Скачать книгу

van sy goedkoop naskeermiddel agter. Die reuk laat Leonard se neus jeuk en irriteer hom opnuut. Hy kyk rond. ’n Kromsteelpyp steek by die lessenaar se boonste laai uit.

      “Ek moet darem iets score uit hierdie bleddie vernederende proses,” mompel hy.

      Met ’n paar vinnige treë is hy by die lessenaar. Hy lig die pyp vies met twee vingers uit die laai en prop dit in sy broeksak. Super gross. Om te dink sy duim en voorvinger het gevat aan die stuk wat heeldag in die Paap se mond is! Hy beter gou by ’n badkamer kom.

      Toe hy klaar geskryf het, loop hy in die gang uit. “My vorm, meneer. Dis ingevul.”

      “Dankie, Steinman. Ek sal dit na die beheerraad verwys. Net seker maak: jy het die blokkie gemerk wat gestremdheid aandui …” Sy poffervinger soek die plek. “Ja, reg so.”

      Hy pluk sy mouboordjie met die goue mansjetknoop op en loer skreefoog na sy glimmende horlosie wat tussen digte swart armhare nestel. “Sorg dat jy in ’n toesigklas kom,” sê hy skielik streng, asof hy die vrou met wie hy staan en klets met sy gesag wil beïndruk. “Daar is nog ’n volle periode oor voor die skool uitkom. Toe, toe, laat jy beweeg!”

      “Ja, meneer.”

      Seker iewers in sy lyf ’n goeie hart, dink Leonard met die wegloop, maar hel, die man is so kommin soos gras. Daai verskriklike aftershave! Die wit sokkies! Die blink pakke! Die goue horlosie! Dis weer ’n nuwe een, en net so fake soos al die voriges. Die Paap hou seker eiehandig die plaaslike swart mark aan die lewe.

      Hy voel sommer bly dat hy die simpel pyp gescore het. Net aaptwak iewers kry, dan bou hy en Jarred en Greeff ’n brug uit die bose! Jarred sal sekerlik sy konneksies kan gebruik om vir hulle zoltwak in die hande te kry. Sy broer was al met gangsters deurmekaar, het volgens Jarred die tronk met die dikte van ’n polonieskil gemis.

      Solank Jarred se ma net nie uitvind nie, want vir haar is hulle almal bang. Tannie May sal hulle eers met haar tong in repe skeur en dan wat van hulle oor is in die hoof se kantoor kom gooi.

      Skielik draai sy maag van honger. As hy aan Jarred se ma dink, dink hy aan vetkoek: ’n groot, sponsige, sagte vetkoek met maalvleis in. Nee, dalk moet hy nie sy vetkoekverskaffer die dinges in maak nie.

      Hy sal wel ’n ander plan maak. Van Gogh het glo sy beste werk gedoen met ’n zol in die kies. Dis dalk net die X-faktor wat hulle bruggie kort. Al wat hy moet doen, is om vir Jarred te oortuig.

      4

      Leonard ken al sy ma se lyftaal.

      Hy’t pas by die huis ingestap en niemand het nog ’n woord gesê nie, maar hy voel dit aan: groot drieletterwoord. Sy ma is amper te vrolik en sy maak kos met ’n soort histeriese passie. Kap die uie wild en wakker, vee die rak met driftige hale af, ruk potte op die stoof rond.

      Ô-ô. Die snot is weer in die fan. Micha?

      “Pa al terug?” vra hy om die temperatuur te toets.

      “Nee, hy werk aan ’n voorlegging. Die nuwe Inkomste-kan­toor. Hy dink hy’t ’n goeie kans. Met regeringstenders kan hy altyd swaarder op die gestremde-kaart steun. Nie dat sy ontwerpe nie goed is nie. Inteendeel.”

      Dan is dit jy-weet-wie.

      “So wat het Micha vandag aangevang? Het die skool hom oorleef? Is sy juffrou al op Rescue Remedy?”

      Sy ma trek die pan van die stoof af, vee haar hande aan ’n vadoek af en bars in trane uit. Leonard sug. Dan was dit erg.

      Hy loop tot by haar en trek haar teen hom aan. Haar kop pas nou al onder sy sleutelbeen in. Hy troos al sy ma vandat hy met sy twee arms om haar heupe kon vashou. Dis nou seker al die beste deel van ses jaar.

      “Het die skool hom klaar uitgeskop? Way to go, boetie! Dis ’n nuwe rekord.” Hy weet hy klink gevoelloos, maar Micha maak hom óp.

      Sy ma skud haar kop teen sy skouer. “Nee, maar hulle gaan hom nie terugvat voordat ons ’n neuroloog gesien het nie.”

      Hy stoot sy ma van hom af weg, vat haar aan die skouers en kyk af na haar.

      “Dankie tog vir iemand met gesonde verstand! Wat sê ek en Pa nie al die laaste twee jaar vir Ma nie? Die kind makeer iets! Dis bleddie hoog tyd dat hy ’n brein-scan kry. Mens kan nie so aankarring nie!”

      “Daar is niks fout met sy brein nie! Hy is begaafd! Julle weet dit self! Dis net …” Sy vee met die vadoek oor haar oë. “Ek wil nie dat die dokters met sy kop lol nie. Sê nou hulle wil hom wegstuur na ’n inrigting toe? Of hom op medikasie sit wat van hom ’n zombie maak? Ek sal dit nie toelaat nie!”

      Leonard het hierdie argumente al soveel keer gehoor, hy sou ’n motorfiets kon koop as hy tien rand gekry het vir elke tirade. Hy bekyk sy ma: die arme mens. Wanneer gaan sy begin sien wat aangaan? Wanneer gaan sy besef dat ander mense nie heeltyd verkeerd kan wees oor Micha nie?

      Hy haal diep asem. “Vertel my wat vandag gebeur het.”

      Sy vertel. Micha het baie goed met juffrou Gerda oor die weg gekom. In sy eie woorde is sy fantasties.

      “Toe ek instap met Micha en hom voorstel, toe sê die juffrou: ‘Fantasties!’ En nou is alles vir Micha ook fantasties. Hy is só ’n na-aper!” Sy lag met rooi oë. “Ek het in die motor gaan wag; ek weet mos die eerste dag is dinge gewoonlik stormagtig. ’n Uur later toe bel die juffrou. Micha het sy eerste uitbarsting gehad. Hy het gebyt en twee kinders geklap. En sy gewone skreeusessie gehad.”

      Leonard kyk na sy ma se hangskouers. Sy lyk soos ’n mis­handelde hond, ’n SPCA special wat gewoond is aan koes vir skoppe. Maar sy sal steeds opstaan om haar kind te be­skerm.

      “Ek het probeer verduidelik, maar die hoof wou glad nie na rede luister nie. Ek het in die klas gaan kyk waar die petalje gebeur het en dit was eintlik so onskuldig, as die juffrou net geweet het hoe om dit te hanteer. Jy weet mos hoe hy altyd sy karretjies in pare pak?”

      Leonard knik. Ja, hy ken Micha se manier van speel.

      “Nou ja, vanoggend het hy glo al die rooi karretjies en al die blou karretjies in pare gepak. Ongelukkig het hy die tasse­rak daarvoor gebruik. Toe die klok vir eerste pouse lui, het sy klasmaats hulle tasse uitgepluk om by hulle kosblikke te kom en natuurlik het hulle Micha se netjiese rye karre omgegooi en afgestamp. En toe …”

      Leonard kan hom die res voorstel: En toe verloor Micha dit. Soos soveel kere vantevore. Hy is eintlik bly dit het al op dag een gebeur.

      “Ma het nie veel van ’n keuse nie. As die skool ’n ultimatum gestel het, sal Micha ’n dokter moet gaan sien. So nie gaan Ma hom moet home-school.” Hy draai weg. “Bly ek is nie Ma nie!”

      Hy hoor haar snik toe hy met die trap opdraf na sy kamer. Die loft is vrek warm in die somer en yskoud in die winter, maar dis sy eie spasie. Die rukkie wat hy ’n kamer met Micha gedeel het, was die ergste tyd in sy lewe. Toe het sy pa die plafonspasie bokant die eetkamer vir hom in ’n kamer laat omskep. Dis geld wat sy pa baie beter kon gebruik het: om sy praktyk uit te brei, ’n nuwe rekenaar te koop, ’n assistent aan te stel, ’n moderner rolstoel te kry. Sy pa is ’n stil ou, maar wat hy doen, vertel dat hy omgee. Sy pa is oukei. ’n Bietjie heavy, maar hy’s oukei.

      Leonard rol die sak met brughoute oop wat Greeff vanoggend vir hom gegee het. Elkeen in die brugbouspan het dieselfde getal houte gekry. Hiermee moet hulle oefen om die sterkste moontlike brug te bou vir die kompetisie aan die einde van die maand.

      Hulle het al ’n hele paar modelle uitgetoets. Hulle het die gewig wat die brug kan dra elke keer verhoog, maar hy is steeds nie gelukkig nie. Daar móét ’n beter manier wees om die brug sterker te maak.

      Niemand weet presies wat hulle op die dag van die kompetisie in hulle brugboustel gaan kry nie. Ook nie hoe groot die spanwydte van die brug oor die afgrond gaan wees nie. Wat hulle wel weet, is dat hulle tou, tekenbord, gom en houte gaan kry. Hulle sal self die brug moet ontwerp, die houte sny, die laste lym en dan die ding bou. Estetika tel ook ’n paar punte, maar dis die dra­krag van die brug wat die belangrikste

Скачать книгу