Скачать книгу

my is dit beslis dinge soos ’n mooi uitsig op my somertuin vol blomme. My swembad wat soos eilandwater lyk, en nie soos ertjiesop nie, verkwik ook my siel. So ook ’n paar jeans wat nog toezip ná die winter se bakke ryk poeding. En natuurlik ’n manuskrip wat uiteindelik ná harde werk voltooi word.

      Eintlik het ek ’n lang lys dinge wat my siel laat dans: ’n Kuier saam met familie of goeie vriende oor ’n bottel yskoue sjampanje en lekker kos. Mooi musiek wanneer ek deur die land reis. ’n Duik deur die branders. Die geluid van die see wanneer ek ’n skulp teen my oor druk. ’n Opregte smile. My worshond se liefdevolle oë.

      Die Here hou daarvan om sy kinders gelukkig te sien – omdat Hy vir ons lief is en ons belange op die hart dra. Tog sit baie van ons met hanggesigte en onvergenoegdheid in ons harte terwyl daar soveel gratis geskenke is wat ons kan verkwik. Staan op en kyk ’n slag met meer verwondering om jou rond.

      Gaan stap ’n slag deur God se gratis kunsgalery. Kyk na die blomme, die bome, die kleure van die lug. Kyk hoe die son skadu- en ligpatrone maak. Verkwik jou oë. Luister na die gratis simfonie van die wind, die reën, die voëls se gekwetter. Verkwik jou ore. Eet die vrugte en groente wat uit sy apteek kom en nie uit ’n fabriek nie. Verkwik jou lyf.

      Gaan besoek in die week alleen ’n kerkie iewers. Gaan sit daar en raak bewus van sy groot liefde vir jou. Verkwik jou siel in sy teenwoordigheid.

      Bruisgebed vir verkwikking: Vader, dankie vir al die gratis geskenke wat U vir ons gegee het en waarin ek my kan verlustig. Dankie dat dit elke dag my siel verkwik.

      Vitamien S

      Spore

      Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

      – Psalm 23:3

      Ons almal trap spore. Dit begin met ons eerste babaspoortjies, gevolg deur die onseker kinderspore, en dan deur die spore wat al meer selfversekerd raak namate ons sterker word en tot volwassenheid groei.

      Die skoene wat ons aantrek, gee ook vorm aan ons spore. Soms is daar ’n ry kaalvoetspore agter ons op die strand; ander kere die sagte afdruk van pantoffels of tekkies wanneer ons by die huis ontspan. Dan is daar ook die grand hoë hakkies wat ons aantrek om ’n goeie indruk te maak.

      Elke dag laat ons egter ook karakterspore agter ons. Ons skryf elke dag ons getuigskrif deur die innerlike “skoene” wat ons kies om aan te trek. Uiteindelik vorm hierdie karakterspore ons lewenspad en ons nalatenskap – dit wat ander van ons sal onthou.

      Hoe dink jy lyk jou karakterspore as ’n ligdraer in hierdie wêreld? Is dit standvastige spore wat brûe van hoop bou? Of is dit spore wat mense kwaad laat word of seermaak?

      Saam met ons Christenskap kom daar verantwoordelikhede, ook wat ons innerlike skoene betref. Hoe hanteer jy jou naaste? Dra jy skoene van vrede? Van eerlikheid en deursigtigheid? Van vriendelikheid, gasvryheid en bedagsaamheid? Sê jy asseblief en dankie? Kom jy jou beloftes na?

      Om ’n goeie karakter te ontwikkel en goeie maniere te hê gaan vir my hand aan hand met geestelike volwassenheid in Christus. Raak ’n oomblik stil by Hom en laat toe dat Hy jou modderige gumboots met goddelike skoene vervang. Laat toe dat Hy jou lei in die karakterspore van geregtigheid. Om sy Naam ontwil.

      Bruisgebed vir goeie spore: Vader, leer my. Leer my om my innerlike mens te ontwikkel en help my om te groei sodat my karakterspore al meer van u goeie en standvastige eienskappe sal getuig. Tot eer van u Naam.

      Vitamien V

      Vertroos

      U stok en u staf dié vertroos my …

      – Psalm 23:4

      Die stok en die staf was in die Bybelse tyd die gereedskap waarmee die herders hulle skape beskerm, gelei en beheer het. Die staf met sy kromming kon skape uit hindernisse soos doringbosse loshaak. Die herder het sy staf ook gebruik om skape te dissiplineer en te vang en swak lammers op te tel om hulle teen sy bors vas te druk. Die herder het sy stok gebruik om roofdiere te verjaag en só sy skape teen aanvalle te beskerm.

      Moses het sy staf ook gebruik om die wonderwerke van God aan die volk te demonstreer. Paulus het gesê die Woord is ons wapen en ons moet dit gebruik om ons toe te rus en te vertroos op ons lewenspad.

      Vandag nog is hierdie stok en staf beskikbaar wanneer ons die Boek van Lewe elke dag oopslaan. Daar is baie vertroosting in die Boek van die goeie Herder. Ook beskerming, dissipline en toerusting vir ons pad deur die wildernis.

      Voel jy dalk vandag soos ’n skaap wat verdwaal en in die woestyn of wildernis beland het? Soek jy al ’n geruime tyd tevergeefs jou pad huis toe? Voel dit of jy verstrengel geraak het in hakiesdraad en nie kan loskom nie?

      Nader tot God en sit genoeg tyd opsy om sy Woord te lees en te bestudeer. Vra dat sy Heilige Gees jou vertroos. Sy Woord is ’n kragtige en vertroostende bron van hoop en bemoediging, elke dag. Lees dit met toewyding. Daarsonder kan jy nie staande bly nie. U stok en u staf die vertroos my.

      Bruisgebed vir vertroosting: Dankie, Vader, dat U my op verskeie maniere bemoedig en vertroos. Dankie vir u Woord wat daar is as u stok en u staf wat my beskerm en lei.

      Vitamien T

      Tafel

      U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders.

      – Psalm 23:5

      Die tafel is soveel meer as ’n funksionele meubelstuk om goed op neer te sit. Of by te gaan sit en ’n bak rice crispies haastig te eet. Die tafel is vandag die simbool van die hart van vriendskap – van samesyn, gasvryheid en omgee.

      Op die TV is daar ’n hele paar leefstylprogramme waar kenners jou touwys maak oor hoe om jou tafel nog mooier en geselliger te laat lyk vir jou genooide gaste. Elke jaar is die tafels en die koswenke al meer ’n kunswerk en ’n lus vir die sintuie.

      Tog is daar baie mense wat verwerp word en nie na feestafels toe genooi word nie. Mense wat week ná week eensaam by hulle eie tafeltjie aansit, terwyl ander se tafelpote omtrent swik onder die oorvloed.

      Vir hierdie weeskinders van die samelewing wil ek vandag herinner dat daar wel ’n tafel vir jou voorberei is – die Feestafel van alle feestafels. Jy is as eregas uitgenooi na die feestafel van jou Vader.

      By hierdie tafel is jy altyd geliefd en baie welkom. Die atmosfeer is vol blydskap, aanvaarding en deernisvolle liefde. Hierdie feestafel, gedek met die vrug van sy Gees, word vir jou voorberei vlak voor die oë van jou teenstanders, dié wat jou verwerp het, dié wat gerieflikheidshalwe van jou vergeet het. Die Vader wys doelbewus vir jou vyande dat jy by ’n baie groot ewigheidstafel bederf word.

      Is dit dalk tyd dat jy ’n verstoteling na jou tafel toe nooi? Want wat jy ook al aan ’n mens hier op aarde doen, doen jy immers vir die Here in die hemel.

      Bruisgebed vir samesyn: Dankie, Vader, dat U my, ’n sondaar, met warm liefde uitnooi na u tafel vir ’n feesmaal. Help my om met gasvryheid uit te reik en gereeld uiteenlopende mense na my tafel toe te nooi vir ’n feestelike samesyn. Tot eer van u Naam.

      Vitamien O

      Olie

      U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

      – Psalm 23:5

      In Ou Israel was olie iets wat vir herders baie nuttig was. Olie is veral vir drie dinge gebruik: om insekte wat die skape kon irriteer weg te hou; om ’n bakleiery tussen ramme wat in die paarseisoen koppe stamp stop te sit, en om wonde te help gesond maak.

      Skape verstaan nie hoe die olie die insekte kan verjaag, hoe die olie wonde gesond kan maak of ’n infeksie kan verhoed nie. Al wat ’n skaap weet, is dat daar iets goeds gebeur wanneer die herder hom met olie behandel.

      Die goeie Herder wil al sy kinders met olie behandel sodat ons lewe op koers kan kom. Die Woord wys dit vir ons.

      Jesus het simbolies olie oor sy dissipels se

Скачать книгу