Скачать книгу

Broer van As se plek aan die voet van die witsandheuwel waarop die grootste geroeste sinkkerk staan wat ek al ooit in my lewe gesien het, die St. Andrews. Dit baken die grens met Eureka-landgoed af. Broer van As val toe onmiddellik by die gesprek in en vaar uit oor hoe hierdie duiwelsleer van die Groepsgebiedewet hom van sy bloedbroer in Goodwood geskei het – dié broer het die potloodtoets geslaag, Broer van As nie. Soos ons toe verby St. Andrews-kerk loop, gaan Broer van As gal af. Hy vertel hoe hy eendag hierdie bloedbroer kort ná die uitsetting van die res van die Van As-broers gaan besoek het, en dié glo vir hom gevra het om by die agterdeur van hulle geboortehuis in te kom. Om nie eens te praat van die konfytblikbeker waarin hy koffie bedien is nie, met vermufte brood wat hy buite in die agterplaas moes eet. Die Groepsgebiedewet het alle tekens van sy bloedbroer vermoor, in sy plek is daar net ’n vervalste wit man.

      Ons ploeter verder saam oor die sandvelde deur sinkkrale tot by dokter Arnold se steenhuisspreekkamer in Connaughtweg. Pa sê dokter Arnold is ’n man van groot eer want hy het verby die Boere-ceiling geskiet met sy gelerentheit en nie soos die verraaiers onder ons oorsee gaan bly nie. Hy dien ons arm mense onvoorwaardelik. Soos ons af in Connaughtweg loop, staar ek verwonderd na die nuwe munisipale bloksteenhuise van Uitsig met hulle blikdeure waar elke plek sy eie djaart het. Pa bring my onmiddellik aarde toe en sê dat daar niks special aan hierdie skiem is nie, dis ’n fancy dumping ground vir die government se weggooimense. Meneer Matunsi stem saam en sê dis presies ook wat dié se Gugulethu is waarnatoe hy moet trek.

      Verder af Connaughtweg, rigting treinspoor, draai ons in by die hoë hout-en-draadhek van ’n tamaaie bruin sinkskuur. Dit rammel van masjiene en stemme en dit wemel van mense rondom halwe bote en seiljagte. Pa verdwyn in ’n stofwolk van saagsels en praat met die werfvoorman. Dié vaar dieper die stof in.

      Ná ’n rukkie verskyn oom Dams, my Pa se maat, en stof hom af om haastig by ons aan te sluit. Op pad na die groot damskompetisie in Appelboord in Tiervlei – oor nog sandvelde, gepeper met sinkkrale en pasgeboude steenhuise – vra Pa vir oom Dams oor die nuwe groot seiljag wat hulle bou. Oom Dams sê dat dit een of ander ryk boer se seun se een-en-twintigste verjaarsdaggeskenk is.

      “Ôs bou nie mee visbote vi ôs mense narrat die Boere ôs uit die visvangbiesagheit geforce het nie,” byt oom Dams. “Ons ambag nou net vi hulle vi fokol en peanuts.”

      Toe ons uiteindelik in Appelboord by die damsdjaart aankom, sit die grootmanne aan die speeltafel en die besigheid van die dag begin in alle erns met kiste Lion Lagers en seskanne Virginia. Hier en daar hardloop vrouens rond met brood en gebraaide vleis tussen die skreeuery van die manne wat hulle domino’s op die tafel moker.

      Daar is ook ’n klomp seuns. Voordat ons soos gewoonlik begin rugby speel, sit ons eers op ons hurke in ’n sirkel en hulle vra my uit oor die grootloop. Ek vertel hulle van meneer Matunsi en die Groepsgebiedewet-duiwel wat hom teister, Broer van As en sy vervalste wit bloedbroer, oom Dams en die ryk Boere wat ons mense uit die visvang bedryf wil boender, Pa se storie oor die skiem vir weggooimense, en die vername dokter Arnold wat die Boere-ceiling verbygeskiet het. So, as jy my vandag vra vanwaar my politieke komvandaan, dan lê dit nie in die teorie van my formele, radikale bewuswording in die tagtigerjare nie. Dit is die groot gidse van Elsiesrivier se loopstories wat my deur my komvandaan gelei het.

      Bendegeweld, of gangfight soos ons dit genoem het, het ek een Saterdagmiddag ook op die grootloop ontdek. Ek en Pa was op pad na ouma Vearey se djaart in Tiervlei vir die naweek se kuier. Hierdie staptog neem ons gewoonlik oor ’n heuweltjie in Balveniestraat na Tiekie Stage in Connaughtweg, waar ons by Babbie Bataan se winkel vir ’n tweesentsakka stop. Daarna is dit net gryspad en sandveld tot by Wepener Primêr na ouma Vearey se djaart toe in Sewendelaan.

      Dit was juis voor ons dié sandveld betree dat ons ’n groep mans teëkom wat ’n man omsingel wie hopeloos begin ween – bendelede en hul teiken.

      “Up!” skree die leier luidrugtig en sy trawante lig gelyktydig hulle blink pangas omhoog en begin kap na hulle prooi, wie se geween desperate gille word.

      Ná ’n paar sekondes van woeste gekappery aanvaar die prooi sy lot en die gille bedaar. In sy laaste woorde smeek hy: “O, Here! Ma, help my!” en word stil.

      “Halt, ndodas, die bloed het salute. Die nommer is vol,” beveel die leier.

      Sy trawante kom onmiddellik op aandag met hulle bloedbevlekte pangas soos gewere lynreg langs hulle regterbene gespan.

      “March, ndodas,” beveel hy weer en sy trawante volg hom in lynformasie oor die sandveld tot in Neëndelaan waar hulle verdwyn.

      Pa loop toe heel houtgerus met my verby die liggaam met gapende wonde wat nog bloed lek en voete wat al hoe stadiger stuiptrek tot dié finaal tot rus kom. Vir ’n oomblik stik ek in die stank van gal en stoelgang wat die lyk finaal uitwerp maar ek het niks om uit te braak nie. Buitendien begin die bebloede gedaante vir my meer na ’n varsgeslagte dier as mens lyk.

      Pa hou my vir wyle noukeurig dop asof hy my reaksie toets.

      “Kom, Jeremy, jy het niks hier verloor nie,” maan hy minagtend en vaar sonder skroom voort asof niks ernstigs gebeur het nie.

      Ek ploeter op ’n drafstap agterna terwyl ek sukkel om die sand en bloed waarin ek getrap het van my tone af te skud.

      Dis maar hoe ek Pa later sou leer verstaan: ’n harde man wat nie tyd vir fyngevoeligheid en sentiment het nie en deur sy kennisse geag word as iemand wat nie kak van kabouters vat nie. Gekerf uit graniet deur die ongenaakbare lewe, hierdie Pa van my, ’n yswoestyn vir wie trane onmanlike swakheid ontbloot, iets wat hy nie van sy seun duld nie.

      Ouma Vearey se djaart in Tiervlei was heel anders uitgelê as ouma Galant se djaart in Elsiesrivier. Pa het my eendag vertel dat die verskil te doen het met hoe die Galant- en Vearey-families hulle djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is. Soos ek hom destyds verstaan het, trek ons mense nie eintlik uit eie wil nie, ons swerf altyd tot ons weer uitgegooi word. Huise word gebou soos treine wat altyd op pad êrens heen is en die djaart is maar net nog ’n stasie tussen die volgende een.

      Ouma Vearey se djaart was ’n U-vormige sinkkraal van swart geverfde koppelhuisies om ’n sandbinneplaas, begrens deur soortgelyke buursinkkrale wat hekloos uitloop na die gryspad se stof van Sewendelaan. Een klein kwartstuk van die sinktrein was ontkoppel as ’n familiebalietoilet.

      Oupa Vearey, of Dêrra soos ons hom genoem het, was ’n veteraan van die Tweede Wêreldoorlog wie as soldaat in Tobruk deur die Germans gevang is en in 1945 verlos is uit ’n tronk vir krygsgevangenes in Italië. Dêrra was ’n oupa van min woorde en streng gevegsreëls. As daar onder die trop newe ’n bakleiery was, het hy altyd eers met sy kweperlat ons gewaarsku dat vloekery verbied word omdat dit wys dat jy jou emosies na ’n geveg toe bring. Sy tweede reël was ’n les in sy siening van regverdige manwees en sy beginsel dat enige geveg se einde finaal begrawe word met versoening.

      “Die eerste een wie kaalvuis bloed trek, wen. Vat dan jou broer se hand en tel hom op. Sê hom dat alles nou oor is en dat jy jammer is dat dinge tot hierdie punt gekom het en dat dit nooit weer sal gebeur nie,” het Dêrra altyd verduidelik.

      Die uitdra en begrawe van die djaart se oorvol kakbalie, veral op die laaste dag van ’n lang naweek, was gereeld die bron van vuisgevegte tussen die trop newe op die djaart. Alhoewel baliewerk ’n driemanskaptaak was, het dit altyd neergekom op die jongste newe – Ricky, Danny Boy en ek. Een bloedwarme middag op Paasmaandag in die vroeë sewentigs sukkel ek op my hurke in konsentrasie om die swart oorvol balie van onder die houttoilet se sitvlakplatform uit te skuif, toe Ricky skielik agter my begin skree dat daar ’n slang agter die balie seil. Met die skrik ruk ek die balie te vinnig los en die kak spat letterlik om en oor my.

      Ricky breek los met ’n skaterlag en skree: “Dêrra! Jeremy het die balie laat omval!”

      Ek gryp hom by die bors en begin hom net daar in die vuil toilet moer. Maar Dêrra storm nader met sy kweperlat en begin slaan om my van hom af te kry. Soos die ongeskrewe reëls verlang, volg ek en Ricky gedwee vir Dêrra na die djaart se binneplaas waar die geveg moet begin. Hier word daar nie gepraat nie en Dêrra trek ’n sirkel in die sand om die bokskryt

Скачать книгу