Скачать книгу

      BAMBADUZE

      DERICK VAN DER WALT

      Tafelberg

      Vir Naudé Eagleton

      en ter nagedagtenis aan Chris Viljoen

      1 Augustus 1958 – 18 Oktober 2014

      Dit was op ’n koelerige Saterdagoggend in September dat hy sy eerste kar gesteel het. Nét voor die begin van ’n pretloop wat geborg is deur ’n groot versekeringsmaatskappy in Johannesburg. Op ’n sokkerveld wat as tydelike parkeerterrein vir die deelnemers gedien het, het die kar gestaan.

      Die pretloop is deur sowat drieduisend bonte, fikse en entoesiastiese atlete en gesinne van regoor die stad bygewoon. Daar was selfs skoppende babas en kleuters, toegewoel in kombersies om hulle warm te hou, in stootkarretjies voor trotse drawwende ouers uit.

      Hy het op ’n stokou, verbleikte rooi Mazda 323 in een van die agterste rye besluit. Dit het gelyk soos ’n 1984-model, en dit was maklik om die deur aan die bestuurskant oop te forseer.

      HOOFSTUK 1

      Jurie bewe terwyl hy wag vir die parkeerkaartjie om uit die gleuf by die ingang gespoeg te word. Gautreinstasie, Rosebank. Sy vingers tik op die stuurwiel. Sy keel is droog.

      Hy is dom, besef hy, ignoreer die kaartjie wat uitpeul. Hier is sekuriteitskameras. Iemand het hom dalk reeds gesien.

      Hy sit die motor in trurat. Daar is gelukkig nie karre agter hom nie. Draai terug tot in Bakerstraat, ry om die blok tot weer in Oxford. Vir die soveelste maal kyk hy in die wit Golf se truspieëltjie.

      Die binnekant van die kar ruik na parfuum. ’n Vrou se kar.

      Hy ry om die blok en parkeer in Glenhovestraat. Trek die pet laag oor sy gesig en kyk weer in die truspieëltjie voor hy uitklim. Dit was onnosel om die kar by die stasie te wou los. Het ’n kamera hom afgeneem? Hy sal moet kophou.

      ’n Paar mense drentel op die sypaadjie verby. Dis byna nege­uur. Hy sal moet roer; tyd vir die laaste trein terug Pretoria toe. Hy steek die straat oor en loop by die stasie in. Hou sy kop laag sodat ’n sekuriteitskamera nie sy gesig kan sien nie en trek sy windbreaker se kraag hoog op.

      Op die perron staan hier en daar iemand rond. ’n Meisie met lang blonde hare soen ’n ou oopmond waar hulle op ’n bankie sit, haar een been oor sy skoot. ’n Sakeman, gepak en gedas en met skootrekenaartas, is besig op sy selfoon. Hy lyk moeg.

      Die trein stop geruisloos en die deur skuif oop.

      Jurie gaan sit ver weg van die ander passasiers. Hy bewe steeds. Hy skakel sy iPhone aan. Geen boodskappe nie. Sit sy sel­foon terug in sy sak en leun agteroor, raak rustig.

      Op Hatfieldstasie betaal hy sy parkeerkaartjie by een van die outomatiese masjiene en stap vinnig na die boonste vlak. Sy motorfiets staan nog waar hy dit vroeër vanaand gelos het. Hy sluit die bagasiekis oop en haal sy helmet uit, sit dit op en skakel die fiets aan.Daar is min karre in Pretoria se strate dié tyd van die aand. Hy draai oos en ry die nege kilometer tot by hulle donker huis agter ’n hoë muur in ’n systraatjie in Brooklyn. Die motorhek skuif geluidloos oop toe hy die afstandbeheer druk.

      Hy stoot die fiets tot by die afdak aan die agterkant van die huis. Sluit die kombuisdeur oop. Oorweeg dit om iets te ete in die yskas te soek, besluit dan daarteen. So sag as moontlik stap hy in die donker na sy kamer toe.

      Hy gaan staan en luister, kan net-net ’n gesnork uit die hoof­slaapkamer hoor. Hy maak sy kamerdeur agter hom toe en bly staan ’n oomblik met sy rug teen die deur geleun. Gooi sy helmet op die stoel in die hoek, stroop sy klere af en klim in die bed.

      Hy lê met oop oë in die donker, so wakker soos ’n haas. Staan later op en skakel die bedlampie aan, dan sy rekenaar op die lessenaar. Hy gaan sit op sy stoel en maak Outlook oop. Dink ’n rukkie en begin tik.

      Mammie Mooi

      Hope het vanoggend vir ons ’n dingetjie gedoen wat my impress het. So ’n roereier-en-worsiedingetjie op ’n broodjie, tot met ’n groen blaartjie bo-op. Jy het die Viljoens se huishulp mooi geleer. Ek het dit nie geëet nie.

      Vriendelike groete

      Jou liefhebbende seun

      Jurie

      Hy is lus en stuur dit.

      HOOFSTUK 2

      Jurie lê en luister met sy hande agter sy kop na die huisgeluide. Die gordyne voor sy kamervenster is oopgetrek en buite hoor hy voëls in die bome in die tuin. Die bure se hond blaf soos gewoonlik vir iemand wat op die sypaadjie verby stap.

      Sy kamerdeur is dié tyd van die oggend oop (anders as normaalweg), sodat hy soos ’n blinde die geluide in die res van die huis kan peil. Geluide wat sê die groen mannetjie wys, jy kan maar oor die straat loop. Hy was reeds by die toilet in die gang, het versigtig soontoe gesluip om nie sy pa raak te loop nie.

      Hy hoor die stort in sy pa se kamer loop. Hope werskaf in die kombuis, vroetel met potte en panne.

      Toe hy sy pa se voetstappe in die gang hoor, draai hy op sy sy na die muur toe en sluit sy oë. Die voetstappe sal soos elke oggend voor sy kamerdeur tot stilstand kom. Sy pa sal ’n ruk na hom staan en kyk. Hy lê soos ’n dooie, laaste asem lankal uit.

      Die voetstappe gaan soos elke oggend voort tot in die kombuis. ’n Sagte gesprek tussen sy pa en Hope waarvan hy nie die woorde kan uitmaak nie. Dan die geluid van eetgerei en breekgoed in die eetkamer. Hy ruik spek, besef hy is honger. Hy het lanklaas geëet, maar hy sal geduldig wag totdat die Mercedes by die hek uitry. Dan sal hy soos gewoonlik deur die venster na die kar se agterkant kyk en na die hek wat geruisloos toeskuif voordat hy kombuis toe stap.

      Hy moes weer ingesluimer het, want die huis is stil toe hy wakker skrik. Op sy selfoon sien hy skool gaan oor ’n halfuur begin. Hy staan net twee minute onder die stort, droog af, borsel sy tande, trek aan. In die spieël teen sy kamermuur sien hy dat hy eintlik die skeermes in die badkamerkassie moes gebruik het.

      Hy sal ’n verskoning bedink oor die stoppels en die laatkom. Die simpatie is net-net nog aan sy kant sedert laas jaar se drama. Hy sien dit in die onderwysers se oë wanneer hulle na hom kyk. Shame, sê die oë. Maar hy sal moet fyn trap om nie die sympathy vote te verloor nie.

      Hy het al baie keer agter ’n onderwyser se rug vinger gewys vir die jammergatuitdrukkings en ook die verligting in daai oë: Dank die Vader dis nie óns nie.

      Mense is weird, het hy die afgelope tyd geleer. Hulle weet nie wat om oor sekere goed te sê nie, selfs dié wat altyd ’n eiertjie lê oor alles. Soos Louis en Belinda. Dan kyk hulle na jou met daai oë en gee jou arm ’n drukkie, maak klik-klik-geluide met die tong. Dit moet help vir die woorde waaraan hulle nie kan dink nie, die stilte oor die niks-te-sê-hê.

      Hy lag partymaal in sy kop oor die mense se ongemak.

      Hy gryp sy sak en draf gangaf, skrik toe hy sy pa by die eetkamertafel sien sit. Sy pa moes mos al lankal met die Merc om die hoek verdwyn het. Nou sit en blaai hy deur die koerant wat soos elke oggend op die tafel lê. Baie dae lê dit heeldag onaangeraak daar.

      Jurie wil eers aanloop, maar hy is honger. Sy pa kyk nie op toe hy binnekom nie. Hy skep sy bord vol en gaan sit aan die ander koppenent van die tafel.

      Kort-kort word ’n koerantbladsy omgeblaai. Sy pa lees in stilte, loer oor die leesbril met die swart raam na die ellendes van die lewe, frons tussen die oë. Jurie kou terwyl hy na sy pa kyk. Die hare bokant die ore word grys. Daar is plooitjies onder die oë wat hy nou vir die eerste keer raaksien. Hy kou in stilte terwyl hy kyk.

      Sy pa kyk op. Hy kyk weg.

      “Is jy nie laat vir skool nie?”

      Hy antwoord nie. Sy pa lees verder.

      “Moet ons nie ’n slag jou motorfiets laat diens nie?” Die koerant word opgevou en eenkant gesit.

      Ons. Te cosy, soos in ’n spannetjie.

      “Ek sal self,” sê hy met ’n mond vol kos terwyl hy kouend na sy bord staar.

Скачать книгу