ТОП просматриваемых книг сайта:
Klassiek reeks: Toorberg. Etienne van Heerden
Читать онлайн.Название Klassiek reeks: Toorberg
Год выпуска 0
isbn 9780624068785
Автор произведения Etienne van Heerden
Жанр Контркультура
Издательство Ingram
Die hele oggend, terwyl sy op die stoepie in die skaduwee sit en opstelle nasien, en later toe sy deur die huis beweeg om seker te maak dat alles netjies is voor Posmeester en Koevert vir middagete oorstap, het Amy onrustig gevoel: bekommerd oor Posmeester se bloeddruk en sy floutes, bekommerd oor wat van Koevert sal word as sy pa nie meer daar is nie, bekommerd oor die vruggebruik, en bekommerd oor die groeiende inhaligheid wat sy soos ’n vreemde, onbekende gewas in haar binneste voel groei.
Sy het voor die kombuisvenster gestaan met haar oë op Toorberg en die hangertjie in haar hande toe iemand buite op die gruis verbyhardloop na die Halte en skree: “Posmeester, bring die sleepkabels, Abel vra na die kabels! Druppeltjie du Pisani het in ’n boorgat afgeval!”
8
“Wys my die boormasjien,” vra die magistraat toe Waterwyser du Pisani uitkom op die voorstoepie van die ou plaasskooltjie waar hy met sy vyf kinders woon. Gehaak in Waterwyser se lyfband is vyf wilgermikke van wisselende groottes: ’n dun gele, wat glo die oudste is en wat hy gebruik in kalkwêreld, dan ’n kort dikke wat hy in die vleiveld vasvat, daarnaas ’n blinkgevatte slap lat wat hy opneem as hy die water in sy voete voel, en twee kleintjies, wat hy nog na aard moet skat. Reg om sy lyfband is klein medisynebotteltjies vasgemaak waarmee hy monstertjies water skep by elke fontein en stroompie op Toorberg. Snags lê hy sy wilgerlatte in water in, waarby ’n bietjie beesurine en water uit sy botteltjies gegooi is om die hout taai te trek. Só het sy latte die water van die vleie en die berg intiem leer ken.
Waterwyser, wat stam uit die arm Du Pisani’s van die droë wêreld, hakkel en vat aan sy hoed en sy mikke terwyl hy voor die magistraat op sy stoepie staan.
Hulle stap in die rigting van Toorberg se melkstal terwyl die spannetjie Du Pisani’s hulle deur die skoolvensters agternaloer. Agter die melkstal lê die dooie masjinerie: stukke potyster wat eers lusernsnyers was, ’n kruppel dorsmasjien met sy disselboom in die aarde geleun, ’n stompneustrekker sonder voorwiele en met verrotte agterbande uit OuAbel se tyd, ’n eg met geroeste, stomp tande, en eenkant: ’n hoop ratte, hefbome en wiele wat suf tussen die brandnetels lê.
“Dit, u Edelbare, is die boormasjien.” Waterwyser trap met sy velskoene die onkruid tru. “Dis die ding wat die ellende op ons kom lostorring het,” gaan hy voort toe die magistraat nie nader staan nie, maar ’n sigaar aansteek en ingedagte na die stukke metaal kyk. “Stukkie vir stukkie,” sê Waterwyser. “Soos ’n garing in ’n onderbaadjie. Later is daar geen einde aan die torring nie en alles torring saam.” Waterwyser stap om die stukke yster. Die magistraat let op hoe hy elke onderdeel met sy skoenpunt skop en bevoel.
“Waar is die punt?” vra die magistraat. “Die boorpunt.”
“Nee, u Edelbare, dit weet niemand nie. Hulle sê oom Abel het hom begrawe in die dooieveld – daardie giftige stuk aarde waar StamAbel se waens gestaan het toe hy amper van die koors omgekom het. Waar niks wil groei nie. Hulle sê die duiwels wat StamAbel uitgesweet het, woon nog daar. Die vee loop al óm die plek. U Edelbare sal nooit ’n spoor daar sien lê nie.”
“Waar is dit, meneer Du Pisani?”
“In die onderveld, u Edelbare, op pad na die Halte toe.”
“En u sê Abel Moolman het die boorpunt daar gaan begrawe?”
“Ja, u Edelbare, hulle sê oom Abel, met sy stoepboerhande wat nooit aan ’n graaf of ’n trekker se stuurwiel gevat het nie, het self die boorkop op sy Land Rover gelaai en hy’t stowwerig en die hel in teruggekom en glo gesê: ‘Ella, ek het die skuld afgewas van my hande met die stof van die dooieveld. Laat ons vergeet van die dinge van dié jaar, laat ons vergeet van die masjien, laat ons rein wees met die eerste reën.’ Dit was sy einste woorde, u Edelbare, só vertel Kaatjie Danster se niggieskind wat as binnemeid op Toorberg werk, en met dié einste woorde, u Edelbare, het die reën begin uitsak oor Toorberg se opstalle – só erg dat al wat damwal is in daardie wolkbreuk gebreek het en die erdvarke natsnoet rondgedraf het in die veld, met die klonkies agterna, want al die gediertes se gate was toe onder die water.”
“En,” vertel Waterwyser du Pisani verder aan die magistraat wat nou op een van die stukke yster gaan sit om oor die dooie masjinerie uit te staar, “wat die distrik nog verder laat glo het dat die duiwel sy hand in dit alles had, is dat al die droë boorgate wat die masjien so sonder sukses staan en oopboor het op byna elke morg van Toorberg, begin water spu het.”
Dan skuif Waterwyser sy hoed terug op sy kop. “’n Ander ding, u Edelbare. Die Moolmans se familiebegraafplaas het oorstroom en toe die water weke later wegsyfer, toe was die graf van StamAbel ingesak. En die grafsteen was net weg, ingesluk deur die nat aarde, na daardie plek van die dood waaroor ons maar net kan gril.”
Die magistraat knik sy kop. “Só,” sê hy.
“Asseblief, u Edelbare, laat ons die duiwel nou los. Dié masjien moet eintlik toegegooi word. Eintlik moet hy ’n swart begrafnis kry met die vloek van die Slams oor hom. Want soos hy hier lê,” en Waterwyser skop-skop aan ’n hefboom, “is hy die ding wat die Moolmans geknak het.”
Die magistraat druk sy sigaar dood teen ’n stuk yster, staan op en sug. Hulle stap terug na sy motor, waarin die assistentklerk skuins agter die stuurwiel sit en dut.
“En wat sê die Wet nou van hierdie gebeurtenis, u Edelbare?” wil Waterwyser weet.
“Dit sal ek nog vasstel, meneer Du Pisani.” Die magistraat steek sy hand deur die oop motorvenster en haal ’n nuwe pakkie sigare uit die paneelkissie. Die klerk skrik vervaard wakker en trek sy das reg. Terwyl die magistraat die sigaar opsteek, voel hy hoe die onmeetlike stilte van die vlakte om hom kantel. Ver op die horison dans waterspieëlings en die tregter van ’n enkele warrelwind speel rondom Toorberg se voete. Alles swyg, dink hy, net die monde babbel, babbel soos bitter water.
“Dis droog,” sê hy aan Waterwyser en wys met sy sigaar na die stoftregter.
“Dis die Stiefveld wat daar so droog lê, u Edelbare. Uitgetrap deur Shala Riet se boktrop. Daar’s nie veel van daardie stuk veld oor nie.”
“O so.”
Hulle staan in die hitte; binne die motor sug die klerk. Die bakwerk kraak soos die son die metaal laat uitsit.
“Vertel my van Abel Moolman se verhouding met klein Noag Moolman, u oorlede seun.” Die magistraat kyk Waterwyser in die oë. Onverwags skerp is die terugblik voordat Waterwyser wegkyk en met sy skoenpunt liggies teen die motorband skop.
“Nee, u Edelbare, u het seker gehoor?”
Die magistraat skud sy kop. “Ek het nog niks gehoor nie, meneer Du Pisani.”
“Kyk.” Waterwyser vroetel met ’n botteltjie aan sy lyfband, wikkel dit los uit die riempie waaraan dit hang. Hy skroef die dekseltjie los. Vinnig bring hy dit na sy mond en sluk die water met een spring van die gorrel af. Hy vee oor sy mond. Die magistraat kyk effe verbaas of die klerk dit opgemerk het, maar dié se kop knik weer vooroor. “Kyk,” herhaal Waterwyser en vee sy mond behoorlik met die agterkant van sy hand af.
“Ja, meneer Du Pisani?”
“Ek en Tillie, u sien, u Edelbare, hoe sal ek nou sê? Ek en Tillie was nou nie juis getroud nie. Dié ding het maar gebeur toe sy in hierdie klomp mikke van my geïnteresseerd geraak het. U weet, u Edelbare, sy’t my bekruip in die veld as ek mik trek. Sommer agter ’n bos vlie sy uit en gryp my mik en hol die veld in daarmee. Nee, u Edelbare, ek het my probleme gehad met haar. Malkind soos sy is. U sal nog oplet as Ella haar vir u Edelbare wys, as hulle haar laat uitkom uit daardie kamer wat Abel laat aanbou het ná Druppeltjie