ТОП просматриваемых книг сайта:
Die beste spookstories van C.J. Langenhoven. Danie Botha
Читать онлайн.Название Die beste spookstories van C.J. Langenhoven
Год выпуска 0
isbn 9780624076667
Автор произведения Danie Botha
Жанр Публицистика: прочее
Издательство Ingram
DIE
BESTE
SPOOK-
STORIES
van
C. J. Langenhoven
’n Keuse deur Danie Botha
Tafelberg
Van die samesteller
“Geen resensie word gevra nie.”
Só lui Sagmoedige Neelsie se versoek in baie van sy boeke. Ook in die imprimatur van een van die boeke wat in aanmerking kom vir hierdie keur uit sy spookstories: Die wandelende geraamte en ander verskynings.
In dié gees gaan ek dan nie die stories bespreek om sodoende my keuse te motiveer nie. Ook gaan ek nie die verhale toelig nie. Want ’n belangrike kenmerk van dié genre is immers toeganklikheid en direkte kommunikasie. Verduidelikings kan juis die leesgenot verminder. Maar vir die wis en die onwis word volstaan met die skrywer se eie inleidings en nawoord.
Die stories met sterk intriges het dadelik op insluiting aangedring. Ook is inhoudelike en stilistiese verskeidenheid nagestreef. Daarom die satiriese naas die ernstiges.
En “beste” het ook beteken: verhale wat jy onthóú. Dit is dié waarin die geesteswêreld so ’n onmiddellikheid word dat jy met vrees en ontsag besef: ek is in aanraking met die Groot Onbekende.
Langenhoven het ook verhale geskryf met ’n verwante tema: die dood. ’n Mens sou dus die keuse wyer kon maak, verhale oor sterftes insluit by dié oor die geesteswêreld. Maar my opdrag was: kies die beste spookstories. Daarby sou verhale soos “Die raad van Rehuël”, “Nie hy nie en tog hy”, “Die versmaaide uitleg”, “Die swerwende Jood”, “Oor die sloot” of “Die opgegraafde Farao” (almal in Aan stille waters 1) tog maar uit die toon val. Één verhaal lê egter so op die grens en is so boeiend dat ek my die vryheid veroorloof het om dit in te sluit: “Die skaduwee van die skyndood”.
Die teks van die 1973-uitgawe van Versamelde werke word gebruik, d.w.s. die teks wat nog deur mej. Sarah Goldblatt as administratrise van Langenhoven se letterkundige nalatenskap versorg en “gesanksioneer” is. Dit was egter tog nodig om geringe wysigings aan te bring.
Ek wil graag dr. John Kannemeyer bedank vir sy hulp en raad. Tydens sy navorsing vir ’n biografie oor Langenhoven het hy byvoorbeeld variante van gebundelde verhale opgediep asook twee ongebundeldes: “Ou Hans Veldkornet op die spoor” (manuskrip in die J. S. Gericke-biblioteek op Stellenbosch) en “Spoke-toe met ’n mombakkies” (Die Huisgenoot, 5 Desember 1930). Ek moes ongelukkig teen insluiting besluit.
My dank ook aan mev. Hannah Botha (J. S. Gericke) en mev. Nanette Nelson (Huisgenoot) wat tekste beskikbaar gestel het.
Danie Botha
1992
Uit: Geeste op aarde
Merkwaardige verhale uit die versameling van
Gideon H. H. Koertzen
Geredigeer sonder aanspreeklikheid deur
C. J. Langenhoven
(1924)
Inleiding
Is daar spoke?
Laat ons hierdie woord vermy, met die spotbetekenis wat hy bygekry het en die geur van minagting wat hom aankleef. Laat ons die vraag op ’n ernstige manier stel.
Is daar heengeganes wat terugkeer na die tonele van hulle vorige stoflike lewe en waarneembaar is deur die stoflike sintuie van ons wat nog hier leef? Of is hulle, soos Hamlet sê – en hy sê dit ná sy eie persoonlike aanraking met die gees van sy vader! – is hulle heen na ’n
“undiscover’d country from whose bourn
No traveller returns”?
Dis nie my doel om my antwoord op hierdie vraag (al sou dit ook van enige waarde wees) hier te gee nie – ook nie eens of ek vir myself ’n antwoord gevind het nie. Ek wil maar net sê dat ek ’n ou man is, wat ’n volle lewe gelei het. Van end tot kant het ek my land deurreis; ek ken hom en sy mense, in die rumoer van groot stede, op eensame berge, in donker houtbosse, in kaal woestyne, in welvaart en teëspoed, in oorlog en vrede, by lewe en by dood. En nooit, waar ek rond was, by dag of by nag, in geselskap of eensaamheid, het ek ’n ontmoeting gehad wat, hoe buitengewoon ook, nie vir ’n natuurlike uitleg vatbaar was nie.
Maar dis by my ’n liefhebbery om verhale van beweerde bowenatuurlike verskynsels te versamel. Nie uit sieklike belangstelling of morbiede nuuskierigheid nie. Ook nie uit ’n begeerte om verborgenhede te besnuffel nie. Ek is ’n man van doodeenvoudige, alledaagse, praktiese, prosaïese gemoedsaard. Nee, my oogmerk was nie geestestudie nie maar mensestudie. Immers, die geskiedskrywer openbaar homself meer as die geskiedenis wat hy beskryf. Die gewone man wat jou vertel van die gebeurtenis van gister wat onder sy oë plaasgevind het, vertel jou met sy vertel meer van homself as van die gebeurtenis. Selfs die leuenaar is daarin altyd wáár – dat sy leuens ’n ware voorstelling openbaar van wat hy is. Te meer dan, wanneer iemand jou vertel van buitensporige, ongewone, ongelooflike ondervindings, lê hy aan jou waarnemings as ’n mense-ondersoeker dieptes van sy eie siele-aard bloot wat hy self nie besef nie.
Juis om daardie rede van belangstelling het ek op gewone beuselagtige “spookstories”, ligsinnige en onsinnige vertelsels, verhale van ontmoetings wat dadelik op natuurlike wyse kan uitgelê word, en klaarblyklike versinsels, nooit my aandag verkwis nie. Die verhalers daarvan is te algemeen om ’n besondere mensestudie werd te wees.
Uit ’n groot versameling dan het ek hierdie staaltjies gekies vir publikasie. Of hulle van waarde is as ’n bydraag tot die oplossing van die vraagstuk wat ek hierbo gestel het, en van watter waarde, moet die leser vir homself beslis. Om hom van verder gegewens te voorsien om tot so ’n beslissing te kom, as hy daartoe geneig voel, gee ek die volledige bron in elke geval, met ’n korte beskrywing van wat ek van die verhaler weet. Want ek is vir die inhoud van die boek nie aanspreeklik nie. Ek tree op as blote oorskrywer. (En dan nog onder hoognodige redaksie. Maar die redakteur het nie met my bronne in aanraking gekom nie.)
Wanneer ek sê dat ek ’n “oorskrywer” is, bedoel ek niks meer daarmee nie as dat ek so ná as moontlik getrou gebly het aan my bronne. In een geval, sal die leser sien, is die verhaal deur die verhaler self opgestel. Elkeen van die ander verhale het ek geskryf so onmiddellik as moontlik nadat ek hom gehoor het, somtyds dieselfde nag, in ander gevalle ’n paar dae daarná. Maar die woorde van die vertellers is nie in snelskrif afgeneem nie – dis geen processe-verbaal of notariële aktes hierdie nie. Die woordelike vorm (behoudens die redaksie) is my eie. Daarby egter het ek na geen letterkundige opsiering gesoek nie, al sou ek dit ook kon behaal het. Enige name van persone en plekke is deur verdigte name vervang; maar aan beskrywings, hetsy van persone, plekke, of gebeurtenisse is nie getorring nie.
Ten slotte; al was my persoonlike oogmerk met die versameling van hierdie soort vertellings ook iets anders, soos ek gesê het, tog kan ’n mens jou nie lank besig hou met sulke verhale sonder om van die subjektiewe verteller oor te gaan tot ’n bepeinsing oor die objektiewe gebeurtenis nie. Aan die end van die boek gee ek, vir wat dit werd is, en vir diegene wat dit wil lees, ’n paar korte beskouinkies oor die aard van die spiritualistiese vraagstuk, en die metode wat noodwendig moet toegepas word by elke poging om na ’n oplossing te soek. GHHK
Inspekteur Holsemeer se verhaal
Die slaapwandelaar
Die verteller van hierdie verhaal is die bekende inspekteur van skole onder sir Frederick de Waal se administrasie, meneer Jacobus Holsemeer. Ek hoef niks verder te sê nie. GHHK
Die opstal op die boplaas was ’n meer as honderdjarige gebou, statig, solied, en nog altyd net en skoon in stand gehou deur die nakomelinge van sy oprigters. Tot byna by die huis loop ’n halfmyl-lange eikelaan, twee rye reusebome, so oud soos die plaas se aanleg. Want van die begin af het die pad wat toegang verskaf na die huis toe, daarlangs gegaan. Maar die rivierdrif was steil en diep en met vloedwaters ondeurgangbaar; en toe daar later vir algemene verkeer ’n wabrug