker ook nie so manlik nie. Kan hy dit help dat hy sulke groot blou oë het, en dié sagte vel? Dan nog blonde krulhare ook. Die krul bly, al laat hy dit kort knip.

      Saam met oom Kallie en die vyf ander loop hy in die gang af na die Pot. Soos hulle nader kom, hoor hulle die gesing: “Nkosi Sikelel’ iAfrika”. Daniel Tembo, wat ook vandag gaan hang, het vir Hansie gesê dit beteken “God bewaar Afrika”. Sy oë begin weer brand en hy haal sy sakdoek uit sodat hy kan maak of hy net sy neus blaas.

      “Ek gaan jou wragtig opneuk as jy vandag weer begin grens,” sis oom Kallie.

      “Ek huil nie. Ek dink dis ’n verkoue.”

      Een van die nagwagte wat nou van diens af gaan kom, stap hulle tegemoet.

      “Die hele nag niks rus gekry nie. Die spulletjie sing nog heeltyd so. Mohale begin, dan val die ander in.”

      “Ons kyk maar of hulle nog sing as hulle die twee en vyftig trappe klim,” merk oom Kallie op.

      “Oukei, kêrels, ek boek af. Lekker hangdag vir julle.”

      “Totsiens, Smith.”

      “Komaan, dis twee minute voor ses,” kom dit van Burger. “Laat ons die spul hulle laaste gebedjies laat opsê.”

      Op die kop sesuur begelei die tronkbewaarders die sewe manne na die prisonierskapel. Hulle het sewe minute om te sit en bid. Hansie het al gehoor as hulle vinnig maak, kan hulle die Onse Vader sewe maal opsê.

      Sewe. Wat van sewe? Hoekom pla dit hom skielik? Dis asof die syfer in die lug voor hom hang, voor dit oplos en net die mense hierso oorbly.

      Elke bewaarder staan langs ’n veroordeelde; Hansie by die groot John Makoena. Die swart man sit baie stil en Hansie weet nie of hy bid of nie.

      “Tyd’s verby,” kondig oom Kallie dan aan met ’n gewyde stem. ’n Mens het tog respek vir die kerk en hy is buitendien al jare lank ouderling.

      Ses van die veroordeeldes kom orent, die swart manne en die Indiërs. Toe skree Makoena: “Amandla!” en die ander vyf politieke gevangenes antwoord met: “Awethu!”

      “Boei die spul!” bulder oom Kallie. “Ons wil nie spoils hê nie.”

      Hansie knip sy oë. Het hy ’n ander stem gehoor, een wat bekend geklink het? Wat het dit gesê?

      Ses van die mans hou hulle hande agter hulle rûe om geboei te word. Net Piet du Toit retireer.

      “Nee. Nee, ek is onskuldig! Ek sweer ek is. Die Here weet ek is!”

      “Nou, dan kan jy dit oor tien minute vir Hom gaan vertel,” antwoord oom Kallie.

      Dit verg twee bewaarders om Piet van die kerkbank los te trek sodat hulle sy hande agter sy rug kan boei. Hy het hulpeloos begin huil en hou so aan, al die pad na die trap toe.

      Daar is vier verdiepings se klim tot by die galgplatform, waar sewe galgtoue aan ’n staalbalk hang. Dit wil amper vir Hansie voorkom asof Makoena hom gretig saam by die trappe optrek. Dis Mohale wat weer daardie lied begin sing en die ander val by hom in.

      Aan die bopunt wag meneer Boet Erasmus reeds by die lessenaar met die swart telefoon. Dit is daar vir laaste begenadiging, maar Hansie het dit nog nooit hoor lui nie.

      Op die platform trek elke bewaarder ’n swart sak oor sy veroordeelde se kop. Die mans word begelei na die voetmerke wat op die vloer geverf is, elke paar reg onder ’n hanglus.

      Dis oom Kallie wat elke keer die

Скачать книгу