Скачать книгу

teen bulte op trap en sy boude wat styf en seer word en hoe hy een keer ’n orgasme gekry het terwyl hy gery het van die broek se materiaal wat teen hom geskuur het.

      Hy staan op om koffie te gaan haal en sy dink: Die jeans span mooier as mooi om daardie boude, so perfek in proporsie dat Patricia Lewis dalk ’n liedjie daaroor moet sing.

      Geen alkohol nie. Dit was haar voorwaarde. Sy wil nie dronk gemaak word nie. Netnou gooi hy iets in haar drank, want sy het al van date-rape drugs gehoor. Hy moenie tricks met Santa Ferreira probeer nie.

      Maar na hierdie gesprek, na hierdie wegstap, is hý haar dwelm. Kan hy met haar maak presies net wat hy wil.

      Hy kom terug, praat oor sy ma, hoe lief hy vir haar is, die kanse wat sy hom in die lewe gegee het, die mooi plekke wat sy hom al gewys het. En die beeldskone plekke in Europa en Amerika waar hy vir twee jaar gebly het. “My gap-jare.”

      “Hoekom doen jy dit? Die, e … werk?” vra sy kort duskant middernag.

      “Ek hou van plesier,” antwoord hy terwyl hy sy oë toemaak.

      Toe staan hy weer op en trek sy T-hemp uit, hang dit oor die stoel, die fyn baba-haartjies onder sy naeltjie sag en belofteryk.

      En die onderbroekrek wat wys.

      Geen boeremeisie kan dit meer hou nie.

      Sy leun oor die tafel en knip die jeans se boonste knoop los. Vir die eerste keer oor ’n plat, gespierde maag.

      Hy steek sy vinger in die tamatiesous, druk dit in sy naeltjie, lei haar tong daarheen, bewe wanneer sy oor sy maagspiere lek, die geur van sweet en tamatie en reën en water op haar tong.

      Nou, met sy hand in hare uit die gebou. Dit reën steeds fyntjies.

      Hulle gaan staan teen die restaurant se klipmuur, die druppels oor sy gesig. Haar hande stroop die res van sy klere af. Sy sien ook die effense skeel manier waarop hy na haar kyk asof hy behoorlik op haar probeer fokus.

      Hy maak die bandjie agter haar rug los, laat haar bra van haar borste afsak terwyl hy sy onderlyf teen haar druk, terg haar tepels met sy vingers en laat toe dat sy haar hand tussen hulle lywe insteek. Dit sak af en af tot sy hom behoorlik vasvat.

      Hierna sy boude in haar hande, ongewoond aan die warm gevoel van sy vel, die soepel manier waarop die spiere beweeg, die effense rimpeling van sy maagspiere teen haar kaal maag.

      Toe, baie later, dalk nadat hy haar ’n halfuur lank gesoen het en toegelaat het dat sy met hom speel, beweeg hy ondertoe.

      Sy tong weet net waar om te raak, te terg, te tintel. Hy raak presies op die plek waarvan sy altyd gehoor het, waaraan sy al geraak het, maar wat sy nog nooit ten volle laat lewendig word het nie.

      Haar bene vou onder haar in toe hy daar aan haar raak.

      Weer verloor sy tred met die tyd terwyl hy ’n vuur in haar aansteek. Dis soos lopende lawa wat deur haar stroom. Sy vrees dit, want dit is tegelyk seer omdat sy dit nie ken nie en eers as pyn ervaar, en tog vreemd lekker. Dit het nog nooit só gevoel nie.

      Sy verwonder haar oor wat met haar gebeur terwyl hy haar op die gras neerlê. En sy dink skielik hoe heerlik dit is om ’n vrou te wees. Besef dat sy tot dusver net ’n plesier­spelonk vir die mans in haar lewe was.

      Spierpuntjies begin saamtrek. Sy raak bewus van plekke in haar en sensasies wat sy nog nooit tevore ervaar het nie. Hy soen haar weer oor haar bolyf en soek na haar lippe terwyl hy ’n kondoom oor hom laat glip.

      “Vergeet alles. Wees net.”

      Sy gryp sy skouers vas. Hy praat saggies met haar, moedig haar aan, hou aan met praat al weet sy nie wat hy sê nie. Soms skemer woorde deur asof hy haar lei, verduidelik hoekom hy dit doen. Omdat sy wonderlik en mooi is.

      Haar onderlyf raak lam. Dan ontplof sy met ’n intensiteit wat haar alle beheer laat verloor.

      Santa Ferreira haal vir die duur van haar orgasme nie asem nie. Die lewe, die behoefte om asem te haal verlaat haar liggaam en ’n ruk lank sweef sy in ’n plek sonder grense wat haar omarm met bevrediging, en haar toelaat om te voel waar sy nie eers geweet het sy kan voel nie.

      Hy raak baie later in die vroeë oggendure stil teen haar, die gloed in haar liggaam nog onbedaarlik. En sy voel hom ruk en haar naam saggies sê.

      “Kyk,” beduie hy skielik na die neonlig, “is dit nie die mooiste ding wat jy nog ooit gesien het nie?” Sy sien hoe hy met verwondering na die neonlig kyk wat ’n angelier naboots wat oop- en toegaan, sy oë blink.

      “Ek het jou lief,” kry sy die woorde uit terwyl hy sy kop weer laat sak en haar styf-styf vashou, “ek wil jou nie laat gaan nie.”

      “Jy is baie, baie mooi. Moenie dat enigiemand ooit iets anders vir jou sê nie.”

      “Hoe mooi?” kry sy die woorde met moeite uit.

      “Só mooi.”

      Toe beweeg hy weer sy lyf en ’n nuwe ekstase sak oor haar toe, beter as enige van die voriges.

      Sy verloor haar bewussyn.

      Toe Santa Ferreira uiteindelik haar oë oopmaak, lê sy op die sagte gras langs haar trok. Sy is vaagweg bewus van verkeer wat af en toe in die grootpad verbyjaag. Dit neem haar seker tien minute om genoeg krag bymekaar te skraap om op te staan. Haar klere lê langs haar, netjies opgevou. Sy wil dit nie aantrek nie, probeer hom nog voel, ruik, koester.

      Sy voel nog waar hy in haar was.

      Dit neem lank voordat sy haar bene vertrou om te loop.

      Sy stap stadig terug na die restaurant se vensters, sien die CLOSED-teken.

      Bokant haar gaan die angelier in neon steeds oop en toe, oop en toe. Sy weet net dat hy haar lewe vanaand hier vir altyd verander het. En dat sy nooit weer sonder hom wil wees nie.

      Santa Ferreira kyk deur die restaurant se venster. Sy T-hemp hang steeds oor die stoel. Die enigste oorblyfsel van hom.

      Maar Tristan Hansen is nie meer daar nie.

      TWEE

      Die slag weerklink selfs bokant die geraas wat oor die radio kom. Dit voel of iemand haar motor met ’n groot vuis tot stilstand gedwing het. ’n Skerp pyn skiet deur haar nek en die bakwerk van haar motor rys soos die berg Ararat voor haar. Was dit nie vir die sitplekgordel nie, was sy nou ’n kandidaat vir plastiese chirurgie.

      Erika Hamilton is oorbluf. Links van haar jaag taxi’s teen die spoed van opslagkoeëls verby, regs draai koppe simpatiek in haar rigting voordat selfoongesprekke voortgesit word. En in haar truspieël maak iemand vulgêre handbewegings. ’n Bestuurder skiet aggressief verby en sy mond vorm ’n O.

      ’n Bedelaar kom aangedraf en hou ’n bakhand uit vir ’n aalmoes, die rooi-en-geel mussie halfmas oor die oë, die tande in ’n halfmaanplooitjie – ’n wit kerf in ’n bruin waatlemoengesig, skynbaar salig onbewus van haar dilemma.

      Die vrou in die motor voor haar vou haar hande om haar kop. Motors toet agter Erika, ’n ruit word afgedraai: “Learn how to drive, bitch!” Iewers vries ’n verbyganger met ’n half geëete stuk wegneemhoender en beduie laggend vir ’n maat dat Rosebank nog een van sy vele ongelukke beleef.

      Die radio dreun voort. Iemand snater oor hoe om ’n verhouding te hê sonder dat jou wederhelf daarvan uitvind en Erika dink: Binnekort sal die aanbieder van verkeersverslae, wie se spraakpatroon met elke probeerslag die tempo van ’n masjiengeweer naboots, ook hierdie bufferstamp uitsaai: “An accident in the middle lane of Jan Smuts Avenue near the corner of 7th Avenue in Rosebank. Traffic is backed up to Zoo Lake. Try Oxford Road as an alternative.”

      “Kalm nou,” sê Erika vir haarself, “dink uit die ander persoon se perspektief. Sy kon dalk uitgeswaai het vir ’n hond of ’n taxi kon voor haar ingesny het.”

      In haar gedagtes hoor sy hoe sy ’n kliënt in haar spreekkamer gemaan het oor vloermoere: “Moenie die eerste ding sê wat in jou kop kom nie,

Скачать книгу