Скачать книгу

n>

      

      Ingrid Winterbach

      Buller se plan

      Human & Rousseau

      The Catterpiller on the Leaf

      Reminds thee of thy Mother’s Grief

      WILLIAM BLAKE

      Vir Hougaard Winterbach

      een

      Op ’n Donderdagoggend in die laatsomer ry Ester Zorgenfliess oor die Tugelarivier. Sy is op pad na die begrafnis van ’n vrou wat sy nie geken het nie. Haar neef, Boeta Zorgenfliess, het haar die aand vantevore gebel en gevra of sy hom nie in die dorp wil ontmoet nie. Boeta het die vrou, Selene Abrahamson, vroeër liefgehad, maar die verhouding het tot niet gegaan.

      Ester Zorgenfliess ry vroegoggend uit die stad. Sy ry deur die dorpe Ongesien en Roukrans. Weenen is verlate, behalwe die Sondwela Trading Store op een stowwerige hoek. Op Bitterheid drink sy tee in die Wimpy. In die omgewing van Colenso is die grond modderpienk, daar is droë rivierlope, lang gras en doringbome. Sy ry deur die dorp Colenso. Die hotel is koud en vervalle. Naweke kyk die boere hier rugby en drink bier in die lounge – met koeëlgate in die glasdeure – terwyl die swartes uitbundig op die sypaadjies rondhang.

      By die Tugela hou Ester voor die historiese brug stil en kyk uit oor die modderbruin rivier. Sy is nie vertroud met hierdie geskiedenis nie. Die vorige aand het sy oor die Slag van Colenso opgelees.

      Op grond van die kaarte tot sy beskikking is generaal Sir Redvers Buller, opperbevelhebber van die Britse weermag, bekend met die basiese feite van die topografie van Colenso. Dit is ’n plat wêreld, met kort gras, dynserige heuwelreekse op die horison en ’n reeks lae koppies wat ’n groot deel van die vlakte oorheers. Buller moet net besluit waar om die Tugela oor te steek. Dit is ’n onvoorspelbare rivier, wat selfs in droë tye te diep kan wees vir soldate om te voet deur te gaan. Buller weet dat Louis Botha sy sterkste verdedigingslinie oorkant die drie driwwe opstel – maar hy weet nie dat die Boere hulle soos jakkalse daar ingegrawe het nie. Hulle loopgrawe is in die lang gras langs die rivierwal gegraaf en met klippe gekamoefleer. Foploopgrawe is op die horison gegraaf en die driwwe is verwoes. (Versterkings uit Ladysmith en ’n tweede leër van opgekommandeerde swart arbeiders het veertien dae lank daaraan gewerk.)

      Vrydagnag 15 Desember is ’n koel, windlose nag. Halfvyf die oggend begin dit lig word – ’n wolklose hemel met enkele strepe karmosyn en goud (vóórspel tot ’n bloedige warm dag) – en die uitgebreide infanterie-kolonne is reeds aan die beweeg. Dit is die grootste Britse leër sedert die slag van Alma, ’n halfeeu vroeër, wat tot die slag toetree. Buller ry na Naval Gun Hill – ’n reeks lae heuwels. Sy groot bedenkinge het hy nog teenoor geeneen uitgespreek nie. Om halfses die oggend is die lug wolkloos en helder en die vlootkanonne begin hulle voorlopige bombardement. Hiermee wil hulle die Boere uitlok sodat hulle posisies sigbaar word.

      Aanvanklik reageer die Boere nie. Generaal Louis Botha het sy manne beveel om nie te skiet voor die vyand binne gemaklike trefafstand is nie. Hy weet nie veel van konvensionele oorlogvoering nie en hy sien tot sy onthutsing die Engelse opmars in drie kolonne verdeel. Die twaalf veldkanonne kom sowat duisend tree van die Tugela tot stilstand.

      Louis Botha is sewe en dertig jaar oud; hy is ’n beskeie man – sy tent staan vir elkeen oop; hy dra ’n Transvaalse roset en ’n veer in sy hoed. Hy oorweeg die situasie. Hy kan nie veel langer uitstel om die sein te gee nie (sy manne smeek hom al). Die oomblik toe die Britse kanonniers losbars, aarsel hy nie meer nie – hy gee die seinskoot met die Krupp-houwitser en om halfsewe die oggend begin die geluid van die Mauser-gewere. (Die begin van die einde vir die gedoemde Charles Long en sy kanonniers.)

      Twee dae vantevore het die Soutpansbergse en ’n deel van die Boksburgse kommando Boskop ontruim. (Die kop is meer as ’n honderd myl in Britse gebied.) As Buller dit die dag vantevore geweet het, sou dit hom ’n enorme voordeel gegee het. Maar intussen het die kommandante lootjies getrek en agthonderd man van die Wakkerstroom- en Standerton-kommando is reeds gestuur om die kop weer te beset.

      Generaal-majoor Fitzroy Hart (bevelhebber van die Irish Brigade; swierige Ier; oormaat aan selfvertroue) hou hom nie by die amptelike inligtingsdiens se bloudrukkaart nie. Hy laat hom deur ’n swart man verkeerdelik inlig oor die ligging van die drif. Op dié manier lei hy sy manne die verderf in – anderkant die mielieland aan die einde van die lus in die Tugela. (’n Brigade van vierduisend man.) Sy laaste fout is om die Innis-killings-bataljon te beveel om na die lus terug te keer. Intussen het die dwase kolonel Charles Long (uitmuntende kanonnier; Kitchener se hoofartilleris by Omdurman) nie Buller se opdrag uitgevoer nie. Hy het nie buite skietafstand van die Colenso-koppies stelling ingeneem nie, maar die kanonne – heeltemal uit posisie – ’n duisend tree van die rivierwal laat halt roep. Heeltemal te na aan die Boere.

      Buller slaan dit alles gade van sy posisie op Naval Gun Hill en klim op sy vosperd, Biffin, om die eiesinnige Long uit die gevolge van sy dwaasheid te gaan verlos. Maar voor hy by hom uitkom, sneuwel Long. (Kritiek in die lewer gewond.) ’n Mauser kan nie verder as ’n myl akkuraat skiet nie, en die Boere is nie besonder goeie skuts nie, maar die omvang van die geweervuur gee die indruk van ’n baie groter Boeremag. Twee van die kanonniers kom Buller op sy vosperd tegemoet – hulle berig (verward en onsamehangend) dat hulle kanonne buite aksie is.

      Buller is woedend oor die onbetroubare Long se kanonne en die kortsigtige Hart se vergissing. Generaal-majoor Hildyard wag intussen vergeefs om die hoofaanval te lanseer. Maar nie Long óf Hart óf Dundonald kan hom meer hierin steun nie. Al drie het self hulp nodig. Buller las gevolglik Hildyard se aanval op Colenso af. Generaal-majoor Lyttelton kry opdrag om die misleide Hart uit die gemors te help, maar die vier kompanies van sy Rifle Brigade raak self aan die einde van die lus vasgekeer. Ondertussen skuil die voortvarende luitenant-kolonel Thackeray en sy manne agter die klipmure van hutte in ’n swart kraal. Hildyard kry opdrag om (die gesneuwelde) Long se kanonne terug te haal. Hulle ly min ongevalle. Die Queens grawe hulle agter Colenso se klipmure en krale in.

      Buller en sy staf ry persoonlik na die vuurlinie om die situasie te takseer. Buller se ribbes raak ernstig deur ’n bomskerf gekneus, maar hy is so moorddadig kwaad vir Long dat hy eers later besef hóé ernstig. Tot oormaat van ramp word sy lyfarts en gunsteling, kaptein Hughes, noodlottig langs hom in die longe gewond.

      Redvers Buller is ’n donkerbloedige man (sigbaar aan sy dieprooi gelaatskleur). As hy kwaad word, stoot die dik bloed in sy hoof op en voel dit vir hom asof daar in sy hele liggaam te veel bloed is. Ten spyte van die verlies van die onvolprese kaptein Hughes, en sy groot ergernis met Long en Hart omdat hulle hul opdragte verbrou het, ervaar Buller tog iets soos intense plesier aan die geveg. (Hy het veertien jaar laas self aan ’n slag deelgeneem.)

      Vir die tweede keer ry Buller terug na die groot donga waar Long se oorblywende manne skuil. In ’n bulderende stem roep hy na vrywilligers om die kanonne te red. In die poging word twaalf perde geskiet, een manskap gedood en vyf verwond. Een van die vrywilligers is luitenant Freddy Roberts, wat in die los gemaal verdwyn, later in die veld swaar verwond aangetref word en oplaas sterf. Hy is die enigste seun van veldmaarskalk Lord Roberts – ’n teenstander van Buller.

      Oplaas gee Buller (tot sy spyt) die onvermydelike bevel: Val terug. Steeds op sy vosperd ry hy tussen die manskappe rond en vind hulle aan die einde van hulle kragte – nie meer in staat om enigiets uit te rig nie.

      Een vir een marsjeer Buller se infanterie-kompanies terug. Kaptein Walter Congreve skryf later dat hy selfs in Indië nooit so warm gekry het nie. Ongeveer halfvyf steek ’n paar Boere die rivier oor en bereik die donga. Hulle vra die Engelse om oor te gee. Kolonel Bullock weier (oormaat aan selfvertroue). ’n Skermutseling en verdere onderhandelings volg en kort daarna word ’n paar van sy voortande met ’n geweerkolf uitgeslaan deur een van die Boere. Hy word saam met die res van die Devons as gevangene weggeneem.

      In ’n kabel meld Buller dat hy tot sy spyt ’n ernstige terugslag moet rapporteer, dat dit ’n ontsettende warm dag was, dat hoë eise aan die troepe gestel is, en dat hulle gedrag uitmuntend was. Die Boere het geen veld gewen nie. Die Engelse het ’n klein deel van hulle troepe verloor. Hy laat dit egter nie hierby nie. Later, teen middernag (moeg, bitter en gefrustreer, en in die geval van Lansdowne

Скачать книгу