Скачать книгу

is hy baie gewild onder die vroue. Yuang Mang. Die klein Chinees en die tweede oudste van die vyf. Volgens sy amptelike dokumentasie is hy vyf-en-vyftig jaar oud. Die Nigeriër Jonathan Abua is ag-en-veertig en Nazeem Williams vier-en-sestig. Almal is om verskeie redes berug. Sy is reeds agtien maande lank besig om spesifiek hulle vyf te ondersoek.

      ’n Gedagte tref haar skielik. Wat as die skietery op haar pa iets met haar ondersoek te doen het? Hoendervleis slaan op haar vel uit en sy voel naar.

      Hoofstuk 2

      Ellie wens haar ma wil huil. Snot en trane, snikkend. In plaas van die fyn snuifgeluide wat sy hier langs haar in die kerkbank maak. Sy het ook nie trane nie, maar sy snuif ten minste nie.

      ’n Mens kan op ’n afstand ruik haar ma het iets gedrink, al het sy belowe sy sal nie. Sy wat Ellie is kon haar seker beter opgepas het, maar dit was net te veel moeite.

      Jy moet na jou ma kyk, hoor sy haar pa se stem en sy kyk na die kis voor in die kerk. Sy kan nie help nie. Dis nie asof sy dit met opset doen nie, was altyd sy verskoning. En jy is nou al wat sy het, praat hy in haar gedagtes voort. Hy het die laaste tyd ’n paar keer met haar gepraat oor die dag wanneer hy dalk nie meer daar gaan wees nie. Het hy ’n voorgevoel gehad, of wou hy net seker maak sy verstaan haar verantwoordelikheid teenoor haar ma?

      “Waarom het ons hom nie uit ’n gewone kerk begrawe nie?” vra haar ma onderlangs. “Ek verstaan niks wat aangaan nie.”

      “Hierdie was tog sy kerk,” fluister Ellie terug.

      “Waarom sprinkel hy die doek oor die kis nat asof dit strykgoed is wat moet ingeklam word?”

      “Ma, dit maak nie saak nie.”

      Haar ma snuif weer. “Here, hoe kon hy dit aan my doen?”

      Rondom hulle is daar beweging en Ellie sak op haar knieë af.

      Agter haar fluister haar ma: “My knie is seer, ek gaan nie kniel nie.”

      “God of all consolation, help us to comfort one another in our grief, finding light in time of darkness, and faith in time of doubt.” Vader Frank se stem word ’n oomblik stil en Ellie skuif weer langs haar ma op die bank in.

      Sy kon nooit verstaan waarom mense kalmeerpille drink om deur ’n begrafnis te kom nie. Nou besef sy dis omdat sy nog nooit een van die voorbankers by ’n begrafnis was nie. Daar agter uit die cheap seats is dit maklik; hiér is dit ’n ander saak. Dis nie asof jy hier voor wil wees nie en jy besef eers wat die sitplekke se prys is wanneer jy die dag hier sit. Die uitsig is heeltemal anders. Daar is niemand tussen jou en die kis nie. En anderkant die kis sien jy hoe die dominee, priester, prediker se mond beweeg, maar niks wat hy sê maak sin nie. Niks lawe die seer nie. Geen woord laat die bewing in jou bedaar nie. Sy vermoed dis daardie bewing wat mense na pille laat gryp, of na ’n glasie iets. As jy net deur die seremonie kan kom sonder dat die mense hoor hoe jy klappertand. Dís waarom die ouer geslagte so baie kinders gehad het, besluit sy. Vir hierdie dag. Daar is krag in getalle.

      “Lord, for your faithful people life is changed, not ended. When the body of our earthly dwelling lies in death we gain an everlasting dwelling place in heaven.”

      Sy hoor hoe die mense agter hulle “amen” sê, maar die woord steek in haar keel vas.

      Die kerk lyk en ruik bekend. As kind het sy dikwels saam met haar pa hierheen gekom. Tot haar ma se ergernis. Nie dat haar ma ’n groot kerkganger is nie, en sy het Ellie gewoonlik net by die Sondagskool afgelaai, en weer opgelaai.

      Dit was lekkerder om saam met haar pa hierheen te kom. Daar was beelde en kerse, en rituele. Kinders hou daarvan. Haar pa het nie met haar ma oor kerk en godsdiens gepraat nie, maar toe Ellie hom eendag vra waarom die kerke so verskillend lyk, het hy haar die storie van Martin Luther vertel.

      Sy onthou dat sy gevra het wat is simboliek. En wie is reg.

      Hy het sy kop gekrap soos hy altyd gedoen het wanneer hy iets probeer verduidelik, of diep gedink het. “Dis maar net die mens se manier om dinge vir homself makliker te maak. Godsdiens is moeilik soos dit is. ’n Mens kan dit seker maar met ’n kar vergelyk. Sommige kry ’n Mercedes, ander ’n BMW. Albei bestuurders glo hulle s’n is die beter een, maar ek glo as hulle mooi ry, gaan albei by die bestemming uitkom.”

      Daarna het Ellie met meer aandag na mense se karre gekyk.

      Vandag kry die kerse haar egter nie warm nie, en die bekende gesigte teen die mure kyk afgetrokke op haar neer. Asof hulle wil sê ons kan jou nie vandag help nie. Sy het nog nooit in haar lewe so koud gekry nie, en kan nie wag dat die diens klaarkry nie. Manie Ferreira, haar pa se jarelange vriend en kollega, moet egter eers nog die huldeblyk lewer.

      Hy stap stadig vorentoe, en gaan staan effens wydsbeen agter die mikrofoon. Sit sy leesbril op en kyk so half bo-oor dit na die mense.

      “Hierdie is ’n baie moeilike dag vir my, en hoe graag ek ook al oor John McKenna praat, wens ek ek het nie vandag nodig gehad om dit te doen nie. Ek het hom langer as twintig jaar geken, en die grootste gedeelte van daardie tyd was ons partners.” Hy sluk. “As ek nie ’n jaar ouer as hy was nie, was ek nog nie afgetree nie, en was ek waarskynlik verlede week saam met hom, en dan het ek nie nodig gehad om vandag hier te staan nie. Of dis wat ek myself wil wysmaak.”

      Hy kyk na Ellie en haar ma. “Ons weet hoe baie ons hom gaan mis, en daarom weet ons ook hoe groot julle verlies is.”

      Ellie luister hoe hy oor haar pa se goeie eienskappe praat. Hier en daar ’n staaltjie vertel. Namens die familie die bedankings doen. Sy vou haar arms om haarself en dink aan die koerantopskrifte.

      Ervare polisie-offisier sterf in koeëlreën by padblokkade, het die lamppale die volgende oggend die nuus aangekondig. Afgewissel met Bokke slaggereed vir die Leeus. Op die volgende paal: President moet weer verduidelik. Gewone mense kry nie name op die pale nie. Dis net as jou naam iets is soos Steve, of Joost of Julius dat dit op die paal staan. Anders bly jy ’n anonieme polisie-offisier.

      Sy vryf weer oor haar arms. Die verdomde koue wil nie bedaar nie, en sy is bly toe hy eindelik klaar is en hulle buitentoe kan gaan.

      Met die uitstap probeer sy om nie na die vrou agter die orrel te kyk nie. Haar pa het graag as orrelis afgelos. Hy kom uit ’n familie wat met musiek in hulle vingerpunte gebore is. Sit ’n instrument in hulle hande en dis nie lank nie, of hulle kan dit bespeel. Sy het graag saamgekom wanneer hy kom speel het.

      Sy sit haar sonbril op toe hulle in die sonlig uitstap. Dit het die vorige week feitlik die hele week lank gereën, maar vandag is daar nie ’n wolk in sig nie. Die Septemberson is nog nie baie skerp nie, maar brand haar koue vel. Êrens blaf ’n hond, en ’n vragmotor se remme blaas. Die peperbome voor die kerk is groen en welig, en die voëls kwetter byna oorverdowend. Sy wonder hoe die dag so helder kan wees. In die skemer kerk kon sy haar verbeel die son het ’n oomblik lank weggeraak. Al is dit dan net agter ’n wolk in.

      “May angels lead you into paradise; upon your arrival, may the martyrs receive you and lead you to the holy city of Jerusalem …” begelei Vader Frank se stem die kis buitentoe. Toe die lykswa met die kis wegry, stap hulle saam met die ander mense na die saal langs die kerk. Ellie se ma maak steeds fyn snuifgeluide.

      In die saal begin mense naderstaan om te simpatiseer.

      “Hy was so ’n goeie mens …”

      “We will miss him in the choir …”

      “Dit moet ’n geweldige skok vir julle wees …”

      “And with retirement so near …”

      “Hy moes nog eendag by my begrafnis gespeel het.”

      Tussen die simpatiebetuigings maak hulle opmerkings oor haar hare wat nou donker is. Sy het later lus om iets onvanpas te sê. ’n Mens sou sweer sy is die enigste mens op aarde wat dit al ooit gekleur het.

      Ellie luister en knik af en toe. Skud nou en dan haar kop. Langs haar hoor sy haar ma se dun stemmetjie en sy ruik hoe die alkohol en die pepermente met mekaar stoei. Sy hoop iemand bring

Скачать книгу