Скачать книгу

aan selfone vasgesweis, mense in rystoele, almal op ’n eie missie, doelgerig, wanordelik, onkenbaar.

      Hy verkies dit om tuis te bly, sy eie paadjie uit te trap.

      Anderkant die groot oopglydeure in die aankomssaal is hy pynlik bewus van eggo’s en uitroepe, mense wat mekaar bestorm en tranerig om die hals val, mekaar papdruk en soen.

      Die hoofpyn is weg, besef hy verbaas. Sy fokus verskerp, sy hartklop bedaar. Hy wil nie te gou bly raak nie, netnou jinx hy die skielike verligting. Dalk speel sy ou metgesel net wegkruipertjie …

      Hy sien nie vir Hartman nie. Ook nie daai kordate assistentjie van hom nie. Seker te veel gevra; dat die beroemde sjef sy ouboet persoonlik op die lughawe kom verwelkom.

      Dan sien hy die swart man in die donker pak en keps wat ’n bordjie ophou: Mnr D Swiegers.

      “Hallo, ek’s Darius Swiegers.”

      Hy skud die man se koel, onpersoonlike hand.

      “Ek is Chakalaka,” antwoord die man in ’n diep, monotone stem.

      “Bly te kenne, Chakalaka.”

      Die man neem sy tas oor, begin aanstap in die samedromming van herontmoetings.

      “Die limo is naby, volg my asseblief.”

      “Limo?” Darius volg gedwee, verwonderd oor die man se deftige uitrusting, blink leerskoene en goue mansjetknope. “Werk jy vir Hartman?”

      Die man knik waardig, hy gaan duidelik nie inligting vrywillig uitdeel nie.

      “Verskoon my. Chakalaka, is dit jou … regte naam?”

      Aan die ligte frons en donker kyk lei Darius af dis een van Hartman se troetelname wat hy met genoegdoening aan sy personeel uitdeel.

      “Toemaar,” mompel hy. “My broer kan seker nie jou regte naam onthou nie.”

      In die besige deurpad voor die lughawe staan die slap swart limousine met donkergetinte vensters drie parkeerplekke vol – met “spesiale vergunning” verkry, aldus Chakalaka.

      Die bestuurder laai die bagasie in die kattebak en hou die agterste deur vir Darius oop, weier stug dat sy passasier voor langs hom kom sit: “Jammer, meneer. Teen die reëls.”

      Darius klim in en sink dadelik weg in die swart leersitplekke. Hy voel soos ’n stout kind op deftige banke wat te groot is vir hom. Daar’s beenspasie, ’n uitvoutafeltjie met sjampanjebottel, kristalglase, ysblokkies in ’n silwer emmer.

      “Nie verwag om soos ’n koning behandel te word nie,” mompel hy.

      Hy voel te log en breed, selfs in dié ruimte.

      Chakalaka skakel aan. Die voertuig versnel geruisloos, kies die aansluitpad na Pretoria.

      “Meneer se broer kon nie self kom nie. Hy vra verskoning. Besig by die restaurant.”

      “Verskoning … uhm … aanvaar,” knik Darius ingedagte.

      Hoe anders? Voortvarende kleinboet – nie dat hy meer so klein is nie – was altyd uitmuntend met sy stylvolle verskonings wat die wind volledig uit jou seile klop. Jy word genoop om die ergste beledigings te sluk, te glimlag en vergewe.

      Ná die insident by die plaashek het Hartman sy skoolskoene ses maande lank gepoets en sonder ’n enkele klagte ook sy ander werfpligte oorgeneem, hoenders kos gegee en bosluise van die waghonde afgetrek. Dit was aangrypend. Die grootmense het Hartman op die skouer geklop – hy was ’n grootman wat ander se laste dra. So volwasse vir sy jare!

      En so, met verloop van tyd, het almal vergeet van die dag by die hek. Die knop teen Darius se kop het gesak, maar die hoofpyn het gebly. En die vermoede dat dit met voorbedagte rade was …

      Daar was bloed in sy krullerige wortelrooi hare, van skooldae af die trekpleister van spotname.

      Vonk, Vuurhoutjie, Fakkel, Rooikat, Bloedklont, Wortelkop.

      Vreemdes het sy hare raakgesien voor hulle hóm opmerk. Sy ore het gegloei en rowe gebrand tydens atletiekoefening. Hartman se hare was eers vaalbruin, sonder ’n spikkeltjie rooi daarin, iets waarop die klein parmant baie trots was. (Op twintig het die rooi wel deurgeskemer, soos ’n waarskuwing.) Hartman was altyd die voorbok, kleinboet wat ouboet boelie – tot groot vermaak van die bondel napraters op die speelgrond.

      “My ma het my boetie radyse gevoer toe hy nog in sy doeke was, tot sy bek gebrand het. En rooi rissies. Ja, ek sweer! Sy doeke was rooi, hie-hie! Darius vreet net rooi kos! Rou vleis, vrot tamaties en beet! Bloedpruime tot sy maag werk! Kyk, rooibostee het na sy kop toe gegaan.”

      Ironies genoeg is die chauffeur se bynaam ook rooi kos: Chakalaka.

      Iets omtrent die bot bestuurder in sy pak en stywe houding stem Darius ongemaklik. Die oë onder dun strepies wenkbrou wat in die truspieëltjie blink, net ’n oomblik takserend op hom, om net té terloops weer pad toe te dwaal wanneer Darius hom betrap. Die kulturele informaliteit van die noemnaam wat kontrasteer met die stywe uitrusting, soos ’n karikatuur van die koloniale era.

      ’n Lamheid oorval Darius. Hy’t laas nag sleg geslaap, getreiter deur die vooruitsig aan sy reis na die noorde, die komende glansete vir BBP’s, waar hy sal moet veins en fyntrap tussen die kulinêre adel.

      Wanneer sy oë weer oopgaan, hou hulle voor die hotel stil. Hy moet gedommel het. Of al weer tyd verloor, sy lastige gewoonte.

      Weer eens hou Chakalaka die deur vir hom oop. Darius skreef sy oë teen die middagson wat op die hotel se spieëlvensters dans. Met die uitklimslag trap hy mis, maar die chauffeur stut hom ferm, hand onder die elmboog – asof hy skielik ’n bejaarde is wat uit sy loopraam val.

      “Ek moes … ’n bietjie ingesluimer het.”

      “Meneer was baie stil.”

      Chakalaka is hulpvaardig met alles, die bagasie, inteken by ontvangs, hy skouer selfs die hotelknaap opsy om die koffer tot in die hysbak en na die hotelkamer op die vierde vloer te dra. Wanneer Darius tevergeefs in sy broeksakke delf vir ’n fooitjie, skud die man sy kop stug:

      “Nee dankie, dis onnodig, meneer. Teen die reëls. Ek sal sesuur vanaand weer hier wees om meneer op te tel. Onder by die ingang.”

      “Dankie … uhm … Chaka … uh … laka. Formeel, nè?”

      Die man knik en trek die deur sonder ’n verdere woord agter hom dig.

      Darius haal sy aandpak in ’n beskermsak uit die koffer, hang dit soos ’n maer man se lyk teen die kasdeur. Iets wat hy selde dra, net vir troues en begrafnisse. Val agteroor op die dubbelbed, vou sy hande oor sy bors, sluit sy oë. Probeer onthou hoekom hy besluit het om te kom.

      Vorige uitnodigings na Hartman se restaurantopenings het hy van die hand gewys, meestal met flou verskonings: maaggriep, te veel nutswerkies, verspoelde paaie.

      Dié keer was daar vae skuldgevoelens en morbiede nuuskierigheid wat hom genoop het om die aandpak te laat droogskoonmaak. Als was immers betaal, retoervlug, taxirit na die lughawe, hy moes net opdaag.

      Dalk was dit tyd om die bul by die horings te pak, vergelding te eis.

      En hier’s hy in die Jakarandastad, ’n rustelose metropool gewikkel in ’n pynlike metamorfose met ongekende groei in alle rigtings; verkeersknope, ’n opbloei in geweldsmisdaad, nuwe straatname waaroor beswaardes mor. Hoofstad van staatsamptenare, studente en entrepreneurs, winkelkomplekse, universiteite en restaurante, soveel eetplekke vir die aansiensoekers! Pretoria, epitomee van sukses. ’n Plek wat Hartman omarm, maar waar Darius by voorbaat ontuis voel.

      Hy wonder vir die soveelste keer hoe sy kleinboet dit alles kon regkry: die kookboeke, die handelsmerk wat hy van homself gemaak het, sjiek eetplekke in drie stede, hartlike sound bites op radio en televisie, artikels en gasoptredes as beoordelaar by kookkompetisies. Hartman die fenomeen. Almal noem hom op sy voornaam. Dis mos roem!

      Hy wat Darius is, kon nie een van dié glibberige prestasies behaal nie – sy seekos-eetplek,

Скачать книгу