Скачать книгу

het nie ’n onnie aan nie.”

      Kuiken kom saam met my uit die kamerverlaat uit: ek in my onderbroek, Kuiken sonder sy hemp, in sy skoolbroek. Ek sal my onderbroek vir hom leen, het ek gesê, want hy is ná my in die ry.

      Die ander staan steeds voor die boekstoor in hul Jockey Juniors en wag.

      “Jy het groot marakkas, ou Kuiken,” sê Ratel. “Jy het dan nog platvoete ook. Hulle gaan vir jou van daai boots met die ysters gee wat die kreupeles dra.”

      Kuiken laat sak sy kop en druk sy lippe teen mekaar en vee oor sy wange.

      En toe swaai die boekstoor se deur oop, en daar staan sy, in ’n wit uniform, met ’n Tisco-horlosie aan ’n kettinkie op haar bors en ’n klaslys in die hand, terwyl ons hande byna instinktief afskiet na ondertoe, na ons toekomse toe.

      En sy is nie lelik nie. Sy lyk baie soos Kate Jackson, die een Charlie’s Angel.

      “Avenant, Lodewikus!” roep sy.

      Boenas steek sy hand op, dan gaan hy by die boekstoortjie in.

      “Jissie!” roep Dafel nog voor die deur weer mooi toe is. “Het julle haar gecheck?”

      “Gebou soos ’n pou, ek sê,” beaam Buys.

      Toe raak ons weer stil. Ons staan daar, terwyl die klanke van ’n klavier uit die musiekklas agter die kamerverlaat weerklink.

      Ná ’n rukkie kom staan Ratel by my. “Wil jy nie ruil nie, hè?” fluister hy. “Wil jy nie voor my ingaan nie? Please. Ek koop vir jou twee ice creams.”

      Maar voor ek kan antwoord, gaan die boekstoor se deur weer oop en Boenas kom uitgestap, met rooi wange. Die Skool-suster staan weer daar. Kate Jackson.

      “Bezuidenhout, Hendrik Johannes Casparus!” roep sy.

      Ratel draai om en stap na haar toe, maar toe Die Skoolsuster hom sien, wys sy na sy toekoms. “Nee, wag,” sê sy. “Jy kom nie met daai ding hier in nie. Gaan drink eers koue water.” Sy beduie na my. “Kom jy maar eers.”

      Toe, met my hande op my toekoms, stap ek by die boekstoor in.

      Ons mense

      Onthou Pa nog? Pa het altyd die aand voor Pa-hulle se vergaderings vir my en Ma gesê: “Ek gaan môre nie hier wees nie. As iemand vra waar ek is, sê net ek het gaan jag.”

      Dit was nogal moeilik op ’n dorpie soos ons s’n, Pa. Almal het mos almal se bewegings geken en fyn dopgehou – veral ons s’n in die pastorie.

      Ek glo nie ek het Pa ooit vertel nie, maar een Saterdag toe Pa weer weg was, het die telefoon gelui. Ma was ook nie by die huis nie. Ek het geantwoord. Dit was oom Dries wat van die hotel se tiekieboks af bel. Dronk.

      Oom Dries het Pa mos altyd gebel, dan moet Pa vir hom oor die telefoon bid.

      “Praat ek nou met die kleindominee,” het oom Dries sleep-tong vir my gevra. “Is jou pappie daar, ek sê?”

      “Nee, Oom,” het ek geantwoord. “Hy het gaan jag.”

      Oom Dries het ’n rukkie stilgebly, toe sê hy: “Gaan jag? In November. Skiet hom in die hol, pa. Ma wil die vel heel hê, ek sê. Dan moet jy maar vir my bid, kleindominee. Ek het gis-traand weer die tannie geklap.”

      Ek weet nie of Pa dit weet nie, maar ek was party Saterdagoggende al wakker voordat Pa-hulle donker-donker by die huis weg is na daardie vergaderings toe. Oom De Wet en oom Fanie en oom Piet het hulle karre mos agter die pastorie geparkeer, dan het hulle saam met Pa in die Valiant gery.

      Ek verbeel my Pa-hulle het altyd swart pakke aangehad. Is ek reg? Of onthou ek in clichés?

      Elke keer nadat Pa-hulle gery het, het ek vir Ma gevra: “Waar gaan Pa-hulle heen, hè, Ma?” En elke keer het Ma my dieselfde antwoord gegee: “Sommer nêrens nie.”

      Ek het probeer uitvind wat Pa-hulle gaan doen wanneer Pa-hulle so weggaan. Ek was tien, elf jaar oud, onthou. Ek was nuuskierig.

      Iets wat Pa nie weet nie; ek het in daardie tyd skelm foto-boekies gelees: Ruiter in Swart en Kid die Swerwer en Die Wit Tier – van daardies. Ons elkeen het maar ons geheime, nè? Ma het mos gesê ’n mens gaan blind word as jy daardie boekies lees.

      In ’n stadium, ja, sowaar, in ’n stadium het ek selfs gedink Pa en oom De Wet-hulle is soos Ruiter in Swart-hulle: Pa-hulle gaan help onskuldige mense wat iewers in die moeilikheid is, en bestel daarna ’n glas melk in die kroeg, nes die Ruiter in Swart.

      As jy elf jaar oud is, wil jy graag sulke dinge oor jou pa glo.

      Ek het in Pa se studeerkamer gaan krap op soek na leidrade – en iets gekry. In Pa se lessenaar se onderste laai was ’n boek: Orgie van André P. Brink. Daar was ook so ’n dun blou blaadjie, voorop het gestaan: Die Illuminati Komplot. Ek het dit probeer lees. “Die Sataniese komplot is in die 1760’s van stapel gestuur toe ’n geheime organisasie met die naam die Illuminati tot stand gekom het,” het daar onder meer gestaan. “Die Rothschilds van Amerika finansier die Illuminati en die organisasie probeer beheer verkry oor mense wat reeds hoë posisies beklee op verskillende regeringsvlakke en ander terreine.”

      Ek het nie alles mooi verstaan nie. Maar ek het gewonder: Is Pa en oom De Wet-hulle nie dalk lid van hierdie Illuminati-organisasie nie?

      Ek onthou, Pa en oom De Wet-hulle het gewoonlik dieselfde dag teruggekom by die huis. In die donker. Maar oom De Wet en oom Fanie en oom Piet het nie ingekom vir koffie nie. Hulle het dadelik weer gery. Dit was of Pa-hulle bang was mense sien Pa-hulle saam.

      Pa het niks gesê oor wat Pa-hulle die hele dag gedoen het nie en Ma het Pa ook nie uitgevra nie – nie voor my nie, altans.

      Ek het wel eenkeer gehoor hoe praat Pa met Ma oor meneer Human, die skoolhoof. “Hy is ook een van ons mense,” het Pa vir Ma gesê.

      Daarna het ek dikwels gehoor hoe praat Pa-hulle van “ons mense”.

      Ek het nie geweet wie hierdie Ons Mense is nie, maar ek het mettertyd, soos ek groter word, agtergekom wie nié Ons Mense was nie: Oom dronk Dries en die ander ooms met die rooi neuse wat graag by die hotel kuier, is nie Ons Mense nie.

      Taki die Griek van die kafee is ook nie Ons Mense nie. Engelse is ook nie Ons Mense nie, ook nie swartes, kommuniste, Chinese, Kubane, Rooms-Katolieke, Moslems, Jehovasgetuies, hippies, filantrope, homoseksuele en Helen Suzman nie.

      Eenkeer het oom De Wet ook vir Pa by ’n vleisbraai gesê: “Frik du Preez sal nooit Springbokkaptein word nie, want hy is nie een van Ons Mense nie. Maar wees gerus: Dawie de Villiers is een van Ons Mense.”

      Het Pa ooit vir Ma vertel wat op daardie vergaderings gebeur het?

      Was Ma ook een van Ons Mense?

      Een keer per jaar, onthou ek, het Pa en oom De Wet-hulle vir twee of drie dae weggegaan, en wanneer julle teruggekom het, het julle elkeen ’n kissie druiwe huis toe gebring. Op die kissie het altyd gestaan: Moosrivier.

      Moosrivier, het ek later eers uitgevind, was die plaas van minister Hendrik Schoeman naby Marble Hall. Julle het jaar-liks daar saamgetrek. Of hoe?

      En dan was daar die keer toe Pa-hulle in die pastorie vergadering gehou het.

      Ma het ’n melktert en scones gebak en haar Noritake-stel uit die side-board gehaal. Sy het alles op die eetkamertafel reggesit, onder ’n net. Sy het ook water gekook en in flesse gegooi, want Pa het gesê Pa-hulle sal vir Pa-hulle self koffie en tee skink, dit sal beter wees as Ma nie haar gesig wys nie.

      Oom De Wet-hulle het gekom en agter die huis parkeer en toe het ek en Ma onsself in die kamer gaan toemaak. Ons het na die aandstorie oor Radio Suid-Afrika geluister en Ma het geborduur aan ’n skinkbordlappie en ek het ’n Meccano-toring gebou, terwyl Pa-hulle se stemme dof dreun, soos daardie onverstaanbare stemme wat mens altyd oor kortgolfstasies oor die radio gehoor het.

      Later het ek langs Ma op die bed aan die slaap geraak en later

Скачать книгу