Скачать книгу

die deur. Hy raap dit op en glip binnetoe. Frank soek jou. Dringend. Hy kyk deur die loergaatjie om seker te maak daar is niemand buite nie. Dan sit hy die nota terug waar hy dit gekry het. Hy kan altyd maak of hy nie die bood­skap gekry het nie. Hy gaan venster toe en probeer sien wat in die straat aangaan sonder om self te na aan die ruit te kom. As die twee boodskappers in ’n kar sit en wag, sal die vensters oop wees in hier­die hitte. Al die karre wat hy kan sien se vensters is toe. Tevrede dat die twee weg is, pak hy ’n stel klere en sy badkamergoed in. Hy loer vir oulaas deur die venster, draf dan met die trap af en klim in sy kar.

      ’n Paar blokke ver vat hy soveel draaie as moontlik, net om dit moeiliker te maak vir iemand wat hom dalk agtervolg. Hy moet be­sluit waarheen om te gaan. Sy pa? Hy is verbaas om te besef dis die eerste persoon wat by hom opkom, dat dít is waarheen hy sou ge­gaan het as die opsie nog daar was. Hy het omtrent nooit soontoe gegaan toe sy pa nog gelewe het nie. Hulle het nie goed oor die weg gekom nie. Die ou man het niks goedgekeur wat Daniël doen nie – of enigiemand anders, om die waarheid te sê. Niemand was verbaas toe Daniël se oudste broer besluit om op te pak en Nieu-­Seeland toe te trek nie. Selfs Daniël se jonger suster, wat deur een en almal as ’n engel beskou word, het skaars haar pa se goedkeu­ring weggedra. Daniël dink hy moet miskien na haar toe gaan. As Renée by die huis is, sal sy hom verwelkom, hulle sien te min van mekaar. Hy vat die nasionale pad noordwaarts en steek ’n sigaret op.

      Renée bly in ’n nuwe woonbuurt saam met die ou skoolvriend met wie sy getrou het. Daniël verwag nie om haar man by die huis te kry nie. Ná die troue het Richard die eindelose partytjies van sy jeug vervang deur eindelose rondes gholf. Daniël was al heelparty keer daar, maar die paaie in die buurt volg geen herkenbare patroon nie en hy weet nie wat die adres is nie. Gelukkig herken hy die huis ná ’n rukkie van rondry.

      “Wel, slaat my dood,” sê Renée deur die veiligheidshek. “Jy lyk of jy ’n spook gesien het.” Sy is skraal en donker, halfpad onderweg om ’n abortiewe haarstyl te red.

      “Miskien is dit omdat jy so baie na Ma lyk.”

      “O, genade, moenie dit sê nie.”

      “Kyk jy dan nooit in ’n spieël nie?”

      “Nie as ek dit kan verhelp nie.”

      “Daar’s niks daar om voor skrikkerig te wees nie.”

      “Ouderdom. Dis skrikwekkend vir ons vroumense.”

      Die gedagte tref Daniël dat hy onder die omstandighede banger is vir jonk doodgaan as vir oud word.

      Sy suster maak verskoning vir die huis se toestand, heel onnodig, en bied aan om vir hom koffie of bier te bring.

      Voordat hy kan antwoord, kom ’n kleuter in die sitkamer inge­wag­gel. “Is dit klein Richard? . . . Magtig, mannetjie, maar jy’t ge­groei! Jy’s ’n reus!”

      Die seuntjie hardloop en druk sy gesig teen sy ma se been.

      Dit als lyk baie lekker, besef Daniël. Dis die soort huis waarin hy grootgeword het, die soort waarin hy waarskynlik behoort te bly. Maar dinge het nie so uitgewerk nie en hy het in ’n ander soort lewe beland.

      Die telefoon lui. “Laat ek net gou gaan hoor,” sê Renée en verlaat die vertrek. Die seuntjie draai sy rug op Daniël en vat aan droë grasse wat in ’n koperpot gerangskik is. Dis deel van die landelike rangskikking rondom die klipkaggel, ’n bietjie ersatz-plaaserfenis te midde van die volvloermatte en sagte vinielmeubels. Dan is Renée terug. “Dis vir jou.”

      “Niemand weet ek is hier nie.”

      “Duidelik weet iemand dit tog.”

      Die lug word dik in Daniël se bors. “Het jy gesê ek is hier?”

      Sy knik.

      “Gaan sê asseblief ek het net gou uitgeglip om melk te gaan koop of iets. Vat ’n boodskap, dan sal ek terugbel.”

      “Is jy seker?”

      “Asseblief.” Hy gaan sit op die naaste stoel en luister na haar wat praat. Die seuntjie loer na hom van agter ’n gemakstoel.

      Renée kom terug. “Hy wil nie ’n boodskap los nie. Hy’s glo op pad iewers heen en sal later weer bel . . . Dit klink ernstig. Is dit werk?”

      “Nee, net hierdie ou met wie ek nie wil praat nie. Hy dink ek skuld hom iets.”

      “En . . . is dit so?”

      “Nie soveel as wat hy dink nie.”

      “Hy klink vasbeslote, as hy jou hier bel.”

      “Ek het seker een of ander tyd voor hom oor jou gepraat. Anyway, moet jou nie daaroor bekommer nie. Ek sal vanaand na hom toe gaan en als uitsorteer.”

      “Dit klink geheimsinnig. Opwindende lewe wat jy het.”

      “Nie gewoonlik nie.”

      Sy strek haar hand uit en die seuntjie kom sit syne daarin. “Was dit koffie wat jy wou gehad het?”

      “Miskien moet ek liewers maar net gaan.”

      “Nee, man, bly ’n rukkie. Jy’t dan nou net hier aangekom.”

      “Nee, hierdie ou . . . ek moet maar by hom uitkom. Hy gaan my nie uitlos nie. Dit bederf my dag om te weet hy’s op my spoor.”

      “Wat moet ek doen as hy weer bel?”

      “Sê net ek is weg en ek sal kontak maak.”

      Die kind begin kerm en Renée tel hom op. “Richard sal spyt wees hy’t jou misgeloop.”

      Daniël knik asof hy die leuen glo. “Ek ook. Miskien volgende keer.”

      Hy ry weg en verdwaal weer in die strate. Laat dit nou ’n les wees vir enigiemand wat hom probeer agtervolg, dink hy wrang. Hy brand net petrol, dink soos hy ry. Frank het hom óf agtervolg, óf die kans gevat dat Daniël na sy suster toe is. Hy kan nie onthou dat hy ooit voor Frank iets van Renée gesê het nie. Miskien het Frank sy telefoonboekie onder oë gekry. Miskien is dit iets meer sinister, ’n soort opspoortegnologie. Frank beskik oor verbasende middele. Vir ’n oomblik dink Daniël sy kar se nuwe wiele het dalk ’n opspoor­apparaat in. Hy wil nie dat sy gedagtes in hierdie rigting foeter nie. Tog, hy moet aanvaar dat sy ergste vermoedens oor Frank dalk reg is: Iemand wat ’n meisie so kan doodmaak, is dalk tot baie ander dinge ook in staat.

      Daar was al kere saam met Frank dat Daniël die gevoel gekry het dinge gaan verby die perke nie net van die gereg nie, maar ook van aanvaarbaarheid. Hy het van dag een af geweet dat minstens party van Frank se saketransaksies onwettig is. Daar was beslis smokke­lary by betrokke. Selfs al was dit iets minder onskuldig as dagga of diamante, die misdaad sou redelik abstrak wees, het Daniël altyd gedink, iets van tegniese aard eerder as ’n regte euwel. Hy het nie gedink Frank sou betrokke raak by misdaad teen mense nie. Maar dan . . . hy het ook nie gedink Frank sou betrokke raak by ’n prostituut wat blykbaar dwelms verkoop nie, of by moord. As on­kunde boosheid is, soos wat Sokrates blykbaar gesê het, is geveins­de on­kunde nog erger, en hy is skuldig aan ’n verskriklike misdryf – hy het gesien wat gebeur, en het niks gedoen om dit te keer nie.

      Hy stop by ’n telefoonhokkie en skakel Frank se nommer. Iemand anders antwoord, soos gewoonlik. Die meisie, Jeannette. “Dis Daniël. Is Frank daar?”

      Daar is ’n gemompel, stemme wat goed sê wat hy nie kan uitmaak nie. Dan kom Frank op die lyn. “Jis, ou boera!”

      “Ek hoor jy soek my.”

      “Het jy vandag se koerant gesien?”

      Daar is ’n spinnerak in die telefoonhokkie se boonste hoek. “Wat daarvan?”

      “Daar’s ’n stuk in oor Snazz – jy weet, daai meisie by wie ons nou die aand was.”

      Daniël soek na die spinnekop. Hy moet daar iewers wees. “Is sy in die moeilikheid?”

      Frank lag. “Nee, sy’s heeltemal úit die moeilikheid uit, op seker die enigste manier waarvoor

Скачать книгу