Скачать книгу

verstaan nie, veral Ouma se minagting vir my pa, wie sy nooit gedink het goed genoeg vir haar dogter was nie. Maar ek kon deur my pa se gewingerde Vrydagaand-stryery met Ma optel dat dit iets te doen gehad het met my ma wie ’n voorkind was en Ouma wat toe nooit getrou het nie. En, om dinge te vererger, dat Ma ook by Pa ’n voorkind gehad het wie – volgens Ouma – weens Pa en Ma se buite-egtelike gruweldade kort ná geboorte afgesterf het.

      “Jou ma is getroud met Jehova, die God van die leërskare! Haar familie is die Jehova se Getuies!” het Pa een aand in Ma se gesig voor Ouma in die huis geskree terwyl ek en my suster êrens weggekruip het tot die storm bedaar.

      Maar dit was nie waar nie. Ouma het omgegee. Toe Ma haar werk by klerefabriek verloor, het Ouma elke jaar daarna skoene gelayby en my in Desember kalm deur die slegs-kleurlinge-duikweg by Parow-treinstasie na die skoenwinkel in Stasieweg gelei om my skoene te gaan haal. Dit sonder dat die Boere, die Portugese van Station Fisheries of enige Limeys my gepla het. Ouma se klong se spesiale skoene kon ek toe soms skool toe dra, maar dit was steeds heilige skoene. Ek het dit byna elke Sondag gedra met ’n bruin-en-swart-dambord-safaripak, ’n wit hemp met ’n swart strikdas en spierwit sokkies styf tot bokant die knie opgetrek. Dit was nou vir die weeklikse pelgrimstog van Balvenielaan na Halt Road tot in Sewentiendelaan waar die Koninkryksaal van Jehova se Getuies in ’n geel gebou van die International Order of True Templars (IOTT) gehuisves was.

      “I Only Take a Tot,” soos my pa altyd gekgeskeer het.

      Daar is min wat ek kan onthou van my en Ouma se jarelange pelgrimstogte na die Koninkryksaal, behalwe Ouma se bevel om op te staan voor die hele gemeente as ek wegsluimer onder die dreunsang van ouere manne wat klink of hulle kompeteer oor wie die stadigste op monotoon aansloer. Ek het wel later geleer om wakker te bly deur my skoene op en af te wieg en stip daarna te staar. Hiermee was Ouma darem tevrede. Maar ek was altyd op en wakker wanneer die gemeente die laaste gesang sing en ek het volbors saam met Ouma gesing terwyl ek trots my hande in die lug rondswaai.

      Dit was veral een gesang wat in my kop vasgesteek het. Al wat ek daarvan kan onthou, is ’n reël uit die refrein: “And you will see it realised, if you, keep your eyes, on the prize!” Toe ek vir Ouma vra wat die “it” en die “prize” is het sy my, net soos my ma, een van daai lang verduidelikings gegee. Hierdie een was van ’n toekomstige paradysaarde ná die groot vernietiging, waarna alle Jehova se Getuies wie oorleef, en dié wie in die waarheid gesterf het, op sal staan om ’n nuwe koninkryk van God op aarde te bou. Behalwe die verkose honderd vier en veertig duisend wat dan in die hemel sou bly, sal Jehova weer vir Satan ná ’n duisend jaar vrylaat om sy volgelinge in die Paradys te toets, waarna dié wie dan sondig, met die ewige dood gestraf sal word. Toe ek dit hoor, het ek net daar besluit dat ek een van die honderd vier en veertig duisend wil wees. Ouma se storie het amper soos Ma se storie geklink. Ma is seker een van daardie honderd vier en veertig duisend shop stewards wat die onderdrukte Getuies in die fabriek gaan verlos van die bose Boere en Limeys en ’n koninkryk van werkers in Suid-Afrika gaan bou.

      Met Ouma en my heilige skoene het ons gereeld Saterdagoggende die Jehova se Getuies se Watchtower- en Awake!-traktate aan die onreine kinders van die wêreld in Elsiesrivier en Tiervlei verkoop terwyl ons die Woord verkondig en hulle bekeer het tot die Waarheid. Met Ma se politieke skoene het ons werkers van ander klerefabrieke gaan bekeer vir die Garment Workers Union terwyl ons die Woord van die werkers se vrye toekoms verkondig. Maar omdat Ouma nou die skoene gekoop het ná Ma afgedank is, was die heilige en politieke skoene een en dieselfde ding.

      So, dit was juis met hierdie heilige, politieke skoene wat ek eendag in Desember 1972 saam met Ouma in Seepunt by die Williamson-familie gaan char het. Van die stasie af tot in Seepunt het Ouma my alles geleer van hoe dinge in ’n stad werk, van hoe om af te kyk as jy verby ’n wit man loop tot watter ingange van winkels slegs vir blankes is. Ouma het my gewaarsku dat ek nie ’n oorlas van myself by master Williamson se huis moet maak nie en met hulle kinders mag speel, maar nie met hulle mag stry of baklei nie. Maar hoe verder ons Seepunt se Hoofweg invaar, hoe vinniger loop Ouma.

      “Loop vinniger, ons gaan laat kom!” jaag sy my aan, tot ek omtrent moet drafstap.

      Ouma se master Williamson se huis was moerse groot. Hulle voordjaart was seker tien keer groter as ons hele djaart in Elsies waar vyf families met altesame dertien kinders woon. Dit was, soos my pa sou sê, ’n geboude huis en nie ’n sink een nie. Met ons aankoms het niemand uitgekom na die hek toe om te groet nie en Ouma en ek het haastig verby die voordeur gestap na die kombuis aan die agterkant van die huis waar sy geklop het.

      “Jakoba, you are late,” grom die lang wit man wat die deur vir ons oopmaak.

      “Sorry, master Williamson, the train was late and the boy could not walk so fast,” pleit Ouma.

      Die man staar nors na my en verdwyn sonder om te groet.

      Ek sou weer daardie dag master Williamson se norsheid teëkom. Ek het nou aan Ouma se sy gebly terwyl sy die hele huis reinig. Met haar kaal hande vaar Ouma hierdie stal van ’n huis in en vermorsel die stank van sweetdeurdrenkte wasgoed, dae se ongewaste skottelgoed en vuil houtvloere met net haar Omo, Sunlight-seep en Cobra-vloerpolitoer. Ek verwonder my aan al die speelgoed wat in die kinders se kamers rondgestrooi lê. Daar was Corgi Toy-karretjies, allerhande soorte poppe en Lego-blokkies, maar geen kinders nie.

      Ek gryp toe maar ’n rooi brandweertrok onder die lot en wroem-wroem op my knieë in die lang houtgang buite die kamer af. Ek skrik eers toe ek die groot paar swart skoene voor my sien en ’n stem êrens bokant my kop hoor grom.

      “Jakoba, control your boy! And you! Put that back!”

      Met dié storm Ouma uit die kamer op Williamson af en ek hardloop verby haar die kamer in, onseker of sy kwaad is vir my of vir haar werkgewer.

      Ek is nie seker wat gebeur het nie, maar Ouma het hom stilgepraat. Toe ons verbystorm, het hy gedwee sy kop laat sak terwyl sy hom aangluur, die deur oopruk en met mening toeslaan. Al wat ek uit Ouma kon kry op pad stasie toe was dat sy al jare vir die Williamsons werk en sy het hierdie spesifieke Williamson herinner dat sy hom en sy kinders grootgemaak het. Sy kon sy ouma gewees het. Wie is sy “Jakoba”? Die bogkind wat op twaalf nog in die kooi gepis het! Ek het Ouma tot dan nog nooit só hoor praat nie, sy was dan altyd so sagmoedig.

      Miskien was Pa op ’n manier reg as hy soms in frustrasie vir Ma gesê het: “Djy’s nes jou ma.”

      “Djy’s nes jou pa.” Dié het ek as kind al baie in my uitgebreide familiekring gehoor.

      “Altyd op pad êrens anders heen in sy kop. Hy kan nie lank genoeg stilsit om aandag aan sy skoolwerk te gee nie.” Dit het ’n standerdeenonderwyseres eendag aan my ma oor my gesê.

      Dit blyk Ma het daardie dag aan die onderwyseres voorgestel dat sy my onmiddellik uit die klas moet sit om ’n paar keer om die skoolveld te gaan loop as ek te onrustig raak. Dit het gewerk want nie net kon ek in die loop beter nuwe kennis verwerk nie, dit het ook later ’n passie vir langafstandhardloop aangewakker, iets wat in my volwasse jare gedurende my politieke gevangenskap op Robbeneiland goed te staan gekom het as alternatiewe terapie.

      Miskien het die gedurige lopery saam met Pa en sy vriende deur Elsies, Tiervlei en Uitsig vir hulle ook so iets beteken. In die laat sestigs, lank voor Elsiesrivier uitgerafel het – in gesiglose kranse van betonfletse en eenvormige munisipale gehuggies, geometries georden deur teerstrate wat ons sosiale loopweë ontwortel het – het die mense geloop in stofstrate tussen djaarts en sinkkrale, oor sandvlaktes met portjacksons en bloekombome; dit was die weë van ons gemeenskaplikheid. In dié sin was Pa se kuierstaptogte met my na alle hoeke van Elsiesrivier en Tiervlei die beste inwydingskool van my komvandaan.

      En dit is juis hoe ek die skipbouers van Eureka-landgoed ontmoet het. Ek was omtrent agt jaar oud toe Pa en ek een bloedwarme Saterdagmiddag sy gunstelingspeelmaat vir domino’s by die werk moes gaan haal. Van ons djaart in Balvenielaan af loop ons noordoos deur die sinkbedekte sandveld van Malawikamp verby meneer Matunsi se huis. Hy sluit by ons aan en begin bekommerd gesels oor die nommer wat die munisipaliteit op sy sinkhuis geverf het. Dis glo iets te doen met ’n ding wat hulle die Groepsgebiedewet noem en wat glo vir meneer Matunsi en sy vrou na ’n vreemde plek genaamd Gugulethu

Скачать книгу