Скачать книгу

met wat Hy van hulle wil hê. Hy het van die begin af gesê: “Volg My!” Dissipelskap, dus. Dit is wat Hy wil hê. Maar dan dié soort wat vir die meeste potensiële volgelinge te duur is.

      ____________________

      Jesus, U gaan voor. Ons huiwer, weifel, op u spoor.

      Saterdag 3 MAART 2018 Lees Markus 9:2-9

      Op die berg

      Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou …” (v. 5).

      Petrus word, ten spyte van sy ellendige fout ses dae tevore, deur Jesus bergop geneem. Saam met twee ander uitverkorenes, Johannes en Jakobus, sou hy op daardie berg dinge sien en hoor wat sy verstand, en almal s’n wat later daarvan verneem het, te bowe sou gaan. Hy sou so verskrik wees dat hy dinge sou sê waaroor hy nie helder gedink het nie.

      ’n Mens kan Petrus nie hiervoor verkwalik nie. Kyk net wat hy alles moes sien, hoor daardie stem! Geen wonder hy praat so gou en so baie nie.

      Buitendien was Moses en Elia se wonderverskynings en Jesus se glansende gedaanteverandering en, les bes, die Goddelike stem ’n duidelike terugkeer na die triomfantelike roete waarlangs Jesus sy uitverkorenes sou lei – of hoe? Vergete is die somber vooruitsigte van ’n week gelede. Hier is beslis nie sprake van ’n uitmergelende roete nie. Hiér kan hulle vertoef, verhewe en verheerlik.

      ’n Aantreklike vooruitsig, nie waar nie? Beslis verkieslik bo ’n kruisweg. Maar dit was bloot ’n tussenspel, ’n herinnering aan presies wie Jesus is. En hierdie drie volgelinge was bevoorreg om dit te kon aanskou.

      Die pad agter Jesus aan het sulke hemelse hoogtepunte, sal al Jesus se volgelinge weet. Uiteindelik blyk dit egter dat sulke bergtop-belewenisse maar skaars is. Daar is ook donker dieptes, dale van doodskaduwee. Goddank, ook hierin gaan Hy hulle vooruit. Draai Hy dikwels om, tel Hy hulle op. En dra Hy hulle verder.

      ____________________

      Here, hoe helder is u teenwoordigheid in ons lewe! Juis ook in die stikdonkerte.

      Sondag 4 MAART 2018 Lees Eksodus 20:1-11

      Vrygemaak!

      “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte,

      uit die plek van slawerny, bevry het” (v. 2).

      Dit is Hy wat hier praat, die God van bevryding. Daarom is daar geen kwessie nie: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (v. 3).

      Dit sou die deurlopende tema vir die eerste vier gebooie bly: Daar is geen ander God nie. Moenie dink jy kan ’n boomstomp netjies kerf of ’n klip glad skuur en dit God noem nie. Dit sal nooit God wees nie, dit kan onder geen omstandighede God word nie.

      Daarom mag jy nie Hy-wat-God-is se Naam vir jou en jou agenda toe-eien nie. Nee, sy Naam is heilig en nie ’n gebruiksartikel om krag aan jou gebrekkige, bloedarmoedige woordeskat toe te voeg nie. Dit is nie ’n sweerformule om gesag aan jou argumente te verleen nie. Sy Naam is nie ’n mantra om guns te wen en aansien te verwerf wanneer jy dit oral rondstrooi om ander te beïndruk of om jou eie bygeloof te voed nie.

      Moet tog nie vergeet wie Hy is en wat Hy vir jou doen nie. Sy immer-teenwoordigheid in jou lewe is ’n durende, onvermengde seën. Erken dit, onthou dit en vier dit. Elke dag. Wees dankbaar as jy in die situasie is waar jy ’n hele rusdag in die week tot jou beskikking het om juis dit te doen. Laat jou doen en late op daardie dag sê: Dankie, Here, vir u sorg!

      Die boodskap van hierdie gebooie is eenvoudig: Die enigste God het jou vrygemaak. Ook van jou beheptheid met mense se goedkeuring en besittings se suigkrag. En van jouself. Eer Hom daarvoor, ook deur jou in godsnaam nie weer te laat verslaaf nie.

      ____________________

      Ek is u vrygemaakte kind. U is my Vader. U sorg dag na dag. Ek eer u Naam.

      Maandag 5 MAART 2018 Lees Eksodus 20:12-17

      Vergewe U dít?

      “Jy mag nie … begeer nie” (v. 17).

      Die tweede helfte van die Tien Gebooie begin klaarblyklik by die vyfde gebod (al gee die vierde gebod reeds ’n aanduiding van hoe God hieroor dink deur die medemens – seuns en dogters, die werkers en die vreemdelinge wat by jou is – en diere by die sabbatsgebod in te sluit).

      Maar wanneer die Bevryder Hom volledig tot die bevrydes, ons, se verhouding met die medemens wend, begin Hy by die verhouding met ons ouers. Maklik, nie waar nie? Ja, wel, as jy geseënd genoeg is om ouers te kan hê wat dit vir jou maklik of selfs net moontlik gemaak het om hulle te eer.

      Moord pleeg? Nie sommer nie. Al sê Jakobus dat die tong vol dodelike gif is. En ’n brandstigter soos min.

      Egbreuk? Hmm, ’n moeilike ene … Veral as Jesus sê kýk-met-’n-begeerte is reeds egbreuk. Ai.

      Steel? Nee. Beskuldig my van baie dinge, maar nie van diefstal nie. Elk van my CD’s en DVD’s is die oorspronklike weergawe, elke versekeringseis ’n akkurate weergawe van wat ander by my gesteel het.

      Vals getuienis teen my naaste? Ag, wat is ’n bietjie skinder nou? Of ’n knertsie oordrywing? Dit is tog bloot om ander te laat verstaan presies hoe sleg dáárdie een is.

      Begeer? Ag, Here! Ek vra nie baie nie. Ek wil bloot hê wat ander het – aansien, erkenning, vergoeding. Selfs ’n bietjie meer, as dit kan.

      ____________________

      Vergewe my vir wat ek alles doen om te kry wat ek wil hê. As ek mense uit die pad vee sodat my wil kan geskied. Of, Here, Hére, vergewe U dit nié?

      Dinsdag 6 MAART 2018 Lees Psalm 19:2-7

      Die hemel getuig

      Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (v. 2).

      Die ou geloofsvaders het gesê ’n mens kan God deur sy Woord én deur sy skepping leer ken. Vir sommige mense is die Woord deurslaggewend: Hier hoor jy die Here se stem en só verneem jy sy voorskrifte. Dit is die bron van jou troos, hier leer jy hoe om te lewe. Dit is die lig op jou pad en die lamp vir jou voet.

      Hierdie begenadigde mense lees die Woord maklik en gereeld. Hulle verstaan wat hulle kan verstaan en gaan soek na ’n verklaring vir die moeilik verstaanbare gedeeltes. God se Woord is vir hulle vertroude en betroubare leesstof. Tussen die voosgevatte bladsye leer hulle God ken, in soverre Hy Hom laat ken.

      Daar is wel ook dié wat om ’n verskeidenheid redes moeiliker aan ’t Bybellees kom, indien hoegenaamd. Dalk kan hulle nie, dalk wil hulle nie. Straks het hulle lankal opgegee met hierdie ou, stowwerige klomp geskrifte. Vir hulle is die Bybel vir alle praktiese doeleindes ’n geslote boek.

      Hierdie Bybelarmes sal God op ’n ander manier moet leer ken, as ons die ou vaders wil glo. Hulle sal moet luister as die hemel getuig. Hulle sal diep in die uitspansel moet intuur om iets van God te sien.

      Ag, dalk nie só diep nie. Dalk moet hulle bloot die boodskap van die dag-en-nag-wisseling ter harte neem, die son se stralende hemelreis dophou. As jy ’n oog daarvoor ontwikkel, sal jy waarskynlik ook die hand daaragter kan raaksien en sy spoor in die melkweg volg. En jou sy krag kan verbeel.

      Wie God só leer ken, ken Hom beter as baie.

      ____________________

      Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! Hoe glansryk is u majesteit.

      Woensdag 7 MAART 2018 Lees Psalm 19:8-15

      Die woord van die Here

      Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe (v. 8).

      Dit is geseënde mense wat hul vreugde en vrede in God se woord vind. Hulle hoor duidelik as Hy daaruit met hulle praat. Hulle het geleer om fyn te luister.

      Hulle weet ook dat niks hieraan vanselfsprekend is nie. Hulle is, inteendeel,

Скачать книгу