Скачать книгу

saam. Sy trap die petrolpedaal nog dieper in, en verminder eers spoed toe sy by die Goodwood-afrit kom. Sy draai net op Giel Basson-rylaan af toe haar selfoon begin lui. Dis haar ma en sy oorweeg dit om nie te antwoord nie.

      “Ma, ek is amper by die huis.”

      “Vera-hulle wil loop, maar wil my nie alleen los nie. ’n Mens sou sweer ek is ’n krimineel.”

      “Ek is binne ’n paar minute daar.” Sy skakel die selfoon af en gooi dit in die kissie tussen die twee sitplekke. Sy beny Vera-hulle wat kan loop.

      Haar ma-hulle is in die sitkamer toe sy die voordeur oopmaak. Vera sit reeds met haar handsak op haar skoot. Haar man, Peet, staar na die televisieskerm waar ’n krieketwedstryd uitgesaai word.

      “Waarom kom jy so laat?” wil haar ma weet toe sy Ellie gewaar.

      “Ek is jammer.” Ellie kyk na Vera en Peet. “Dankie dat julle gebly het. Neem asseblief vir julle van die kos in die yskas. Ons kan onmoontlik alles opeet.”

      Sonder om twee keer genooi te word, stap Vera kombuis toe. Sy kom terug met ’n styfgepakte winkelsak in die hand.

      Ellie stap saam met hulle uit motor toe, bedank hulle weer eens.

      “Wat gaan jy met haar maak? Sy kan nie alleen bly nie.”

      “Sy gaan haar nie laat oppas nie, en ek moet weer begin werk.”

      Dit lyk of Vera iets wil sê, maar sy bedink haar blykbaar en klim in die motor. Ellie kyk die motor agterna voor sy traag terugstap huis toe.

      “Ek kan darem sekerlik nou iets kry om te drink. Dit was ’n helse dag en julle almal het iets gedrink behalwe ek.” Haar ma klink soos ’n kind wat ’n tantrum wil gooi.

      “Daar is nog ’n paar dinge waaroor ons moet praat.”

      “Soos wat?” Haar ma lek oor haar lippe en Ellie sien hoe haar hande fladder. “Ek is nie lus vir jou geprekery nie.”

      “Ek moet môre terug werk toe, Ma. En ek moet weet Ma sal na jouself kyk.”

      “Ek is sestig jaar oud, en het nog altyd na myself gekyk. Wat laat jou dink ek kan dit nie doen nie. Almal dink dis hy wat na my gekyk het, maar hy was nooit hier nie. Ek het na jóú ook gekyk, en nou dink jy ek is ’n idioot.” Haar ma staan op, hande op die heupe. “Jy is nes hy.”

      “Ma …” Ellie voel hoe die moegheid aan haar rem. “Ma moet minder drink.”

      “Jy laat klink dit of ek ’n alkoholis is. Ek het die hele goddelike dag nog niks gedrink nie …” Ellie sien hoe haar ma wegkyk, soos altyd wanneer sy lieg. “Ek het nog nooit vir julle gesê julle moet ophou drink nie, en die Here alleen weet dis nie asof julle nie kan drink nie. Maar ek is die een wat moet ophou!”

      “Die probleem is dat Ma sukkel om op te hou as Ma eers begin het.”

      “Ag, kak.” Haar ma draai om en stap in die gang af. Oomblikke later slaan haar slaapkamerdeur toe, en Ellie sak dieper af op die stoel.

      Later in haar kamer trek sy die swart begrafnisklere stuk-stuk uit. Haar ma wou nie swart dra nie, maar Ellie het vir haarself ’n swart rok gaan koop. Geen ander kleur het reg gevoel nie. Sy hang die rok teen die kasdeur. Stroop die swart onderklere af en wens sy kan haar vel ook so afstroop. Dalk sal die volgende een wat groei nie so pyn nie. Haar oog vang die lang spieël en sy kyk na haar eie beeld. Hulle kan op ’n dag wegraak, maar for better or worse, of jy daarvan hou of nie, jy sal die gene bly voortdra. Sy het haar ma se lyf. Skraal, medium lengte. Gemiddeld. Nie groot of klein borste nie. Sy is waarskynlik die norm wanneer hulle klere ontwerp. Min of meer in proporsie van kop tot tone. Niks om oor huis toe te skryf nie.

      Maar sy lyk na haar pa se mense, en hulle gene het haar ingekleur. Melissa was reg, sy sal van meer as die haarkleur ontslae moet raak as sy van die voormense se gene wil wegvlug.

      ’n Dogter leer haarself deur die oë van ’n pa ken, het sy eenkeer gelees. Met ’n ma is daar soms ’n subteks. Maar ’n pa se oë is sag. Daar is geen verwagting nie, net aanvaarding.

      Sy trek haar nagklere aan en klim in die bed. Die kamer is hare, en tog ook nie meer nie. Eens op ’n tyd was dit ’n welkome toevlugsoord. Nou is dit net nog ’n vertrek in ’n huis waar die mure haar verdriet eggo. Sy krul onder die duvet op en maak haar oë toe. Miskien kán haar ma ook nie huil nie, dink sy. Miskien is daar sekere dinge waaroor ’n mens net kan snuif. Maar sy kry nie eers dít gedoen nie, en die drukking op haar bors word net al groter. Na ’n uur staan sy op, neem die duvet en ’n kussing, en gaan sit buite op die stoep. Douglas kom lê langs haar en op die ou end raak sy aan die slaap met die hond se oor tussen haar vingers.

      Hoofstuk 4

      Nick Malherbe haal sy bagasie uit die kattebak, betaal die taxibestuurder en stap met sy tasse tot by die woonstel. Die sleutel is soos afgespreek by die deurwag. Toe hy die ruim portaal binnestap, dink hy weer aan die eerste keer wat hy in dié luukse woonstel in Bantrybaai was. Hy kon nie help om te wonder wat sy oorlede ma van soveel luuksheid sou sê nie. Sy het hom en sy broer graag teen klatergoud gewaarsku. Ook teen slegte meisies en sterk drank. En teen die duiwel se listigheid. Hulle het nie ál die vermanings ter harte geneem nie.

      Hy sit sy bagasie in die hoofslaapkamer neer en skuif die deure na die balkon oop. Die seelug spoel die woonstel binne. Bring die reuk saam. Die laatmiddagson blink op die water, weerkaats ligspikkels.

      Daar lê ’n lang pad tussen daardie dag en nou. Twee jaar gelede kon hy nie droom hy sal vandag hier wees nie. Hy is oud genoeg, en lank genoeg in die job om te weet jy bereik nie naastenby alles wat jy aanvanklik beplan het nie. Sy eerste baas het egter altyd gesê jy het net misluk die dag as jy ophou probeer. Hulle jong ouens het agter sy rug gelag wanneer hy dit sê. Toe was hulle honger nog groot, hulle selfvertroue onblusbaar. Met die jare kry die selfvertroue knocks. Die arrogansie word getemper. Op ’n dag kom jy agter jy troos jouself met die klein oorwinnings en met die feit dat jy ten minste nog probeer. Dis nie dat die honger stiller is nie. Jy verstaan net jou eie en die stelsel se beperkinge soveel beter.

      Die yskas en vrieskas is vol gepak. Nick moet onthou om vir die huishoudster te sê hy het haar nie elke dag nodig nie. Hy het haar eintlik glad nie nodig nie, maar hy weet teen hierdie tyd om dit nie te sê nie. Dit veroorsaak net te veel vrae. Mense soos die Allegretti’s verstaan nie dat ’n mens jou eie bed kan opmaak en skottelgoed kan was nie.

      Terwyl hy sy klere uitpak, is hy dankbaar dis nie ’n hotelkamer nie. Hy het ruimte nodig, al is dit net een of twee ander vertrekke waarheen hy kan loop. Daar is min dinge so vreesaanjaend soos om in die nag in jou eie gedagtes vas te loop.

      Toe hy klaar uitgepak het, wens hy hy kan eers gaan draf. Hy het die laaste twee dae nie tyd gehad om selfs ’n halfuur lank te oefen nie, en hy voel styf en ongemaklik. Vir ’n man wat hom sy lewe lank nie te ernstig aan oefening gesteur het nie en net die nodige gedoen het om fiks te bly, verbaas hy homself deesdae. Hy is op ag-en-dertig fikser as wat hy in ’n lang tyd was. Maar op die oomblik is dit waarskynlik óf oefening óf drank óf dalk meisies. Van die drie is oefening nie noodwendig die lekkerste keuse nie, maar sekerlik die veiligste.

      ’n Uur later stop hy ’n paar blokke hoër op teen die berg, gee sy naam en wag dat die sekuriteitswag by die hek huis toe skakel. Sy blik gaan oor die enorme huis, die muur, elektriese drade bo-op die muur. Onwillekeurig soek hy na swak plekke. Hy ry deur toe die hek oopswaai en parkeer die Range Rover voor die groot motorhuisdeure. Hy onthou hoe Enzio Allegretti gespog het dat hy dié huis teen die berg in Bantrybaai teen ’n winskoop gekry het. Net ag-en-veertig miljoen rand. En enige sente.

      Hy druk die knoppie langs die deur, en wag ’n paar sekondes voor ’n stem antwoord.

      “Patrice, it’s Nick.”

      Daar is ’n kliekgeluid en hy stap die portaal binne. Druk die hysbak se knoppie, die deure gly oop en hy stap in. Die hele binnekant is vol spieëls. Hy staar na sy beeld. Onder die helder ligte slaan die grys baie duideliker deur sy donker hare. Hy vee oor sy kortgeknipte kop. Die ligte laat hom moeg lyk, en dan is dit asof

Скачать книгу