Скачать книгу

      Deon Meyer

      Wie met vuur speel

      TAFELBERG

      Vir die man met die rooi mus,

      Cornelius Petrus (Neil) Meyer (1924-1991),

      my pa en gunsteling-storieverteller

      Skrywersnota

      In die dertien jaar sedert hierdie roman die eerste keer gepubliseer is, het baie gebeur (die internet, selfone, 9/11) en so baie verander (die ontwerp van boekvoorblaaie, leessmaak, ons politieke bestel, die wêreldorde) . . .

      Wat ’n mens uiteraard met interessante keuses konfronteer wanneer jy die manuskrip vir ’n nuwe weergawe moet hersien: Dateer jy alles volledig op, van taalgebruik tot by intrige en karakters, om 2007 te weerspiëel? Bly jy absoluut getrou aan die oorspronklike? Of doen jy net ligte restourasie om die ergste krake weg te steek?

      Ek moet beken dat dit nie ’n maklike besluit was nie. Wie met vuur speel was my eerste roman. Ek het net meer as ’n dosyn kortverhale gepubliseer gehad toe ek dit aangepak het – en die sprong na die langer formaat het gevoel soos ’n om-die-blok-drawwer wat skielik ’n marathon aanpak: Dit het soms ’n geworstel afgegee. Voeg hierby die feit dat ek in vyf daaropvolgende boeke noodgedwonge heelwat nuwe romanperspektiewe gekry het, en die versoeking was groot om alles van voor af oor te skryf.

      Vier faktore het eindelik gesorg dat net die voorplat noemenswaardig verander het: Ten eerste sou dit onmoontlik gewees het om modernisering te beperk – dit is óf alles óf niks, en alles sou in praktiese terme feitlik ’n nuwe boek beteken het. Ten tweede het ek ’n sekere ongemak gehad met die idee van grootskaalse herskryf, so asof ek skaam is vir die oorspronklike. En ek is nie. Dit was die beste wat ek destyds kon doen. Ten derde was daar die wyse raad, arendsoog en ondersteuning van my redakteur, dr. Etienne Bloemhof. En ten laaste – daardie oorspronklike omslag sou vandag om al die verkeerde redes aandag getrek het.

      Hier is dus die herdruk, feitlik presies soos dit in 1994 uitgegee is, sonder selfone, die internet of apologie.

handt.jpg

      Deon Meyer

      Melkbosstrand

      Julie 2007

      Proloog

      Die landgoed is ’n vesting.

      Twee weke van dophou, navorsing en berekende afleidings – en hy is nog steeds nie heeltemal seker hoe hy gaan inkom nie.

      Die son het agter Constantiaberg ingeskuif. Hy weet die rots waarop hy lê, gaan binnekort begin afkoel en die koue deur sy dik bruin woltrui en langbroek laat syfer.

      Hy moet vanaand klaarmaak. Want hy sien nie kans vir nog ’n dag of nog ’n nag teen dié berg nie. Hy lig die verkyker tot voor sy oë – die klein Falcon wat die Israeli’s vir hul tenkbevelvoerders ontwikkel het.

      Sy gedagtes gaan weer oor die logiese sterk punte van die landgoed – soos Spano onbeskeie daarna verwys. Omring deur ’n twee meter hoë muur, met ’n halfversteekte hoogspanningskabel bo-op. By die hoofhek is twee sekuriteitsmanne wat nou en dan die terrein patrolleer. Maar hulle maak staat op die twee dobermann-pinschers. En seker ’n trapdraad hier en daar.

      Dan is daar die huis se alarmstelsel. Dit is die groot probleem, waaroor hy net kan raai, want hy kon nog nie naby genoeg kom om te sien nie.

      Swak plekke is daar ook. Die landgoed se ligging aan die voet van die berg maak verkenning maklik. Die dobermanns is albei reuns. En die handelaar wat die alarmstelsel geïnstalleer het, se advertensiebordjie hang by die hoofhek.

      Hoekom handelaars dit doen, sal hy nooit heeltemal verstaan nie. Hy het hulle bloot geskakel en gevra wat hul beste alarmstelsels is. “Geld is nie ’n probleem nie, meneer,” het hy oor die telefoon gesê. Die verkoopsman het geesdriftig gekwetter. En nou weet hy dat die groot Kaaps-Hollandse huis daar onder, agter die muur, tien teen een ’n ultrasoniese stelsel het. Die vraag is: Is dit al?

      Hy volg weer die pad wat hy vanaand gaan aandurf. Dit behoort maklik te gaan tot by die huis, as daar nie trapdrade is nie. Hy het feitlik elke dag werkers in die uitgestrekte tuine gesien. Het hulle ook die trapdrade versorg?

      En dan die verdomde alarm. As hy dit nie kan uitskakel nie en die ergste gebeur: Is dit ’n stil alarm wat net by die polisiestasie lui? Of by die sekuriteitsmanne se kantoortjie langs die hek? Of ’n sirene in die dak wat skielik gaan skree?

      Hy twyfel of iemand soos Spano ’n alarm sal hê wat by die polisie lui. Miskien by die sekuriteitswagte. Hy het hulle dopgehou. Twee spanne van twee wat mekaar aflos. Groot kêrels. Dalk oud-magslede.

      Bekommer gaan nie die werk gedoen kry nie. Die Vermeer sal nog tweehonderd jaar lank daar hang as hy nie aan die gang kom nie. Hy bêre die verkyker in die kakieseilsakkie en sit dit in sy rugsak. Dan staan hy op en rek uit – deels om sy litte los te kry, deels vir die spanning wat hom soos ’n roofdier bekruip.

      Terwyl hy afstap na die gehuurde Nissan dink hy aan Carla. Gaan sy so hard soos hy probeer om dié sending suksesvol te laat verloop? Hy glimlag.

      Tydsberekening is altyd ’n moeilike besluit. Laatnag is goed, want die wagte sal vaak en moeg wees. Maar dan is dit so vrek stil. Vroegaand is daar nog die geluide van die verkeer, die wagte se televisiestel, maar hulle sal vinniger reageer as dinge verkeerd gaan. Hy het ’n week gelede besluit dit moet vroegaand wees, want hy het die klankkamoeflering nodig vir die dobermanns. Hulle sal definitief blaf.

      Die Nissan staan in die fynbos langs die pad wat na die landgoed se diensingang lei – ’n enkeldeurstaalhek wat met ’n reuseslot toegesluit is.

      Hy haal die groen infanteriemerker uit die leerdrasak en begin dit oor sy gesig smeer. In die nag sal dit swart vertoon.

      Carla beweeg op die agterste sitplek. “Jy is mooi genoeg,” sê hy vir haar. “Hulle het nie ’n kans nie.” Carla grinnik.

      Hy kyk in die motor se spieëltjie. Toe hy tevrede is met die verdonkering, klim hy uit en kry die swart leersak uit die bagasieruim. Dit smelt in die nag perfek saam met sy ander klere.

      Hy maak dit vas. Dit was eers ’n rugsak, maar pas nou voor sy bors sodat hy maklik by die apparaat daarin kan kom. As hy op en af spring, maak die inhoud of gespes nie ’n geluid nie. Smittie se handewerk.

      Die leiband kom uit die motor se paneelkissie. Hy klim uit, maak die agterdeur oop en klik dit aan Carla se halsband. Haar stert swaai asof sy weet haar oomblik is naby. Hy gooi die drinkbak vol water en sit dit langs die motor neer.

      Terwyl sy drink, onthou hy hul eerste ontmoeting by die Dierebeskermingsvereniging, waar hy vir die opsigter ’n lang storie moes vertel waarom hy spesifiek ’n teef op hitte soek.

      En nou is hulle groot vriende.

      Hy lei haar deur die ruigte na die diensingang, wat duidelik nie dikwels gebruik word nie. Die staalhek se tralies is net reg vir sy doel. Hy kan Carla stewig daaraan vasmaak. Die dobermanns kan haar sien, haar begeer, maar kan nie by haar kom nie.

      “So ja, ounooi. Betower hulle.” Carla tjank saggies wanneer hy begin wegbeweeg. Dit behoort die dobermanns te lok. Hy kyk terug na haar. Iewers het dié groot swart hond ook dalk dobermann-bloed.

      Hy begin draf, al langs die muur af.

      Binne die mure is die landgoed pynlik goed versorg. Maar buite is bome en struike toegelaat om onbeheers te groei. Die fynbos teen die mure sal hom geen hulp bied nie, maar ’n rooikransboom so tweehonderd meter van Carla af gee net genoeg vastrapplek om bo-oor die muur te kyk.

      Hy is net betyds om te sien hoe die twee dobermanns soos swewende swart skimme deur die tuin se skaduwees skiet – op pad na Carla toe. Hy glimlag.

      Die hoogspanningskabel is op ’n ongemaklike hoogte. Boonop is die muur glad. ’n Indringer wat die kabel as klimhulpmiddel wil gebruik, sal gou tot die skokkende besef kom dat dit gevaarlik kan wees. Hy steek sy hand in die sak voor sy bors en haal ’n gewone motorbattery-springkabel uit. Die klampe kom ’n armlengte links en regs aan die kabel

Скачать книгу