Скачать книгу

      “Vir kolonel ’n Big Crunch met bacon en een Diet Pepsi. Vir Ella medium tjips met sout en asyn, en een swart koffie. Vir die uwe ’n Crispy Strip Snack Box met een bottel Aquafina. Tjeers, prost en Gesundheit!”

      “Wat dink jy, Ella?” vra die kolonel en gee die Big Crunch ’n allemagtige hap.

      Sy dink: gebraaide hoender en Diet Pepsi is soos om met een voet op die petrol en die ander een op die briek te ry. Maar sê: “Ek’s nog bietjie onseker, kolonel. Dit was alles so skielik, nogal op my áf naweek – taamlike groot sprong van ’n organiese mark tot ’n moordtoneel.”

      “Ja, toe nou maar, jy’t dit genoeg ingevryf. Ek het Fred eerste gebel, as hy nie by die veearts was nie, was dit sý saak.”

      “Dis oukei, kolonel, alles werk mos ten goede. Miskien die beste dat ek hier is. Om my aandag af te lei van ander goeters. Maar ek het nog nie spesifieke idees nie.”

      Dis wat almal wil weet – Jimmy, Stallie, Dok, nou die kolonel: Wat dink jy, hoe vorder jy, al iets gekry, enige idees?

      Natuurlik is dit nie net uit professionele nuuskierigheid nie. Só iets, só ’n moord word gou persoonlik. Jy probeer ’n afstand hou, maar dis moeilik. Hulle is almal, hoe gesout ook al, duidelik diep geraak deur wat hulle vanoggend in hierdie woonkamer gesien het. En die gewelddadige dood van ’n vrolike, mooi ma van twee jong seuns … dit slaan jou ekstra hard. Dié slagoffer is nie ’n boef wat in ’n straatgeveg oor dwelms of drank of die verdeling van buit ’n koeël of ’n lem in die hart gekry het nie.

      Vannag, alleen in haar eie bed, sal sy begin rekonstrueer en hopelik môreoggend met vars insigte wakker word. Môre kan hulle haar weer vra wat sy dink en of sy enige idees het. En Maandag se outopsie sal verdere insigte bring, selfs leidrade, daarvoor sal Dok sorg. Want die liggame praat áltyd met hom.

      Sy kyk hoe die kolonel gulsig met die Big Crunch afreken en met die papierservet sy lippe en vetblink ken afvee en sy sedige moestassie bestreel. En dan aan niemand in die besonder nie sê: “Ons moet maar goed kyk na meneer Heyns, met sy gerieflike Sun City-alibi en sy lovey-dovey SMS’e.”

      Ja, dis wat sy ook al gedink het, nie omdat sy bevooroordeeld is teen onverwagte wewenaars nie, net dat dit in haar opleiding so by haar ingedril is. Soek meneer se sexy skelmpie, soek meneer se geldskuld, soek die nuwe uitkeerpolis van ’n paar miljoen wat meneer onlangs op wyle mevrou se lewe laat uitneem het. Dus, besoek eers al die gewone motiewe, so holrug en oud soos die mens self, en selde verkeerd.

      Háár Groot Drie hoef sy nie in bosse te gaan jag nie, hulle is oral, op enige plek, in enige hart. Geld. Liefde. Wraak. Die aartsmotiewe waaruit elke bose intensie spruit – hebsug, skuld, drank, dwelms, seks, jaloesie, haat, woede, trots, vernedering, onreg.

      Jy leer dit ook in speurkursusse en die FBI bespreek dit in sy handleidings: bejeën gades altyd as eerste verdagtes in so ’n saak, want die geskiedenis, die statistiek, die misdaadrekords leer ons dat in tagtig persent van sulke moorde blyk daar bloed te wees aan die hande van die bedroefde, liefdevolle gemaal – wellig figuurlike bloed, want dikwels is ’n alibi bekonkel en het silwerstukke hande gewissel vir die pleeg van die vuil daad.

      Ella se sel lui. Sy kyk na die naam van die beller en wonder of sy moet antwoord, stap visdam toe en sê: “Hallo, hoe was die gholf?”

      “So-so. En die mark, gekry wat jy soek?”

      “Iets het voorgeval.”

      “Seker dan ook nie by Putzi uitgekom vir die steaks nie?”

      “Jy kon gaan, jy’s seker lankal by die huis.”

      “Uh … nee, nog by die gholf.”

      “Dis amper vieruur, by die negentiende vasgehaak?”

      “Nee, nee, netnou eers klaar.”

      “O, ek dog jy’t nege-uur al afgeslaan?”

      “Wat het voorgeval?”

      “Ek’s séker jy’t gesê julle afslaantyd is nege-uur. Jy’t nog gesê jy sal dalk betyds wees om die vleis sommer self by Putzi te gaan haal – ingeval ek nie in Linden regkom nie en Bryanston of Houghton toe moet ry.”

      “Daar was ’n probleem, ons het eers later afgeslaan. Waar’s jy?”

      “Watse probleem?”

      “Besigheid … dringende kliënt.”

      “Dringend op ’n Saterdag?”

      “Wat het voorgeval?”

      “’n Moord het voorgeval. In Aucklandpark.”

      “Jy’s nie veronderstel om te werk nie.”

      “En jy’s nie veronderstel om so laat nog gholf te speel nie.”

      “Silas kon iemand anders gekry het. Vir Fred Lange.”

      “Wil jy dit vir hom sê? Hou aan, ek gee die foon vir hom.”

      “Nee, dis oukei! Dink net hardop. Sal die steaks op pad huis toe gaan oplaai.”

      “Jy gaan dit nie maak nie, Putzi sluit Saterdae vieruur.”

      “Ek sal hom waarsku ek kom.”

      “Dis reeds vieruur.”

      “Ek dink ek het nog tjops en wors. Hoe laat kom jy?”

      “Dis kliphard gevries. Luister, Lou, ek gaan dit nie maak nie, almal is nog hier besig. En ek wag vir die slagoffer se man. Dit gaan ’n lang nag word, ek bel jou môre.”

      Dringende besigheid. Ga! Dringende kliënt wat nie haar dêm pote kan tuishou nie!

      Vyfuur voor Clara se rekenaar lui Ella se sel. Dis die afloskonstabel op hekplig. “Warrant, meneer Heyns is hier, sê hy’t vroeër met jou gepraat, sê dis sy huis dié.”

      “Dankie, laat hy inkom, ek’s in sy vrou se kantoor.”

      Sy herken hom onmiddellik van die gesinsfoto’s af. Nou net somber, sweetkolle aan die bors en oksels van sy hemp, sonbruin arms fris en harig, die buitelewe-tipe.

      “Waar’s sy? Waar’s my vrou?”

      “Sit, meneer Heyns, laat ons gesels.”

      Het hom duidelik op pad sit en opwerk. Hy ken reeds die hooftrekke, maar sy verstaan dat hy elke detail wil weet, elke kriesel. Alle naasbestaandes is so. En dit kan sy nie gee nie, want ’n moordondersoek berus nie op afleidings, bespiegelings of raaiwerk nie; elke leidraad en bewysstuk word eers getoets, moet eers forensies bevestig word. Soos die wond wat Dok tussen haar hare gekry het. Die afleiding is dat sy met die glasbak geslaan is om haar te bedwing. Maar sy kon ook geval en haar kop teen ’n sytafeltjie gestamp het.

      En hoe kan sy vertel van die duimspykers in die oë voor die amptelike bevinding in ’n regsgeneeskundige ondersoek? En die verhale van vasgebinde hande en voete, van gebreekte naels, van wit vlerke op haar rug, van ’n versteurde broekie. Dit kan net deur feite vertel word, en daardie feite het sy nog nie. Dieselfde vir die serp om haar nek. Dit lyk of sy verwurg is, al die tekens van livor mortis en petegiese bloeding dui daarop. Maar wat as Dok agterna in die outopsie haar bors oopmaak en haar hart uithaal en bevind Clara Heyns is aan ’n hartaanval dood terwyl ’n serp dalk per ongeluk te styf om haar nek vasgetrek is?

      Dan’s dit manslag, nie moord nie. Dan kan meneer Heyns omdraai en sê: Maar jy’t gesê my vrou is vermoor! Hoekom sê jy so iets? Weet jy wat dit aan my en my kinders en ons familie gedoen het? Jou onbehoorlike uitlatings? Watse soort speurder is jy dan wat so ongevoelig is, wat sulke wilde uitsprake die wêreld instuur? Het jy dan nie ’n hart nie, warrant Neser?

      “Wat het gebeur? Jy sê sy’s dood gekry. Hoe’s sy dood? Clara is ’n gesonde vrou, sy gaan nie net sommer dood nie. Dit was ’n inbreker, nè?”

      “Meneer Heyns –”

      “Wie’s in beheer? Waar’s die offisiere?”

      Sy

Скачать книгу