Скачать книгу

een gebaar vee hy die uie eenkant toe, in die asblik in: “Geen hoender, geen uie.”

      “My duim gesny –”

      “Miskien moes jy dit ordentlik gedoen het!” snou die groot sjef skielik, ’n pot wat sissend oorkook. “Wat help ’n bloeiende sjef my?”

      “Ek sal die uie oorneem,” bied Lina aan.

      Hartman se koel oë val op haar; hy hoef niks te sê nie, sy weet hy sal later met haar afreken omdat sy Moeder Hen wil wees, sy gesag met sagtheid ondermyn.

      “Vergeet die uie. Die hoenderkerrie is uit. Doen die preie vir die wit sop met spek. Willing, help haar.”

      “Ja, sjef.” Lina droog haar hande aan haar voorskoot af. Willing sluit swygend by haar aan.

      “En jy, Jimmy.” Hartman vryf aan sy rooiblonde kantbaard.

      “As ek ’n pleister opsit, kan ek –”

      “Jy kan niks nie. Jy’s klaar.”

      “Sjef?”

      “Trek uit jou voorskoot en fok weg uit my kombuis.”

      Die stilte wat volg, tril met die fisieke manifestasie van emosies; vlak asemhaling (Jimmy), fronse (Jimmy, Willing), oop monde (Marie-Louise, Jimmy, Lina), springende wangspiere (Hartman, Willing in onbewuste nabootsing van sy mentor).

      Jimmy bly uitdagend na die sjef staar, swart oë blink.

      Hartman glimlag effens. “Traan jou ogies van die uitjies?”

      Lina, ’n ysterskottel preie voor haar uitgestoot soos ’n soenoffer, pleit: “Ons kan dit nie doen met drie mense nie, sjef.”

      “Ons? Hoeveel onse in jou pond, Lina? Ek stel nie lamsakke aan nie. Jy’s aan die stuur om pligte te herverdeel. Spring weg, die gaste is op pad!” Aan Jimmy, onwrikbaar: “Is jy nog hier?”

      “Jy kan nie met mense werk soos rubbish nie!” bars die jong man los.

      Lina probeer nog haar kop dringend vir Jimmy skud, maar hy vaar nou volstoom uit, onkeerbaar in sy bitterheid: “Ek’s nie ’n hierjy nie, ek’s ’n mens, hoor jy – maar jy … jy …”

      “Ek het jou van die straat af gevat, uit die onderdorp se sloot gesleep, jou ’n kans gegee op ’n toekoms, jou geleer om eiers te bak en deeg te meng, gedink mens kan van ’n gangster iets beters maak, dalk selfs ’n assistent vir ’n assistent wees. Ek was verkeerd. Eenmaal ’n skollie, altyd ’n skollie.”

      Jimmy se ongeskonde hand sluit in ’n blits om die uiemes op die houtbord en met ’n dierlike kreet spring hy vorentoe, lem flitsend omhoog.

      Willing se stewige greep om sy midrif laat hom sywaarts struikel terwyl Hartman met ’n vloek terugtree, een groot arm afwerend voor gesig en bors.

      Die lem skram skadeloos weg teen ’n metaalvlak.

      “Nou toe nou! Getrou aan die stereotipe. My skiewie-pel, vir jou voorspel ek ’n laaaang verblyf in Pretoria Sentraal. As jy jou gedra, skil jy dalk uie in die tronkkombuis en tjank krokodiltrane in die varkdermsop! Julle het dit almal gesien. Hy’t my aangeval in my eie kombuis. Ek dink hulle noem dit poging tot moord.”

      Dis asof Marie-Louise skielik uit ’n diep slaap opskrik, oë wyd gesper, kommetjies trane.

      “Asseblief, sjef, gee Jimmy nog ’n kans! Asseblief,” kerm sy. “Hy’t gister ’n baie slegte dag gehad, sy fiets is gesteel en hy moes vanoggend twee taxi’s vang om …”

      “Tragies, siestog die lewe is swaar! Wie’t jou aangestel as sy advokaat?”

      Die rasperstem laat haar verwelk en afkyk.

      “Verloor jou hart op ’n skollie, Marie-Louise, en jy verloor jou loopbaan, dalk jou lewe,” hervat Hartman sagkens. Marie-Louise krimp verder ineen. “Ek hoop nie jy mors jou tyd op hom nie …”

      “En jy … jy’s net ’n vet vark en ’n fokken rassis!” woed Jimmy in ’n breekstem, pluk die voorskoot af en smyt dit op die vloer, spoeg ’n geel ghwel op Hartman se skoene.

      “Jy los haar yt, hoor jy?” Jimmy beduie met hand-in-sakdoek gebal, ’n bewende vuis. “Iemand gaan jou nog ythaal, soos jy jou mense ythaal!”

      “Wie nogal? Seker nie jy nie! Daarvoor is jy te slap en gutless.” Dan in ’n hoë koggelstem: “Jy kan nie eers die chicken yt die vrieskas haalie!”

      Almal se oë is nou op Jimmy in morbiede afwagting. Willing Dlamini staan reg om in tree, maar Jimmy draai kortom sonder ’n woord, stap kromskouer na die klein aantrekkamer waar sy sigarette, donkerbril en beursie in ’n sluitkas gebêre is.

      Marie-Louise wik ’n oomblik asof sy hom gaan volg, leun dan verslae terug teen haar werkstasie.

      “Enige kommentaar? Enige verwyte, bedenkinge, vrae, enige innige drukkies?” kras Hartman. Op sy voorkop gloei ’n blosende rooi kol, asof iemand hom met ’n brandyster bygedam het.

      “Nee, sjef.”

      “Nou ja, prep gaan nie vanself gebeur nie. Ek sal help, gee my ’n voorskoot.”

      Lina wonder of sy die voorskoot wat Jimmy op die vloer gegooi het, moet optel, haal dan ’n skoon voorskoot van die haakplankie langs die yskas af. Hartman knoop dit grimmig om sy vol lyf.

      Die in-swaaideur na die sitarea klik oop en vier koppe draai verlig na die jong man wat sy verskyning maak.

      “Het ek al weer iets gemis?” vonkel Wickus Gericke.

      “Die gewone. Aspirant wat sy vingers verbrand, nie die hitte kan vat nie,” hap Hartman. “Die hoender is kliphard gevries. Ons is meer as ’n uur agter. Jy kan uie kap as jy lus het.”

      “Nee dankie,” antwoord Wickus met ’n stroopsoet glimlaggie. “Ek het my hande vol.”

      “Waarmee nogal?”

      “Wel, ek wag vir die ou wat die sekuriteitskameras installeer, sy kar het gaan staan. En die man wat die vrieskasdeur moet regmaak –”

      “Wat’s fout daarmee?”

      “Die paniekknop wat die deur ontsluit, werk nie. So, mense, moenie in die vrieskas vassit nie, asseblief.”

      Lina loer bekommerd na Hartman, kap dan vinniger aan haar uie.

      “Hoe het dit gebeur?” vra die sjef.

      “Hulle het dit agtergekom toe hulle die deur eergister ingesit het.”

      “En jy vertel my nou eers?”

      “Dis môre uitgesort. Ontspan, brombeer.”

      Wanneer die uit-swaaideur toeklik, dink Lina: Net ’n aantreklike jong man kan dit waag om so iets vir Hartman Swiegers te sê.

      5

      Darius dra die hoofpyn geduldig soos ’n rugsak of ’n noupassende helm, sy getroue makker sedert die ongeluk by die plaashek toe hy twaalf was.

      Ja-nee, hulle ken mekaar deur en deur.

      Die binnewinde van die straler blaas nog deur sy sonverbrande ore, laat hom momenteel skeel kyk waar hy wagstaan langs die piepende bagasieband. Swart oorvleuelende flappe beur en ruk bondels tasse van alle kleure en groottes vorentoe. Hy fokus moeisaam. Wat soek hy nou weer hier? O ja. Hy’t ingegee. Hom laat ompraat.

      Hy wag vir een swart plastiekkoffer met ’n groen tou om die handvatsel geknoop vir maklike identifikasie – Marta se idee – en daar kom dit juis nou wippend om die verste draai aan. Darius skuifel nader tussen die ander passasiers deur, effens gebukkend, sy swetende vanghand begin al oopgaan …

      Die hoofpyn pik hom venynig tussen die oë, laat hom byna saam met die koffers op die bagasieband beland. Hy herwin sy ewewig betyds, verbaas om die tas in sy hand te sien ná die oomblikke van blinde pyn.

      Hy

Скачать книгу