Скачать книгу

Vigen Guroian, [3]Inheriting Paradise – Meditations on gardening wat met ontroering vertel hoe die wisselende stemmings in sy tuin sy Ortodokse hart herinner aan die geestelike tye en die wisselende geestelike stemmings van die kerklike jaar. Maar ek onthou óók talle soortgelyke liefdesbetuigings van Katolieke gelowiges oor God se skepping – en ja, vir seker ook van Protestante – en ek weet dis ook nie dít nie.

      Of is die “mos” in my kollega se uitspraak dalk sommer eenvoudig baie meer prakties bedoel? Sê dit eintlik maar net dat mense wat nie hulle eie lappies grond en hulle eie huise het nie – soos soveel predikante – “mos” dikwels die onuitspreeklike wonder van naby-die-aarde-te-lewe ontbeer, mis, nooit ken nie? Is sy “mos” dieselfde “mos” as die “mos” van miljoene in ons stede, woonstelle, kampongs, koshuise, ja, van vlugtelinge, vreemdelinge, grondloses om derduisende redes, wat geeneen ooit dié voorreg smaak van eie aarde nie? En, gesien vanuit die tradisies van die Christelike geloof, is dit nie verskriklik, diep treurig, tragies nie?

      Vanweë hoeveel mosse mis mense dalk hulle lewe lank die wonderbare misteries van die mos op God se grond en die mossies in God se lug?

      Tyd vir die Gees

      Ons moet leer om tyd te maak vir die Gees.

      Só skryf Gregory Jones, dinamiese jong Metodiste-teoloog en president van die gevierde teologiese fakulteit van Duke-universiteit. Hy is ’n etikus, en geïnteresseerd in gelowiges se oortuigings oor morele vrae, oor die talle uitdagings van die openbare lewe – van geweld tot armoede, en wat-nog-ook.

      In dié sake moet ons leer tyd inruim vir die Gees, sê hy. Ons moet leer tyd máák, moeite doen, uitvind, nadink, bid, gesels. Ons moenie ons oë wegdraai en belangstelling verloor of – ewe erg – kitsantwoorde verkondig en roem in ons oppervlakkige slagspreuke nie.

      Ons moet begryp hoe ernstig ons oortuigings oor morele sake is, hoe hulle die hart van ons geloof raak, én hoe ingewikkeld hulle is. Ons moet afsien van ons goedkoop oornag-oplossings, en hard dink en hard werk, oor lang tye heen, sáám met ander – want dis presies waartoe die Gees ons roep, sê hy. Volgens die Bybel is die Gees nie so haastig en gou tevrede soos óns nie, maar lei ons langs lang weë van geleidelike oordeelsvorming, groeiende insig, verdiepte onderskeidingsvermoë en lewensveranderende betrokkenheid. Lang weë, wat tyd kan neem.

      Dié soort gedagtes kom al van ver saam met Gregory Jones, soos uit die titels van sy bekende en invloedryke werke deur die jare blyk. [4]Transformed judgment wys byvoorbeeld hoe gelowiges wat in die drie-enige God glo, juis in die lig van die evangelie, núút, ánders, veranderd kan leer dink oor die ingrypende morele vrae van die lewe. [5]Reading in communion verduidelik weer hoe gelowiges sáám met ander die Bybel moet bly lees en bedink, want slegs sáám, deur luister en hoor en leer, ontdek ons wat aangaan en watter bydrae ons kan maak. [6]Embodying forgiveness bedink met praktiese idees en voorstelle hoe die kerk inderdaad – met hoeveel moeite, hoeveel tyd, hoeveel harde werk, hoeveel geduld en tyd met en vir mekaar! – die soort gemeenskap kan word wat daadwerklik genade en vergifnis uitlewe, beoefen en beliggaam.

      Maar dis nie eintlik boekekennis wat finaal sy oë hiervoor geopen het nie, sê Jones. Dit was eers toe sy vyfjarige spruit op ’n dag verwonderd vir hom vra – terwyl hy ure lank voor die televisie sit – hoekom hy dan soveel tyd het vir basketbal maar so min vir kerkgoeters? Dis tóé dat hy besef het ons moet leer om tyd te maak vir die Gees.

      Tyd vir ménse

      Ons moet leer om tyd te maak vir mense.

      Só skryf Wolfgang Huber, die gevierde Duitse sosiaal-etikus. Hy praat oor die diakonaat, die dienswerk van die kerk in die wêreld: die tallose aktiwiteite van barmhartigheid, hulpverlening, versorging en ontwikkeling wat kerke doen.

      ’n Besoek aan ’n inrigting vir epileptici het sy oë geopen, sê hy, toe dié wat daar werk vir hom sê: “Na ’n tyd sien ’n mens nie meer die siekte nie, maar ontdek jy die méns.”

      Om die mens te ontdek, sê Huber, is sedertdien vir hom die samevatting van die totale kerklike dienswerk. Om ágter watter gesigte van lyding en leed ook al – siekte, gestremdheid, ouderdom, verslawing, armoede, eensaamheid, vigs, dood – die méns te ontdek, die konkrete, spesifieke persoon, hiérdie mens, in sy of haar uniekheid, eie waarde en waardigheid, dís die evangelie.

      Uiteindelik leef ons almal daarvan, want ons is almal broos, afhanklik van ander, van liefde en vriendskap, van omgee en sorg, van mense wat óns raaksien en vir óns tyd inruim. Die kerklike diakonaat leef daarvan dat voltydse werkers en vrywilligers, maar ook gewone gelowiges, ons almal, dié kuns sal aanleer: die kuns om agter watter gesig ook al die méns te ontdek, hom of haar waardig te ag, en tyd te maak.

      Veral in ons dag is dit dringend nodig om tyd te maak vir mekaar, sê Huber, want “die sosiale klimaat het koud geword”. Al meer mense leef net vir hulself, en maak skaars tyd vir hulself, wat nog te sê vir ander, veral vir dié “in enige vorm van lyding en nood” (soos die Belydenis van Belhar sê).

      Ons leef in ’n kultuur van selfsug en toe-eiening, van gryp- en hebsug. Dit is in só ’n tyd dat die kerk kan bydra tot ’n kultuur van menswaardigheid en hulpverlening, van omgee en sorg. En dít sal eers begin wanneer ons mense ontdek, raaksien, en tyd maak vir hulle.

      Wie tyd maak vir mense, maak tyd vir God se Gees, want dis presies waarvoor die Gees met óns besig is, waarom die Gees tyd maak vir óns.

      Die geur van koffie

      Ons kan nie eens die geur van koffie beskryf nie, sê die uitsonderlik kreatiewe en invloedryke wysgeer Ludwig Wittgenstein. En hy behoort te weet: van die geur van koffie én van hoe om te beskryf!

      As boorling van Wene kén hy koffie, en al die wonderbare assosiasies wat dié geur by ons kan oproep. Assosiasies van kafees en koerantlees, van gesellige vriendskap, van rustige ure, van polsende straattonele, van warm-wasem-teen-wit-winterkoue.

      As baanbreker-taalfilosoof van die 20ste eeu weet hy ook beter as enigeen wat woorde kán en nié kan beskryf nie.

      Trouens, hy word juis aanvanklik beroemd vir sy teorie dat ons met taal die werklikheid én die waarheid akkuraat kan ken en verwoord; dat ons presies, eksak die wêreld van feite daarbuite kan afbeeld en uitsê. En toe word hy in sy latere jare éérs beroemd deur te sê dit is nie so nie, sy vroeëre teorieë oor die vermoë van ons taal was nie reg nie! Die waarheid is eerder dat taal en woorde die geheimenis van die lewe nié volkome kan vasvang en weergee nie. Die werklikheid is eerder dat lewe en waarheid vol is van misteries, misteries wat wel wérklik is, ja, vir séker – so werklik en so waar soos die geur van koffie! – maar misteries wat ons nooit voluit kan begryp en verwoord nie.

      Nee, ons kan die geur van koffie nie eens voluit beskryf nie. En tog is dit dáár, en werklik, en vol betekenis, vol assosiasies, vol herinneringe, vol waarheid. Want geure kan doen wat woorde nie kan nie. Dit roep assosiasies op, skep stemming, wek gevoel, verander ons luim deur onnoembare herinneringe. Veral digters weet dit maar alte goed. Vra maar vir [7]DJ Opperman wat sy nooi in ’n nartjie kon ruik, sy ouma in kaneel, en in die geur van anys is daar iemand misterieus, ja, sê hy, “daar’s ’n vrou in elke geur!

      Geen wonder nie dat die Bybel ook dié geurmetafoor gebruik vir die góédheid van Christus.

      Sy offer is ’n gawe vol lieflike geur, sê Filippense 4:18, vol wonderbare assosiasies, onmoontlik om voluit te verwoord. Dit skep stemming, vreugde, dankbaarheid – en roep gelowiges om óók so ’n lieflike geur te versprei, om onsself diensbaar te stel as welbehaaglike, aangename offers (Rom 12:1; 2 Kor 2:14-16). Sodat, al kan hulle dit nie mooi verstaan of verwoord nie, enige samelewing gelukkig behoort te voel, dankbaar, góéd, omdat daar Christene onder hulle woon en leef – en sodat hulle God sal dank vir dié teenwoordigheid, dié geur van offervaardige diens.

      Maar nou ja, hoeveel mense kan die geur van koffie eintlik nie verdra nie? Dis die lot van geure, álle geure.

      Gebed

      Ons Vader wat in die hemel is,

      hoe

Скачать книгу