Скачать книгу

toe. Die lug bokant Duiwelspiek is ’n diep blou. Hy sal homself vir mid­dagete vat, besluit hy, in die Tuine. Daar is voëls en bome en mense. Jy kan daar sit en deel van die lewe voel.

      Hy trek sy swart chinos aan, ’n broek wat nie meer goed genoeg is om mee te gaan werk nie, en ’n sagte katoenhemp met dieselfde kleur as sy tande. Buite voel die dag so lekker as wat dit gelyk het. Daar is ’n stilte wat als kosbaar en opwindend laat lyk. Halfpad na sy kar toe stop hy. Hy kan net nie gewoond raak aan daardie bui­ten­sporige wiele nie. Hy sou nooit vir homself so iets gekoop het nie. Die rims skree testosteroon en hy verkies ’n besadigde kar. Ag, fok, dis seker in elk geval beter om te stap. Hy sien ’n paar ander woon­stelbewoners, aangetrek vir die strand, met groot hoede en helder hemde, opgerolde handdoeke onder die arm. Hulle klim in hul karre en ry weg. Hy loop middestad se kant toe.

      Hier hang haweloses se klere langs leë erwe aan heinings om droog te word. Hy loop onder die plataanbome tussen die polisie­kantoor en die landdroshof deur. Hulle wortels het die sypaadjie laat kraak. Bo sy kop ritsel blare. Om die hoek van die Dorpshuis af, net agter die kerk, veg duiwe en seemeeue vir sitplek op die kop van ’n groter as lewensgroot standbeeld van die een of ander goeie, dooie politikus. Daniël loop nie meer alleen nie. Groepe tieners uit die townships kom op van die stasie se kant af, die ouens met hul lae holhangbroeke en blêrbokse, die meisies met hulle gegiggel en tersluikse kyke. Hy kies koers anderkant om die blok. Aan die ver punt kom hy dieselfde klomp weer teë. Hul paaie vloei saam in die eikelaning tussen die Parlement en die St. George-katedraal. Elke nou en dan kan jy opkyk en Tafelberg se boonste kabelstasie sien, omraam deur eikeblare. Hy stap regs deur die hek Kompanjiestuin toe. Hier sien hy mense wat uit die stad se boonste buurte afgekom het, ander woonstelbewoners wat kom om die son en groenigheid te geniet, om nog mense soos hulself te sien. Daar is ’n klompie wat hy herken: die bedremmelde jong man met die wollerige hare en skaapagtige uitdrukking, op soek na ’n leë parkbankie; die maer roker wat afgetrokke krap aan die tatoeëermerk op sy arm; die ge­skende vrou wat na blomme ruik; die byna-bekende ou digter wat haastig loop asof hy iewers anders as die graf het om heen te gaan. Daniël het hulle al hoeveel kere gesien. Miskien het hulle hom ook al opgemerk, en oogkontak vermy, nes hy.

      By die restaurant het ’n klompie gelukkige mans ’n skaakklub aan die gang – hulle het ’n verskoning om daar te wees én om nie te praat nie. Daniël kry ’n leë tafel aan die een kant, ’n bietjie te naby aan ’n stink vullisdrom. Hy lees die spyskaart aandagtig, asof hy dit nie al ’n honderd keer tevore gedoen het nie. Hy moes ’n boek saamgebring het. Dan sit die ou man by die tafel langsaan sy keps op en kom op die been, loop weg en los sy koerant op die stoel. Sodra die man agter die boom verdwyn, leun Daniël oor en vat die koerant. President Mandela het die een of ander iets gesê wat die voorblad gehaal het. Die kelnerin kom en hy bestel tuna mayonnaise toast en koffie, met appeltert daarna. Met dit afgehandel, slaan hy die koerant oop op die tafel. Die wind is sterk genoeg om die blaaie te laat fladder. Hy sit die sout- en peperpot op die een verste hoek neer en die suikerpot op die ander om die papier plat te hou. Hy staar na die gedrukte letters sonder om te lees. Dis net iewers vir sy oë om te rus wanneer hy nie na ander mense kyk nie. En as hulle na hom kyk, lyk hy ten minste nie so simpel nie. Hulle sou kon dink hy is hier omdat dit is wat hy gekies het, uit al die baie dinge wat hy kan doen, dat hy ’n vry en onafhanklike man is, selfs miskien ietwat misterieus, iemand wat ’n ruskans vat uit sy opwin­dende en genoeglike lewe. As jy nie weet nie, kan hy enigiemand wees.

      Voëls sing en mense praat. Die son skyn. Die aarde draai deur dag en nag. Miskien nou nie geluk nie, maar ten minste tevredenheid lyk heel moontlik.

      Die kelnerin verskyn met sy twee borde en koffiekoppie. Toe sy weer weg is, trek hy sy stoel nader, stamp teen die wankelrige tafel en stort die koffie. Hy skuif die piering weg en vryf die vloeistof in die papier in, sien sy hand vee oor ’n bekende gesig. Sy kyk na hom met ’n skooldogter se glimlag.

      AKTIVIS SE DOGTER VERMOOR. Die identi­teit van die jong vrou wat vroeër vandeesweek in haar huis in Langstraat dood aan­­getref is, is bekend gemaak. Sy was Nazla Hassan, dogter van die anti-apartheidsaktivis Nazier Hassan, wat in 1986 in aanhouding gesterf het. Volgens ’n segsman van die polisie, luitenant Chris Loots, is me. Hassan dood weens versmoring. Daar was ook tekens dat sy seksueel gemolesteer is.

      Daniël lees ylend deur die res van die berig, maar dis meestal oor hoe sy gelewe het, min oor haar dood. Hy herlees die eerste paragrawe. Toe hy uiteindelik opkyk, is die wêreld ’n spook van dit wat vroeër was. Figure beweeg in die landskap, maar maak geen geluid wat hy bo die gedruis in sy kop kan hoor nie. ’n Man buk vorentoe en praat, sy hand op ’n ander man se skouer. ’n Vrou gooi haar kop agteroor en maak haar mond wyd oop, haar lag net tande om ’n ronde swart gat. ’n Kelnerin dra ’n skinkbord vol vuil skottelgoed deur die prentjie, van regs na links. Daniël kyk hierna soos na los tonele uit ’n reisdokumentêr, met ’n dreuning op die klankbaan. Het hy ’n moord gesien? En as dit wel so is, kon hy iets gedoen het om dit te keer? Hoe skuldig is hy, en aan wat?

      Hy probeer elke detail onthou van die oomblik toe hy Frank en die meisie van die deur af gesien het. Haar krampagtige vingers, Frank se uitgestrekte hand wat op haar agterkop druk. As sy wou, sou sy kon losgekom het? Daniël kan nie seker wees nie.

      Sy koekvurk klik op die leë bord. Hy het sy tunabroodjie en die appeltert opgeëet sonder om dit eens agter te kom. Daar is ’n effe suur smaak in sy mond. Wat ’n verkwisting – die hoogtepunt van sy week het ongemerk verbygeglip. Hy is eensklaps kwaad vir elke donnerse ding wat maak dat sy lewe minder is as wat dit kon gewees het, minder as wat hy verwag het. Dis nou al jare dat sy lewe so toetentaal teleurstellend is. Hy word skoorvoetend meegesleur deur eksterne magte, tevrede om maar net nou en dan ’n klein plesiertjie te geniet. Om dit nou ook mis te loop is onaanvaarbaar, verdomp. Frank is besig om dinge vir hom te begin bederf.

      Hy vee sy mond skoon en staan op, vat ’n vinnige sluk koffie en loop na die uitgang op Koningin Victoriastraat. Van hier af is dit net twee blokke na waar Snazz . . . Nazla gebly het.

      Hy moet gaan kyk. Hulle sê misdadigers gaan altyd terug na die toneel toe. Hy hoop nie die polisie hou die plek dop nie, maar dis hoogs onwaarskynlik. Met soveel moorde in die stad elke week, sal die gereg nie te veel maak van die moord op nog ’n prostituut nie. Die enigste rede hoekom dit hoegenaamd die koerant gehaal het, is oor haar pa.

      Hoe nader hy aan haar plek kom, hoe meer kyk hy rond om te sien of daar enigiemand is wat dalk van die polisie is, maar almal wat hy sien, lyk na die soort mense wat self so ver as moontlik van die polisie af sou wou wegbly. Die steeg is dolleeg. Hy draai daar in, sy hart woes aan’t klop. Dit verras hom meer as enigiets. Wat sou hy nou daar kan teëkom wat hom so gespanne maak?

      Dis maar net dieselfde mure met die pleister wat deur die verf wys, ’n verbleikte baksteenrooi deur waar die verf van afskilfer, ’n nommer bo die briewegleuf geskryf. Hy wil klop, net om te sien. Mis­kien maak Snazz oop en was hy verkeerd dat sy die slagoffer is. Miskien is daar ’n polisieman wat hom graag sal wil ondervra. Waarskynlik sal niks hoegenaamd gebeur nie. Daar sal net die eggo’s van sy geklop in die leë steeg wees.

      Hy kies koers huis toe, terug na sy beteuterde alledaagse be­staan. Dieselfde gedagtes draai oor en oor in sy kop, word net nou en dan onderbreek as hy die een of ander kleinigheid in verband met sy omgewing herken. ’n Hawelose hoer kom val omtrent teen hom. “Whitey, wil jy naai?” Sy gryp haarself tussen die bene en wikkel haar hand rond. Haar skene is vol sere. Hy beduie sy moet fokkof.

      Naby sy woonstel kyk hy op en sien twee onbekende mans voor sy deur staan. Albei lyk in hul laat twintigs. Die agterkant van die een se hemp bult onder die arms – seker ’n liggaamsbouer. Die ander een is skraler, maar dra ook klere wat ’n nommer te klein lyk. Hulle is nie goed genoeg aangetrek om Jehovasgetuies te wees nie. Daniël raai hulle is van die polisie, werk vir Frank, of albei. Hy voel nie lus om hulle te konfronteer nie, selfs al is hulle dalk net slordige sektelede. Hy glip om ’n hoek en in die volgende woonstelgebou in, deel van dieselfde kompleks. Hy klim een stel trappe tot by ’n venster wat oor sy blok uitkyk. Hiervandaan hou hy die twee mans dop. Die dik ou steek ’n sigaret op. Dit lyk of hulle die situasie bespreek. Twee jong meisies kom by die trap af en kyk agterdogtig na Daniël, en hy begin verder klim, maak of hy op pad is boontoe. Op die volgende vlak gaan staan hy by

Скачать книгу