Скачать книгу

’n Verbygaande motoris mis haar met sentimeters en toet, ’n middelvinger sy enigste kommentaar. Agter haar nog motors wat opdam – motoriste wat swetsend probeer om na die linker- of regterbane oor te beweeg.

      Erika haal haar selfoon uit en skakel ’n noodnommer, amper outomaties Rodney se nommer. Die skok het haar laat vergeet dat sy hom nie meer in kennis kan stel van elke klein katastrofe in haar lewe nie, nog minder om bystand te vra.

      Vroue met sakke mielies op hul koppe klik hul tonge besorg en praat in Xhosa met mekaar. Erika herken die woorde “mfazi” en “imoto” tussen die klakkende kommentaar. En toe: “Green mealie-ie-ies!” Nog in gewone dag in Johannesburg. En terwyl sy hier in die middel van Jan Smutslaan staan, besef sy dat sy nog altyd net hier deurgejaag het. Sy ken die stad eintlik glad nie en raak nou skielik bewus van die geboue om haar.

      Mens is eintlik siende blind, dink sy.

      Die bestuurder voor haar, wat so skielik rem getrap het, klim nou eers uit. Sy wankel op hoë spykerhakkies, haar gebleikte blonde hare wip asof dit ’n eie lewe en identiteit het, en haar borste skommel onder ’n bloesie wat te veel van haar plesierpoortjie wys. “Ek is jammer.” Outomaties, verskrik, tranerig, geskok. “Ek is so, só jammer!”

      “Wat het gebeur? Jy het dan pas begin wegtrek, jy het … Ek bedoel, hoekom rem aanslaan as jy … ?” Erika praat onsamehangend en haar stem bewe. Hoe hard sy ook al probeer, sy slaag nie daarin om haar eie raad te volg nie, die woede nou soos melk wat oorkook. Verdomp! Kon sy nie net ’n halfminuut later uit haar kantoor geloop het nie, dan het ’n ander pateet in hierdie neurotiese vrou met die strooipophare vasgery. En steeds kan sy nie help om haar geskokte reaksie te vergelyk met die raad wat sy in haar sielkunde-praktyk in Parktown met haar kliënte deel nie.

      “Pas jou eie prekies ’n slag toe!” het Rodney gesê toe hulle nog uitgegaan het.

      “Ek het my oë vir ’n oomblik van die pad af geneem! Ek het opgekyk en daar is hy. Oh, dear Lord, toe skrik ek my poeierdoos plat en kaboem! Jy slaat my in my bottomless boot! My man gaan my afslag! Egskeidingshof, skei die eiergeel van die wit en help my om my huwelik te red!”

      Erika verstaan nie heeltemal wat die vrou kwytraak nie. Sy vind haar stem, haal diep asem en probeer praat en skrik wanneer die noodnommer beantwoord word. Die stem vra uit oor haar probleem. Sy probeer gelyktydig met die bleikblondine en die nooddiens kommunikeer.

      “I was involved in an accident on the corner of 7th Avenue and Jan Smuts Avenue.”

      Die stem vra haar lidmaatskap- en haar foonnommer en belowe om ’n noodvoertuig uit te stuur. Die selfoon wil uit Erika se hand glip, nat van die sweet. Sy sien al hoe meer mense saamdrom wat met stom oë na die ongeluk staar en sy onthou haar handsak op die sitplek langs haar. Enig­iemand kan dit gryp.

      Sy leun oor die bestuurdersitplek en tel dit op. Die radio kwetter steeds – dié slag ’n versekering-advertensie. Sy besef dat sy haar versekeraar seker ook so gou moontlik moet skakel.

      Erika skakel die kliënt na wie sy op pad was en verduidelik dat sy die afspraak sal moet skuif. Sy was in ’n ligte ongeluk.

      “Hoekom het jy so skielik stilgehou?” vra sy dan vir die bottelblondine. Sy ruik uitlaatgasse en rubber op die teer. Sy hou nie daarvan as haar stem so bewe nie, want dit beteken sy is nie in beheer nie.

      Die vrou druk ’n bewerige handjie teen haar mond wat te rooi geverf is, haar oorbelle swaai soos die Vatikaan se kerkklokke en haar naels klik oor haar selfoon se sleutels. “Dit!” Sy beduie na die reuse-reklamebord aan die regterkant van die pad. “O liewe hemel, dit was alles Die Crotch se skuld, God bless my coolbox! Dit het my aandag vir ’n sekonde afgetrek. Ek is onskuldig. As my monsterman my net sal glo! Oh Tristan, what have you done to me, baby?”

      Erika kyk op na die reklamebord. ’n Man in ’n onderbroek en met ’n sonbril op sit oopketel: Want to share my Jaspers?

      “Jy bedoel, jy het,” Erika probeer haar asemhaling reguleer, “remme aangeslaan oor hierdie advertensie?”

      “Kon dit nie verhelp nie. Gister was hier ’n Kulula-ad of ’n ding in daai babakots-groen. En nou skielik hý!”

      Diep, diép asemhaal.

      “Ek veronderstel ons moet nommers uitruil … versekeraars … ” Wat moet sy alles doen? Erika se brein kan nie helder funksioneer nie. Het sy ’n pen om mee te skryf?

      ’n Man probeer tussenbeide tree. “Dames, het julle al ’n noodvoertuig ontbied? Moet ek die polisie bel?”

      Die vrou in wie se motor Erika vasgery het, ignoreer die man en beduie na die onderbroekmodel. “Ek ken hom. Toe ek opkyk, hier staan hy half kaal drie verdiepings hoog met sy fantastiese heuwel ’n verdieping hoog, toe verloor ek dit! Tristan Hansen, ek wens jy … jy … sluk ’n bottel Viagra in!”

      Die bottelblondine se selfoon lui. Sy antwoord en haar stem verander dadelik na soetsappig.

      “Hallo, my engellief, jy sal nie glo wat nou net gebeur het nie.” ’n Tranerigheid begin en Erika kry die indruk dat die vrou daardie emosie aanskakel soos ’n aktrise in ’n sepie. “Ek was in ’n prang, my dierbaarste, en die vet weet, dit was my skuld. Ek weet mens moenie erken dit was jou skuld nie,” sy beduie na die omstanders met ’n toon van histerie, “maak toe julle ore! Maar ek het dit verloor, snoekie.” Sy babbel voort.

      Twee insleepvoertuie hou met brullende enjins langs hulle stil. ’n Oorgewig man met ’n T-hemp waarop staan Ek maak genoeg kak by die huis, so moenie hier met my kak soek nie spring uit met sy pap pens wat dril.

      Die ander se T-hemp sê: Noudat ek jou gesien het, het ek drank nodig.

      Erika knip haar oë en staar na die reklamebord voor haar. Die model wil-wil bekend lyk.

      “Ek is so jammer, dame, mevrou, juffrou … ”

      “Erika Hamilton.”

      “My man is op pad met die spoed van ’n vlietende gedagte, dan gaan die hel die knormoer tref!” babbel die bottelblondine voort. Hulle ruil besonderhede uit. Die vrou neem Erika se kaartjie en kyk daarna.

      “Is jy ’n dokter?”

      “ ’n Doktor. Sielkundige.”

      “My darling, hierna het ék ’n shrink nodig! Ek kom klop binnekort by jou aan vir hulp. En om te keer dat my man my skei!”

      Die bestuurders van insleepvoertuie ding mee om Erika en die bottelblondine se motors in te sleep, maar sy weier. Haar selfoon lui en die bestuurder wat uit die motor agter haar geklim het, kyk na die insleepvoertuie en brom: “Bliksemse aasvoëls. Nes daar ’n ongeluk is, sleep julle tepels op die grond, so kruip julle hiënas. Skuim.”

      “O Tristan, hoe kon jy dit aan my doen, bybie?” snik die vrou weer.

      “Tristan?” vra Erika terwyl sy die vrou se besonderhede neerskryf. “Wie is hy?”

      “Tristan Hansen. Maar net die mooiste dish in hierdie hele flippen misdaadbesmette land. Hier moet darem iets goeds uit hierdie chaos kom. As Jacob Zuma vier vroue kan hê, kan ons meisies seker vir Tristan hê?”

      Sy gesig. Iewers, veraf, wil daar ’n klokkie lui. Tristan is ’n ongewone naam. Sy was saam met ’n Tristan (was sy van Hansen?) op universiteit. Al die meisies, en ook ’n paar mans in die klas, was verlief op hom en het hom die mooiste eye-candy op die kampus genoem. Kan dit dieselfde man wees?

      Sy bekyk die bottelblondine se visitekaartjie. Aronique, is in swierige letters geskryf, gevolg deur Skoonheidsdeskundige/Beauty Salon, met ’n faks- en landlyn asook ’n adres en selfoonnommers.

      Tristan Hansen het in 2006 skielik sielkunde gedurende sy tweede jaar opgeskop.

      Rodney. As sy net vir Rodney kon bel. Na twee jaar se saambly het hy drie weke gelede onseremonieel uitgetrek.

      “Nou het jy die volmaakte lewe. Net jy en jou werk en jou kliënte. Ek deel jou nie meer nie, ‘doktor’!” was sy afskeidsgroet.

Скачать книгу