Скачать книгу

dood: Radikale bloedverlies as gevolg van ’n enkele steekwond van voor, 8 mm bo die vierde rib, 20 mm links van die borsbeen (gladiolus), deur die linkerlob van die lewer en die inferior vena cava (die groot aar, vervoer suurstofarme bloed van onderlyf na hart), by die T7-werwel.

      • Wondpatologie en wapen: Die wondpatologie dui op ’n steekvoorwerp met, bes moontlik, ’n skerp punt (baie egalige spitshoek) en ’n dubbele, onegalige snykant (diamant-geometrie?). Die lem is waarskynlik reguit. Die lem se afmetings is waarskynlik 6,5 tot 7,5 cm wyd, 1,5 cm dik, en langer as 20 cm (geen kneusing van hef of hefbeskermer nie). Steekhoek van 85 tot 105° in verhouding met vertikale torso.

      • Enkele, noodlottige steekwond en totale afwesigheid van verdedig-ingswonde aan hande dui op aansienlike geweld van steekaksie, of baie skerp lem, of ’n kombinasie van die twee. (Verrassingsaanval?) (Tuisgemaakte wapen? Assegaai? Ornamentele dolk? Swaard?)

      • Wondpatologie en verdagte: Verdagte is waarskynlik 200 tot 400 mm langer as slagoffer (grootte van wapen, hoek van wond, moontlikheid van aansienlike geweld). Enkele steekwond en onbekende wapen verhoed verdere spekulasie.

      • Wondresidu: Geen.

      • Geen aanduiding van seksuele aktiwiteit nie.

      Met die nuwe kennis kyk Griessel weer na die misdaadtoneel-foto’s. Net een keer gesteek. Sy lê vier meter van die voordeur af, en daar is geen wonde aan haar hande wat wys sy het haarself verdedig nie.

      Geen ooglopende bewyse van roof nie, het die brigadier gesê. En volgens Pagel geen seksuele tekens nie. Dit beteken ’n afwesigheid van semen, van kneusings aan die slagoffer.

      Hy wil weet wie die liggaam gekry het. Hoe werk die gebou se sekuriteit?

      Hy blaai deur deel A, op soek na verklarings, kom af op ’n wit A4-koevert, los ingevoeg agter die fotoalbum. Iemand het in blou pen ’n enkele woord daarop geskryf: Sloet.

      Hy maak dit oop, trek die inhoud uit.

      Drie groot kleurafdrukke. Van ’n lewende Hanneke Sloet.

      Dit boei hom onmiddellik, sodat hy vergeet waarna hy gesoek het.

      Al drie foto’s is in ’n ateljee geneem, met professionele beligting. In die eerste is net haar kop, haar regterskouer en ’n deel van haar arm sigbaar. Sy dra ’n dun wit frokkie, afgeëts teen die sonbruin, gladde vel van haar skouer en arm. Haar kop is na regs geraam, sy kyk af, haar oë versluier, die regterkant van haar gesig in ’n donker skaduwee wat die vol lippe en die sterk wangbeen beklemtoon. ’n Enkele dun sliert van haar hare hang oor haar gesig, tot by haar ken. Die skouer en arm is vroulik, gespierd. Die grys agtergrond is ’n interessante tekstuur, uit fokus.

      Daar is ’n sekere sensualiteit aan die foto.

      Mooi vrou. En sy weet dit. Sy hou daarvan, sy paradeer dit so ’n bietjie.

      Die tweede foto is halflyf, haar kop net effens gesak sodat haar donker oë opkyk na die kamera. Sy het ’n gemaklike glimlag, wat ’n klein gaping tussen haar voortande sigbaar maak. Haar hare is nou vas na agter. ’n Dun, noupassende en kraaglose grys bloes met ’n lae hals stal die groot, prominente borste met ’n soort argeloosheid uit.

      Die derde een is ’n naakstudie, donker en kunstig. In goeie smaak. Die agtergrond is pikswart, die beligting van regs en agter, haar lyf gedraai, sodat net ’n wangbeen, die punt van haar neus, ’n groot, ronde oorbel, die slanke lyn van haar nek, ’n skouer, ’n enkele, perfekte bors en tepel, ’n heup en die buitelyn van ’n been sigbaar is.

      Hy vermoed die foto’s is onlangs geneem, sy lyk volwasse, naby aan die ouderdom van 33, volgens die dossier.

      Hy rangskik die foto’s in ’n ry langs mekaar. Kyk weer. Watter persoonlikheid, watter motivering het haar dié moeite laat doen? Hoeveel ure, om die afspraak by die fotograaf te maak, om die regte kledingstukke te kies, om die fotosessie af te handel? Sy, ’n besige handelsprokureur.

      En die borste. Onnatuurlik groot en perfek, soos iemand wat dit chirurgies laat verbeter het.

      Vir wie? wonder hy. Vir wie het sy dié foto’s laat neem?

      Hy sit en staar, gefassineer deur die smeulende vrou.

      Sy selfoon lui, skielik en skril.

      Hy kom terug na die hede met ’n vae skuldgevoel, moet eers na die instrument soek. Hy kry dit in die sak van sy baadjie wat oor die stoel hang, haal dit uit. ALEXA, staan op die skerm.

      Fok. Hy moes haar gebel het. Kyk na sy horlosie. Dis amper elfuur.

      Hy antwoord: “Alexa, ek is baie jammer …”

      “Nee, dis nie Alexa nie,” sê ’n manstem. Onvriendelik. “Sy het gesê ek moet jou bel om haar te kom haal.”

      “Waar is sy?”

      “Sy’s dronk, meneer. Van haar voete af dronk.”

      5

      Op ’n drafstap na sy kar toe met die lêers in sy arms en die wete dat dit sý skuld is. Hy het haar in die skande gesteek, haar alleen gelos, haar niks laat weet nie. Sy was honderd-en-vyftien dae lank nugter en nou het hý haar weer na drank gedryf.

      Hy maak die agterdeur van die BMW 130i oop, sit die dokumente op die sitplek, klap die deur in frustrasie toe, klim voorin en ry.

      Hy moes geweet het Alexa het destyds gedrink omdat sy vrees vir die verhoog gehad het, en vanaand was ’n soort verhoog, haar eerste interaksie met musiekmense in jare, haar senuagtige terugkeer na die kollig. Hy moes gedink het, moes sy taal en sy reaksie beheer het. Hy moes vir die brigadier gesê het hy kan nie dadelik kom nie, hy moes Alexa eers huis toe geneem het. Maar nee, al waaraan hy kon dink, was sy eie skande. Hy is ’n swaap, ’n fokken dom poliesman.

      Wat is verkeerd met hom?

      Die waarskuwing van Dok Barkhuizen wat nou deur sy kop flits: “Versigtig, Bennie, jy’s nog nie ’n jaar droog nie. Twee alkoholiste … dis dubbel die risiko.”

      En hy het geprotesteer en gesê hulle is net vriende, hy kan haar ondersteun, aanmoedig, hulle gaan saam-saam na die AA-byeenkomste toe. En Dok het sy kop geskud en gesê: “Versigtig.”

      Hoe het hy haar vanaand ondersteun?

      Hy moes na Dok geluister het. Want Dok het geweet die “net vriende”-verduideliking is ’n rookskerm. Dok het gesien hy hóú van Alexa. Al hoe meer.

      En sy van hom, het hy gedink.

      En nou? Nou’t hy alles opgefok.

      Hoekom jaag hy altyd aan? Hoekom is sy lewe net nooit eenvoudig nie? Net fokken nooit. Hy’s vyf-en-veertig, die ouderdom waarop hy veronderstel is om innerlike kalmte en wysheid en berusting te kry, die ouderdom waarop jy jou lewensgemors al moes uitgesorteer het. Maar nie hy nie. Sy lewe is konstante chaos. ’n Onophoudelike stroom moeilikheid, ’n nimmereindigende stryd om dit te probeer hanteer. Maar hy kan nie wen nie, dis die een ding op die ander. Jy kan net nooit voor kom nie.

      Hy het nou net, die afgelope maand of twee, so half aan die hele egskeiding-ding begin gewoond raak, probeer vrede maak met die feit dat hy en Anna verby is. Heeltemal, onherroeplik verby. Hy sukkel nog met die ding dat sy al hoe ernstiger met ’n prokureur deurmekaar is. ’n Fokken prokureur. Maar hy werk daaraan, fok weet, hy probeer.

      Hy het sy rieme dunner gesny om die onderhoud te betaal, en sy bydrae vir Carla se studies, en hy kan al amper daarmee saamleef, al voel hy hy word geboor, hy betaal veel meer as Anna en hulle verdien omtrent dieselfde.

      Hy’t die afgelope weke hard probeer om by die Valke in te pas, die nuwe verhoudings, die nuwe strukture, die nuwe range. Almal se range wat verander het, terug na die militêre struktuur van die ou dae. Almal behalwe syne, want ’n kaptein bly ’n kaptein. Maar dit het hy ook aanvaar.

      Hy’t weer in ’n roetine gekom met sy kinders. Carla, wat nou drama op Stellenbosch swot. Drama, asof sy nie al genoeg daarvan in haar lewe gehad het met ’n alkoholis-polisieman-pa en die hele egskeiding-gemors nie.

Скачать книгу