Скачать книгу

uit haar geheue opdiep, ander bly haar tergend ontwyk.

      Aan die buitewyke van Windhoek moet sy ’n paar keer by verkeersligte stop, maar andersins bly sy aanstoot. Sy vermy die midde­stad, draai regs op die hoofroete suidwaarts. Twee uur later trek sy in by ’n vulstasie omring deur ’n bisarre tuin van gebuigde en ge­roeste stukke sinkplaat. ’n Pompjoggie verskyn uit die skaduwee. Druppels sweet trek swart strepe deur die stof op sy vel. Sy vra hom om die tenk vol te maak en waar die toilet is. Hy wys na ’n sleutel aan ’n haak langs die voordeur en beduie vir haar om agter om die gebou te loop. ’n Stuk gedraaide draad bind die sleutel aan ’n ongemaklike groot stuk plank vas. Toe sy terugkom, is hy besig om die stof en dooie goggas van die voorruit af te was.

      “Jy kom ’n lang pad vanoggend?”

      Sy knik. Met die kant van haar skoensool trek sy strepe in die sand wat oor die betonblad gewaai het. ’n Maer swart meisie kom om die hoek gehardloop, agter die velling van ’n fietswiel aan. Sy dra ’n vuil manshemp met opgerolde moue en beheer die wiel deur hom met ’n stok te tik, stuur hom vernuftig tussen klippe en graspolle deur. Haar kaal voete raak-raak net aan die grond, skop klippers op. Die man skree vir haar iets in hulle eie taal en die meisie se groot wit tande flits. Sy maak ’n wye draai en verdwyn weer aan die gebou se ander kant.

      “Is dit jou dogter?”

      Hy skud sy kop. “Haar pa is dood.” Hy gee die voorruit ’n laaste vee. “Als klaar.”

      Op ’n skielike ingewing sê sy: “Nee, daar’s nog iets.” Sy betaal vir die petrol, gaan na die kattebak toe en haal die tas met mansklere uit. “Dis vir jou.” Sy glo in spontane weldade; dis oor die ander soort dat jy eers goed moet dink. Die man staar na haar, oorstelp en onbegrypend. Sy sit die tas voor sy voete neer. “Dis nou joune.”

      Daarna moet sy net so gou as moontlik daar wegkom. Die pomp­joggie se gesigsuitdrukking bly haar by totdat sy daardie beeld ook uit haar gedagtes verban.

      ’n Uur of wat later besef sy sy is honger. Haar keel is droog en sy het lankal opgehou sing. Daar is net die enjin se gedreun, die ge­ruis van die bande op die pad, en die wind. Op elke hoogte kyk sy vooruit om te sien of daar nie êrens is waar sy sal kan kos kry nie, maar daar is nie veel hier rond nie, nie eens vir diere nie. Die pad is ’n streep wat iemand met ’n liniaal op ’n kaart getrek het en wat toe op die werklikheid getransponeer is. ’n Doringboom hier en daar. Polle geel gras, meestal afgevreet tot op die wortels. Hitte­golwe wat die pad verwring. Links in die verte sien sy ’n perserige rant wat parallel met die pad loop, partykeer effe nader, dan weer verder.

      Eers nog ’n uur later sien sy ’n motel langs die pad en trek daar in, langs ’n handjievol ander voertuie. Toe sy uitklim, hoor sy sonbesies in die hitte skree. Voor die gebou staan ’n ry droërige boom­pies met voëltjies wat daarin rondfladder asof dit die paradys is. Sy maak die sifdeur oop en gaan in. ’n Klip wat in lap toegedraai is, hou die eintlike deur oop. Die sementvloer is gepolitoer dat hy eint­lik nat lyk. Sy sien net drie ander klante, ’n groepie mans wat teen die verste muur by ’n oop venster sit en bier drink. Sy hoor Afrikaanse en Duitse frases. Die selfoon op die tafel vang haar oog. Sy het nie dié nuwigheid hier in die boendoe verwag nie. Een van die mans dra sokkies en sandale, een sokkies en skoene en die derde skoene sonder sokkies. Skoene verklap baie omtrent ’n man, glo sy. ’n Vrou koop dalk sy ander klere, maar sy skoene koop hy self. Sy gaan sit by die tweede verste tafel van hulle af. Die ander karre buite behoort seker aan mense wat hier werk, besig om God weet wat te doen, iewers in ’n agterkamer.

      Haar bloes sit aan haar rug vas en haar jeans kleef aan haar dye. Sy trek met die een hand aan haar klere en tel met die ander die spyskaart op. ’n Ongemaklike kelnerin in ’n swart rok en wit voorskoot kom neem haar bestelling. Nadat die kelnerin weg is, sien die vrou ’n klompie vlieë wat op ’n stadig draaiende dakwaaier se vinne probeer land, sonder ophou of sukses. Die mans is kennelik bewus van haar en sy kry die gevoel dat hulle oor haar praat. Toe sy opstaan en badkamer toe gaan, voel sy dat hulle na haar kyk. Dit kom by haar op dat hulle dalk iets weet, maar dis ’n gekke gedag­te, pure paranoia. Hulle is maar net mans. In die privaatheid van die toilet haal sy die pistool uit haar handsak, vee die ergste stof daarvan af en herlaai dit. Terug by haar tafel wag die kelnerin haar in met die kontantstrokie. Sy betaal en bepaal haar by ’n glas ys­water met ’n suurlemoenskyfie daarin, ’n bord Kasseler und Kartof­feln met twee verlepte, geskeurde slaaiblare en ’n oorryp tamatie.

      Net toe sy met haar koffie begin, staan die mans op en kom deur se kant toe. Die laaste een, die een met sokkies en skoene, vertoef ’n oomblik by haar tafel. “Verskoon my, maar my vriende het net gewonder . . . ” Hy het lemmetjiegroen oë in ’n gesig wat deur die son tot donker mahonie verkleur is. “Ons het gewonder wat bring jou hierheen. Helmut daar in die wit hemp . . . ” Helmut stop, kyk terug en glimlag. “Helmut reken jy’s hier vir ’n begrafnis. Andries dink jy’s hier vir werk. ”

      Sy vat die koppie weg van haar lippe af. “En wat dink jy? ”

      Hy staan agteruit en grinnik. “Ek dink dis min dat ons iemand soos jy in hierdie geweste sien. ” Eenvoudig en sjarmant.

      “Sê maar vir jou vriende hulle sit die pot mis. ”

      Die mans glimlag onderling toe hulle loop. Buite sê hulle iets vir mekaar, dan draai die een wat met haar gepraat het terug na die gebou toe, te midde van ’n koor tergende opmerkings. Die ander twee klim in hul karre en ry weg. Sy sien die man wat met haar gepraat het deur die venster. Hy loop agter die muur in en sy wag vergeefs om hom in die volgende venster te sien verskyn. Teleur­stellend, dink sy. Sy het nogal daarna uitgesien om ligsinnig te wees saam met iemand – enigiets wat die lewe weer meer normaal en banaal laat voel.

      Op pad buitentoe kom sy op hom af waar hy tussen die bome staan, besig om met sy knipmes te vroetel. “Dit lyk soos ’n lokval,” sê sy.

      “Miskien. Gee my jou voorletters, dan kerf ek hulle hier in die stam.”

      “Saam met joune en ’n hart en ’n pyltjie?”

      “Dit sal ’n kunswerk wees.”

      “O, so moet ek nou glo jy’s ’n kunstenaar?”

      “Nee, ek roei peste en plae uit, maar jy roer my siel.”

      “Hoe bedoel jy jy roei peste en plae uit?”

      “As jy ’n probleem het met hase of rotte of jakkalse, dan roei ek hulle vir jou uit. Ek het eenkeer selfs ’n luiperd moes skiet.”

      “Jy gee nie om nie, so ’n mooi dier?”

      “Hy’t begin skaap vang. Party diere verdien nie om te lewe nie. Dis my werk. Die regering betaal my om plae uit te roei. En jy?”

      “Min of meer dieselfde. Ek’s in die polisie.”

      Hy sit sy mes weg. “Wat kan ek doen om gearresteer te word?”

      “Trap net een keer nié in jou spoor nie, en ek sit die boeie aan.”

      * * *

      SY volg sy bakkie met ’n verlate tweespoorpad langs tot by ’n reservoir met ’n krip. Daar is ’n paar platkroonbome wat omtrent heel­temal toe is van die versamelvoëlneste. Die grond, platgetrap deur hoevele hoewe, is besaai met wit kalkklippe. Sy vat die man se hand en lei hom na die krip toe. Daar trek hulle sy klere uit. Sy boei hom aan ’n staalpyp vas voordat sy haar kaal uittrek en wydsbeen op hom gaan sit. Sy hou aan ry tot sy seer is, maar sy kan nie kom nie. Dan gaan hulle swem. As sy afkyk, sien sy flitse van haar eie gesig in die donker, wiegende water. Ná die swem gaan sit sy en die man in die son om droog te word, onder die ylblou hemel. Sy wag tot sy heeltemal droog is, buiten die sweterige gevoel waar haar borste teen haar ribbes vou. “Ek moet gaan.”

      “Waar sal ek jou weer kry?”

      “Ek sal altyd in jou herinneringe wees.”

      Terwyl sy aantrek, sien sy dat sy voël weer styf begin word, maar hy maak geen aanstaltes na haar kant toe nie. “Dankie,” sê hy en lig sy hand in ’n gelate groetgebaar. “Geniet dit, wie of wat ook al volgende op jou pad is.”

Скачать книгу