Скачать книгу

haar sodat sy glad nie die man kan sien wat bo haar uittoring nie. Dit moet ’n flitslig wees, want hy skakel dit aan en af. Haar hoofpyn raak net nog erger en haar oë steek soos naalde. Sy wil om hulp roep, maar al wat uitkom, is ’n gemompel agter wat sy dink kleefband moet wees.

      Siembamba …

      Die hooflig word aangeklik en Deirdre kan nie anders as om haar oë teen dié nuwe helderheid toe te knyp nie.

      “Maak oop jou oë, Mamma. Pappa is hier.”

      Haar liggaam begin ruk en sy voel hoe trane deur haar ooglede beur. Sy is bang. So verskriklik bang. Te bang om hom in die oë te kyk.

      “Ek sê: maak oop jou oë.”

      Toe sy aan die ken gepluk word, gehoorsaam sy.

      Wat sy sien, is vir ’n oomblik onbegryplik. Absurd.

      Die spierwit duiwelsgesig het hoë wangbene, sterk gelaatstrekke. Dik swart wenkbroue, ’n gekrulde snor en ’n dun bokbaardjie rond dit netjies af. En dan is daar die breë glimlag. Grieselig en diabolies. Oor sy hare is ’n sykous getrek en die masker keer dat sy kan sien of dit oor sy gesig ook strek.

      Dit is ’n V for Vendetta-masker. Soos die een wat die internetwaghond Anonymous gebruik.

      Die man se jeans span styf oor sy bobene. ’n Uitgewaste T-hemp waarop ’n woord in hoofletters gedruk is, hang los oor sy bolyf. Deirdre kan nie mooi uitmaak wat die woord is nie, dit kan ’n handelsmerk of slagspreuk wees. Sy seilskoene is kraaknuut. Dit lyk asof hy dit vir die eerste keer aanhet.

      Hy sak op sy hurke en blaas liggies op haar wang deur die mondkeep in die masker. Sy ril vir die sweetreuk wat steeds om hom hang.

      INVINCIBLE

      Dit is wat op die T-hemp staan. Sy sien dit nou duidelik, hou haar blik daarop gerig. Die kleur het al uitgegaan, verskilferde letters wat haar herinner aan ou graffiti.

      Sy draai haar kop van sy vrank asem weg.

      Hulle moet in ’n vervalle ou werkswinkel wees. Oral teen die mure hang gereedskap aan spykers. Hamers, tange, sae, ’n koevoet, kwaste. ’n Paar blikke verf en spuitverf staan op die vloer. En dan is daar die enorme draaibank, ’n paar skroewedraaiers wat los rondlê.

      Iets heeltemal onverwags vang haar oog: ’n A2-grootte plakkaat, ongeraam, is met kort stukkies maskeerband teen een van die mure vasgeplak. Sy herken dit as ’n afdruk van ’n Klimt-skildery. ’n Sensuele rooikopvrou lê in die fetale posisie. Oorgegee aan lomerigheid en haar donkerste instinkte, word sy binnegedring deur die goddelike goue storting van bo; ’n eindelose stroom ornamentele munte wat tot in haar dieptes vloei. Haar geslote oë is skaars sigbaar tussen die woeste penmerke wat op haar gesig aangebring is.

      Nog meer ontstellend is die kleurfoto’s. Al om die plakkaat, van swanger vroue. Maklik honderd daarvan, lukraak geneem, ongeposeer. Op straat, langs die strand, by winkels. ’n Voyeuristiese orgie.

      ’n Entjie van die tafel af en direk op Deirdre gerig, blink die rooi ogie van ’n videokamera.

      “Ek weet nie hoekom jy huil nie,” kom die man se stem dof van agter die masker. “Dit is ’n spesiale dag. Vir ons albei.”

      “Mmm … mmm,” kreun sy en wil haar oorgee aan die hitte wat in haar opstoot. ’n Naderende floute. En dan wil sy nooit weer wakker word nie.

      “Vandag is die dag.”

      Deirdre kreun weer. Sy moet iets begin doen, ’n mate van beheer terugkry. Maar wat?

      Daar kan geen twyfel wees nie. Hy is ’n baie siek mens, heeltemal versteur. En hy gaan iets grusaams aan haar doen. Haar verkrag, waarskynlik vermoor. Miskien is dit beter as sy sover moontlik voorgee dat sy nie geïntimideer is nie, dat sy haar lot dapper en vreesloos tegemoet gaan. Dalk moet sy hom reguit aankyk, masker ofte nie, dan voel hy skuldig as hy weet dat sy hom sien, régtig sien. As daar êrens binne hom ’n gewete skuil. Iets wat sal keer dat hy haar lewe beëindig.

      “Ek kan nie hoor wat jy sê nie,” terg hy. “Wag, ek help jou.”

      Hy pluk die bedekking van haar mond af. Sy hoor die skeurgeluid, voel hoe fyn haartjies uitgepluk word. Eers toe sy sien dit is wel kleefband in sy hand, registreer sy die pyn. Haar lippe brand soos vuur.

      Deirdre asem hard in en uit, raak aan haar mond. Sal iemand kan hoor as sy …

      “Moenie eens daaraan dink om te skreeu nie. Dit gaan jou niks help nie. Hier is niemand nie. Dis net ek en jy.”

      “Wat wil jy van my hê?” Haar keel is rou en kurkdroog. “Water … Kan ek ’n bietjie water kry, asseblief?”

      “Nie nou nie.”

      “Asseblief,” dring sy aan. “Ek sterf van die dors.”

      “Nie nou nie.”

      Hy streel saggies oor haar hare en sy kan weer sy asem ruik. Dit het versnel.

      “Wat wil jy van my hê?” vra sy weer, dringender.

      “Ek weet jy wil weet. Maar ek gaan jou nie sê nie.”

      “Wat wil jy hê!” Sy wil histeries word en sy kan dit hoor ook.

      Hy lag lelik en antwoord toe doodluiters: “My kind, natuurlik.”

      “Liam?” sê-vra sy versigtig.

      Hy klap haar deur die gesig.

      “Nee! Nie Liam nie – Pappa.”

      Deirdre skud haar kop, kry min of meer weer gefokus. Dan sien sy nog ’n paar dinge in die werkswinkel.

      Onder al daardie foto’s teen die muur staan ’n metaaltafel met ’n hele klompie glasbottels van verskillende groottes daarop. Een daarvan – die soort wat gebruik word vir plaaskonfyt of om vrugte in te lê – is gevul met vloeistof en ’n voorwerp wat sy nie kan uitmaak nie. Daar is ook babaprodukte op die tafelblad. Poeier, weggooibare doeke, verskeie flessies met salf en olies, asook die sponsoppervlak waarop ’n kindjie drooggemaak kan word. ’n Paar sagte speelgoedjies, een daarvan ligblou, lê daarnaas. En ’n entjie weg staan ’n wiegie met kantomhangsels.

      Deirdre weet ook nou waar die wiegeliedjie vandaan kom. Dit teem onverpoos uit luidsprekers aan weerskante van die tafel; ’n kleinerige CD-speler is tot teenaan die muur geskuif, bo-op die blad.

      Die ratte wat al vandat sy haar bewussyn herwin het in haar kop begin draai het, kliek met een slag saam. Sy wou dit met alle mag ontken, maar kan nie meer nie. Dit is ’n werklikheid dat sy in die kloue van die moordenaar beland het.

      Die afgryslike beeld van Hanna op die strand, soos Liam dit beskryf het, kom by haar op. Dit is wat vir haar voorlê. Dié man gaan haar buik oopslag en vir Fionn uithaal. Dit is sy werkswyse. En dan gaan hy kwistig goue verf in die gapende wond aanbring. Sy handtekening op haar lyf maak. En haar borste …

      Vir die res is daar nie plek in haar kop nie. Dit is reeds meer as wat enigeen kan verduur.

      Nee. Sy sal dit nie toelaat nie.

      “Jy gaan nie aan my, en veral nie aan my kind raak nie,” sê Deirdre kalmer as wat sy gedink het moontlik is. “Hoor jy my?”

      “Oor jou dooie liggaam?” terg hy. “Jou bestelling is geplaas.”

      Waar sy die moed vandaan kry, weet sy nie, maar sy antwoord ferm: “Ek sal hom tot my laaste asem toe beskerm, dit belowe ek jou. Ek het nog nie ’n idee hoe nie, maar ek sal. Dit is mý kind, nie joune nie.”

      Haar woorde bring hom effens van stryk en sy hoor hom sluk.

      “Dit is my kind ook.”

      “Nee, dit is nie. En jy weet dit.”

      Hy begin kerm. Eers saggies, maar dan soos ’n hond wat tjank. Toe bou dit op tot hy briesend uitroep: “Dit is my kind óók!”

      Sy wonder of sy hom verder durf teëgaan, maar daar is iets binne haar wat weier om op te hou.

Скачать книгу