ТОП просматриваемых книг сайта:
Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer
Читать онлайн.Название Bruistablette vir die lewe
Год выпуска 0
isbn 9780796320506
Автор произведения Susan Coetzer
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Jesus het mense se wonde genees. Hy het blinde oë oopgemaak en melaatsheid weggeneem. Hy het mense uit die dood opgewek en Nikodemus se soekende hart tot rus gebring. Hy het in Saggeus se ontvanklike hart ingegaan en Maria Magdalena se stukkende hart heelgemaak.
Hy het Paulus se hardkoppigheid genees en Petrus se voortvarendheid laat bedaar sodat hulle albei sy evangelie met oorgawe kon verkondig. So het Hy almal se hoofde vet gemaak met olie.
Gaan vandag na Hom toe met jou teleurstellings, jou wonde, jou irritasies, jou koppigheid. Gaan na Hom toe met die nederigheid van ’n skaap. Vertrou Hom as jou herder. Laat toe dat Jesus jou hoof vet maak met sy genesende olie sodat jou lewensbeker kan oorloop.
Bruisgebed vir genesing: Liefdevolle Vader, ek kom in nederige afhanklikheid en met verwagting na U toe. Ek onderwerp my aan u heilige werking in my lewe sodat u genesing in my gees kan bring.
Vitamien G
Goedheid
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe …
– Psalm 23:6
Wat verstaan jy onder God se goedheid en guns? Is dit ’n nuwe motor? Dalk ’n oorsese vakansie? Is dit daardie verhoging in jou salaris? ’n Beter posisie by die werk? Of is dit meer innerlik? Vriende wat jou ondersteun? Mense wat jou koester? Mense wat jou liefhet?
Of dink jy goedheid en guns beteken jy sal nooit deur korrupsie, kapings en rooftogte, siektes, armoede of pyn geraak of beproef word nie? En al wat jy in ruil daarvoor moet doen, is om jou kant skoon te hou, opreg voor die Here te leef en ander mense goed en reg te behandel. Met ander woorde, as jy ’n soet en voorbeeldige kind van die Here is, sal die somme in jou guns klop.
Ongelukkig nie altyd nie.
Ek weet van opregte gelowiges wat deur rampe getref is. Dink maar aan Job. Slegte dinge gebeur ook met goeie mense. En goeie dinge gebeur met goddelose mense.
Ons verstaan nie altyd die Here se paaie nie – ook nie die paaie van mense vir wie ons met goedheid en guns oorlaai, maar wat ons nie met dieselfde goeie hand kaarte beloon nie.
Ek verkies om te glo soos ’n kind – om nie te veel vrae te vra nie. Ek bid vir sy beskerming en guns – en kies om goed te doen, om sy Naam ontwil. Ek glo sy goedheid en guns het ewigheidswaarde en strek verder en wyer as ons tydelike idee daarvan hier op aarde. Ek glo die Here se goeie en gunstige teenwoordigheid is altyd by my. Dit is ’n bruistablet vir my soms onstuimige gemoed.
Bruisgebed vir die gemoed: Almagtige Vader, ek glo u goedheid en guns is altyd in my en rondom my, in alle omstandighede. Dit strek tot in alle ewigheid. Help my om vas te hou hieraan, al verstaan ek dit nie altyd nie.
Vitamien H
Huis
En ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.
– Psalm 23:6
Huise fassineer my. Jare gelede was dit een van my stokperdjies om Sondae na skouhuise te gaan kyk – sommer net om te kyk en te droom. Vandag is ek bevoorreg om ’n verband op twee huise te hê – een in die stad en een by die rivier.
As kreatiewe mens is dit vir my belangrik om my huis so mooi moontlik in te rig – ook my tuin. Wanneer iets breek, glo ek daarin om dit dadelik reg te maak. Ek woon en werk in my huis en dis my veilige hawe. Daar is skilderye teen die mure om my omgewing te verfraai. Ek speel ook graag musiek wat my gees streel. Daar is gewoonlik iewers vars blomme in ’n blompot.
My huis is egter nie net vir myself met liefde en sorg ingerig nie. Dit is net so belangrik vir my om ander mense tuis en welkom in my huis te laat voel. Daar is ’n muurbord voor my voordeur wat sê: Welkom. Dieselfde woord is op my deurmatjie: Welkom.
Hoe lyk jou huis? Dink jy mense voel welkom wanneer hulle by jou huis instap?
Ek glo die Vader berei vir sy kinders die heel mooiste ewige huis voor. Dalk nie gevul met leerbanke en duur skilderye nie, maar beslis met engelesang en die vrug van sy Gees wat ons welkom heet.
Mag ons aardse huise daarom bowenal gevul wees met sy omgeeliefde wat sê: Hier is jy welkom, sodat dit ’n hawe vir elke besoeker kan wees.
Bruisgebed vir huisbewoners: Vader, dankie vir u ewige huis gevul met liefde. Help my as u kind om hier op aarde my gaste altyd met u gasvryheid en liefde te behandel en hulle welkom te laat voel in my huis. Tot eer van u Naam.
Vitamien F
Familie
As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.
– Romeine 12:10
’n Mens kan ongelukkig nie jou bloedfamilie kies soos jy meubels versigtig uitsoek om jou lewe te verfraai nie. Jy kan bloedfamilie ook nie omruil vir ander wat vir jou mooier lyk nie. Jy kan hulle meestal ook nie verander nie. Hulle is wat hulle is. Jou bloedfamilie.
Familie is soos ’n paar uitgetrapte skoene – hulle is nie perfek nie, maar ten minste ken jy hulle en voel hulle meestal (redelik) gemaklik. Familie is soos jou vel – deel van jou bloudruk. Hulle deel jou historiese erfenis en dit kan ons nooit ontken nie.
Liefdevolle familiebande is seker die heel positiefste invloed in enige mens se lewe. As jy goeie en sterk familiebande het, is dit iets wat jy nooit as vanselfsprekend moet ervaar nie. Maak seker jy hou hierdie kosbare verhoudings in stand deur genoeg tyd en liefde in jou familie in te ploeg.
Daar is so baie families wat om verskeie redes verdeel is en deur pyn en skeuring gaan. Mense wat week ná week in afsondering leef, sonder die liefdevolle ondersteuning van familie.
As jy ’n weeskind is wat smag na ondersteuning, word jy genooi om deel te word van God se groot geloofsfamilie. Besoek verskillende gemeentes en kyk waar jy die gemaklikste voel. Geestelike familielede kom ongelukkig ook nie altyd met ’n paar vlerke en ’n halo nie. Neem jou egter voor om binne enige familie, bloedfamilie óf geestelike familie, bruisende verhoudings eerder as giftige verhoudings te bou – om sy Naam ontwil.
Bruisgebed vir familielede: Dankie, Vader, vir die voorreg van familie. Help my om gereeld genoeg tyd en energie af te staan om hegte verhoudings met my bloedfamilie en/of geloofsfamilie te bou. Tot eer van u Naam.
Vitamien M
Ma
Maar die ma van die lewende kind roep toe uit: “Nee, my heer! Gee dan liewer die lewende kind vir haar, maar moenie hom doodmaak nie!”
– 1 Konings 3:26
Leef jou ma nog? Is jy dalk self ’n ma? Of dalk reeds ’n ouma?
Ek verstom my aan ma’s en het groot respek vir die wonderbaarlike verhale oor ma’s se liefde en opoffering. Dit is vir my snaaks dat daar nie meer ma’s in ons land ontvoer word nie, want ma’s is so kosbaar!
Dink maar aan al die skoene wat ’n ma elke dag aantrek: Sy is ’n dokter, ’n sielkundige, ’n onderwyseres, ’n taxibestuurder, ’n handyman, ’n bemoediger, ’n kitsbank, ’n koshuis, ’n wasmasjien, ’n trooster, ’n cheerleader, ’n Moeder Teresa – all in one.
’n Ma se hart is XXXXXL – baie groter as ’n Great Dane se hart. Groter as ’n kerkgebou. Groter as ’n sirkustent. Groter as Kilimanjaro of Mount Everest.
Jy kan ’n ma se hart nie in kilogramme of kilometers meet nie. Haar liefde het geen einde nie en ken geen perke nie. Sy is ’n voorbidder en ’n slaansak vir haar kinders deur al die stadiums van hulle lewe heen – van die nat, stink doeke tot by testosteroon en ander hormone wat handuit ruk.
Die woordeboek sê ’n mens spel ma só: m-a. Die regte spelling, dink ek, is egter: l-i-e-f-d-e. Onvoorwaardelike agape-liefde, omgeeliefde.
Bring eer aan jou ma terwyl sy nog leef. Koester jou herinneringe aan haar as sy nie meer leef nie. Haar