Скачать книгу

sy laaste bene. Sy ou hond, nie Fred nie. Goed, spring aan die werk, warrant!”

      Sy kyk die kolonel agterna, dankbaar dat hy haar nie op ’n Saterdag alleen los met ’n moordondersoek nie, dat hy Stallie en Fred opgekommandeer het, al sou dit ou suurgat Fred nie erg beïndruk nie.

      Sy kry lewe, gaan vra ’n ziploc-sak by een van die forensiese manne, en kry die mynah, intussen uit die pad geskop agter een van die twee potte in. Die lyf stokstyf toe sy dit met ’n lateks-hand in die plastieksak laat val en die sak verseël. In die kombuis kry sy in ’n groentelaai van die yskas plek vir die voëlkarkas tot sy vanaand huis toe gaan.

      Die massiewe dubbeldeur-yskas van vlekvrye staal, die graniet van die kombuis se werkoppervlakke – alles net die beste. Duidelik draai die Heynse nie sente om nie. Wat sou meneer Heyns doen wanneer hy nie diere doodskiet nie? Van die kombuis af stap sy voorportaal toe waar Clara Heyns haar mooi, groot huis skaars ’n halfuur terug die laaste keer verlaat het, op ’n draagbaar in ’n groen lyksak.

      Nie eintlik ’n portaal nie, eerder ’n ruim foyer, Persiese mat, antieke kapstok, antieke penanttafeltjie met droë rangskikking, teen die muur ’n skildery van drie kleurryke kopdoekvroue teen ’n rokerige township-agtergrond. Koloane, is dit onderteken.

      Uit die foyer, net regs van die voordeur, is Clara se kantoor. In dié deur staan Ella nou eers die vertrek en beskou, doodgewoon en prakties, selfs onpersoonlik. Die blindings voor die venster is toegetrek en op die lessenaar is die staanlig aan. Dit sê Clara Heyns is laas nag in ’n stadium hier by haar lessenaar onderbreek, net tydelik, want sy het verwag om terug te kom.

      En sy is nie onsag onderbreek nie. Afgesien van die tekens van vingerafdrukpoeier is daar geen versteurings nie – geen laaie is oopgepluk, geen papiere lê verstrooi nie. Die kantoor is net so ordelik as die res van die huis.

      Dis nie hoe gewelddadige inbrekers ’n vertrek agterlaat nie. Hulle werkwyse is net so chaoties as die barbaarse impulse wat hulle dryf. Watter inbreker sal daardie skootrekenaar net so los, en die iPhone en iPad, alles so oop en bloot?

      Dis ’n moderne L-vormige lessenaar met ’n draaistoel. Oor die stoelrug hang ’n handsak. Die skootrekenaar staan op die kort been van die L, die skerm opgeslaan en donker, maar blou en rooi liggies wys dit slaap net, langsaan ’n boks Kleenex en ’n stapeltjie lêers. Op die lang L-been is die staanlig, ’n foto van haar twee seuns, twee aanknip-oorringe met blou steentjies, die sel, tablet, skryfgoed, dagboek, fyn porseleinkoppie met teereste en ’n landlynfoon met knippende rooi oog.

      Die boodskappe moet eers wag. Sy trek die laaie oop. Dit bevat gewone skryfbehoeftes, A4-pak vir die drukker, lap met botteltjie blou Screen Cleaner, sakrekenaar, kabels vir elektroniese toestelle, oorfone. En in die onderste laai ’n plastieksak met ’n Sony PS4 nog in sy boks en ’n kwitansie vir ’n kontanttransaksie van R5 499,90 van The Gaming Spot, Central Road, Fordsburg. Die kwitansie is gedateer 2 Desember. Gister se datum. Is die PlayStation ’n Kersgeskenk vir een van haar seuns?

      Oorkant die lessenaar is gastestoele, teen ’n muur ’n boekrak met Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders DSM-5; Life Skills for Autistic Children; Gestalt Therapy: History, Theory, and Practice; The Art of Helping; Psychotherapy in a Cultural Context; A Person-centered Approach to Therapy …

      Langs die venster twee liasseerkabinette, bokant hulle geraamde sertifikate en aanprysings, almal uitgereik of opgedra aan Clara Heyns: graadsertifikate; lidmaatskap van VOG (Vroue-Ondersteuningsgroep); toekenning van Abantwana abakhusekile – For your unselfish devotion to children in need; toekenning van die Centre for New Beginnings – For your inspirational service in the fight against drug addiction. Ook foto’s van Clara Heyns saam met verskeie jonger en ouer vroue, almal erg vernaam uitgedos.

      Ella trek die blindings oop en kyk uit op die klein voortuin se grasperk en struike, en op die tuinpaadjie tot by die voorhek waar Adam Jonker se bromponie gestaan het. Goeie uitsig op besoekers. Maar die voorhek in die grensmuur is nou toe, met waarskynlik ’n wag buite en ’n fluisterende, skinderende samedromming op die sypaadjies.

      Clara Heyns se draaistoel van chroom en swart leer gee sag mee toe sy gaan sit. Gemaklik, nóg diep uitgesit, nóg so hard soos haar eie staatsdiensstoel. Waarvoor sy spesiaal ’n kussing van digte spons gaan koop het omdat haar boude gou seer gesit raak, so sonder skokbrekervetjies.

      Sy begin die handsak uitpak. Aan die begin het sy erg skuldig gevoel oor die gesnuffel in ’n dooie se intieme sake, maar dit het sy intussen leer regverdig: dis nie voyeuristies nie, dis vir ’n goeie doel, sy soek tog leidrade sodat geregtigheid kan geskied, juis sodat die slagoffer se dood vergeld kan word. Want dis die ánder aaklige ding van die dood: jy’s so uitgelewer, so ontneem van jou privaatheid, so weerloos teen vreemde oë en hande wat jou persoonlike besittings beloer en jou diepste geheime priem, jou intiemste liggaamsdele betas, tot selfs binne-in jou liggaam.

      Dis hoekom sy haar altyd voorneem, elke keer met só ’n slagoffer, om te sorg dat haar eie sake in orde is, dat haar eie geheime opgeruim is, dat daar niks rondlê wat ook in die dood ’n verleentheid vir haar kan wees nie; dat haar voete as’t ware altyd gewas is, soos haar ma haar as kind gemaan het.

      Sy pak Clara Heyns se persoonlike, daaglikse lewe op die lessenaar uit: bossie sleutels, snesies, lipstif, borsel, deodorant, sonbril, hoofpynpille, beursie. Sy maak die beursie oop en krap dieper in haar private lewe: krediet- en debietkaarte, tjekboek, kontant, ID, rybewys, afspraakkaartjies van ’n ginekoloog en optometris.

      Die iPhone is, soos die rekenaar, ook steeds aangeskakel, maar die battery is byna afgeloop. Sy kry die laaier langs die rekenaar, konnekteer dit aan die sel. Gelukkig is daar geen sperkode nie. Sy soek die lys onlangse oproepe, ignoreer eers die gemistes.

      Die eerste naam is ADAM. Haar oproep na sy nommer was Vrydag 17:14. Dit klop; hy het gesê sy het gistermiddag net ná vyf gebel.

      Ella wonder oor meneer Heyns se voornaam, grou opnuut in die lessenaar se laaie en kry pos. ’n Rekening, dis wat sy soek, soos dié een van die Johannesburgse munisipaliteit aan Mr & Mrs Tom Heyns.

      Maar dit sal onvanpas en bietjie hardvogtig wees as ’n wildvreemde stem hom skielik bel en sê: Jou vrou is verwurg, kom huis toe. Die regte optrede is om ’n familielid of familievriend te kry om hom te bel. Die fatsoenlikste is dat so iemand persoonlik Sun City toe ry om hom te gaan bystaan en terug te vergesel en te ondersteun. Maar waar kry sy familie of vriende? Sal die bure weet?

      Sy bel vir Stallie.

      “Hoe voel jou kop?” vra hy. “Dog dis jou af naweek.”

      “Dog ook so,” sê sy. “Wat kry jy?”

      “Sover niks, niemand het niks gesien nie, jy’s te haastig.”

      “Vra oor familie, dis wat ek nou eers soek.”

      Dan begin sy met die oproepe wat Clara Heyns Vrydag gemaak en ontvang het. Tegniese Dienste sal later die hele oproepgeskiedenis van die iPhone ontleed en volledige selfoonstate bekom. Intussen hoop sy op ’n spoor uit al Vrydag se oproepe, nommers, boodskappe en teksgesprekke op SMS en WhatsApp, of watter app Clara Heyns ook al gebruik vir haar instant messaging.

      Maar ’n uur later is sy teleurgesteld. Dit blyk dat Clara, soos sy, nie ’n groot app-gebruiker is nie. As sy ’n kitsgeselser is, gesels sy sommer direk oor die foon.

      Sy bekyk die lysie van Vrydagaand se laaste paar oproepe en boodskappe van en na die iPhone:

      18:42 – Sy bel Tom, waarskynlik by Sun City.

      19:11 – Sy bel ’n landlynnommer met kode 014.

      21:09 – Sy kry ’n oproep van ene Max.

      21:36 – Sy kry ’n SMS van Tom: Wens jy was hier. XXX.

      21:38 – Sy stuur ’n SMS aan Tom: Ek wens ook so. Mis jou. XXX.

      Vanoggend se misgeloopte oproepe is:

      07:31: Van Tom. Hy los nie ’n boodskap nie.

      07:42: Van die 014-nommer. ’n Jong seun se stem: “Mamma, ons gaan vandag saam met Oupa dam

Скачать книгу