Скачать книгу

lewe was nog nooit volmaak nie. Agter my lê vele glasskerwe, trane, woede, ontnugtering, pyn en mislukkings. Tog kan ek vandag met ’n smile sê: “’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”

      Mooi ken die pynlike snykant van mislukking. Mooi ken lyding, verlies, verwerping en worsteling. Mooi mense het daarin geslaag om hulle pad uit hierdie donker laagtes terug te vind na die Lig.

      Hierdie mooi mense is vir my ’n inspirasie. Hulle het ’n dieper waardering, ’n groter sensitiwiteit en ’n besonderse begrip vir die lewe. Hulle terugslae het hulle nie innerlik lelik gemaak nie, maar juis mooier. Hulle is die ware ligdraers in die samelewing wat empatie, ’n sagte gees en opregte liefdevolle omgee uitstraal.

      Mooi mense gebeur nie net nie. Hulle word mooi geslyp deur die lewe se kishoue.

      Bruisgebed vir mooi mense: Vader, ek onderwerp my aan u slypproses en onderneem om elke stukkie van my lewe te gebruik om ’n mooi mosaïekprent te vorm. Tot eer van u Naam.

      Vitamien G

      Getrou

      Toe sê sy eienaar vir hom: “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel.”

      – Matteus 25:21

      Baie mense nader my vir raad oor hulle loopbaankeuses. Hulle wil weet hoe hulle ’n aktrise, ’n skrywer of ’n motiveringspreker kan word. Hoe kan hulle inkom? Wat moet hulle doen? Wie moet hulle bel? Het ek dalk wenke? Ken ek dalk die regte mense wat ’n paar toutjies vir hulle kan trek om hulle (vinniger) te help?

      Ek self het as jong meisie niemand geken wat my kon help “inkom” as aktrise nie. Ek het ná my studiejare van Kaapstad af Johannesburg toe getrek en letterlik nie ’n siel daar geken wat my kon help of ’n deur vir my kon oopmaak nie.

      Jare later het ek steeds nie baie konneksies met mense in invloedryke posisies nie. Hoe het ek dan op die map gekom – as aktrise, skrywer, skilder en spreker? My antwoord is eenvoudig.

      Die Vader vertrou aan ons elkeen talente toe om te bestuur. Party mense is ’n oornagsukses – ek was nie. My karakter is eers getoets in klein en onbelangrike en ondankbare werkies wat ek getrou moes doen. Ek glo die Here het my getrouheid in die kleine én my geduld en geloof in sy tydsberekening en beplanning raakgesien. Vandag is ek geseën met nuwe talente en gawes waarvan ek nie eens bewus was nie. Hy het my promote en my grondgebied vermeerder.

      Sukkel jy om ’n deurbraak te maak? Probeer die bruistablet van konsekwente getrouheid met geloof en geduld inspan.

      Bruisgebed vir sukses: Vader, dankie vir alles wat U aan my toevertrou. Ek onderneem om getrou te wees in elke dingetjie wat U aan my toevertrou. Ek vertrou dat U my op die regte tyd sal bevorder. Tot eer van u Naam.

      Vitamien V

      Vol

      “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.”

      – Matteus 12:34

      Ons almal is vol van iets. Waarvan dink jy is jy oorwegend vol? Nie op die oppervlak nie, maar diep binne-in jou hart.

      Die mens se hart is soos ’n dam, en ’n dam wat vol is, oorstroom sy walle. Raak bewus van die woorde en onderwerpe wat oorwegend by jou mond uitkom wanneer jy met ander mense praat. Wat stroom oor die walle van jou hart?

      Hoe voel jy oor iemand wat vol is van hulleself – vol grootpraat en hoogmoed – teenoor iemand wat vol is van die Here se nederige eienskappe en karakter? As iemand jou moes evalueer op grond van jou woorde en gesindheid, waarvan dink jy sou hulle sê, is jy vol?

      Dit is vir my as gelowige belangrik om gereeld die Here te vra om my my hart se binnekamer eerlik te wys. So baie van ons raak afgestomp en gemaklik met ons rommel en verval in die gewoonte om krities na ander te kyk, in plaas van na onsself.

      Daarom is dit so belangrik dat ons onsself sal leegmaak van enige vorm van selfvoldaanheid. Ek vra gereeld die Here om die giftige stowwe uit my hart weg te neem en my hart vol te maak met goddelike eienskappe soos blydskap, vrede, liefde, goedhartigheid, geduld, deernis, genade en vergifnis. Want dit waarvan my hart vol is, sal my mond van oorloop en boekdele spreek oor die egtheid van my geloof.

      Doen gereeld ’n opname van jou hart se emosionele inhoud. As jou hart vol haat, cut-throat ambisie, hardkoppigheid, hebsug, bitterheid, nyd, afguns, skinderpraatjies, woede of veroordeling is, is dit tyd vir ’n jumble sale van al die rommel. En dan kan jy jou hart vul met al die goeie dinge wat Jesus in sy hart gehad het.

      Bruisgebed vir geestelike groei: Vader, help my om gereeld ontslae te raak van die rommel in my hart. Vernuwe my gees sodat u sagte eienskappe meer sigbaar in my hart en lewe sal wees. Tot eer van u Naam.

      Vitamien B

      Besluite

      As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het.

      – 1 Korintiërs 10:13

      Die mens is bo die diere en die plante aangestel weens ons verstandelike vermoë om te dink en te redeneer om só weldeurdagte besluite vir onsself en die samelewing te kan neem.

      Ten spyte van hierdie verstandelike vermoë neem baie van ons gereeld swak besluite wat ons groot skade kan aanrig en vir ons skande kan meebring. In sulke gevalle wil ons later ons hare uit ons kop ruk van frustrasie. Of ons blameer die Here vir die slegte uitkoms.

      Ek glo die meeste swak besluite word geneem omdat ons oorhaastig of koppig is. Ons maak graag op ons eie insigte staat. Ander kere betaal ons finansiële bestuurders, life coaches of sielkundiges vir raad wanneer ons oor ons besluite vorentoe twyfel.

      Dit is alles goed en wel om ander se menings en kundigheid in te win wanneer ons onseker voel oor lewensbelangrike besluite – solank ons nie vergeet van die grootste Raadsman van alle tye nie. Sy raad is gratis en Hy is 24/7 tot ons beskikking.

      Die Bybelvers vir vandag is ’n vertroostende bruistablet vir my gemoed … en ek hoop vir joune ook. Die Here is genadig. Hy is selfs bereid om ons te help met regstellende besluitneming, wanneer ons dinge buite sy wil om gedoen het.

      Klop sommer vandag nog by Hom aan vir ’n gratis bruistablet. Vra Hom om jou te help om jou lewe weer op koers te kry deur goddelike besluite te neem – besluite wat jou sal lei na sy vrede en guns op jou pad vorentoe.

      Bruisgebed vir beter besluite: Hemelse Vader, ek nader tot U en vra U vir raad en leiding. Help my om geduldig te wag vir u antwoord voordat ek enige lewensbelangrike besluite neem. Tot eer van u Naam.

      Vitamien D

      Deel

      Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

      – 1 Timoteus 1:14

      As kind was ek lekker suinig. Wanneer ons ’n pak sweets moes deel en daar het een oorgebly, het ek dit altyd met ’n stomp kombuismes in drie dele gesny eerder as om dit vir my broer of suster te gee. Dan het ek boonop die grootste stuk vir my gevat.

      Selfs as volwassene was ek jare lank nie so gewillig om my wenke met ander mense te deel nie – hoe my lipstick so lank aanbly, hoekom my butternut-sop so lekker smaak of waar ek my mooi rok gekoop het. Ek het my dom gehou. Ek wou nie my tips deel nie.

      Dis egter merkwaardig hoe ’n mens se hart radikaal verander wanneer jy werklik ’n intieme verhouding met die Vader bou en sy mededeelsame hart leer ken. Deesdae klou ek nie meer vas aan daardie sweets in die pak nie. Ek gee sommer die hele pak weg – sodat ander mense dit onder mekaar kan uitdeel en geniet. So ook my tips, my tyd, my energie, my gawes.

      Ek glo ek is ’n geseënde vrou, juis sodat ek my seëninge en ervarings met ander mense kan deel. Daar lê groot vreugde in deel. Dink maar aan daardie gedeelde bordjie kos, ’n gedeelde glimlag, ’n gedeelde kombers, ’n gedeelde tjoklit.

Скачать книгу