Скачать книгу

ion>

      Amper

      Einstein

      Christien Neser

      Tafelberg

Vir Thys

      1

      Leonard gooi die foon neer en storm voordeur toe. Hy val oor Ruby en stamp teen sy pa se rolstoel.

      “Sorrie, Pa. Dis Micha!”

      “Gaan help jou ma, Len,” sê sy pa net rustig, al swaai sy rol­stoel wild agteruit. Ruby tjank verwytend.

      Leonard weet nie of hy wil vloek of huil nie. Sy flippen boetie het al weer aangejaag. Die buurvrou het pas gebel: Micha sit op die garage se dak. Kaalgat.

      “Ma! Maaaaaa!” gil Leonard by die hek uit. Sy ma is êrens in die kompleks op soek na Micha. Dié het ’n paar minute gelede net spoorloos verdwyn – iets wat hy baie gereeld doen.

      Gewoonlik dros Micha garage toe en gaan speel in een van die motors. Hy het ’n obsessie met karre. Maar vanoggend, die een oggend wat hulle vroeg moet ry omdat die klein snotkop na sy nuwe skool toe moet gaan, is Micha net skoonveld. Sy hopie nuwe skoolklere lê buite op die gras. Hy’s nie in die garage of op enige van sy gewone wegkruipplekke nie. En nou moes die suur Mrs Harley van langsaan bel om te sê Micha sit sonder ’n draad klere aan op die dak.

      Leonard kan in sy gedagtes sien hoe sy ma in haar hoë­hakskoene iewers in die kompleks rondhardloop. Haar hare was nog papnat en haar hemp se knope skeef vasgemaak toe sy netnou by die deur uit is. Hy hoor haar angstige geroep na Micha toe hy bo-op die tuinmuur klim.

      “Ma!” bulder hy so hard as wat hy kan. “Micha is by die huis!”

      Nou weet almal in die kompleks natuurlik dat die klein idioot al weer uitgehaak het. Maak nie saak nie, die mense dink tog klaar hulle is die Addams family.

      Leonard loop met die tuinmuur langs tot waar dit teen die motorhuis doodloop. Hy hys hom met die geut op tot bo-op die plat dak. En ja, daar sit meneer: poedelkaal, toe oë, met ’n iPod in sy ore.

      “Micha! Dis myne! Sit dit neer! NOU!”

      Toe hy sy boetie bestorm en die oorfone afpluk, weet hy goed Mrs Harley hou hulle deur haar kombuisvenster dop. Hy voel ’n veer: laat sy kyk en leer. Laat sy sien presies hoe bisar die Steinmans van langsaan is. En hy voel nog minder vir sy boetie wat onbegrypend na hom staar, hande oor sy ore geskulp.

      Leonard prop die iPod in sy broeksak en tel Micha met die ander hand op. Hy gooi hom oor sy heup en loop na die dak se rand. Die klein donner het swaar geword, dink hy verbaas. Een van die dae gaan hy twee hande nodig hê om hom op te tel. As sy ma nie op hierdie presiese oomblik deur die voorhek gebars het nie, het hy sy boetie onderstebo oor die rand laat hang en hom goed rondgeskud. Maar hy weet teen dié tyd Micha ken nie vrees soos ander laaities van sy ouderdom nie. Hoogtes, spoed, vuur … hoe hoër, hoe vinniger, hoe gevaarliker, hoe lekkerder kry Micha.

      “Michatjie!” snik sy ma onder in die tuin. “Ag, dankie, Lennie. Dank die hemel jy’t hom gekry!”

      Leonard kyk af op sy ma. Sy lyk regtig sleg. En sy is besig om grys te word! Van hier af kan hy die wit aan haar haarwortels duidelik sien. Sy beter haar gaan regmaak voor ons ry, dink hy. Sy lyk oud en verwaarloos. Sy sal vandag geld maak as sy iewers op ’n straathoek gaan staan met ’n bord om haar nek.

      “Ek gaan vir Micha laat sak, Ma,” sê hy. “Vat hom aan.”

      Leonard gaan lê op sy maag, tel sy boetie aan sy arms oor die rand van die dak en laat hom afsak na sy ma se wagtende hande. Sy staan halfpad boontoe op die wankelrige ou step-leertjie. Micha wriemel en kerm op een toon.

      “Hou stil, Micha! Ek gooi jou sommer vir die Harleys se hond. Hoor hoe blaf hy!”

      Leonard weet dis sy boetie se een groot vrees: honde. Die bure het ’n pikswart Rottweiler.

      “Leonard!” sê sy ma geskok. “Hoe kán jy hom so bangpraat?”

      Sy gee hom ’n verwytende kyk en loop voordeur toe met Micha. Dié beur met reguit arms en ’n gekromde rug weg van haar terwyl hy kop agteroor skreeu.

      Leonard bly lê op die dak met sy kop op sy arms. Sal dit nie makliker wees om net kop eerste hier af te duik nie? Sphlat! Alles oor en verby.

      “Met my geluk breek ek net my nek,” sug hy hardop. “Dan sit ek en Pa saam-saam in rolstoele. Moerse idee.”

      2

      Die verkeer is mal. Die verkeersligte by William Nicol en Main is dood en daar word aan die pad gewerk. Al weer.

      Leonard verskuif sy linkerboud. ’n Stuk metaal het deur die sitplek begin druk. As Jarred nou hier was, sou hy gesê het: “Hy kap my innie mirrel, Cyril.” Met Greeff wat antwoord: “Net so senter, Mister Venter.” En dan sou hulle almal lag, soos geeks mos vir hulle eie flou grappe lag.

      Leonard sug binnetoe. Bleddie wrak van ’n kar waarmee sy ma ry. Die ou Renault, haar studentekar, was glo lank gelede heldergeel, maar nou is dit skakerings van etter en pampoen. Daar is roeskolle op die enjinkap en die dak is amper wit verbleik.

      Gelukkig het ou Geelvis darem vanoggend dadelik gevat. Maar so een keer elke twee weke is die kar net dood as sy ma die sleutel draai. Hulle ken al die drade wat gekonnekteer moet word en die plekke waar jy op die battery moet slaan en meestal kry hulle die ou krok weer aan die gang. Al beteken dit ook Leonard moet soms ’n halwe blok agter die slukkende kar aanhol terwyl sy ma met die koppelaar en die petrol speel. Hy het al vergeet hoeveel keer hy die afgelope jaar laat was vir skool. Dis siek!

      Leonard druk sy oorfone in sy ore. Hy het nie krag vir Micha se eentonige gekerm nie. Sy ma het ’n obsessie oor veiligheid, dus mag nie eens hý voor sit terwyl sy bestuur nie. Bi­sarro, dis sy ma.

      Micha sit teen haar rugleuning en skop, sonder ophou. Dit help nie jy raas met hom nie. Die klein twak luister hoegenaamd nie na dreigemente óf mooipraat nie. (Wel, dis nou as jy die bure se hond buite rekening laat. Maar as sy ma dit moet hoor, is die hel los.)

      Die enigste manier om Micha te oorleef is om te maak of hy nie bestaan nie, dit het Leonard lankal geleer. Draai jou musiek so hard as jy kan en skakel jou brein af. As Micha eers op autopilot is, sal hy dieselfde aksie tot moordens toe herhaal. Party dae sal hy ’n deur aanhoudend oop- en toemaak of aan tafel sy bord al in die rondte laat tol of karre se name begin opnoem of enige van ’n duisend ander bisarre goed doen. Nie ’n orkaan sal hom stop nie; net ’n pakkie sout-en-asyn-skyfies doen soms die triek.

      “Micha!”

      Bó die metal in sy ore hoor Leonard hoe sy ma se stemtoon styg. Dis nou al die vyfde, sesde keer dat sy op Micha skree. En steeds skop hy haar sitplek met soveel geweld dat haar kop elke keer agtertoe ruk.

      “Stop dit! Wil jy hê ek moet ’n ongeluk maak?” Nou is haar stem baie naby aan histerie.

      Micha hou dadelik op. Leonard sien hoe sy boetie wegsmelt in sy motorstoeltjie. Sy bene hang leweloos, sy arms pap, sy mond oop. Hy staar in die niet en dan begin hy sy regterhand stadig langs sy oor flapper.

      “Ongeluk is ’n slegte woord,” sê Micha toonloos. Dan raak sy stem angstig. “Lennie! Ongeluk is ’n slegte woord. Sê vir Mamma sy moenie ’n ongeluk maak nie.”

      Leonard haal die een oorfoon uit. Hy sal die kind se aandag moet aflei. Sy ma kan nie op die verkeer konsentreer as Micha so spaced out raak nie. En ongeluk is die vloekwoord wat die laaste ses jaar hulle lewe oorheers het.

      Micha was ’n skreeuende, sieklike baba. Soos ouma Anne, wat daardie tyd by hulle kom bly het, dit gestel het: Bedags huil hy en snags ween hy. Een nag moes hulle pa weer apteek toe ry om vir die skreeubek medisyne te gaan koop. Dit het gereën, dit was donker en sy motorfiets het op ’n draai gegly. Dis nie net hulle pa wat seergekry het nie. Die hele Stein­man-gesin is van toe af gebreklik.

      “Ja, Mich, ongeluk is ’n slegte woord. Bly nou stil dat Mamma mooi kan bestuur.”

      “Ek wil ’n iPod hê, soos joune,” begin Micha in sy teemstemmetjie. “Maar ek wil nie na jou musiek luister nie, Pappa se musiek is

Скачать книгу