Скачать книгу

Dis al wat ek u vandag kan vertel. En u is gelukkig, met respek, dat ek nog so baie onthou. Want dis al meer as ’n jaar en ek kan skaars onthou hoeveel boklammers ons laas jaar geoes het. Ek staan al tagtig jare toe.”

      “Ek sien, mevrou.” Die magistraat stap na die deur. “Baie dankie vir die koffie. Tot siens, mevrou.” Hy stap uit, maar draai weer om: “En ek hoop om u seuns ook te ontmoet, eendag in die toekoms.” Die klerk drafstap agterna. ’n Hoenderhen met kuikens skarrel voor hulle weg. Toe die motor se deure klap, draai Kaatjie Danster in die kosyn om en kyk na Meisie Pool.

      “Uit die Stiefveld gaan daardie arme man nie die storie kry nie. Hy kan dit maar gaan optel waar dit te vinde is.” Met ’n laaste blik na die blink dak van die groothuis, gaan sy na binne. In die herd krap sy ’n kooltjie uit om haar handgerolde entjie mee aan te steek.

      7

      Amy O’Leary-Moolman het swaar uit die bed opgestaan. Sy het die vorige aand tot laat die plaasskoolkinders se opstelle nagesien. Laatnag het sy op die stoep gaan kyk of sy reën kan ruik, en ver teen Toorberg se laagste hange ’n hoë vuur by Kaatjie Danster-hulle se huis sien brand. Sy hoop nie die Stiefveld brand weer af soos die jaar toe Koevert gebore is nie, was haar laaste gedagte voor sy die huis in is. Almal weet dat Kaatjie Danster en haar seuns nie ’n maklike stryd stry met hul bokke op daardie stuk dooieveld nie.

      Amy is bly dat dit genadiglik die einde van die maand is. Soos haar gewoonte is, het sy die kinders afgegee sodat hulle vir hul ouers winkels toe kan stap. Voetpad se Algemene Handelaar lê ver. Ook moet baie kinders hul oumas en oupas se pensioengeld kom haal by die Halte. Sy het destyds al, toe sy ná Koevert se geboorte die skooltjie begin het, vir Posmeester Moolman gesê dat dit tog nie help om elke einde van die maand voor ’n leë klas te staan nie. Die hele buurt se kinders is met ’n sjieling of ’n sikspens in die hand iewers op ’n voetpaadjie.

      Sy trek die gordyne van die eetkamer oop en kyk op na Toorberg. Vanoggend, sien sy, is die kop toe van die mis.

      “Dalk kom daar reën,” sê sy vir Posmeester Moolman toe hy uit die slaapkamer kom en aan tafel gaan sit. Sy skink vir hom koffie. Hy sit met die dag se busrooster voor hom. Hy lyk moeg, die hand wat die bladsye omblaai, bewe liggies. “Jy’t weer bloeddruk vandag,” sê sy. “Het jy nie die ekstrak gedrink wat die Slams hier gelos het nie?”

      Posmeester blaai die rooster toe. Hy kyk op. “Die Slams is net op ’n maklike pond uit. Ek kan sweer daardie ekstrak is suiwer beespis uit Abel se melkstalle.”

      “Haai, Posmeester!” betig sy. “Het jy kopseer?”

      “Net ’n bietjie bloedsmaak in die mond,” sê hy. “Dis seker van die biltong wat ek gisteraand geëet het. Ek wonder waar kry Abel die biltong, noudat hy nog steeds skop teen die slagtery.”

      Amy haal haar skouers op. “Hy koop dit seker by sy bure. Daar’s mos genoeg geld. Hulle stink van die geld, Ella-hulle.” Haar mond kry die trek wat dit altyd dra as hulle oor Abel Moolman gesels. Sy sny haastig brood. Koevert kom die kamer binne, gaan sit aan tafel en snuit sy neus in sy kakiesakdoek. “Solank hy net die vruggebruik eerbiedig,” sê sy. “Kyk wanneer kom die biltong hier aan – nóú eers. Vyf maande laat. Dis slagtyd in Junie, nie nou in die hoogsomer nie. Ons moet sorg dat ons volgende jaar s’n betyds kry, Posmeester. In die winter. Dis wanneer mens biltong wil hê. Vir voor die kaggel. En om soggens in die pan te braai saam met eiers, vroegoggend, as dit sneeu op Toorberg. Nè, Koevert?”

      “Die duiwel gaan hulle haal,” sê haar seun oor die rand van sy koffiebeker. “Ek voel dit so aan my lyf. Hier gaan niks reën kom nie.”

      “Daar’s mis op Toorberg,” sê Amy. “Wat dink jy, Posmeester, is dit droë mis?”

      Posmeester Moolman staan op en sug. Hy sit die kort potloodjie agter sy oor, die opgevoude busrooster in sy hempsak.

      “Koevert,” sê hy, “jy moet jou agterent wikkel. Dis die einde van die maand en toe ek netnou die windlaaier se briek gaan aandraai het, kon ek al vir Kaatjie Danster sien aankom. Die agtervelders gaan netnou begin toustaan vir hul koeverte. Daar’s nog gister se middagpossakke wat jy moet sorteer.”

      Amy kyk na Posmeester. “Maar gaan jy nie nog ’n koppie koffie drink nie?” vra sy bekommerd.

      “Nee. As my kop so draai, dan is dit beter om nie nog koffie bo-op te drink nie. En dit gaan nie reën nie. Hoor hoe roep die ganse. Ek het onder hulle grootgeword. Dis ’n reënroep. Hulle klae.” Hy stap uit en hulle luister na sy voetstappe oor die jaartgruis na die Halte.

      “Die biltong is ses maande laat,” sê Koevert toe sy ma oorkant hom kom sit. Hy neem ’n handvol snysels, kantel sy kop agteroor en toe hy dit in sy mond druk, sien Amy die ink onder sy vingernaels.

      “Jy moet daardie naels van jou borsel, Koevert,” sê sy. “Ek sê dit elke dag vir die kinders by die skool. En hier sit jy in my eie huis, en kyk hoe groei die vel al oor die vuil.”

      Hy antwoord nie en neem nog biltong.

      “Ek kon weer heelnag die boormasjien hoor,” sê hy ná ’n rukkie.

      “Sommer aanstellerigheid.” Amy kyk vies by die venster uit. “Abel-hulle kan nie, soos al die ander boere, water uit die staatsdam ry nie. Nee, hulle’s te goed vir die fiskaalwater. Hulle wil hul eie water hê, Toorbergwater.”

      “En dit gaan hulle nie kry nie.”

      “Hoekom sê jy so?”

      “Ek voel dit aan my lyf. Ek voel dit net. Hulle boor nou al maande.”

      “As dit nie jare is nie.” Amy staan op en vee haar hande aan haar voorskoot af. “Toe, Koevert, jy moet jou roer. Jy weet jou pa’s nie lekker as hy al vroegoggend met die verkyker Toorberg se kant toe kyk nie. Hy’t juis netnou gesê hy’t Kaatjie Danster sien aankom. Toe, daar roep hy nou. Moenie vandag sy bloeddruk toets nie. Netnou slaan hy weer neer.”

      Koevert staan traag op en gaan uit. Sy hou hom dop deur die venster. Met skewe skouers stap hy oor na die Halte. Sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy skud haar kop. Hy’s ’n Moolman, mens kan dit sien in sy oë, partykeer as hy vinnig opkyk. Dan lyk hy nes OuAbel. Sommige mense sê hy trek na Ouma Olivier se mense. Hulle’t so skuins geloop, asof hulle iets dra op die een skouer. En gister toe daardie loskop van ’n seun van Abel, klein DwarsAbel Moolman, hier in ’n stofwolk met sy pa se Land Rover voor haar huis stilhou om die sak biltong af te gee en nie eens sy hoed vir haar lig nie, kon sy ’n oomblik die trekke tussen hom en Koevert sien. Om te dink dié twee het nog as seuntjies in die Vlei skelm saamgespeel, tot Abel hulle eendag betrap en sy seun verbied het om met die Katolieke Amy O’Leary se kind te speel. Huil-huil het Koevert by die huis aangekom. Later het hy na die Skaamfamilie in die Stiefveld begin dwaal en hy, Shala en Oneday het groot maats geword. Sy het hom laat begaan en nie vrae gevra toe hy later as opgeskote seun saans tot laat by Kaatjie Danster-hulle gebly het nie.

      “Die kind kan nie so by die Skaamfamilie aan huis lê nie,” het Posmeester Moolman gesê.

      “Ag wat, dis maats vir hom,” het sy gekeer. “Buitendien, Kaatjie Danster se kleinkinders is van die oulikste kinders in my skool. Hulle kom uit ’n goeie huis, verflenterd soos wat hulle is.”

      “En daardie flerrie KleinKitty Riet?” het Posmeester gevra. “Jy moet sien hoe staan en flankeer sy met Koevert deur die tralies van die postoonbank as sy hier kom.”

      Sy was onmiddellik kwaad. “Posmeester, doen jy dan nou dieselfde as wat jou pa met ons gedoen het? Oor ek Katoliek was, moet ons nou hier in die onderveld sit en leef uit OuAbel se testament uit.”

      “Wag nou, Amy,” het Posmeester gekeer. “Ek meen net, hulle’s naasfamilie, jy weet. Dit kan moeilikheid bring, buitendien …”

      “Koevert sal mos nou nie gaan lol met sy eie bloedniggie nie, Posmeester,” het sy woedend gesê. “En jy weet so goed soos ek dis nie jou redes nie. Of jou eie lewe nie vir jou ’n les is nie. Onthou net, KleinKitty Riet kom uit die afstammelinge van ’n sendeling.”

      “Dit

Скачать книгу