ТОП просматриваемых книг сайта:
Die beste spookstories van C.J. Langenhoven. Danie Botha
Читать онлайн.Название Die beste spookstories van C.J. Langenhoven
Год выпуска 0
isbn 9780624076667
Автор произведения Danie Botha
Жанр Публицистика: прочее
Издательство Ingram
Marta was ’n dogter van die groot opstal. Japie het met sy weduwee-moeder op die onderplaas gewoon, ’n latere aanleg, aan dieselfde kant van die rivier maar ’n drie myl laer af. My ouers se plaas was aan die oorkant, en tydens die gebeurtenis waarvan ek wil vertel, was ek van die kweekskool af daar op vakansie.
Japie had die naam in die omtrek dat hy ’n kraak had – “nie reg wys was nie”. Maar dis maar altyd die raming van die middelmatige algemenes oor die uitstekende uitsonderlikes. Japie sou as ’n wonder-genie geblink het, maar sy skoolmeesters, soos hulle dan was op die buiteplase in daardie tyd, het hom nie verstaan nie, en wis nie hoe om hom te behandel nie. Op ’n uiters delikate masjien het hulle die hamer-en-koubeitel-metode toegepas. Natuurlik met noodlottige gevolge. Die fynsinnige kind moes uit die skool geneem word; en so het hy grootgeword met te min geleerdheid om van sy skitterende gawe gebruik te maak of selfs bewus te wees.
Dit was nog nie ál nie. Sy senuweegestel het so verstoor geword deur die onoordeelkundige tug en leerplan, dat hy ’n paar jaar lank ’n slaapwandelaar was. Hy doen die onmoontlikste dinge in die nag, en die volgende oggend weet hy daar niks van nie. Ek onthou een slag – ek was toe nog nie weggestuur skole toe nie – dat my vader aan ’t bou was aan die dubbele-verdieping-waenhuis en pakhuis wat nou nog daar op ons plaas staan. Japie en sy moeder was die middag daar om te kuier, en ek en hy het in die nuwe gebou gaan staan en kyk hoedat die werksmense op noue plankies op die boonste balke heen en weer loop om aan die timmerasie te werk. Daardie balke sou maar net die plafon dra van die boonste verdieping. Hulle was smal populierdele, vier voet van mekaar.
Een van die werksmense had van die begin af sy kooigoed saamgebring, want sy huis was ver; en dan slaap hy sommer snags daar in die gebou. In die middel van daardie nag, ná Japie se besoek die middag, skrik die man wakker van iets wat hy hoor. Op die solder van die boonste verdieping, in die maanlig, spring Japie van die een balk na die ander tot hy by die géwel kom, en dan weer terug tot by die ander géwel. In sy dwase verbystering skree die kêrel; Japie word wakker en hy val, tussen die balke deur; gelukkig los tussen die onderste balke ook deur, en net op die plek waar ’n klomp heirietgerwe gepak was om vir die dak te gebruik.
Maar hierdie kwaal van Japie het langsamerhand met sy wasdom vergroei. Toe hy sy mondige jare bereik, het daar niks van die naglopery oorgebly nie. Hy was vyf-en-twintig toe hy en Marta verloof geraak het. Marta se ouers wou nie van ’n haastige huwelik hoor nie; hulle had die hoop dat met verloop van tyd haar sin sou verander. Want hulle hét maar beskou dat ’n huwelik met Japie ’n waagstuk sou wees.
Maar agtien maande se daelikse omgang het maar net vir Marta meer en meer vasbeslote gemaak om met Japie te trou; en eindelik moes haar ouers insien dat verdere teëstand geen goed sou doen nie. Die troudag is dan toe vasgestel; alles was in gereedheid; die tweede huweliksafkondiging was al gedoen; toe kuier Japie en Marta, soos na gewoonte, een aand in die laan op en neer.
Toe hy van haar afskeid geneem het vir die nag, op die bo-ent van die laan, naby haar huis, en ’n vyftien, twintig tree van haar weggedraai was laan af, op weg na sy huis toe, hoor hy haar skree. Hy vlieg om. Toe hy by haar kom, vind hy dat ’n pofadder haar gebyt het. Hy het gesny en gesuig en haar huis toe geneem. Haar vader het laat jaag om die dokter; voordat die kar nog op die dorp kon wees, was sy ’n lyk.
Mense van Japie se geestesgeaardheid gaan swaar gebuk hulle lewe lank onder die kruis van oorgevoeligheid; ’n kruis wat hulle in eensaamheid moet dra omdat ook hulle naastes en dierbaarstes geen volle medelye kan hê nie omdat hulle geen begrip het nie. ’n Week ná Marta se dood lê Japie rasend van die harsingkoors. Sy liggaamlike herstel was stadig; sy geestelike het vir ons gelyk of dit hopeloos was.
Hy het dan weer opgestaan en eers korte wandelinkies geneem – altyd maar in die eikelaan op en af. Dit was in die voorjaar, en dikwels, met my eie oggendwandelings, het ek daardie koers gekies om ’n vriendelike woordjie met hom te wissel. Maar vir hom was daar geen sonneskyn en geen lentegeur nie.
Een middag hou sy moeder se kar onverwags voor ons deur stil. Sy was weggeroep na die skielike siekte van haar ander kind, ’n getroude dogter, ’n uur of ses ver. Sou ek tog so vriendelik wil wees om snags in haar huis te slaap; Japie kon nie so alleen gelaat word nie. Buiten Japie was daar net ’n ou bediende in die huis.
Die eerste aand het ek my uiterste gedoen om Japie op te beur. Musiek bespeel, storietjies vertel, uit ’n grapboek wat ek saamgebring het vir hom voorgelees. Maar nie ’n glimlag kon ek op sy lippe kry nie. Meeste van die tyd het hy nie eens geluister na my nie. Met smagtende lyding in sy groot blou oë sit hy maar daar ver, ver heen en kyk, uit hierdie wêreld uit na ’n ander wêreld wat tog nie te sien is nie … of wie weet, ons gewone mense is miskien in een rigting soos kleurblindes in ’n ander is.
My slaapkamer was langes Japie s’n. Die deur het ek laat oopstaan. Ek is ’n besonderlik ligte slaper.
Teen middernag maak ’n geluidjie my wakker. Ek staan soetjies op en kyk by my kamerdeur uit. Deur die groot vensters skyn die maan helder in die voorhuis in. Ek sien Japie, met sy skoene in sy hand, is besig om baie, baie stilletjies die voordeur oop te maak om uit te gaan.
Ek spring terug in my kamer, trek my jas aan oor my nagklere en my skoene aan my kaal voete. Toe ek op die stoep kom, stap Japie by die blomtuin se hekkie uit. Soos ek verwag het, vat hy die koers na die eikelaan toe. Deur ’n wingerd, ’n paar saailande, ’n donker bosbegroeide diep laagte, dan deur die veld. Eindelik kom hy op die onderent van die laning. Daar gunter naby die bo-ent kan ’n mens die groot ou opstal van Marta se ouers wit sien staan in die maanlig.
Ek laat Japie maar ’n goeie afstand voorbly dat hy my nie altemit gewaar nie. Ek wis ’n mens moenie so iemand skielik wakker maak nie – jy kan hom ernstige kwaad aandoen deur die senuweeskok.
Japie stap reguit in die laan op, vinnig, met die veerkrag en lewe in sy beweging wat nou bedags by hom ontbreek. Die laan is donker, maar hier en daar lê ’n wit vlek maanlig waar die lower bo ’n opening maak. So sien ek die haastende figuur voor my gedurig verskyn en verdwyn en weer verskyn.
Byna op die bo-ent had Japie, nog in die gelukkige dae, ’n sitbankie gemaak van skaalplankies, teen een van die groot boomstamme; en toe hy omtrent daar regoor was, raak hy weg – hy kom nie weer te voorskyn in die volgende stukkie maanlig nie.
Ek draai na die ander kant toe uit en kruip stilletjies onder die bome langes tot regoor die bankie, met die wydte van die laan tussenin. Japie had ’n ligte pak klere aan sodat ek hom doffies kon uitmaak soos hy daar eenkant op die bankie sit, tussen die oorhangende takke deur.
Daar was vir my niks anders om te doen nie as om te wag. Japie bly maar sit. Ek hoor hom mompel, soos iemand wat in sy slaap praat, maar ek kan nie uitmaak wat hy sê nie. Ek word naderhand moeg van die staan en gaan self sit, plat op die grond. Die nag was nie koud nie en die grond was droog.
Seker ’n goeie uur het ek daar gesit en waghou, toe staan Japie op. “Marta,” hoor ek hom duidelik sê, maar, natuurlik, hy praat nog altyd in sy slaap, “laat ons ’n rukkie op en af loop. Strakkies word jou voetjies koud van die stilsit.”
Hy kom tot in die middel van die laan en hy draai af, in die rigting weg van die groot opstal af. ’n Paar tree voor hom lê ’n plas maanskyn. Toe hy in die lig kom, sien ek daar loop ’n vroulike persoon met hom saam, ingehaak. Haar klere is pikswart, daarom het ek haar nie eerder gesien nie. Die maanlig val op haar gesig. Dis Marta.
Heen en weer, heen en weer, het die twee by my verby gekuier. Tot op die bo-ent van die laan, dan ’n entjie terug, maar nie te ver nie asof hulle besef dis tyd om afskeid te neem; dan weer tot bo, maar dan weer “net nog een slaggie” ’n entjie af. Japie gesels al die tyd; hy praat nie net nie, hy gesels. Vra iets, en wag tot hy die antwoord kry; sê iets, en luister wat daarop teruggesê word. Ek het eintlik gevoel of dit onbehoorlik van