Скачать книгу

onderdele vir uitvoer vervaardig. Ek was toe nog honger op pad boontoe. En naïef. Ek het elke sent wat ek gehad het, gebruik om aandele in die plek te koop. En ek het nog honderdduisend geleen by die bank, wat in daardie stadium gedink het ek is hulle volgende miljoenêrskliënt.”

      Hy maak ’n gelate gebaar, teug aan sy drankie.

      “Ek was nie die enigste een nie. Die plek se aandeleprys het oornag gestyg van negentig sent per aandeel na net oor die drie rand. Dit het my onmiddellik ’n miljoenêr gemaak. As ek daardie oggend verkoop het . . .” Hy sug en ’n gesigspier trek asof hy fisieke pyn ervaar.

      “Ek was gierig. Dit was nie genoeg om my geld te laat verdriedubbel nie. Ek wou meer hê.” Hy glimlag wrang. “Die ander ook. Ek het hulle nooit geken nie, maar die koerante was vol. Amper tweehonderd beleggers . . . Gierigheid is ’n universele eienskap. Dit behoort nie eksklusief aan die dommes nie. In elk geval, die Taiwannese het dieselfde dag besluit om kop uit te trek. Toe ek die volgende oggend wakker word, was die prys tagtig sent per aandeel. ’n Maand later was die maatskappy bankrot. Ék ook.”

      Haar gesig wys haar simpatie.

      Hy lig haar hand tot by sy mond en soen dit saggies. “Ek het dit as skoolgeld beskou. Waaraan ek vandag nog afbetaal. Want die bankbestuurder sal my aansoek om ’n lening ewe vriendelik ontvang, my lêer gaan uithaal, dit oopmaak en daardie fronsie tussen sy oë kry wat net motorwerktuigkundiges of bankbestuurders kry wanneer jou motor of geldsake neuk.”

      Sy lag. “Jy is baie filosofies daaroor.”

      “Ek het lank gelede ’n transaksie vir ’n motormagnaat van Durban gedoen. En toe ons dit met ’n glasie brandewyn en ’n sigaar beklink, het hy vir my gesê die sakeman wat nie bereid is om ’n tweede of derde keer van voor af te begin nie, sal nooit regtig suksesvol wees nie.”

      Hy merk dat haar glas leeg is. “Ek sien hulle het KWV Port op die rak. Kan ek vir jou ook kry?”

      “Asseblief.” Sy hou hom dop terwyl hy wegstap. Hy beweeg glad. ’n Roofdier. ’n Paar vroue in die vertrek se koppe draai.

      Hy’s myne, dink sy en glimlag.

      Ragel weet sy is té gou té verlief. Sy weet sy loop die risiko van seerkry. Maar sy gee nie om nie. Om by hom te wees, sy aandag te hê, maak dit alles die moeite werd. Sy leun terug in die diep gemakstoel en staar na die vlamme in die kaggel. Sý sal Dirk se depressie genees, kom wat wil.

      Hy kom teruggestap met die twee glasies in sy hande. “Die gode het port uitgevind vir reënerige aande voor die kaggel.”

      Sy knik instemmend en neem haar glas. Dirk gaan sit. “Nou ja, waar was ons?”

      “ ’n Sakeman moet bereid wees om weer van voor af te begin . . .”

      “Dis reg. En ek hét.” Hy neem ’n slukkie. “Nektar. Ja, ek het weer voor begin. Nou aanvaar ek dat net ander mense vinnig ryk word. Ouens soos ek moet werk daarvoor.”

      Hy lig sy glas. “Kom ons drink op die ongelooflike winskoop waarmee ek die Duitsers Maandag gaan verras.”

      ’n Idee skiet deur Ragel se gedagtes, en sy wil lag van pure opwinding. “Ek kan vir jou geld leen,” sê sy triomfantlik.

      Hy deursoek haar gesig vir ’n teken dat sy ’n grap maak en lag humorloos. “Ja, en die tandmuis sal seker ook iets bydra.”

      “Ek is ernstig,” sê sy half ergerlik.

      Hy frons. “Dit lyk my so. Ragel, waar op aarde gaan jy R750 000 vandaan kry? En buitendien, al het jy dit nou uit jou tas gepluk, sal ek dit nooit as te nimmer by jou leen nie. Dit is ’n vaste beginsel . . .”

      Sy val hom in die rede. “Jy kan onmiddellik ’n wins van negentien miljoen rand maak. Wat maak dit saak by wie jy die geld leen?”

      Skielik glimlag Dirk breed. Hy leun vooroor en praat sag en geduldig, amper soos met ’n kind wat nie ’n eenvoudige stelling wil snap nie: “Ragel, daar is drie dinge hier ter sprake. Die een is die gesondste beginsel in die sakewêreld – leen geld by finansiële instellings. As sake nie uitwerk nie, kan hulle dit bekostig om die verlies te ly. Die tweede is dat ek niks sal doen wat ons verhouding in gevaar kan stel nie. Ek weet ons is albei volwasse mense wat dit soos ’n saketransaksie kan benader, met kontrakte en waarborge, maar jy is vir my meer werd as negentien miljoen rand. En derdens dink ek nie jy besef hoe moeilik dit vir jou gaan wees om R750 000 in die hande te kry nie.”

      Ragel ervaar teenstrydige emosies. Haar hart juig dat hy hul verhouding as so kosbaar beskou, maar sy stemtoon en aanname dat sy nie die geld het nie, laat haar bloeddruk styg.

      “Ek hét die geld.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Ek en my broer het elkeen net meer as ’n miljoen geërf ná my pa se dood. Ek het amper R300 000 gebruik vir die winkel en my huis. Die res is alles beleggings.” Ragel probeer hard om nie trots te klink nie.

      Dirk fluit saggies. “Ek kuier by ’n skatryk vrou en ek weet dit nie eens nie.”

      Ragel glimlag. “Maar ek verstaan jou beginsel. My pa was ook so. Hy wou nie eens geld geleen het by die bank nie, wat nog te sê van vriende.”

      Hy leun agteroor. “Daar sal ander transaksies wees. Eendag. Kom ons gaan slaap.”

      Ragel kan sien die lig in sy oë het weer verdof. Maar haar hart klop tog vinniger as hulle kamer toe stap. Dirk gaan staan voor haar deur, neem haar gesig in sy hande en soen haar. “Lekker slaap.” Hy sluit haar deur vir haar oop.

      “Jy ook.”

      Sy maak die deur saggies toe en val dan in frustrasie op haar bed neer. Hoe anders kon dit nie gewees het as Dirk nie met die transaksie geworstel het nie.

      Sy hang later haar klere op, sit die lig af en skuif diep onder die komberse in. Haar gedagtes dwaal. Sy weet Dirk se fisieke aantrekkingskrag het baie met haar frustrasie te doen. Maar dit is net een deel daarvan. Hy behoort die soort man te wees wat sake in eie hande neem, optree, die leiding neem. Die omstandighede rondom die transaksie het sy vegtersinstink net te vinnig geblus.

      Hoe sal jy weet? Het jy al negentien miljoen rand op een slag verloor? trek sy haar eie oordeel in twyfel. Nee, sy kan hom nie regtig kwalik neem nie. Dit is sy werk, sy lewe wat ter sprake is. En sy moet terugstaan.

      Maar Ragel het nog nooit vir enigiets teruggedeins nie. Daar moet ’n oplossing hiervoor wees. Sy moet net dink.

      Sy weet nie wanneer sy aan die slaap geraak het nie, maar in die nanag skrik sy wakker met die oplossing. So eenvoudig. So briljant. Haar hand strek na die telefoon om vir Dirk te bel. Sy trek dit terug. “Môre, Dirk Buchner, môre is nog ’n dag,” prewel sy. Dan draai sy om en raak weer aan die slaap.

      5

      Die oggend is skoon gewas, maar die wind waai koud en wolke skuif kort-kort voor die son verby. Hulle besluit om teen die berg te gaan stap. “Anders gaan ek nie vir middagete kans sien nie,” sê Ragel.

      Dirk is meer opgewek, maar nog nie die spitsvondige, vurige man wat sy leer ken het nie. Hulle gesels oor die natuurskoon, oor die mooi hotel wat onder hulle in die klein vallei lê, oor soortgelyke tonele in Switserland, oor hul wedervaringe oorsee.

      Maar hulle vermy Die Transaksie.

      Ragel kan nie besluit wanneer sy hom moet vertel nie.

      Ná die stap drink hulle tee in die sitkamer en trek dan een van die skaakborde nader. Dirk dink deeglik oor elke skuif, terwyl Ragel op instink speel. Hy wen maklik. “Jou gedagtes is nie by die skaak nie.”

      Sy kyk op. Daardie oë. “Mmmm.”

      “Skaakmat. Nog tee?”

      Ragel skud haar kop. Dan besluit sy om te praat. “Dirk, ek wil daardie erf koop.”

      Hy is besig om die skaakstukke reg te pak en kyk op, koningin in die hand. “Jý wil die erf koop,” sê hy meganies agterna.

      “Ja.

Скачать книгу