Скачать книгу

rank en hy is trots daarop, al woon hy vier jaar in die stad, al voel hy dikwels soos ’n dwalende groen loot in ’n oerwoud van klip, al kyk hy verbaas na die vreemde gewoontes van ander; die Afrikaners, die Engelse, die bonte kudde van nasies wat hier in een grys kraal gejaag word. Die swygende gehoorsaamheid van seun aan pa is outomaties en sonder klagte oorgedra aan sy nuwe wit pa in die kombuis, sy streng baas wat hom byna presies nes sy eie stugge en afsydige pa behandel.

      Willing se opvoeding in die veld was hard, sy vel is glad nie dun nie. Hy het baie slae gekry met stokke en knopkieries. Al was hy kaal in die stof, bibberend in die nag se koue omhelsing, hy kan deurdruk sonder ’n gekerm. Hy raak nie nukkerig nie, hy broei en vloek nie soos Jimmy Brown nie, hy werk alles uit sy lyf en kop uit, hy werk tot hy omval.

      Ja, hy bewonder en respekteer Hartman, die kos-indoena, selfs al reën die kwetsende name soos haelstene op hom.

      Wat sy geheime spoegie in die mosterd soveel gevaarliker maak. ’n Onvergeeflike oortreding, ’n sonde wat hy nie mooi in sy beknoeide kop kan uitmaak of bepraat nie. Waar kom dit vandaan? Hoekom sou hy sy hele loopbaan wou opneuk? Noudat daar ’n vae kans is dat hy uitvoerende sjef kan word in ’n nuwe spogrestaurant?

      Was dit hy, of was dit die voorvaders wat van hom besit geneem het?

      Wanneer hy naweke saam met sy maats by die mynkampong al die ou ritmes en tradisies gaan dans, stampende steweldanse wat die aarde laat sidder en dreun; en ouer, wilde groeprituele wat hom laat voel soos ’n bloeddorstige kryger of jagter met skild en spies (umGhubho), voel hy dikwels iets of iemand in hom vaar; sy longe en keelgat word met rou krete gevul, kragstrale pomp deur sy bene en voete en buikspiere. Dan word hy gewring en gekneus in ’n onsigbare vuis tot hy los raak en sy gedagtes uitmekaar spat soos mieliepitte.

      As kind het hy die grootmense om die nagvure net buite die geel ligkring nageboots wanneer hul voete ploftrap in die stof; die indrukwekkende buldans met arms omhoog, dreigende jagdanse met stokke wat swiep en tol, umQhogoyo met bolywe wat skud, umBhekuzo se golwings met die aanval-terugval van rye krygers tot die klimaks wanneer die dansers hul diervelle oplig om hul blink boude te wys.

      Dan het hy geluidloos gelag met tande wat glim in die vuurlig – hie-hie-hie – terwyl vonke hoog opspat … hy kon die voorvaders se goedkeuring voel.

      Mlungisi, Mlungissssiiii.

      Sy naam sis wanneer die oonddeure oopgaan. Fixer, regmaker.

      Dié naam het hy gekry toe hy Zacharias se seer vinger styf vasgehou het in ’n onbreekbare baba-greep. Die volgende dag, tot die oumense se verbasing, was sy pa se vinger gesond en die swelsel van ’n bysteek weg.

      Van daardie dag af het Noxolo hom heimlik Willing begin noem; want sy’t geglo hy sou altyd gewillig wees om sake in eie hand te neem, haar klein koning. Sy was al een wat hom so genoem het, sy het hom snags teen haar bors gesus met wiegeliedjies van moederlike trots en aanmoediging.

      Een van die dinge wat hy moeiteloos kon doen, een van sy talente, was spoeg.

      Hy kon klippers oor die water laat sweef en wip soos naaldekokers, houtlepels kerf saam met die mans terwyl hulle fluit vir die meisies, dans-val-hoogskop-aanval tot die sweet in sy nek en oksels kielie. En spoeg. Sy kieste volwoeker met bolle skuim en – TJJOET! – ’n lang blerts uitskiet wat sy maats laat jil en bokspring. Spoegrekords het gereeld gespat.

      Dit het hom soos ’n mamba laat voel, ’n swart spoegslang wat sy vyande oor ’n afstand teiken wanneer hulle dit die minste verwag – reg in die wit van die oog!

      Amper doen hy dit weer!

      Willing sluk die versamelde bol spoeg weg, skeur sy gedagtes uit die ruigtes van sy kindertyd, skuif die mosterdbak buite bereik (net vir ingeval!) en soek die lys take wat nog afgehandel moet word voor die deure oopgaan.

      ’n Rapklingel uit Marie-Louise se voorskootsak trek sy aandag.

      Sy haal haar foon uit en lees ’n boodskap op die skerm met ’n groeiende blos op haar vol wange.

      “Verskoon my ’n oomblik, julle. Gaan gou asemskep!”

      Marie-Louise vee haar hande aan haar voorskoot af, skik haar klein geel bolla en gaan by die agterdeur uit.

      Willing vang Lina se oog. Sy skud haar kop, vee ’n beswete krul uit haar oë en skil verder.

      Hulle weet albei Marie-Louise gaan iemand buitekant ontmoet, nie juis moeilik om te raai wie nie. As Hartman uitvind, is sy ook uit.

      “Vars lug, nè?” mymer Lina Draai.

      “Uh-huh. Seker ’n rokie gaan vang,” haal Willing skouers op. Hy praat nie graag sleg van kollegas nie.

      “Maar nie op haar eie nie.”

      “As dit Jimmy is … Sjef sal nie daarvan hou nie.”

      “Sjef het gelukkig sy pak gaan aantrek. Sy moet net wikkel.”

      Willing strek sy rug, rol sy skouers. “Dink jy ons het genoeg van als, Lina?”

      “Sjef was deeglik. Maar ons sal moet spring om by te bly vanaand. Is die mango-mosterd klaar?”

      Willing knik, vee sweet met ’n voorarm van sy voorkop af. Sy gladde gesig verraai niks, al knoop sy maagspiere.

      “Dan sal ek solank ’n paar starters begin plate,” bied Lina aan.

      “As jy dink dis nie te gou nie …”

      “Groente is reg, herderspastei en bobotie innie oond, dis nog net die melkpoeding.”

      Lina leun nader en neem die aluminiummengbak met oranje mosterd by hom.

      “Lyk lekker. Lieflike kleur.” Sy proe nie daaraan nie.

      “Dankie, Lina.”

      Sy hou die bak met albei hande vas, maar in die omdraai stamp haar arm teen die hoek van die tafel en die mengbak kletter skril op die vloer. Die mosterd maak ’n swam op die vloer, daar is blertse oor haar voorskoot, kuite en skoene. Willing vloek byna self van skok.

      “Ag jirre, kyk wat maak Lina Draai nou! So jammer, my ding! Al jou werk verniet. Raak lomp op my oudag,” raas sy met haarself. “As daar nog tyd is – ek sal jou help – kan ons gou nog ’n mosterd meng.”

      “Moenie worry, mama,” protesteer Willing. “Ek maak dit tjop-tjop!”

      “Dankie, Willing. Jy’s ’n staatmaker. Begin solank. Anders het ons vandag mosterd ná die maal!”

      “Huh?”

      “Dis wanneer jy iets tafel toe vat wat … ag toemaar, vertel jou later!”

      Terwyl Willing nog eiers gaan uithaal, loer hy oor sy skouer na Lina.

      Sy is besig om haar stewige kuite en skoene met ’n vloerlap skoon te vee terwyl sy selftevrede neurie. “Waar’s die blerrie mop?” prewel sy.

      ’n Rilling glip deur hom. Het sy die bak aspris laat val? Indien wel, moes sy hom gesien het vroeër toe hy …

      Willing begin die eiers in ’n skoon mengbak breek en skei, breek en skei, outomaties, sy hande tril net liggies, sy donker masker so glad en onleesbaar soos hare.

      8

      Die groot oomblik breek aan.

      Elke Baie Belangrike Persoon op die rooi tapyt kry kans om die gasheer (vanaand die belangrikste van almal) se hand voor die ingang te skud.

      Greta troon ’n volle koplengte uit bokant die groep voor haar wat tree vir tree aanskuifel. Ondanks bedenkinge begin sy dit nou geniet.

      Vyf mense voor haar. Vier.

      Dis Latoya wat nou voor die sjef staan. Hulle wissel ’n paar woorde wat sy nie vang nie. Die interaksie lyk intens eerder as vriendelik, Latoya skud haar kop nors voor sy die restaurant binnemarsjeer. Het sy haar gewip? Het hulle ’n mini-argument gehad? Dit lyk asof hulle mekaar ken, dink Greta.

      Die ry beweeg tree vir

Скачать книгу