Скачать книгу

is immers die Almagtige, die onbeweeglik Sterke? God rym in geen taal met weerloos nie.

      Tog skryf Paulus aan hierdie gemeente dat hulle moet sorg dat hulle God se genade nie tevergeefs ontvang het nie. God gee hierdie genade ten koste van sy Seun se lewe. Hy bewerkstellig die versoening tussen Hom en sy ander seuns en dogters op die bloed van sy Eniggeborene. Dit is duur, dúúr.

      Sê nou dit was alles tevergeefs? Sê nou maar hierdie seuns en dogters ontvang dié onbeskryflik groot genade … en doen niks daarmee nie? Gooi dit weg? Ignoreer dit? Sê dinge soos: Later, later, wanneer ek tyd het?

      Dit is nou die tyd! roep Paulus uit. Ek soebat julle, sê hy, in Christus se Naam. Kyk dan wat het dit Hom gekos, én vir ons wat sy genade aan julle verkondig het. Moenie hierdie rykdom deur argelose vingers laat glip nie. Moenie God teleurstel nie. Moenie sy planne vir jou verydel nie.

      ____________________

      Here, help my om ten minste iéts van die omvang van u weldade te verstaan. Om dit dan aan te gryp.

      Sondag 18 FEBRUARIE 2018 Lees Genesis 9:8-17

      “My reënboog”

      Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere … my reënboog het Ek in die wolke geplaas” (v. 12-13).

      Die Noagstorie is een van daardie Bybelverhale waarvan ons die helderste prentjie in ons kop het. Miskien is dit die nalatenskap van die Kinderbybel van ons kleintyd. Dalk is dit die entoesiasme van ’n kindertydse onderwyser of ’n ma-met-verbeelding wat daardie beelde gevorm het – dié van die reuse-ark, die diere, die duif met die takkie. En die reënboog.

      Noudat ons groot is, is die prentjies nie minder helder nie. Maar ons talle vrae – en waarskynlik suiwer sinisme – oor dié verhaal het straks nou die oorhand gekry. ’n Vloed wat die hele wêreld oorstroom? Die ganse diereryk in ’n houtskip, groot ofte nie? En is ’n reënboog nie maar die gevolg van die sonlig wat deur waterdruppels in die atmosfeer in die kenmerkende kleure opgebreek word nie?

      Sekerlik, ja.

      Sonder die minste twyfel is ons in ons volwasse ingeligtheid besig om al die verkeerde vrae aan hierdie verhaal te vra, en só is ons gewaarborg om al die verkeerde antwoorde te kry. Feit is: Die Noagstorie vertel ons herhaaldelik van God se sorg, sy trou, sy geduld. Sy tweede, derde, veertigste en hoeveelste kans aan mense van alle tye.

      Hier is die eintlike prentjie: God-met-Noag in die genadeskip, daardie reuse-reddingsboot; God-by-ons in die woeste waters wat ons wêreld wil verswelg. Kyk, hier is die duif, en daar die veelkleurige teken: Hy is hiér!

      ____________________

      Here God, geen storm sal u kinders oorweldig nie. U is by ons. Dit was nog altyd so.

      Maandag 19 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 25:1-7

      U geheue, en myne

      Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie (v. 7).

      Ons almal het ’n geskiedenis. ’n Lang storie wat ons gebring het tot waar ons nou is. Een wat ons soos ’n skaduwee volg en soms behoorlik agtervolg met dié knaende vraag: Ag, hét ek maar … Of: Ag, het ek maar nié …

      Ons dra hierdie geskiedenis, dié verhaal-tot-op-hede, soos ’n ongemaklike stuk bagasie met ons saam. En soms is dit ons belewenis dat hierdie drag, namate die jare aanstap, al hoe swaarder word. Dat dit ons toenemend afrem. Ja, dan steier ons behoorlik onder die ellendige besluite wat ons deur die jare geneem het. Dit los ons nie uit nie. Die pakkaas bly pla, hou aan fluister, soos in ’n nare droom: Hoekom het jy …?

      Dan is daar die besluite wat ons toe nié geneem het nie. Toe ons gesê het ons is nog nie gereed nie, dit moet eers wag. Gee eers kans! het ons uitgeroep. En toe glip die kans deur ons vingers.

      Nou dra ons die gevolge van ons doen en late. En ons dra swaar. Wie sal ons help? Wie sal ons van hierdie doodsbestaan verlos?

      Die psalmdigter sê: God se trou, sy goedheid. Dít, Hý, sal ons bevry.

      Maar hoe doen Hy dit? Wat presies vra ek Hom?

      Dat Hy moet vergeet. Dat Hy wat van altyd af alles van my weet, wat die hare op my kop getel en my naam in sy handpalms gegraveer het, my onbesonnenheid sal vergeet. Dat Hy nooit ooit weer daaraan sal dink nie.

      ____________________

      Ek hoop nie dit is te veel gevra nie, Here! Ek wil dan boonop vra: Dat U mý sal help om te vergeet. Dat U my verlos van my gewete se loodswaar aanklag.

      Dinsdag 20 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 25:8-10

      Teen die bulte uit

      Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad (v. 9).

      My pad is lank en swaar, kla ek. En soms: My pad is kort en klipperig. Vol draaie, onverwagte afgronde, bedrieglike bulte. Kry my tog jammer!

      Dikwels skaam ek my wanneer ek opnuut agterkom hoe ek kla. Sommer uit gewoonte kla. En dit raak ál erger, hoe ouer ek word en hoe verder ek op die lewenspad vorder. Ag, hoe wens ek dat ek my ontevredenheid oor die lewe te bowe kan kom. Dat my kinderagtige neulerigheid my tog nie so vooruit loop dat mense my begin vermy nie.

      Ek begeer om soos hierdie psalmdigter te kan sê God vergesel my. Nog meer: Dat Hy my sy pad, die enigste regte pad, léér. Dat Hy my onderweg wys hoe spel jy “liefde” en hoe leef jy “trou” uit.

      Nou sê die psalmdigter die Here loop tree vir tree saam met my, en onderweg onderrig Hy my oor dié pad. Daar is nie tyd vir klagtes nie, geen kans vir selfbejammering en simpatie soek nie. Hier vergaap jy jou aan sy werke, sy wonderwerke. Jy verstom jou oor die uitsig wat Hy jou gee en die insig wat Hy in jou skep.

      Dit alles sê die psalmdigter. Só wil ek ook kan sê.

      Maar ek sukkel. Ek beur teen selfgeskepte steiltes uit. Ek kla ’n storm op. Ek skel as die wind van voor af kom, of van die kant af, of van agter af. Én as dit gaan lê. Waar sal my hulp vandaan kom? Wie sal my van myself verlos?

      ____________________

      Leer my, Heer, u regte weë, wys die regte pad my aan. Maak my verraderlike hart daartoe geneë om met lus daarop te gaan. Wil my deur u waarheid leer.

      Woensdag 21 FEBRUARIE 2018 Lees 1 Petrus 3:18-22

      Christus die Oorwinnaar

      Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het … (v. 22).

      In hierdie vyf verse skets Petrus met enkele opeenvolgende sleutelwoorde die betekenis wat Jesus Christus vir gelowiges het: “gely”, “doodgemaak”, “lewend gemaak” (v. 18), “opstanding” (v. 21), “die hemel ingegaan” (v. 22).

      As dít die sekwensie van die gebeure was, volg hiér die konsekwensie daarvan, weer in enkele woorde: “om julle na God te bring” (v. 18), “dit red julle” (v. 21). In dieselfde asem word die Bose só op sy plek gesit: “sy (Jesus se) oorwinning” (v. 19), “aan Hom onderwerp” (v. 22).

      ’n Ryk, veelseggende klompie verse dus. ’n Opwindende opsomming van Christus se werk. Kristalhelder gerapporteer, met boonop ’n wonderlike verbandlegging tussen die Noagverhaal en die doop.

      Daarom is dit bitter vreemd dat goeie mense, gelowiges, so vinnig hier verbylees. Dat hulle nie die stroom genadige feite wat hier opgenoem word, ter harte neem nie. Dat hulle steeds, en aanhoudend, buig voor die bangmaakstories van opportuniste oor die Bose en sy magte. Natuurlik glo ons in Christus se oorwinning, sê hulle. En voeg by: Maar ek moet tog ook iets daartoe bydra – of hoe? Vanselfsprekend gryp ons ons redding in Christus vas, bely hulle. En sê vinnig: Maar ek moet darem ook my deeltjie doen – of hoe?

      Hoeveel keer wil ons hoor dat Hy regeer voordat ons Hom glo? Hoeveel keer wil ons hoor dat sy genade vir ons genoeg was, en is, en altyd sal wees? Wanneer sal ons afsien van die lasterlike gewoonte

Скачать книгу