Скачать книгу

Administratief. Hanneke was een van vier assosiate in die span.

      Klaarblyklik werk sonder risiko, sonder geheimhouding of opspraak.

      Haar bankstate wys net ’n vrou wat goed geld verdien én bestee het, maar haar geldsake was nie buite beheer nie, daar is niks wat sy aandag trek nie.

      Om twintig oor twee kan hy nie meer konsentreer nie. Hy maak al die dokumente bymekaar en plaas dit sorgvuldig terug in die lêer. Hy gaan luister by Alexa se kamerdeur. Sy slaap.

      Hy urineer in die tweede badkamer, was sy hande en sy gesig. Stap terug kamer toe, maak die deur toe, trek uit. Hy stel sy selfoon se wekker vir sewe-uur en klim in die bed, die moegheid swaar in hom. Lang dag.

      Maar Griessel se kop bly werk.

      Daar is iets aan die dossier wat hom pla. Nie ’n ooglopende tekortkoming nie, net ’n vae gewaarwording. Van ’n speurder wat op al die regte plekke gekyk het, al die regte vrae gevra het. Deeglik, volledig, volgens die boek. En niks meer nie. Geen flair nie. Geen voorgevoel nie. Hy weet hoe ondersoeke werk, jy gaan deur jou roetine, jy begin by die mense naaste aan die slagoffer en as dit niks oplewer nie, span jy jou net al hoe wyer. Tot jy iewers op ’n ding afkom wat hier in jou agterkop gaan sit, ’n vermoede, ’n wanklank, ’n vals noot, en dan gaan grawe jy daar, jy fokus, jy pas druk toe. En nege uit die tien keer is jy reg.

      Instink.

      Hy kry dit nie in die Sloet-dossier nie. Die probleem met stasiespeurders is deels die opleiding, die groot klem op forensiese hulpmiddels en tegnologie. Intuïsie tel nie meer nie. En die gebrek aan ervaring, want hulle is dikwels jonk, werk soms in vreemde omgewings, ander kultuur- en taalgroepe, onder groot druk van alle kante af. Hulle doen hul bes, maar …

      Dit was nie roof nie. Die skootrekenaar en die selfoon daar op haar werkstafel … Al kan niemand sê of iets uit die woonstel weg is nie, was diefstal waarskynlik nie die motief nie.

      En sy is nie bý die deur dood nie. Haar liggaam lê bykans vier meter die woonstel in, en die bloedpatroon sê sy is minstens drie meter van die deur af gesteek. Van voor af. Sy het nie probeer omdraai of vlug nie – sy het haar aanvaller gekonfronteer, maar nie gekeer nie. Nie vir haar lewe baklei nie. Griessel maak die prentjie oudergewoonte onwillekeurig in sy kop, half teësinnig: Sy maak die deur oop. Sy sien wie dit is. Sy loop agteruit …

      Maar sy keer nie?

      Die voordeur se handvatsel is skoongevee.

      Hanneke Sloet het bo in die slaapkamer sit en werk. Die glas wyn staan daar, die rekenaar, die lêers.

      Dit wil nie inmekaar pas nie.

      En die foto’s. Sloet wat dit doelbewus in ’n ateljee laat neem het. Uitlokkend. Kaal.

      Tog was sy die afgelope jaar in geen ernstige verhouding nie. Dit pla hom, dié kombinasie.

      Miskien het sy nie tyd gehad vir verhoudings nie. Sesuur soggens in die gimnasium, saans eers aguur huis toe. Verlede jaar nog van Stellenbosch af ingery, saans weer terug.

      Miskien. Maar waarom dan die foto’s, die moeite?

      Hy moet onthou om vir Tommy Nxesi te vra waar hulle daardie foto’s gekry het. Waar het sy hulle gebêre?

      Hy hou sy gedagtes doelbewus by die dossier, want hy wil nie sy groot verleentheid herleef nie. Maar iewers op die grens van die slaap onthou hy met ’n mate van genoegdoening iemand het vanaand gedink hy is Paul Eilers.

      Dan kan hy nie só lelik wees nie.

      7

      Hy droom van Lize Beekman. Hulle stap in ’n besige straat en hy is eindeloos besig om te probeer verduidelik waarom hy so ’n belaglike ding voor haar kwytgeraak het. Maar haar aandag is nie by hom nie. Sy verdwyn, smelt weg in die skare, en mense kyk vir hom met groot afkeer op hul gesigte.

      Die selfoon se wekker ruk hom wakker en hy sit halforent, nie seker waar hy is nie.

      Hy sien die dossier op die spieëltafel. Die gebeure van gister dring stadigaan tot hom deur. Hy vryf met sy palms oor sy gesig. Hy staan stadig op, trek aan en loop badkamer toe om sy blaas leeg te maak en sy gesig te was. Dan loer hy versigtig by Alexa se kamerdeur in.

      Sy slaap nog.

      Hy oorweeg sy opsies. Hy moet huis toe, gaan stort en skeer en tande borsel en ontbyt kry – hy’t gisteraand niks geëet nie. En dan vir Tommy Nxesi by Sloet se woonstel gaan kry. Maar hy wil Alexa nie net so los nie …

      Hy neem ’n besluit, dra die lêers af na sy kar toe, kry die notaboek en pen in die paneelkissie. Die oggend is helder en skoon en windstil, die berg se rotswande gloei. Hy staan ’n oomblik in die straat daarna en kyk, dan draf hy terug, gaan sit weer in die tweede slaapkamer by die spieëlkas om vir haar ’n nota te skryf.

      Alexa

      Ek is verskriklik jammer oor gisteraand. Dit was alles my skuld. Bel my asseblief as jy wakker word. Ek moet dringend met jou praat.

      Bennie.

      Hy skeur die bladsy uit, loop so sag as wat hy kan by haar kamer in, en plaas dit op die bedkassie waar sy dit sal sien.

      * * *

      36-On-Rose is ’n blinknuwe vyfverdiepinggebou, ontwerp om die Bo-Kaapse argitektuur op ’n moderne manier te probeer weergee. Die onderste vlakke is net so veelkleurig geverf soos die klein arbeidershuisies verder aan in Roosstraat.

      Nxesi wag by die voordeur. Hy is dieselfde lengte as Griessel, maar breër, die bene effe bak. Sy swartraambril en bruin tweedbaadjie gee hom ’n professorale voorkoms. Hy groet vriendelik. “Ek het die sleutels, maar security sal vir ons na die vloer toe moet vat.” Sy Afrikaans het ’n township-aksent. Hy hou die deur vir Griessel oop.

      “Tommy, ek is jammer oor dié ding,” sê Griessel terwyl hy instap.

      “Kaptein, dis niks nie. Ek het gedink julle sou lankal die saak gevat het.”

      Die voorportaal is nuut en blink. Agter ’n toonbank is ’n man en vrou in sekuriteitsuniforms. Nxesi beduie na die TV-kamera agter hulle, teen die muur. “Die CCTV en die lifts se card system moes al einde Desember gewerk het, maar hulle was nog tot einde Januarie besig om klaar te maak met alles. Op 18 Januarie was daar niks security nie, behalwe dié mense by reception. Die probleem is ’n intruder kon daardie tyd ook by die parking garage ingekom het.”

      Hy wys sy SAPD-eieningskaart vir die vroulike wag, praat met haar in Xhosa. Sy laat hulle eers in ’n boek teken, ’n maatreël wat Griessel nog nooit kon verstaan nie, want jy kan enigiets daarin skryf.

      Dan lei sy hulle na die hysbak. “Nou werk die system só dat jy ’n kaart daar moet indruk as jy wil opgaan.” Nxesi wys na ’n gleuf net bokant die hyspak se knop-paneel. “Dan druk jy jou vloer. As jy ’n nommer druk wat nie op jou card ge-program is nie, dan loop hy nie. Met die afkom loop hy self.”

      “Maar dit het nie op 18 Januarie gewerk nie.”

      “Nee. Twee dae ná die moord, tóé werk dit.” Hy skud sy kop.

      Die sekuriteitswag maak ’n geluid van protes. Nxesi skuif sy bril. “Hulle is baie touchy oor die moord, want die helfte van die flats is nog for sale.”

      * * *

      By die deur, terwyl hy oopsluit, sê Nxesi: “Alles staan net soos dit was, omdat die docket nog oop is. Maar die lawyers het die SC begin pla, hulle wil hê ons moet skoonmaak, hulle wil haar estate klaarmaak. Die ma-hulle erf alles. Hulle bly in Jeffreysbaai. Retired.”

      Hy stoot die deur oop, wag dat Griessel voor moet stap.

      Griessel bevestig dat daar ’n loergaatjie in die voordeur is, en ’n veiligheidsketting en grendel, onbeskadig. Dan gaan staan hy, wil eers net ’n gevoel vir die vertrek kry.

      Dit is kleiner as die indruk wat die foto’s geskep het, maar steeds ruim en mooi en modern. Die oggendlig deur die groot vensters laat dit vrolik lyk, die uitsig suid sluit ’n stuk van Seinheuwel in.

Скачать книгу