Скачать книгу

kry die handsak, haar sigarette en aansteker, dan die stapel dossiere, sluit die kar, en draf terug.

      * * *

      Met haar onhandige hulp kry hy die twee groot oorbelle los en sit dit op die bedkassie neer. “Probeer ’n bietjie slaap,” sê hy.

      Sy kyk met nuwe fokus en beheer na hom. Haar lippe gaan effens oop. Sy sit haar hand agter sy kop en trek hom nader en soen hom, haar mond oop en nat, hy proe die drank op haar. Sy trek hom af, bed toe.

      Hy sit sy hande versigtig op haar skouers, druk haar sag weg.

      Sy huil. “Jy wil my óók nie hê nie.”

      “Ek wil,” sê hy. “Maar nie só nie.”

      Eindelik lê sy terug teen die kussings. Hy tel haar bene op, plaas hulle op die bed. Sy draai haar rug op hom. Hy loop om die bed, kry die deken se pant en vou dit oor haar.

      Dan sit hy die bedliggie af en stap deur toe.

      Hy staan eers daar, vir tien minute, en luister hoe haar asemhaling verlangsaam. Tot sy slaap.

      Hy kyk na sy horlosie. Dis tien oor twaalf. Sondagmôre.

      Dag 2

      Sondag

      6

      Hy werk tot amper halfdrie aan die dossier.

      In die slaapkamer langs Alexa s’n hang hy sy baadjie aan ’n haak agter die deur, knoop sy hemp oop, rol sy moue op. Hy gaan sit op ’n ruglose stoeltjie by die spieëlkas, vat die vet dossier en begin daardeur werk. Hy sukkel lank met die konsentrasie, want sy kop is by Alexa. Hulle het deur my gesien. Hoe kan sy só dink? Hy het haar gesien, vanaand, by die skemerkelk, haar grasie, haar teenwoordigheid, hoe gemaklik en tuis sy daar was.

      Die skade, dink hy. Van selfvertwyfeling, van ’n lewe van onsekerheid en smagting na musieksukses, die skade van ’n man wat haar verneuk het, die skade van sy dood. Maar bowenal die skade van drank. As jy ingee, as jy vier maande se nugterheid in die water smyt, jou eie swakheid in die oë moet kyk, nogeens besef jy’s nie sterk genoeg nie. Om dan weer op te staan …

      Sy het op daardie bed gelê en sy het “Soetwater” gesing en dit het deur hom gebrand, want daar was ’n soeke in haar stem, ’n hunkering na ’n oomblik in haar verlede toe alles goed en reg was. En hy weet – jy kry dít nie terug nie, al probeer jy hoe hard. Dit is hoekom hy op daardie oomblik saam met haar wou huil.

      Jy kan nooit die skade herstel nie.

      En die dranksmaak in haar mond. Here, hy kan dit nou nog proe. Toe sy hom soen, het hy nie aan vry gedink nie, hy’t meteens en oorweldigend na die bottel verlang. En daardie plek waar sy was, daardie sagte newelwêreld van dronkenskap waar alles rond en skadeloos is, geen hoeke en kante wat jou seermaak nie.

      Daar’s ’n alarm wat in sy agterkop afgaan: Dis die pad na moeilikheid hierdie.

      Versigtig, Bennie, jy’s nog nie ’n jaar droog nie. Twee alkoholiste … dis dubbel die risiko.

      Dok Barkhuizen is ’n slim man. Maar hy sal vir Dok kan sê hy het vanaand ook ’n ander gewaarwording gehad, ’n insig gekry. Toe hy die deken oor Alexa trek. ’n Intense gevoel van déjà-vu, want hy was al daar – op die bed, slapdronk, sy eks, Anna, wat die kombers oor hom getrek het met deernis en geduld en liefde. Hoeveel keer? Hoeveel aande en nagte? Hoe het sy dit so lank uitgehou?

      Hy voel hoe die weersin in homself in sy keel kom sit, en dwing homself terug na die dossier.

      * * *

      Hanneke Sloet is op 18 Junie 1977 op Ladybrand in die Vrystaat gebore. Sy het haar LLB in 1999 aan die Universiteit Stellenbosch behaal, en in 2001 begin werk by die regsfirma Silberstein Lamarque, eers as kandidaatprokureur, en in 2002 as prokureur in die korporatiewereg-afdeling. In 2009 is sy bevorder na assosiaat.

      Sy het tot Desember van die vorige jaar alleen in ’n meenthuis op Stellenbosch gebly en daagliks per motor na Silberstein Lamarque House in Kaapstad se Riebeeckstraat gependel, waar sy ’n kantoor op die agste verdieping gehad het. Sy het die woonstel in 36-On-Rose tien maande terug met ’n verbandlening by Nedbank gekoop vir R3 850 000, maar die ontwikkeling is eers die vorige Desember voltooi. Sy het op Maandag 3 Januarie ingetrek op die vyfde verdieping.

      Sy was in geen ernstige of vaste verhouding toe sy dood is nie.

      Op Dinsdag 18 Januarie het sy die kantore van Silberstein Lamarque om 19:46 verlaat, volgens die elektroniese tydstempel van haar toegangskaart. Toe sy op die oggend van die 19de om 09:00 nie vir ’n vergadering by haar werkgewer opdaag nie, het haar persoonlike assistent onraad begin vermoed. Omdat Hanneke net nooit laat was nie. Sy was elke weeksoggend kwart voor ses in die gim, en kwart oor sewe op kantoor, volgens die assistent se beëdigde verklaring.

      Ek het haar selfoon gebel, want sy het nog nie ’n huisnommer gehad nie. Sy het nie geantwoord nie. Dit is absoluut uitsonderlik, dit het nog nooit voorheen gebeur nie. Ek het met mnr. Pruis gaan praat en om 09:40 die kantoor verlaat en na haar woonstel toe gery. Die deur was gesluit. Ek het na die kelderverdieping gegaan en gesien haar motor staan daar. Ek kon eers teen omstreeks 10:20 die opsigter opspoor. Hy het geweier om die woonstel oop te sluit. Ek het die kantoor gebel, en mnr. Pruis het sy kontakte by die polisie geskakel. Twee polisiemense het omstreeks 11:00 by die woonstel opgedaag en die opsigter beveel om die deur oop te sluit. Ons het haar dood aangetref.

      Die twee uniforms het net vasgestel dat Sloet dood is, uitgestap en Groenpunt-stasie laat weet hulle het ’n moord. Adjudant-offisier Tommy Nxesi van Groenpunt en ’n kollega, sersant Vernon April, het om 11:35 amptelik beheer van die misdaad-toneel oorgeneem, en forensies en die patoloog laat kom.

      * * *

      Die forensiese verslag lewer net twee nuttige stukkies inligting op: Die voordeur se handvatsel is vermoedelik binne en buite skoongevee; en afgesien van Sloet se eie hare is ’n enkele manlike, waarskynlik Kaukasiese, pubishaar is in die stort van die en suite-badkamer gekry. Daar was nie genoeg van die haarfollikel om DNS-resultate te kry nie.

      Tien verskillende stelle vingerafdrukke is in die woonstel gevind … moontlik te wyte aan die verhuisingsmaatskappy se werkers wat op 3 Januarie feitlik al die meubels en kartonne hanteer het, sê die verslag. Ses stelle is geëien as dié van Hanneke Sloet, die opsigter wat ’n week vantevore ’n lekkende kraan kom regmaak het, en vier van die vervoermaatskappy se werkers wat opgespoor kon word. Net die slagoffer se afdrukke was op die rekenaar en die glas in haar slaapkamer.

      Bloedspatsel-analise toon dat die slagoffer waarskynlik 3,8 meter van die voordeur (sien foto) en 0,6 meter van waar haar liggaam aangetref is, die noodlottige wond opgedoen het.

      En dit is al. Geen stof, grondmonsters of spore nie. Geen lipafdrukke, residu, vreemde chemiese stowwe of bruikbare DNS nie.

      Ook Sloet se Facebook-blad, rekenaar- en selfoonrekords het nie veel opgelewer nie. Die meeste e-posse, oproepe en SMS’e op 18 Januarie was werkverwant. Die uitsonderings was kommunikasie met twee vriendinne, en ’n kortgeknipte gesprek met ’n telebemarker. In die vorige tien maande was daar geen kontak met die laaste ernstige man in haar lewe, ene Egan Roch, nie. Roch se verklaring bevestig dit. Ons is al amper ’n jaar uit. Ons het feitlik geen kontak meer gehad nie.

      Griessel begin verstaan waarom die ondersoek op niks uitgeloop het nie. Al die ondervraagdes het dieselfde deuntjie gesing: Ons kan aan niemand dink wat haar leed wou aandoen nie.

      Hy moet haar werkslewe saamflans uit die verskillende verklarings van kollegas. Hanneke Sloet was ten tyde van haar dood betrokke by die afhandeling van ’n saketransaksie waarin Ingcebo Resources Limited aandeelhouding in Gariep Minerals Limited sou verkry, ’n proses wat al dertien maande aan die gang was. Ses ander werknemers van Silberstein Lamarque was deel van die regspan, terwyl ’n transaksiekonsultant, vier banke, ’n bestuurskonsultasiemaatskappy en twee ander prokureursfirmas ook betrokke was.

      Ons is die regsfirma wat na SA Merchant Bank se belange omsien, lees Griessel in die verklaring van ’n mnr.

Скачать книгу