Скачать книгу

sal nie nou help nie. Hy sal later met jou in verbinding tree.”

      “Daar is seker nie polisiehonde op Mbabane nie?”

      “Nee, ook nie hier op Keurboslaan nie, maar daar is darem ’n paar op Vaalplaas. Ons gaan hulle seker gebruik.”

      “Julle moes dit lankal gedoen het. Niemand weet waar Fiskaal bly of waar hy sy perd hou nie. ’n Hond sal die raaisel kan oplos.”

      “’n Mens sou so dink, ja, maar hulle het dit verniet by die ander plekke probeer. Sodra die honde ingespan word, verdwyn die skurk en duik ’n paar dae later in ’n ander distrik op … Moet ek iemand stuur om jou foon te kom regmaak?”

      “Nee dankie. As die draad net geknip is, kan ek dit self laat doen.”

      Wie ook al daardie aand in die kosskool rustig slaap, Smit is beslis nie een van hulle nie. Hy sluimer soms ’n bietjie in, maar lê meestal wakker. Toe die eerste oggendlig die kamer effens verhelder, staan hy op, vat sy handdoek en gaan saggies uit.

      Daar is ’n geniepsige windjie en die mis wat Keurboslaan dikwels omhul, hang laag oor die landskap.

      Smit hardloop vinnig na die waterkuile toe.

      Die hoof swem dikwels so vroeg, maar hy gaan soms na die swembad toe, en al sou hy nou opdaag, kan ’n mens dalk nog wegkom sonder om herken te word.

      Smit duik dankbaar in die koue water en toe hy opkom, voel hy ’n bietjie beter – totdat hy teen ’n ander swemmer bots. Dit sal ook net hy wees wat so ongelukkig is om die hoof hier aan te tref!

      Maar ’n sagte stem praat met hom.

      “Doktor Serfontein?”

      Smit glimlag verlig.

      “Kaptein Alwyn! Swem kaptein dan ook soggens?”

      “Baie min. Ek het gedink ek sal die hoof dalk hier raakloop.”

      Smit trap water.

      “Het kaptein ’n afspraak met hom hier?” vra hy gespanne.

      “Nee, en ek het boonop nie die reg om hier te swem nie.”

      “Doktor sal nie omgee nie.”

      “Wie is jy?”

      “André Smit. Ek het kaptein in die stad ontmoet, daai aand by die toneelstuk.”

      “O ja, nou onthou ek.”

      “As … as doktor kom, moet asseblief tog nie vir hom sê ek was hier nie!” pleit Smit.

      “Nee, ek sal my mond hou. Ek gaan in elk geval uitklim. Ek kry nou koud genoeg om te kan wakker bly.”

      “Het kaptein sleg geslaap?” vra Smit beleef.

      “Nee, ek is glad nie bed toe nie. Ek’t die hele nag gewerk.”

      “O, is Jan Fiskaal nog hier rond?”

      “Doktor Serfontein wil nie hê julle seuns moet allerhande stories hoor nie. . . Hoekom kom jy dié tyd van die oggend swem?”

      “Ek … wel, ek is bekommerd, toe kon ek nie slaap nie.”

      “Dis nou te sê! Ek mag nie slaap nie en jy kan nie!”

      Alwyn droog hom vinnig af en trek aan terwyl hy Smit ondersoekend aankyk. “Wat wil jy hê wat jy nie het nie? Die maan?”

      “Nee! Net ’n silwer beker … ’n wisseltrofee.”

      “Moenie my sê jy het een van die skool se trofees gesteel en verkoop nie?”

      “Nee, natuurlik nie! Ek is nie ’n dief nie.”

      “Oppas, ek het ’n seun geken – eintlik meer as een – wat dit ook gesê het, maar toe hard langs die pad geval het. As jy ooit daaraan dink om so iets aan te vang, onthou net: eenmaal verkeerd, altyd verkeerd! Ek wat ’n speurder is, sê dit vir jou.”

      Smit sidder, en nie net van die koue nie. Omdat die kaptein so selde ernstig praat, klink sy woorde nog meer indrukwekkend. Maar die speurder verander dadelik weer die stemming.

      “Gaan vra vir Sarnovitch op Greylingsdrift vir ’n beker. Hy het honderde wat hy vir biljart en skyfskiet gewen het. Party is nie gegraveer nie.”

      “Sarnovitch sal nie vir my nie ’n beker gee of leen nie, en al sou hy, het die hoof ons verbied om soontoe te gaan. Ek weet nie hoekom nie; dit kan tog nie so gevaarlik wees nie.”

      “O, nè? Ons het al nagte lank ’n wag daar by die hotel vir ingeval Jan Fiskaal die kluis probeer leegmaak. Daar gebeur dinge waaruit Sarnovitch lekker wins maak, maar wat gevaarlik kan wees vir die gaste. Die polisie kry net nie bewyse nie. Bly liewer daar weg.”

      Smit frons. Hierdie speurder is ’n vreemde mengsel van erns en lughartigheid.

      “Jy hoef nie so diep te staan en dink nie!” sê die kaptein nou weer spottend. “Ek is nie ’n moeilike mens om te verstaan nie. Elkeen van ons het goed sowel as sleg in hom. Weg is jy, hardloop terug skool toe voor iemand jou vang. Jy lyk vir my na die ongelukkige soort wat altyd gevang word as hy iets verkeerds doen.”

      Smit hardloop dankbaar terug koshuis toe.

      Hoekom het hy al sy geheime sommerso met hierdie man gedeel? Hy voel asof hy stadig wakker word nadat hy gehipnotiseer was.

      Die klok lui vir opstaantyd toe hy daar aankom. Hy gaan slaapkamer toe om aan te trek.

      Die ander seuns beweeg traag onder toesig van Jooste wat self nog half aan die slaap is.

      “Komaan, julle! Breda! Uit die bed uit! Waar kom jy vandaan, Smit? Het jy al klaar gebad?”

      “Ja.”

      Smit dink nie dis nodig om vir Jooste die waarheid te vertel nie.

      Dis nog vroeg dié oggend toe Danster agterkom die skoolhoof voel nie lekker nie. Dis natuurlik omdat hy die hele nag rondgery het. Nou weier hy boonop om te eet.

      “Dan maar net koffie vir doktor?” probeer Danster.

      Hy is gewoond aan die hoof se vreemde gewoontes, en hy weet doktor Serfontein eet soms dae aaneen nie, maar dis selde dat hy vir swart, bitter koffie nee sê.

      “Nee, liewer nie.”

      Hy probeer om geduldig te bly, maar die vonke spat toe Danster weer begin neul.

      “Los my in vrede!” sê hy. “Gaan sorg vir Heks as jy iets wil doen. Sy proes aanmekaar.”

      “Doktor het ver gery. Die perd is moeg,” sê Danster terwyl hy deur toe beweeg.

      “Ja.”

      “Het doktor na die duiwel op die swart perd gaan soek?”

      “Danster! Los my nou asseblief uit en maak die deur toe.”

      Die hoof sit voor sy tikmasjien, maar kry min gedoen. Sy ooglede voel swaar en hoe meer hy sy sakdoek moet gebruik, hoe meer vererg hy hom.

      ’n Vreesaanjaende kyk begroet Bornmann toe die hoofseun agtuur iets kom aflewer.

      “Dankie,” sê die hoof, “maar gewoonlik kom niemand soggens hierheen nie.”

      “Ek weet, doktor, maar dis die nuwe rooster.”

      Sy gelate rustigheid beïndruk die hoof wat hom so kwaai aankyk.

      “Koeksoda is goed vir verkoue, doktor.”

      “Wat maak ’n mens daarmee?”

      “Jy drink ’n teelepel vol in warm water. As jy dit van die begin af elke twee ure doen, word die verkoue nie erger nie. Net ’n oomblik, doktor.”

      Hy verdwyn en die hoof se wenkbroue lig terwyl hy sy aandag weer by sy werk bepaal.

      Twee minute later daag die hoofseun met ’n glas op.

      “Hier is dit, doktor. Ek het dit by Danster gekry.”

Скачать книгу