Скачать книгу

Skoon reguit lyne. Ligte marmervloere, dak-tot-vloer-vensters wat kan wegvou sodat die vertrek saamsmelt met die groot patiostoep waar die swembad oor die rand van die erf glip. ’n Onbelemmerde uitsig oor die Atlantiese Oseaan. Gemakstoele en rusbanke is bymekaar gegroepeer om verskillende kuierareas te vorm. Die meeste daarvan is in skakerings van wit oorgetrek, met hier en daar ’n fletskleur. Teen die agterste muur is ’n kroegtoonbank. Agter teen die muur is groot spieëls met rakke waarop rye drankbottels uitgestal word. Dis één van die dinge van dié mense wat hy vreemd vind. Hulle liefde vir spieëls. Uit hoeveel hoeke wil ’n mens jouself sien? En hoeveel keer op ’n dag wil jy na jouself kyk?

      “Nick, my man!” Enzio Allegretti kom haastig nadergestap. “Wat de donner maak jy in die Kaap, en hoekom het jy my nie laat weet jy kom nie? Ek kon jou op die lughawe laat haal het.”

      “Ek was nie seker van my vlugtyd nie. Ek het sommer ’n taxi gekry. En gelukkig was die Range Rover by die woonstel.”

      “Dis ’n verrassing.” Hy kyk oor Nick se skouer. “Moenie vir my sê die ou man is ook hier nie.”

      “Nee, ek is alleen.”

      Hy neem Nick aan die arm en stap met hom dieper die vertrek in. “In daai geval is jy baie welkom. Ek het nou net vir my iets geskink om te drink.” Hulle stap tot by die lang kroegtoonbank, en Allegretti stap agterom. “Wat sal dit wees?”

      “ ’n Bier.”

      “Nee, bliksem, man, kyk wat het ek alles hier.” Hy beduie na die bottels teen die muur.

      “Ek sien jy is goed gestock, maar ’n bier sal nou goed afgaan.”

      In die spieël teen die muur sien Nick hoe ’n man agter hom instap, en hy draai om, steek sy hand uit.

      “Patrice, how are you?”

      “Very well, sir.”

      “Tell him that you like CapeTown.”

      “I like Cape Town, sir.”

      “Tell him it’s much better than Zimbabwe.”

      Patrice raak aan sy kop. “Zimbabwe is not that bad, sir. It’s just bad at the moment, but maybe one day it will be nice again.”

      Allegretti skud sy kop. “Don’t hold your breath, my boy. That place is fucked.”

      Patrice kyk na Nick. “Do you have luggage, sir?”

      “Thanks, Patrice, but I’m staying at the apartment.”

      Patrice knik voor hy stilweg weer die vertrek verlaat.

      “Hoe lank bly jy?” vra Allegretti.

      Nick sien die effense frons tussen die man se oë. So vlugtig dat hy hom dit dalk verbeel het. Hy neem ’n sluk bier terwyl Allegretti oorkant die kroegtoonbank gaan sit.

      “Ek is nog nie seker nie.”

      “Die ou man het jou gestuur.”

      “Hy is bekommerd oor die insident verlede week.”

      “Ek het hom gesê dit was niks wat ek nie kan handle nie. Watse stories het hy nou weer gehoor?”

      “Dis nie stories nie. Daar is op jou motor geskiet.”

      Die selfoon op die toonbank lui. Allegretti tel dit op en antwoord.

      “Whatsup? No, I am busy. I’ll call you back.” Hy sit die selfoon terug op die toonbank. “Ons het nie bewyse dat ek die teiken was nie. Dit kon net ’n gewone hijack-poging gewees het.”

      “Of nie. Wat weet jy van die skietery by Barkov se huis? Was jy betrokke? Het die twee voorvalle iets met mekaar te doen? Was dit jou manier om hom terug te kry?”

      “Ek was nie verantwoordelik vir die skietery by Barkov se huis nie.” Hy kyk verby Nick. “En in elk geval, as hulle my wíl bykom, dink jy nou werklik jy sal hulle kan keer?”

      Die telefoon lui weer, maar hierdie keer antwoord Allegretti nie, druk dit net dood.

      “Nee, maar jou pa wil homself nie later verwyt nie. Ek is hier om weer ’n slag na jou sekuriteit te kyk en seker te maak julle is nie onnodig roekeloos nie.”

      “Weet my pa ek is ses-en-dertig jaar oud?” Sy stem styg en hy skink weer sy glas vol. “Dit pis my so af as hy my soos ’n kind behandel.”

      Nick hou sy hande omhoog. “Don’t kill the messenger.”

      “As jy wou, kon jy hom oortuig het ek is oud genoeg om my eie battles te fight. Here, hoe ouer hy raak hoe meer paranoïes raak hy.”

      “Dan is daar ook nog die ander saak.”

      “Watse saak?”

      “Nazeem Williams se susterskind. Van álle meisies wat jy in die Kaap kon kry. Was dit nou nodig?”

      Allegretti klap sy glas van die toonbank af en dit spat in skerwe op die vloer. Patrice verskyn asof hy geroep is, maar Allegretti beduie met sy arms. “Go away!”

      Patrice verdwyn weer en Nick hoor hoe ’n deur toegaan.

      “Waar kom hy daaraan?”

      “Dis nie asof jy baie diskreet is nie. Jou girlfriend is lief om te twiet en te Facebook. Ons leef in die een-en-twintigste eeu, Enzio. Daar is bloedweinig geheime in die wêreld.”

      “My persoonlike lewe het fokol met hom te doen.”

      “As jy ’n Williams in jou bed laat klim, het dit iets met hom te doen. Hulle twee het ’n geskiedenis.”

      “Sy is nie ’n Williams nie. Haar ma is Williams se vrou se suster.”

      “Dit maak nie saak wat haar van is nie. Sy is deel van sy clan, en dit maak dit baie ingewikkeld.”

      “Dis sulke tye dat ek wens ek was ’n weeskind. Kan hy nie net soos alle ander ou mense doodgaan nie? Hoe moeilik kan dit wees?”

      Nick swaai sy stoeltjie om sodat hy deur die vensters na die uitsig kan kyk. Die Allegretti-erfgename maak hom altyd dankbaar hy het nie kinders nie.

      “Ek gaan nie ophou om haar te sien nie. Om die waarheid te sê, ek het haar gevra om by my in te trek.”

      Nick swaai terug. “Jy kan nie ernstig wees nie. Seks is een ding, maar waarom wil jy dít doen?”

      “Het jy haar al gesien?”

      “Op foto’s.”

      “Sy is die sexyste girl wat ek al ooit gesien het, en ek hét al ’n paar in my lewe gedate. En sy is nice. Ek is gatvol vir bitches.”

      “Het sy al ingetrek?”

      “Nee, na laas week se ding het Williams allerhande besware, maar ons werk aan hom. Moenie my vra hoe hy daarvan weet nie.”

      “Jissis, Enzio. Jy kan wragtig ’n idioot wees as jy die dag tyd het.”

      “Wag tot jy haar sien.”

      “Hoe gaan dit met Gabi?”

      “Sy gaan ’n orgasme kry as sy weet jy is in die Kaap.”

      “Sy is nou ’n getroude vrou.”

      Allegretti lag kop agteroor. “Asof dit haar sal keer. Jy kan soms so donners naïef wees.”

      “Terwyl ek hier is, moet ek ook na haar sekuriteit kyk.”

      “Well, good luck daarmee. Jy weet sy doen net wat sy wil. En as iemand na haar moet kyk, is dit seker haar man.”

      “Jy en Gabi vergeet tog te graag dat julle pa nog baie van julle tabs optel, en dit gee hom sekerlik die reg om nog sommige eise te stel. Hy kan maklik besluit hy draai die krane toe, en waar sit julle twee dan?”

      Allegretti spring op, maak ’n laai oop en haal ’n sakkie wit poeier en ’n spieëltjie uit. Hy gooi ’n bietjie op die spieëltjie uit, sny twee lyntjies met

Скачать книгу