Скачать книгу

is ’n vals front, suiwer kamoeflering. Die eintlike rede is dat ek dink jy is ’n intelligente, sensuele vrou vir wie ek baie graag beter wil leer ken.”

      Sy bloos weer, maar sien dat die glimlag afwesig is.

      “Ek . . . e . . .”

      “Wat van vanaand?”

      “Vanaand?” sê sy skaapagtig agterna.

      “Ja. Ek weet dit is skielik. Maar dit is tot jou voordeel.”

      “O?”

      “Ja, want as jy nie van my hou nie, is dit môre alles verby.”

      “Ek weet nie . . .”

      “Sewe-uur? Ek sal jou by die huis kom oplaai en weer daar gaan aflaai op die tydstip van jou keuse.”

      Hy terg haar. Sy kan ook dié speletjie speel. “Goed, Dirk Buchner. Sewe-uur op die kop. En as jy laat is, kan jy maar omdraai.”

      “Ragel, jy het ’n . . .”

      “Juffrou Bergh.”

      Hy gooi sy kop agteroor en lag diep en hartlik. Sy dik blonde hare skud in die son wat deur die winkel se venster skyn. Ragel weet haar brein gaan dié toneel iewers liasseer. Sodat sy dit enige tyd weer met genoegdoening kan opdiep.

      “Juffrou Bergh, jy het ’n ooreenkoms. Jou adres, asseblief.”

      Hy haal ’n klein dagboekie en pen uit sy sak. Sy gee hom die adres. Hy glimlag breed terwyl hy weer die skryfgoed bêre.

      “Sien jou om sewe.”

      “Stiptelik,” sê sy. Hy draai om en stap haastig uit. Sy kyk hom ingedagte agterna.

      Frikkie kom loer om die hoek van die boekrak. “Van waar, Gehasie?”

      Sy skrik weer en vererg haar vir haar eie senuagtigheid. “Dit is die man wat Du Toit se prys opgejaag het,” sê sy.

      “Klink asof jy trots is op hom.”

      “Hy het om verskoning gevra. Vanoggend in die gimnasium.”

      Frikkie frons agter die brillense. “Oefen julle al saam? Ek het nie geweet . . .”

      “Dit was bloot toevallig dat ons mekaar daar raakgeloop het.”

      “Dit is nie toevallig dat hy jou hiér raakgeloop het nie.”

      “Is jy jaloers, Frikkie Cornelissen?”

      Hy bloos. “Nee, maar jy het niemand wat na jou kan omsien nie. Iémand moet jou belange beskerm.”

      Sy sit haar hand om sy skraal skouers as hulle na die betaalpunt stap. “Ek waardeer dit, Frikkie. Maar ek is veronderstel om dit sélf te kan doen.”

      3

      Sy het doelbewus getalm met die aantrek sodat hy moet wag. Maar die onsekerheid oor wat sy moet aantrek, het langer geduur as wat sy voorsien het. Wanneer hy aanklop, is sy nog glad nie gereed nie.

      Sy kyk op haar horlosie. Presies sewe-uur. Sy glimlag.

      “Dit is oop. Sit solank!” skree sy by die trappe af en hoor hoe die deur oopgaan. Sy dwing haarself om nie haastig te wees nie. Sy gooi die helderkleurige geblomde rok oor haar kop en trek dit reg.

      Sy kyk in die spieël. Die vel op haar onbedekte arms en nek gloei in die lig. Die rok wys genoeg rondinge op die regte plekke, maar is dit nie ’n tikkie outyds nie?

      Sy begin om die borsel deur haar dik bos hare te trek. En sy is weer bly dat sy geen grimering buiten ’n bietjie lipstiffie dra nie.

      Toe sy by die trap afkom, sit hy gemaklik in ’n leunstoel deur ’n boek en blaai. Hy hoor haar en staan tydsaam op. Ragel sien sy word getoets wanneer sy oë haar vinnig van kop tot tone inspekteer. Maar sy weet sy slaag.

      Hy beduie met die boek in sy hand. “Ek sien jy kan net nie van die boeke wegkom nie.”

      “Ja. Ek is al van kleintyd so.”

      Hy hou die voordeur vir haar oop. Die herfsaand is soel en warm. In die straat staan ’n silwer sportmotor. “ ’n Porsche. Ek is beïndruk.”

      Hy maak die deur vir haar oop en sy buk laag om in te klim. As hy langs haar inklim, het sy al reggeskuif in die diep, gemaklike sitplek.

      “Jy ken sportmotors?”

      “Eintlik net boekkennis,” sê sy en hulle lag saam.

      Die Porsche se neus kies koers Paarl toe, maar sy besef skaars waarheen hulle ry. Die gesprek vlot gemaklik wanneer hulle praat oor die koste van motors en die plesier wat goeie vakmanskap daaraan kan gee. Hy hou eindelik stil voor ’n restaurant op ’n klein wynlandgoed, ’n plek waar sy nog nooit was nie. Die eetplek is met ryk materiale en egte antieke meubels uit die sewentiende eeu versier, en die kelners dra kniebroeke.

      Hy is ’n goeie gasheer. Sy sin vir humor, sy intelligente opmerkings . . . en die feit dat hy meer in haar as in homself belangstel.

      “Vertel my die lewensverhaal van Ragel Bergh.”

      “Het jy genoeg sakdoeke?”

      “Ek sal die tafeldoek inspan as dit te erg raak.”

      “Daar is nie veel om te vertel nie. Ek het in die Kaap grootgeword, op Stellenbosch biblioteekkunde geswot en nie met my universiteitsliefde getrou nie.”

      “Daar moet meer wees,” sê hy terwyl hy haar wynglas vol maak. Voor sy kan antwoord, kom verneem die kelner wat hulle wil eet. Sy kies avokado gevul met garnale en ’n seekossous as voorgereg, terwyl hy ’n klein porsie smoorsnoek op rys bestel.

      “Ek kan die eend in druiwesous aanbeveel,” sê Dirk terwyl sy kopkrap oor die hoofgereg. Hulle besluit albei daarop.

      “Die boekwinkel. Hoe het dit gebeur?”

      “Dit was my pa se skuld. Hy moes gaan werk toe hy veertien was, want daar was te veel monde om te voer en te min hande om te help met die inkomste. Hy het werk gekry as handlanger op ’n vistreiler toe Tafelbaai se hawe nog die vismekka van die Kaap was. Iewers op die boot het hy een stormnag ’n boek opgespoor – Hardy se Far from the Madding Crowd. En hy het nooit weer opgehou lees nie. Hy het geen formele kwalifikasie gehad nie, maar boeke het hom gehelp om sy eie treiler te koop. En later nog een, en nog een . . .”

      “Klink na ’n indrukwekkende man. Ek sal hom graag wil ontmoet.”

      “Hy is twee jaar gelede oorlede.”

      “Ek is jammer . . .”

      “Ek mis hom nog. Baie. Hy het gesorg dat ons van kleins af omring was deur boeke . . .”

      “Ons?”

      “Ek het ’n broer. Hy is ’n dosent in Semitiese tale op Stellenbosch.”

      “Aaa, nóg ’n boekmens.”

      Die kelner bring die voorgeregte en hulle proe oor en weer om te sien wie die beste keuse gemaak het. Dan hervat hulle die gesprek.

      “Die boekwinkel?” vra hy.

      “Jy is meedoënloos.”

      “Nooit. Net nuuskierig.”

      “Jou beurt kom nog.”

      “Ek kan nie wag nie.”

      Sy lag. “Ons kon elke verjaardag en Kersfees kies wat ons wou hê. Ek wou altyd ’n boek hê. Pa het my van vroeg af na Langstraat se boekwinkels geneem sodat ek self kon gaan uitsoek. Ek was onmiddellik mal oor die reuk van die boeke, die warm atmosfeer van die winkeltjies en die snaakse, interessante omies wat hulle besit het. Pa het my later begin leer dat ’n mens nie net die eerste beste eksemplaar koop van ’n boek wat jy wil hê nie. Hy het my vertel dat sommige boeke meer werd is as ander, dat boeke ’n belegging kan wees as jy weet hoe om te koop.”

      Hy luister met aandag, knik nou en dan. Sy blou oë verlaat haar gesig nie vir

Скачать книгу