Скачать книгу

seuns is van my seniors,” beduie hy. “Ek wonder hoeveel hulle van die stuk verstaan.”

      “Baie min,” sê Emil. “Ek wed jou die skrywer het met sy vrou baklei toe hy hierdie ding geskryf het!”

      “Hierna gaan die man wat die hoofrol speel weer begin kerm en kla oor sy vrou hom nie liefhet nie,” sê Frans, “en dan gaan sy weer sê sy het, sy kan dit net nie in woorde uitspreek nie, maar dan gaan hy sê hy glo haar nie.”

      “’n Baie goeie opsomming,” sê die skoolhoof.

      Teen pouse het sake op die verhoog nie veel gevorder nie. Daar is gedurig misverstande tussen die karakters en niks word opgelos nie.

      Emil gaap en sê: “Kom ons gaan staan ’n bietjie buite.”

      “Ja, kom,” sê sy broer.

      Die Serfontein-mans is almal aantreklik, veral wanneer hulle netjies aangetrek is. Almal in die groot voorportaal kyk na hulle. Doktor Serfontein is baie bekend, eerstens omdat hy ’n beroemde skrywer is, en ook omdat hy ’n fortuin geërf het.

      Maar afgesien daarvan is sy voorkoms ook opvallend. Dis nie net sy figuur en gesig wat indrukwekkend is nie. Ten spyte van sy skynbaar rustige houding het hy ’n soort persoonlike magnetisme wat nie maklik verduidelik kan word nie.

      Maar hy is soms ook nogal ’n terggees, en dis juis hoekom hy die tweeling na die opvoering genooi het.

      “Koffie, Roelof?” vra Emil.

      “Asseblief. Sal julle dit gaan haal?”

      “Ons sal gaan baklei om ’n plek in die ry te kry, ja. Wat ’n affêre! Lyk my hierdie droë storie het almal dors gemaak! Is dit hoe jy ook skryf, Roelof? So … wat noem ’n mens dit? … Avant garde!”

      “Lees maar en besluit self.”

      “Ons sal eendag moet. Ek het deur ’n paar van jou romans geblaai, maar dis net ’n spul woorde. Nugter alleen weet waaroor dit gaan!”

      “As julle koffie wil hê, moet julle gou maak.”

      Die tweeling loop vinnig oor na die toonbank.

      Doktor Serfontein staan heeltemal stil tussen die mense wat hom nuuskierig aankyk. Hy is diep ingedagte toe advokaat Krynauw agter hom praat. Hy draai om, knik met sy donker kop en sê vriendelik: “Goeienaand.”

      Dan kyk hy na die drie seuns wat wag om hom te groet.

      “Ek kan op julle gesigte sien hoeveel julle die toneelstuk geniet,” sê hy met ’n effense glimlag.

      Krynauw se slegte bui verdwyn sommer net daar.

      Die tweeling kom terug met die koffie. Die seuns word aan mekaar voorgestel, en hulle begin sommer dadelik oor sport gesels terwyl die ouer mans alledaagse sake bespreek.

      Nou daag die stad se waarnemende polisiehoof op en sluit by die groepie aan. Hy is ’n ou vriend van die Serfonteins en het die seuns deur die jare sien grootword.

      By hom is iemand wat beslis nie ’n doodgewone persoon is nie.

      Die man is groot en atleties gebou, met die houding van iemand wat gewoond is om sy sin te kry. Sy bruin hare lê plat, maar ’n mens kan jou voorstel dat dit gewoonlik woes rondwaai. Sy gesig is skraal en lewendig. Dis ’n roekelose, intelligente gesig, maar nie juis vriendelik nie.

      Sy stem is verrassend sag, asof hy vir elkeen met wie hy praat ’n geheim vertel.

      Hy lyk interessant, maar ook half gevaarlik.

      Die kolonel se kort mededeling los ’n deel van die raaisel op. “Ek is bly om jou vanaand hier te kry, Roelof. Kaptein Alwyn het pas by ons aangesluit. Hy sal ’n tyd lank in Keurboslaan se omgewing vertoef en ek vertrou jy sal so gasvry wees om hom te akkommodeer.”

      Die seuns gaap hom aan. Hoe waag iemand dit om so met die hoof te praat en sommer sulke eise te stel?

      Maar Krynauw, wat die hoof fyn dophou, sien sy mondhoeke diep terugtrek. Dis asof die skoolhoof wil glimlag omdat hy iemand ontmoet wat hom interesseer. Hy wat vroeër ’n joernalis was en allerhande gevare en avonture beleef het, voel seker sy lewe is deesdae vervelig.

      “Ons sal bly wees om jou daar te sien, kaptein Alwyn,” sê die hoof.

      ’n Vonkie van begrip flits tussen die twee mans.

      “Jy is doktor Serfontein?” vra Alwyn.

      Roelof Serfontein is suinig met woorde. Hy antwoord nie.

      “’n Skoolhoof! Onmoontlik!” sê die kaptein.

      “Dis ’n minder vervelige lewe as wat jy dink.”

      Kaptein Alwyn vestig sy aandag nou op die seuns en gesels op sy fluisterende manier oor die opvoering terwyl sy oë die een jong gesig na die ander half spottend bestudeer.

      Die kolonel praat vertroulik eenkant met doktor Serfontein en Krynauw se pa.

      “Alwyn het ’n uitstekende reputasie. Hy was lank ’n speurder in New York, maar het bedank nadat hy glo geld van iewers af gekry het. Nou reis hy in ’n luukse woonwa hier in sy geboorteland rond om foto’s te neem. Hy wil ’n boek skryf, of so iets.”

      Dan kyk die kolonel na die skoolhoof. “Alwyn het ingestem om ons ’n bietjie te help. Jy weet mos daardie rower Jan Fiskaal is onlangs in julle omgewing gesien, en hy maak selfs tot in Swaziland moeilikheid.”

      “Daar is genoeg lawaai gemaak oor hierdie derderangse skurk, veral ná my broer se ondervinding,” sê doktor Serfontein kortaf. “Ons duld nie praatjies oor hom by die skool nie.”

      “Jy’s reg,” antwoord die kolonel, “want iemand soos hy met sy swart perd en masker, en daardie uitgelate gelag van hom kan vir seuns erg romanties lyk!”

      “Jou broer?” vra kaptein Alwyn se fluisterstem. Hy het blykbaar na die gesprek geluister. “Jy praat seker van dokter Martin Serfontein. Ek besef nou eers julle is familie.”

      “Bid jou dit aan,” sê die kolonel. “Martin was op pad van Mbabane waar hy iemand se lewe gered het toe hy deur daardie vuilgoed aangeval is.”

      “Maar jou broer was nie net daar om te werk nie,” sê die kaptein vir die skoolhoof. “Hy het mos ook Bosveld toe gegaan om te gaan jag daar op Steward se plaas, en ons vriend Jan Fiskaal is toe met sy duur jagtoerusting weg.”

      “Sowaar?” sê-vra doktor Serfontein.

      “Het jy dit nie geweet nie? Het hy dan nie op Keurboslaan aangekom nie?”

      “Nee. Soos ek later gehoor het, was hy effens geskok ná die voorval en is reguit huis toe.”

      Die skoolhoof is vanaand besonder spraaksaam.

      Kaptein Alwyn glimlag byna vriendelik vir hom. “Wel, hy het gelukkig daarvan afgekom in vergelyking met ander mense wat deur Fiskaal aangeval is. Wat ’n verspotte naam! Dis glo deur ’n boer op ’n ander dorp uitgedink. Hopelik het jou broer nie te seer gekry nie?”

      Daar is ’n kort stilte. Miskien hou doktor Serfontein nie van die onverwagte vriendelikheid nie. Dis nooit maklik om te weet hoe hy oor dinge voel nie.

      “My broer se kop is gelukkig hard,” sê hy uiteindelik effens smalend. Dan vervolg hy, nou weer ligter: “Jy weet nogal baie van wat in ons omgewing gebeur.”

      “O, ek was al daar om rond te kyk en te luister en foto’s te neem. Dis baie mooi daar. Byna so mooi soos Swaziland.”

      “Ja, ek dink ook so.”

      “Ek het nie geweet Martin is beseer nie, Roelof,” sê die kolonel.

      “Dit was nie erg nie. Net ’n hou oor die kop.”

      Die klokkie lui, en die mense begin terugbeweeg na die saal.

      Emil lag. Dis ’n vreemde, byna desperate geluid.

      “Liewe

Скачать книгу