Скачать книгу

      ____________________

      Bly by my, Heer. Vat saggies aan my.

      Hou my onder u sorg, teenaan U.

      Dinsdag 13 FEBRUARIE 2018 Lees 2 Korintiërs 4:3-6

      Lig in die duisternis

      God … het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God … (v. 6).

      Daar is niks so donker soos die verstand van hulle wat nie glo nie, skryf Paulus hier. Hulle is niks anders nie as blind, sê hy. Hulle kan nie die lig van die evangelie sien nie.

      Die gelowige, daarenteen, se hart is vol lig. Dit is God se werk, hierdie helder lig. Soos Hy dit reg aan die begin gedoen het, doen Hy dit nou weer: Hy gee lig waar Hy dit wil gee. Dit alles help die gelowige om Hom in al sy heerlikheid te sien.

      Gelowiges weet dus, helder en duidelik, dat God self in hulle leef. Hulle is broos, ja, feilbaar, ja, maar hulle weet dat hulle uitverkore draers van die Goddelike lig is. Die duisternis in al sy mag en woede sal dit nooit by hulle kan wegvat nie.

      Dit is wel nodig dat die gelowiges-met-die-Lig-in-die-hart goed weet wat die doel van hierdie Goddelike aksie is. Nee, dit is nie daar om hulle goed te laat lyk nie. Dit is om hulle, en die mense wat na hulle kyk, goed te laat sien. Dit is nie daar om hulle belangriker, slimmer, heiliger as ander te maak nie. Hierdie Lig is juis in hulle aangesteek sodat Jesus se heerlikheid in hul doen en late sigbaar sal word.

      Moet dus nie grootkop raak nie, Godskind! Moet jou nie met ander vergelyk nie. Moenie oordeel nie, nooit, nóóit. Wat in jou gebeur het en steeds plaasvind, is God se genadige handewerk.

      ____________________

      Here, U maak my hart lig. Laat my altyd skyn vir Jesus met ’n helder glans!

      Woensdag 14 FEBRUARIE 2018 Lees Joël 2:1-2, 12-17

      Aswoensdag

      Kom terug na My!

      Skeur julle harte, nie julle klere nie.

      Kom terug na die Here … (v. 13).

      Gelowiges was nog altyd daarvan oortuig dat die Here met hulle praat en dat hulle na sy stem moet luister. Sy woorde kom op verskillende tye en op verskillende maniere na sy kinders toe. Soms is dit neergeskryf en word dit gelees, soms word dit bloot in hul hart gefluister sodat dit goed oordink kan word.

      Die profeet Joël het God se stem in die natuur gehoor, in die uitmergelende droogte en die teistering van sprinkaanswerms. “Kom terug na die Here julle God toe …” sê die profeet (v. 13). “Roep die volk op, reinig die gemeente … hulle moet sê: ‘Betoon medelye met u volk, Here …’ ” (v. 16-17).

      God se stem, hoe en waar en in watter omstandighede dit ook al gehoor word, vra altyd ’n reaksie. Dikwels is dit ’n dankie, meestal ’n asseblief. In swaar tye word daar soms ook ’n hoekom en ’n waarom uitgeskree.

      Uit hierdie profeteverhaal blyk dit dat God nie in ’n oppervlakkige reaksie belangstel nie. Nie in ’n voorgeskrewe ritueel vol drama en uiterlike vertoon nie. “Skeur julle harte, nie julle klere nie,” sê die profeet namens Hom.

      En hier raak Joël aan ’n rou, rou senuwee: gelowiges se gewaande berou. Die “ek is jammer, Here” – waarna die emosie nie langer as ’n dag duur nie. Die “vergewe my, asseblief” – wat nie deur jou vergifnis van ander voorafgegaan word nie.

      Hieruit is dit duidelik: Wanneer God se harde, waarskuwende, pleitende stem nie jou hart breek nie, het jy Hom nog nie gehoor nie.

      ____________________

      Here, moet asseblief nie ophou om met my te praat nie. Al praat U ook hard …

      Donderdag 15 FEBRUARIE 2018 Lees Jesaja 58:1-12

      Kyk weg! Kyk mooi!

      Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” (v. 3).

      Dit het deur al die eeue heen geblyk dat gelowiges nie altyd die menslike kloutjie by die Goddelike oor kon bring nie. Dat juis gelowiges, mense wat van beter moet weet, die minste van almal verstaan wat God van hulle verwag.

      Hier stel Jesaja God aan die woord, sodat Hy Hom kan uitspreek teen dié eienaardige geneigdheid by sy ou volk. Hy sê: “Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag” (v. 2).

      Asof.

      Maar dit is pure oëverblindery. Vrome bedrog. Hy sien dwarsdeur hulle. Hy weet maar alte goed: “Hulle gee voor dat hulle … doen wat reg is …” (v. 2). Hulle geesdriftige godsdiens – die vastye, die gebede, die nougesette verootmoediging – laat Hom net sy kop skud: “Is dit ál wat Ek … wil hê …?” (v. 5).

      Só sê die Here: Ware godsdiens het veel minder met jou te doen as wat jy dink. Trouens, dit is juis die klem op “ek, my en ons” wat godsdiens minder waar maak, en dikwels bloot onwaar.

      Godsdiens wat waarlik ’n diens aan God is, trek jou oë weg van jouself af. Dit laat jou fokus op brose, weerlose mense. Dit is hulle wat naarstig wag dat jy toetree tot hul stryd. Hulle wat van jou ingryping in hul lewe afhanklik is.

      Dus: Wat verwag God van hulle wat Hom aanbid? Eenvoudig: Kyk ’n slag weg van jouself. Kyk na hulle wat nie na hulleself kan kyk nie. Sorg vir hulle.

      ____________________

      Here, wys my! Bring my hart in beroering, en maak my hande en voete los sodat ek my kan haas om te gaan help.

      Vrydag 16 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 51:1-17

      Skoonmaak

      Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (v. 12).

      Dit is seker een van die redes waarom God as “Vader” aangespreek word – omdat Hy agter sy kinders opruim. Omdat sy morsige kinders dit trouens van Hom verwag en dit dikwels van Hom vra.

      Kyk nou vir Dawid: Hy maak op groot skaal droog; hy onteer ’n weerlose vrou; hy sorg dat haar man vermoor word. Hy, van alle mense, wat ook “die man na God se hart” genoem word. Sy Vader se hart se punt.

      Maar toe hy betrap word dat hy eintlik bloot sy eie hart en dié se begeertes en luste gehoorsaam, breek daardie hart in stukke. Hy gaan lê voor die Here en vra sonder skroom: Ruim asseblief agter my op!

      Gaan kyk maar hoe Dawid opeenvolgend in hierdie omvangryke skuldbelydenis vra: neem weg; was my; laat my; wis uit; skep vir my; vernuwe; maak my; red my; gee my.

      Hy sê in soveel woorde dat hy niks hiervan self kan doen nie. Dit is nie valse beskeidenheid nie, nee. Hy het reeds die omvang van sy misdade besef en erken. En hy kom nie daarvan weg nie. “Ja … van my sonde bly ek altyd bewus” (v. 5).

      Vasgevang pleit hy dus: Verlos my! Dit is al hoop wat hy het: om hom te beroep op die Een wat hom ’n nuwe kans sal gee. Wat van voor af met hom sal begin. Ja, met hom, van alle mense. En ter wille van hom. Ten spyte van alles.

      ____________________

      Ek ken U as die God wat besmeerdes skoon was, wat reddeloses red. Hier is ek ook, Here, vuil en bemors. Skaam.

      Saterdag 17 FEBRUARIE 2018 Lees 2 Korintiërs 5:20b–6:10

      Tevergeefs?

      Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (5:20b).

      Dit is sekerlik een van die ellendigste woorde in Afrikaans (en in enige taal): “tevergeefs”. Bloot die sê daarvan het ’n moedelose klank. Leeg. Vol verydeling.

      Teleurgestelde mense steek hul teleurstellings dikwels diep in hul hart weg. Praat nie juis daaroor nie. Sit eerder ’n vrome voetjie voor. Glip gemaklik ’n vrolike alles-sal-regkom-masker daaroor. Sê niks, dan is daar

Скачать книгу