Скачать книгу

onthou skielik hy is self al in ’n redelik ernstige verknorsing. “Toe, vertel maar. Ek dink ek kan dit vat.”

      “Man, dis my rapport. My pa het ’n hengse lawaai opgeskop.”

      “Myne ook, maar dis tog nou verby.”

      “My pa is nie soos joune nie! Hy het soos ’n mal mens te kere gegaan. Hy het gesê hy gaan my doodslaan en my ma het gegil so bang was sy!”

      “Goeie hemel!” sê Krynauw.

      “Ek kan nie vir jou sê hoe erg dit was nie! Ek moes iets doen. Toe sê ek vir hom ek het darem ’n spesiale beker vir goeie klaswerk en vordering gekry.”

      Krynauw kan ’n paar oomblikke lank nie praat nie.

      “Dis tog nie so vreeslik nie,” protesteer Smit. “My rapport het net gesê my gedrag was sleg. Die aanmerkings oor my werk was heel goed. Jy weet mos ek doen nie te vrot in toetse en eksamens nie.”

      “Dis erg genoeg om vir jou pa te jok,” sê Krynauw. “Jy maak dit net nog erger deur vir jouself ook te probeer lieg.”

      “Ek weet! Die oomblik toe ek gepraat het, wou ek my tong afbyt, maar toe was dit te laat. My pa het afgekoel …”

      “En nou?” vra Krynauw moedeloos. “As jy weer huis toe gaan, sal jou ouers wil hê jy moet die beker saambring.”

      “Dis nog baie erger. Toe ek by die huis weg is, het my pa gesê hy kom vir besigheid hierlangs en hy sal hier inloer. Hy gaan dan natuurlik met die hoof oor die dekselse beker praat, en al is ek so gelukkig dat hy nie kans kry om met doktor te praat nie, sal hy die beker wil sien.”

      Krynauw skud sy kop. “Het jy vir Chris hiervan vertel?”

      “Nee, hy sal nooit weer met my praat nie! Ek het gehoop jy het vir my raad.”

      “Daar’s net een oplossing: skryf dadelik vir jou pa en vertel die waarheid.”

      “Jy’s mal!”

      “Jý’s mal as jy aan iets anders dink. As jou pa hier aankom en die hoof vind alles uit, sal jy eers rêrig leer wat beteken moeilikheid.”

      “Nie as ek ’n plan kan maak nie.”

      “Watter soort plan? Nog leuens?”

      “Aag, preek vir jouself!”

      Smit loop roekeloos weg asof hy nie omgee om gevang te word nie.

      Die volgende oggend is Krynauw en Smit wat gewoonlik die slimstes in die Latynklas is, heeltemal hopeloos.

      Die hoof is al klaar nie in ’n goeie bui nie.

      Nadat hy die hele nag geskryf het en graag daarmee sou wou aangaan, het hy homself nogtans gedwing om te kom klas gee. Die uitdrukking op sy gesig belowe min vir die mense om hom.

      Hy staan en leun teen die lessenaar, en lyk buitengewoon groot in sy donker pak.

      Sy helder stem laat die Latynse sinne mooi klink. Dit vorm ’n rustige agtergrond vir Krynauw se benoude gedagtes totdat Rothman aan sy arm stamp en hom terugruk na die werklikheid.

      Hy besef hy is ’n vraag gevra.

      Hy staan vinnig op.

      Die hoof het iets in Latyn gelees en nou moet iemand dit natuurlik vertaal. Die klas het ’n nuwe handboek, daarom begin Krynauw maar van voor af, met ’n berig van Plinius aan Tacitus uit die jaar 79 v.C. Hy vertaal dit nogal vlot.

      “Krynauw!” word hy onderbreek.

      “Ja, doktor?”

      Die ander seuns waag dit nie om van hulle boeke af op te kyk nie.

      “Dis ’n goeie onvoorbereide vertaling. Het iemand jou gevra om ons daarmee te help of is jy deur jou eie hart se goedheid aangevuur?”

      “Doktor? … Ek het gedink doktor het my naam genoem.”

      “Ek het, ja. Ek wou jou aanraai om iets anders te gaan doen aangesien hierdie les jou nie interesseer nie. Verlaat die klas en gaan leer een van die vakke waarin jy belangstel.”

      “Jammer, doktor. Dis waar, ek het nie geluister nie. Ek kan nie vandag konsentreer nie,” sê Krynauw opreg.

      Die hoof lyk dadelik minder streng. Krynauw gaan egter nie sy straf vryspring nie.

      “As jy dan in Latyn belangstel, neem die boeke gerus saam.”

      Krynauw gaan na die seniors se dagkamer, sit sy boeke reg, en spring dadelik aan die werk.

      Dis ’n ruk later toe die reuk van sigaretrook verraai dat iemand by die vertrek ingekom het.

      Die hoof staan en kyk na hom.

      Krynauw staan op.

      “Jy konsentreer nou baie hard.”

      “My gedagtes wou nie in die klas saamwerk nie, doktor.”

      “Jy hoef nie vanaand kantoor toe te kom nie. Jou woede teenoor kaptein Alwyn was miskien geregverdig. Jy is te jonk om sy soort tergery te verstaan. Gaan nou maar terug klas toe.”

      Krynauw glimlag tevrede. Hierdie besoek is die soort bewys van vriendskap waarvoor hy gewoonlik tevergeefs wag.

      Die hoof gaan weer uit, net betyds om ’n jong man in die uniform van die Swazilandse polisie raak te loop. Hy het al ’n paar keer op Mbabane teen hom tennis gespeel.

      “Weer Jan Fiskaal?” vra hy.

      “Ja, doktor,” sê Atkins. “Daar is by jou plaas ingebreek, nes by ander plekke. Hy het jou bestuurder platgeslaan, maar meneer Rossouw het nie te seer gekry nie. Nogtans, as dit langer so aangaan, pleeg hy een van die dae ’n moord. Kaptein Alwyn is op Mbabane. Hy het my gestuur omdat ons jou nie op die telefoon in die hande kon kry nie.”

      “Ek het nog nie vanoggend gebel nie. Werk die foon?”

      “Nee, die drade is geknip.”

      “Watse skade het hy op die plaas aangerig?”

      “Die geld wat in die kluis was, is weg. Meneer Rossouw sê daar was gelukkig nie veel nie. Die werkers is glo onlangs betaal.”

      “Was my broers daar?”

      “O ja. Hulle het Fiskaal probeer vang, en een – ek weet nooit wie is wie nie – is deur die perd onderstebo gery. Ons het gedink Fiskaal is lankal weg, maar hy het toe al die tyd tussen die bosse naby die huis weggekruip. Hoekom, weet nugter. Jou broer het in daardie rigting gesoek en die perd kom toe daar uitgebars.”

      “Is hy beseer?”

      “Nee, glad nie.”

      “Kaptein Alwyn was natuurlik nie dadelik daar om te help soek nie?”

      “Nee, ons moes hom hiervandaan laat kom. Hy sê hy is ook vroeër deur die rower aangeval.”

      “Jan Fiskaal gaan nou te ver.”

      “Hy het gisteraand by die Butlers ook ingebreek, én by die regeringskantore op Mbabane. Daar het hy die kluis oopgebreek en met omtrent twaalfduisend rand weggekom. Die konstabel op diens se kop is byna pap geslaan. Hy kon dood gewees het.”

      “Is julle seker Jan Fiskaal was vir al hierdie voorvalle verantwoordelik? Met so ’n berugte misdadiger in die omtrek buit ander skelms dit soms tot hulle eie voordeel uit.”

      “Jou plaasbestuurder het hom gisteraand gesien. Hy was swart aangetrek en het op sy tipiese manier gelag. Dit was definitief hy!”

      “Jy sê kaptein Alwyn was in Mbabane toe jy daar weg is?”

      “Ja. Dit lyk of hy ’n lelike hou gekry het toe hy hier aangeval is, maar hy weier om te rus. Hy’s uitgeslape. Hy sal hierdie vuilgoed nog vang!”

      “Het julle van die plaas af geskakel om hom te roep?”

      “Ja, maar toe ons later

Скачать книгу