Скачать книгу

tion>

      

      Die hoof van Keurboslaan

      Theunis Krogh

      Human & Rousseau

      1

      DIE GEMASKERDE ROWER

      Die sestienjarige Eugene Krynauw lyk baie ongemaklik hier waar hy voor sy pa in sy studeerkamer staan. Dis selde dat hy hom in dié posisie bevind.

      Ná sy ma se dood, toe Eugene maar net agt jaar oud was, het sy pa hom van alle intieme kontak met sy kinders en vriende teruggetrek. Hy weier om enigiemand weer naby aan hom toe te laat. Vir liefde en troos moet Albert, nou op universiteit, Bobbie, die enigste dogter, Eugene en klein Dawie maar op mekaar staatmaak.

      Die drie ouer kinders is al vroeg kosskool toe gestuur, en op Keurboslaan het Eugene troos gevind by doktor Serfontein. Die bietjie vertroeteling wat hy by die hoof gekry het, is nooit herhaal nie, maar Eugene voel oor hierdie man soos oor ’n pa, al lyk die skoolhoof meestal so koud en afsydig.

      Dis hoekom hy vandag so somber lyk terwyl sy pa hom sy skoolrapport laat lees. Eugene weet dis onredelik, maar hy kan dit nou eenmaal nie verdra dat doktor Serfontein maak asof hy net ’n gewone skolier is nie.

      Hy het nie ’n goeie rapport verwag nie, want hy en sy vriende het besluit om die laaste maande voor hulle prefekjaar te geniet. Dit het hulle met mening gedoen, maar nou kom hierdie simpel rapport sy lewe vergal.

      “Goeie werk, maar traag,” skryf die Wiskunde-onderwyser, meneer Weyers. Die visehoof is ’n man van min woorde.

      “Hy praat hom te maklik uit die moeilikheid los,” skryf meneer Holst, die onderwyser in Europese tale. “Onvoldoende vordering.”

      Ag, komaan!

      “Sy werk en gedrag is onbevredigend vir ’n seun wat aanvanklik belowend was,” skryf meneer Burger wat gewoonlik liewer sal sterf as om ’n ouer bekommerd te maak oor sy kind.

      Miss Kennerley, die hoof se hooggeleerde universiteitsvriendin wat soms op Keurboslaan kom help wanneer sy moeg word om met meisies te werk, se bevinding is soos volg: “Has been a good English and Latin student but is at present too giddy to be satisfactory. A charming boy, however.”

      Giddy, verbeel jou! Wat help die charming daarna?

      Al lid van die personeel wat iets goeds skryf, is die sportonderwyser: “Begaaf, getrou en behulpsaam.”

      Maar hy’s nou weg!

      Meneer Bekker wat die koshuisonderwyser was, skryf: “Die personeel het nie vanjaar die verwagte samewerking van Krynauw gekry nie. Hy ondermyn die dissipline deur sy agterlosigheid.”

      Genade!

      Die hoof se slotsom is met sy sterk, besliste handskrif heel onderaan geskryf: “Dit spreek vanself dat bostaande aanmerkings onbevredigend is. Hierdie leerling se gedrag moet verbeter, tensy hy almal wil teleurstel.”

      Die laaste sin maak dat Eugene in die grond wil insak.

      Sy pa wat hom so stip dophou, weet wanneer dit tyd is om streng op te tree.

      “Jy dink dus deesdae alles is ’n grap?” vra hy.

      Eugene, wat met sy lenige lyf en blonde hare – en selfs die bril – soveel na sy pa lyk, antwoord op sy gewone bedaarde manier, maar die springende spiertjie in sy wang verraai hoe ontsteld hy is.

      “Ek het harder gewerk as wat hulle dit in die rapport laat klink. My punte is nie so sleg nie.”

      “Ek kyk nie na die punte nie. Net soos jou onderwysers kyk ek na jou talente en hoe jy jou kanse verbeur. Ek maak groot opofferings om jou skoolgeld te kan betaal. Ek werk hard daarvoor.”

      ’n Rooi gloed kruip oor Eugene se gesig. “Ek weet, Pa.”

      “O ja? Dit lyk nie so nie! Wat gaan aan daar by julle? Het doktor Serfontein nie meer ’n lat nie? Toe, moenie so dikmond daar staan nie. Antwoord my!”

      “Ja, hy het nog ’n lat of twee.”

      “Is hy dan te besig om dit te gebruik?”

      “As ’n mens eers sestien is, wil hy liewer nie.” Eugene is nou nog rooier van verontwaardiging.

      “En jy maak misbruik van die feit!”

      Nadat hy behoorlik oor die kole gehaal is, gaan Eugene terug na sy kamer met die hartseerste uitdrukking wat sy twee wagtende skoolvriende nog ooit by hom gesien het.

      Hulle kuier die laaste twee dae van die vakansie by hom en sy bui beïnvloed hulle natuurlik.

      Rothman voel jammer vir sy vriend. Hy het soos gewoonlik ’n redelike rapport gekry. Hy presteer goed omdat hy hard werk. Hy ly nietemin altyd saam as sy twee vriende in die moeilikheid is.

      Smit, al lyk hy effens tingerig en senuagtig, kan nogal wild en onverskrokke wees, maar hy het die strengste pa op aarde. Volgens hom het dinge op die plaas maar woes gegaan toe sy rapport opdaag. Krynauw s’n is eers vandag oopgemaak omdat sy pa nie hier was toe dit gekom het nie.

      Nie een van die drie is nou lus vir die aand se toneelopvoering waarna hulle saam met Eugene se pa moet gaan nie. Hy het plekke bespreek omdat dié stuk een van hulle voorgeskrewe boeke is, maar selfs in die klas is dit vir hulle ’n vervelige spul!

      Dis egter nie net in advokaat Krynauw se huis waar dit moeilik gaan nie.

      Doktor Serfontein spandeer ’n paar dae by sy ouers, en sy jong tweelingbroers Frans en Emil kom ná ’n vakansie in die Kaap ook huis toe.

      Hulle is identies en doen altyd alles saam. Die twee het onlangs gelyktydig lektorskappe in Plantkunde aan die universiteit gekry.

      Die vrag moeilikheid waarmee hulle vandag by die huis kom, is ook presies en netjies tussen die twee verdeel.

      Doktor Roelof Serfontein kuier soms om sy ma se ontwil hier, maar nou bevind hy hom in die middel van ’n hewige familietwis.

      Die tweeling het vir ’n vooraanstaande professor aan hulle universiteit ’n poets gebak. Hulle erken dit sonder om te stry.

      Die professor het toevallig in dieselfde hotel as hulle oorgebly en by ’n tafel langsaan hulle ontbyt geëet. Toe daag een van die meisies aan die tweeling se tafel hulle uit om die man se bril weg te steek. Die professor, vertel Frans, het gedink die jong man aan sy tafel is die skuldige en het hom lelik ingevlieg, maar dié is toe in werklikheid ’n belangrike oorsese gas!

      Toe Frans en Emil buite die eetsaal om verskoning vra, slaan die ontstelde professor na hulle, maar die twee koes rats en hy verloor amper sy balans. Almal wat dit gesien het, was oortuig hulle het die arme ou man geslaan!

      Hulle is dadelik uit die hotel geskop en moes huis toe kom.

      Die tweeling was boonop ook platsak en Adolf, hulle goedgeaarde tweede broer wat in die Kaap skoolhou, moes hulle kom lospraat. Maar hy kon nie eers vir hulle geld leen nie, nie met sy vrou wat so spandabelrig is nie.

      Professor Serfontein is naby aan ’n beroerte van ontsteltenis, maar die vies uitdrukking op hulle oudste broer se gesig is vir die tweeling die ergste.

      Alles eindig in wat doktor Serfontein op skool ’n “titaniese stryd” sou noem. Die seuns se ma is so ontsteld, sy moet ’n rukkie gaan lê.

      “As Pa sê dis reg,” stel Roelof uiteindelik voor, “sal ek hulle op my plaas in Swaziland laat werk totdat alles hier oorgewaai het. Die universiteit sal hulle natuurlik summier skors.”

      Roelof en sy pa kom nie goed klaar nie, maar die professor sal nou tot enigiets instem en dit word so gereël.

      Om die tweeling onder hulle pa se oë weg te kry, nooi hy hulle die laaste aand voor hy teruggaan Keurboslaan toe, saam na ’n toneelopvoering.

      “Dit sal ’n bietjie ontspanning wees voor julle na die wildernis verban word,” sê hy sonder ’n vonkeling in sy swart oë.

      Die tweeling is dankbaar vir die uitnodiging, maar die ingewikkelde drama is soos hulle dit beskryf, “nie ons potjie sop nie”!

Скачать книгу