ТОП просматриваемых книг сайта:
Stukkies van die hemel op aarde. Dirkie Smit
Читать онлайн.Название Stukkies van die hemel op aarde
Год выпуска 0
isbn 9780796316356
Автор произведения Dirkie Smit
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Sien, hy tel nie lekker sy seëninge nie – dis dalk wat so snaaks is! Dis nie sy grammatika wat so swak is nie, maar sy somme!
In dié gees, laat ons tog mekaar leer groet, elke dag, met opregte bedoeling, en in elke moontlike betekenis, vanaf wens tot by bede: ’n goeie dag! Vol goedheid en seëninge van God, en vol dankbare erkentlikheid vir dié oorvloedige seëninge!
Helperus
Destyds, in ons studentejare, nooi ons dinamiese dosent in kerkgeskiedenis op ’n keer sy afgetrede voorganger vir ’n gaslesing voor ons klas oor ’n tema waarop dié afgetrede professor onteenseglik dié kundige was, die lewe en werk van die merkwaardige 18de eeuse Kapenaar, Helperus Ritzema van Lier.
Die geleentheid word toe uiteindelik ’n ware okkasie, vol vreugde en fanfare. Ons klap staande hande om die eerbiedwaardige professor te verwelkom. Hy word uitvoerig aan ons voorgestel – ’n bietjie kamma-kamma, want pas die vorige jaar het hy immers nog vir ons doseer.
Met geweldige kennis en gesag gaan haal hy ver en vertel boeiend van Helperus se oupas en oumas aan alle kante en verder deur sy voorgeslagte.
Toe die klok aan die einde van twee periodes lui, word Helperus net mooi gebore.
En omdat die kursus die volgende week moes vorder, het ons tot vandag nooit van Helperus se lewe en werk gehoor nie.
Deur die jare herinner dié insident my aan Kersfees.
Dis ook elke keer weer ’n geleentheid vol fanfare, vol vreugde en roem.
Ons wag ook die groot oomblik af, in ’n weke lange atmosfeer van eer en respek. Dis alles wel effe kamma-kamma, want dis tog elke jaar se ding, maar wie gee eintlik daarvoor om?
Met die erediens op Kersdag vul ons die kerke wêreldwyd, ook talle onder ons wat net dié een dag van die jaar daar gesig kom wys.
Dan word die Kind gebore – en is alles verby. Min mense bly vir die res van sy lewe en werk!
Maar is dit nie vreemd nie? Die eintlike interessante aan enige lewe is tog wat nog volg, wie ons word, wat ons doen? Watter biografie hou dan op met die geboorte?
Nee, vir die Christelike geloof is Kersdag nie die einde nie, maar die begin.
Die regtig interessante en vreugdevolle kom nog! Met dié Kind se lewe en werk. En nee, nie net van destyds nie, maar juis sy lewe en werk van nou nog, vandág. Dis trouens die hele wonderbare punt!
Die Onsienlike en die onsienlike
Geloof stap vrolik vorentoe in die donker, in rustige vertroue op God se beloftes. Só skryf Martin Luther êrens in ’n Kerspreek oor die Wyses uit die ooste.
Van nature wil ons sekerhede hê, bewyse, waarborge, wil ons presies weet en verstaan, en daarom huiwer ons dikwels in onsekerheid en vrees voor die onbekende – voor die dae van môre en oormôre, voor ’n donker nag, voor ’n vreemde toekoms, voor ’n nuwe jaar, ’n nuwe werk, ’n nuwe omgewing, nuwe verhoudinge. Die onbekende bring vir ons onsekerheid en heimlike, selfs openlike vrees, besorgdheid, beklemming in ons hart.
Maar geloof sien die troue Onsienlike en leef vrolik vorentoe ondanks alle donker. Sê Luther vol vertroue en versekerdheid. En hy herinner sy hoorders en lesers aan die wonder van die Bybelse Kersverhaal, hy nooi hulle – en ons – om met oop oë weer te kyk wat daar vertel word.
Die sterrekykers het die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien – so vertel Matteus 2:11 – en gekniel en aan Hom hulde bewys, ja, hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.
Watter wonderbare woorde! sê Luther.
Want wat het hulle eintlik maar gesien? ’n Arme ma met ’n arm kindjie in ’n armsalige vertrek. Wat kon gesonde verstand anders sien? Die wêreld wat ons ken, sou rondkyk vir fluweelkussings en ’n skare bediendes, sê Luther, want óns wêreld bring mos gawes aan wie reeds genoeg het en gryp daarvoor brood uit die mond van wie nie het nie.
Maar die Wyses sien iets onsienliks. En wie hulle wil volg, moet ook die oë leer sluit vir wat glinster, en leer kyk na wat verag is en as dwaas beskou word – armes leer help, vernederdes leer vertroos, naastes in hulle nood leer bystaan.
En soos altyd loop die kerk van sy dag deur onder Luther se kritiek. Ons moenie so spog met ons kerkgeboue en ons insamelings nie, gooi hy sommer in, want God sê: Wat gee Ek om vir altare en klokke? Wie het julle gevra om kerke te bou? Sit Ek nie gééstelike tempels voor jul oë nie? Dié behoort julle veel eerder te bou en te voed!
Nee, wie Christus wil sien, sê Luther, moet die onsienlike leer sien, in die gesigte vol vrae, vol verlangens en vol vrese rondom ons, in eenvoud en ’n stal. En waar ons Hom die minste verwag sal ons Hom vind, soos die Wyses destyds, vol liefde en trou, ook in die donkerste donker, en die mees onbekende môres – en nagte.
Onthou, Hy is naby!
Bufferplakkers bied nog nie lewensfilosofieë nie. Só moes die strokiesprentkarakter Charlie Brown die kordate klein Linus herinner terwyl hulle peinsend in die vertes tuur. Tussen bufferplakkers en lewensfilosofieë is daar ’n groot verskil. Die een is gevat, die ander is omvattend. Die een laat jou glimlag, die ander laat jou lewe. Die een vermaak vir ’n oomblik, die ander oriënteer vir altyd.
Maar, ja, sómmige bufferplakkers grens darem sowaar baie na aan filosofieë! Soos dié een op ’n dag in ’n winkelvenster: “Jesus is coming. Look busy.” Die metafoor daaragter, die assosiasies wat dié spreuk oproep, was sommer dadelik nogal snaaks. Herinner dit nie immers aan ’n klaskamer, met die juffrou êrens heen, en almal-aan ’t-stout-wees-met-allesbehalwe-waarmee-sy-gesê-het nie? En dan die benoude gille. “Sy kom!” Wat beteken: “Stop oombliklik julle wat ook al en lyk besig, of daar is moeilikheid!” Ja, sy’s naby! Lyk besig!
En vir seker verwoord dié bufferplakker daarmee inderdaad ook baie mense se soort godsdiens! Vir baie van ons is dit presies hoe ons glo, dink en leef! En hoe ons vir Jesus sien! Wees gereed vir Jesus se koms deur besig te bly, deur te doen wat goed en ordentlik is. Trouens, hoe baie kere is die gelykenis van die talente (deesdae lees dit “muntstukke”, in Matt 25:14-30) nie juis só in skole gebruik nie? Om ons aan te por tot vlyt en ywer? Met die dreiging dat die Een wat tydelik weg is na die ver land enige dag onverwags mag opdaag – soos Juffrou – en bewaar dan alle luiaards se arme siele! Ja, vir seker, só dink baie van ons, ook oor Jesus. Nes die bufferplakker in die winkelvenster, dié dag.
Maar ewe verseker verwoord dit nié die evangelie nie. Dié is immers dat ons gereed bly deur te waak en bid – vér van werk en woel en besig lyk af! Die evangelie is immers dat ons onbesorg kan wees omdat Hy “naby is”, soos Filippense 4:2-9 sê, en dus vreugdevol en vriendelik mag wees, rustig en vol vrede mag lewe, ongeag of dié woordjie “naby” in Filippense op ruimte dui (soos in: Hy is altyd naby) of op tyd (soos in: Hy kom gou). Of Hy nou naby is in ruimte, net buite die deur; en of Hy naby is in tyd, binne oomblikke hier, dit maak nie regtig saak nie. Want ómdat Hy só naby is, mag ons ontspan, en onbesorg wees. Want alles is reg en onder beheer.
Die kern van die evangelie is dat sy nabyheid nie vrees bring nie, maar vrede. Sy nabyheid is nie sleg nie, maar wonderbaar góéd.
Dís die evangelie.
Dis seker dié dat die plakker vir ons klomp dadelik so snaaks was, so oombliklik ons aandag getrek het, dat ons nie kon help om te lag nie.
En dis seker darem tog soos wat die eienares van die winkel dit self ook