Скачать книгу

het klaar ’n plan. As Suzanne weer by Marlie kom oorslaap, maak ek kos. Suzanne is soos iets uit ’n ander wêreld. As ek net aan haar dink, begin ek sommer space travel.

      Ouma sug. “Solank ek nie poeding hoef te eet nie, ek lyk klaar soos ’n bus. Ek moet regtig weer aan die stap kom.” Sy druk die kasdeur toe. “Daar het nou die dag mense in die huis oorkant ingetrek, ek wil nog vir hulle iets lekkers vat.”

      Net nie van haar beskuite nie, behalwe as sy wil hê hulle moet vinnig weer die pad vat. “Ek het gesien,” sê ek en slaan ’n paar slukke koeldrank weg. Hulle is eintlik al so drie, vier weke in die huis. ’n Man en vrou, jongerig, albei baie blond. Ek het die vrou al afgeneem.

      Ek haal ’n paar aartappels uit die groentekas. Daar is nog een ui oor. Ek trek die potloodjie uit sy sakkie langs die notaboekie op die yskas. Uie, skryf ek. “Weet Ouma wat?” sê ek. “Chuck Norris kan ’n ui laat huil.”

      “Albert!” lag Ouma.

      Agter ons slof Marlie die kombuis binne. “Wat het julle gebyt?” vra sy.

      “Albert gaan ’n romantiese ete vir jou pa en sy meisie kook.” Ouma skeur die plastiek van ’n pak wors af.

      Marlie frons. “Wat? Het Pa ’n meisie?”

      Daar’s nou ’n grappie. Ek dink nie ’n Drain Wizard is juis – wat noem mens dit nou weer? – ’n “chick magnet” nie.

      “Nee, man, dis nie eintlik die ding nie,” sê ek. “Ek wil maar net leer kos maak, nou wys Ouma my mos.” Ek moet by Marlie probeer uitvis waarvan Suzanne hou, dan begin ek met ’n voorsprong.

      Marlie tel ’n appel op en hap in haar mou in. Knars, kou. “Dis nice, Albert.” Daar doen sy dit weer, glimlag amper vir my.

      Sy vee appelsap van haar ken af en kyk na Ouma se hare.

      “Ouma …” Ek weet wat kom. Marlie begin gewoonlik geduldig. “Ouma moet die kleursel langer aanlos. Tot Ouma se hare bruin is.”

      “Is dit nie bruin nie?” Ouma is altyd verbaas.

      “So wanneer gaan ek en Ouma Pick n Pay toe?” chip ek vinnig in. “Die lysie goed wat ons moet koop is al lank.”

      “Nie voor die naweek nie.” Ouma krul die wors soos ’n pienk slang in die pan op. “Ek en Petro moet nog ’n paar goedjies gaan soek vir haar ete.”

      Tannie Petro is Ouma se vriendin. Volgende Woensdag word sy tagtig en as jy Ouma moet glo, gaan ’n Superbowl-konsert sleg afsteek teen hierdie paartie.

      “En Vrydag kom Ouma mos die laaste periode skool toe,” sê Marlie. “Vir die vergadering oor die musical.”

      “Sing jy in die musical?” vra ek verras.

      “Nee, Albert, jy was dan by toe ek vir Ouma gesê het!” Hei, mense kan nie verwag dat ek na alles moet luister wat hulle praat nie!

      “Dis hoekom ek daai goed in die motorhuis gesoek het, die ou klere en so,” sê Marlie. “Ek help op die verhoog, met die props en kostuums.” Sy trap die kombuisblik oop en pot haar stronkie daarin. “Anyway, ek gaan nou huiswerk doen.”

      Ouma was haar hande met die special moisturising roosseep op die wasbak. “Hy wat laaste lag,” begin sy.

      “Jou romp is op die tafeltjie in die gang,” sê ek vir Marlie.

      “Op die tafeltjie …?”

      “… het nie die grap gevang nie,” sê Ouma.

      “Ha-ha, Ouma!” sê ek.

      Marlie gaan na haar kamer toe. Ek skil die eerste aartappel klaar. Ouma tap water in ’n kastrol en gooi sout by.

      “Dink jy Marlie is oukei?” vra sy vir my.

      Ek trap ongemaklik rond. Ek is nie die beste persoon vir hierdie vraag nie. “Wel, sy is darem ontslae van daai simpel boyfriend van haar,” sê ek eindelik.

      Ek weet Ouma was bekommerd daaroor. En met rede. Boyfriend Nommer Een kon op veertien al goed gepleister raak. Nommer Twee het dwelms by die skool gesmous vir ’n sakgeldjie en Nommer Drie het wieldoppe versamel. Van nuwe karre af.

      “Ja, dis seker goed.” Ouma klink nie oortuig nie.

      My ma het ’n beroerte gekry van die Pil. Ek weet nie hoe ek dit weet nie, ons praat nooit oor haar in die huis nie, maar ek dink ek het Pa eendag gevra. Daai Pil wat baie vrouens drink.

      Sy was een in ’n miljoen. Ek is seker dis wat Pa gesê het. Een in ’n miljoen.

      Of onthou ek verkeerd?

      Party onderwysers begin ’n mondelinglys soms van agter, of kies name rond en bont. Nie die Yskoningin nie. Sy moet skrikkeljare pes, want dan is al die dae ná Februarie deurmekaar.

      Jonker kyk na haar, verloor dadelik sy draad.

      “Uhm, dis …” Hy krap in sy nek, korrel na die papier in sy hand. “O ja, dan was daar die toets toe Graeme Smith met ’n gebreekte hand verder gekolf het.”

      Links van my gaap ’n ou dat sy kakebeen klap. In die bank regs skryf ’n meisie op ’n stukkie papier.

      Ek moet seker bly wees my van is nie Walters nie. Dan moes ek tot laaste gewag het, wat seker rof kan wees op die senuwees. Maar gelukkig is ek ook nie Arends nie.

      My held/heldin.

      Agter my lag iemand. Die Yskoningin se blou blik vries hom stil.

      “… en in die volgende toets …” Dis nou al die derde krieketheld. Ek voel self ’n gaap in my neus bewe.

      Ná hom is dit Kaleni, en dan ek.

      Ek wonder wie Lungelo se held gaan wees. Tien teen een die atleet Usain Bolt, dis ongelooflik hoe baie hy na daai ou lyk. Net nie so vol sports nie, glad nie. En ek weet nie hoe vinnig hy is nie, hy het in die eerste kwartaal by ons skool aangekom ná die atletiek al verby was. Maar hy’s groot vir ’n graad agt dude. Omtrent twee keer so lank as enigiemand anders in die klas.

      Oukei, as ek.

      Oukei, selfs Marlie is omtrent twee keer so lank soos ek. Maar dis nie hoekom ek nie baie van hom hou nie.

      Ek hou nie regtig van enigeen in die agterste ry nie. Dis waar al die ouens sit wat soos bere lyk, en net so saggeaard is ook. As hulle jou nie skud soos ’n Kersklapper nie, besproei hulle jou met koeldrank, of stamp jou uit die ry voor die saal.

      En dan was daar die bal teen die kop in LO. Dit was in rounders, wat mens amper sou kon geniet het as dit nie deel was van LO nie. Mens sien regtig sterre, vra my. Net ’n ongeluk, het die Yskoningin omtrent twintig keer gesê terwyl sy oor my gebuk het, Lungelo het dit nie bedoel nie, dit was jy wat misgevang het. Wel, ek sweer daai bal sou selfs Graeme Smith misgevang het, dit het vinniger as ’n vuurpyl op my afgekom.

      “… die beste krieketkaptein ooit.” Die Yskoningin knik terwyl Jonker verlig terugsteier na sy bank.

      Ek skuif reg. Nou Lungelo. Ek koes toe hy van agter verby my loop, net vir ingeval.

      Hy gaan staan voor in die klas, sy oë op die vloer voor hom. Die een kant van sy hemp flap oor sy broek. Die Yskoningin kry ’n pyntrekkie om haar mond.

      “My held is Steve Jobs.”

      Waaat?

      “Steve Jobs het moeilik grootgeword.”

      Hy het nie!

      “Dis hoekom hy so ’n moeilike ou was.”

      Dis nie waar nie! Steve Jobs was moeilik want hy was ’n genius!

      “Steve Jobs het Apple gestig in …” Tjommel tjommel. “… en toe is hy uit sy eie maatskappy gefire …” Tjommel tjommel. So? Dis nie die punt nie! Dis nie

Скачать книгу