Скачать книгу

die grootste ondersteuners van die snoepie. Daai een kon Leonard nog nooit uitwerk nie. Sy ses snye bruinbrood moet hom deur die dag kry, want sy ma sê snoepiekos is ’n luukse, hy moet sy eie sakgeld daarvoor gebruik. En die snoepie is ’n rip-off! Hy weier om iemand anders ryk te maak, veral nie vir ou Padda nie, die dik Ekonomie-onnie wat die plek bestuur.

      Waar Leonard agter in die Wiskundeklas sit, voel hy skielik lus om kliphard te begin skree. Hy is gatvol kwadraat vir sy stuk junk van ’n lewe. Asof dit nie genoeg is om ’n Sif te wees nie, het hy boonop ’n verlamde pa en ’n vertraagde broer. Oukei, nou nie heeltemal vertraag nie, maar weird, van ’n ander planeet af. Miskien is Jarred reg. Micha is ’n junkhead: sy kop is vol gemors wat g’n mens verstaan nie.

      “Leonard! Kan jy vir ons probleem nommer vier op die bord kom doen?”

      Hy ruk van die skrik, kyk verward rond, blaai dan haastig na die bladsy wat Greeff vir hom in sy oop boek beduie. Hy loop bord toe, vat die kryt en doen die probleem. Die stappe volg moeiteloos op mekaar en hy los die x sonder ’n hik op.

      “Dankie, Leonard,” sê mevrou Smit. “As jou 5’s en jou 3’s net nie presies dieselfde gelyk het nie! Gelukkig dat jy nou ’n strepie deur jou 7’s trek, dit lyk darem nie meer soos die 1’s nie. Is dit nou ’n Europese gewoonte wat jy aangeleer het?”

      Sy vee die som uit en skakel haar witbord aan. ’n Hele bladsy soortgelyke probleme verskyn.

      “Val weg, klas. Mini-olimpiade! Julle het presies 77 minute om te kyk hoe ver julle kom. Die toptien kry elkeen ’n Bar-One.” Die klas kreun. Dieselfde ou klomp geeks gaan weer die eet­goed kry, is die algemene gebrom.

      “Hei, juffrou se ou witbrood! Doen vir my ’n paar, toe?” Hannelore gee vir Leonard haar spelerige glimlag; die sonlig skitter op haar draadjies. “Ek kan dood vir ’n sjokkie vanoggend.”

      “Hannelore, doen jou eie werk,” sê Smittie kamma kwaai. “Of probeer jy Leonard se aandag aflei?”

      “As if …” sê iemand met ’n neerhalende snork.

      “Daai twee maak mos beurte om volpunte te kry,” smaal Jarred, “hulle besluit net wie se beurt dit vandag is. Lekker, my bra!” Hy gee vir Leonard ’n kamma speelse lammie op sy boarm. “Dié enetjie is net sodat jy nie te vinnig klaarmaak nie. Ons ordinary people soek ook ’n chocolate.”

      Leonard se oë traan. Die lammie was geniepsig en sy hand voel lam. As jou vriende jou só behandel, het jy wraggies nie vyande nodig nie.

      Snaaks, Jarred was nog nooit ooglopend jaloers nie. En hy is slim genoeg – hy is nie verniet deel van die klas se geek-­klub nie. Dis in elk geval hoe die ander na Leonard se brugbouspan verwys: hy, Jarred, Hannelore en Greeff. Hoogste punte in wiskunde impliseer jy moet inskryf vir ekspo’s en olimpiades. Dit beteken jy sit pouses eenkant van die cool crowd. Dit beteken jy word nie na partytjies genooi nie. By hulle skool word ’n geek as ’n sosiale melaatse beskou; jy kry ’n bynaam soos Einsteinman.

      Leonard voel zilch, zero, nada. Solank nerd-wees vir hom ’n plek in ’n goeie varsity gaan kry, kan die designer jeans-­spulletjie maar hulle partytjies in hulle dingese opdruk. Sy pa het hom hoeka al getroos met die storie dat vandag se spotters eendag vir die nerds gaan werk. Die akademiese wrak­ke teken op die ou end die main manne se salaristjeks.

      “Dankie, dis heeltemal genoeg!” Smittie se speelse bui is oor. “Nou bly julle stil en julle werk. Nog ’n woord en ek trek 5% van jou vraestel af.”

      Smittie is oukei, dink Leonard terwyl hy vinnig die probleme oplos. Sy karring aan hom oor sy handskrif, maar sy gee hom kudos vir sy wiskunde. As alle vakke net só was: ordelik, logies, vanselfsprekend. As die lewe net so was. As jy die onbekende net so maklik in jou eie huis kon oplos!

      Maar in sy huis het die probleem drie onbekendes; die vergelyking is onmoontlik om op te los. Huilerige ma (x) + morbiede pa (y) + psycho-broer (z). Waar pas hy in? Hy voel soos die enigste normale mens in ’n familie van sirkus-freaks.

      Hy bly gelukkig te ver van die skool af dat daar gedurig pelle kan kom kuier. Daarenteen is hý byna elke weeksmiddag by Hannelore of Jarred of Greeff se huis. Hulle kan sommer van die skool af soontoe stap en daar is altyd ’n normale ma of ’n vriendelike huishulp wat hulle kosgee. Niemand hoef katvoet te loop om ’n ma met ’n bewende onderlip of ’n maniese klein telg wat kort-kort ’n vloermoer gooi nie.

      Nog net twee jaar en ses maande, sug hy vir die soveelste keer. ’n Bietjie meer as twee jaar se vasbyt en hy is weg varsity toe. Uit die huis uit, weg, vir altyd. Hy moet net sorg vir ’n paar beurse. Hy is seker Smittie sal hom help om iewers ’n Wiskundebeurs uit te krap; sy het al so half en half belowe. Dan moet hy net vanjaar die Brugbou-kompetisie looi en ’n goeie inskrywing gereed kry vir die Wetenskap-ekspo.

      Die dag toe die ingenieursinstituut by die skool was om die brugbou-storie bekend te stel, het daai ou gesê ’n goue medalje vir brugbou is soos ’n groenkaart in Amerika: jy kan maar instap by die varsity van jou keuse. En dan gee die sponsors jou boonop ’n kleinhuisie vol bokke! Leonard ril van lekkerkry. Geld gaan vir hom vryheid koop!

      Hy maak die laaste som klaar en stap vorentoe. Onder ’n koor van protes hou hy sy vraestel na Smittie uit. Sy kyk dit vlugtig deur, krap ’n paar regmerke en gee hom sy Bar-One.

      “Alles reg.” Sy sug en kyk op haar horlosie.

      Leonard weet wat sy dink: die eerste periode is nog nie eens verby nie, hy gaan amper ’n uur iewers moet omkry.

      “Gaan hou jou stil besig in die mediasentrum,” fluister sy vir hom. “Daar is artikels oor brugbou wat ek vir julle laat uit­hou het.”

      Hy gaan haal sy boeksak en slenter deur die stil gange. Hy oorweeg sy opsies. Hy kan in die bedompige mediasentrum gaan sit en kyk of daar iets oor brugbou is wat hulle nog nie oorweeg het nie. Of hy kan net aanhou stap, uit by die hek, oor die straat, tot by die busstop.

      Maar om te wat? Huis toe te gaan? Assebliéf. Sy pelle skryf nog almal, so hulle huise is uit.

      Dan word die besluit namens hom gemaak.

      “Hoort jy nie iewers in ’n klas nie, mannetjie?”

      Dis meneer Papenfus, die adjunkhoof. Ou Paap is ’n stil be­kruiper.

      “Ek is klaar met die Wiskunde-olimpiade, meneer.”

      “Naam?”

      “Steinman, meneer. Leonard Steinman, 10B.”

      “A! Steinman, Steinman … O ja, mevrou Smit het gister met my oor jou gepraat. Jy stel belang in die Esselen-beurs, nie waar nie?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie. “Kom saam kantoor toe om die vorm te kry. Jy sal dit baie goed moet motiveer. Die beurs gaan gewoonlik net aan ’n matriekleerder.”

      Dan is dit asof hy hom bedink, en hy maak die opmerking wat Leonard se dag tot ’n nuwe laagtepunt afdruk. “Maar jou pa is mos verlam, nie waar nie? Dit sal in jou guns tel.”

      Leonard slof agter die Paap aan. Hy voel soos ’n welsyngeval. En soos ’n agterbakse pateet. Hy gaan nou bakhand staan vir ’n merietebeurs wat veronderstel is om ’n matriek se lewe makliker te maak. Sou die geld kontant uitbetaal word? Solank dit nie in sy ouers se rekening moet gaan nie, want dan koop dit kos en petrol.

      Hy vat die vorm en gaan sit in die kantoor se ontvangsarea om dit in te vul.

      Armgatte van die wêreld, unite! Armgatte is vorminvullers en hierdie een is seker die eerste van ’n dik stapel wat vo­rentoe vir hom lê en wag. Sy eie Everest van bedelbriewe.

      Terwyl hy sy hele lewe op die stuk papier blootlê, dink hy aan sy pa. Hoeveel keer het sy pa nie al gaan vorms invul nie. Hoeveel keer was dit nie onsuksesvol nie. Sy ouers vergeet soms dat mure ore het. Hy weet van die spul lenings waarvoor sy pa aansoek gedoen het – meestal sonder sukses. Hy weet van die petisies en vorms wat sy pa gedurig invul om geboue toeganklik te maak vir gestremdes. Hy weet van die dik pakke papierwerk wat sy pa ewe hoopvol by die plaaslike regering gaan indien. Net om maande later nog steeds geen reaksie te kry nie. Volkome stilte en apatie

Скачать книгу