Скачать книгу

ek is terug!” roep hy vrolik uit. “Mamma?”

      Daar is die geluid van sy seilskoene soos hy na binne beweeg. Dit hou op.

      Die oop venster. Hy moes dit gesien het en nou dink hy sy is weg.

      Sy voetstappe beweeg vinnig in daardie rigting. Daar is die geklingel van metaal; hy moes die koevoet omgeskop het. Sy kan nie sien of hy by die venster uitkyk nie, maar hoor hom onderlangs vloek. En toe klap sy voetstappe in die gang af. Buitentoe.

      Sy hoor geeneen van die deure toegaan nie. Sy woede het hom weer nalatig gemaak.

      Nóú. Dit is tyd om uit hierdie hool te kom.

      Fionn …

      Wat van hom? Moet sy hom net hier los, in die bottel? Sy kan hom tog nie saamneem nie, of kan sy? Nee, sy sal hom hier moet los. Om heeltyd die bottel te moet vashou terwyl sy vlug, is onsinnig. Dit sal in die pad wees, sy kan nie die kans waag nie. Maar … Nee. Hy is nie die Fionn waartoe hy moes ontwikkel het nie. Sy moet daardie lewelose fetus agterlaat, anders kan sy alles netsowel laat staan.

      Angsbevange maar doodstil beweeg sy in die gang af, die skroewedraaier in haar hand vasgeklem. Toe is sy by die deur uit.

      Voor haar sien sy in die dowwe maanlig ’n grondpad wat deur digte bome kronkel. Die man is daar, sy hoor hom roep voor sy hom gewaar.

      “Mamma, waar is jy? Ek sal jou kry! Jy sal nie wegkom nie.”

      Deirdre moet haarself in die donkerte aan die kant van die huis klein maak toe hy terugdraai en in ’n motor spring. Die enjin vat en hy trek weg, af met die grondpad. Selfs in die skraps maanlig kan sy stof agter die voertuig sien opslaan. Sy kon egter niks spesifieks omtrent die motor uitmaak nie, nie eens die kleur nie. Tog wou dit bekend voorkom.

      Daar is nie tyd om daaroor te tob nie. Hy is besig om haar te soek – ’n jagter wat sy prooi agternasit.

      Toe sy seker is dat hy haar nie in die truspieëltjie sal kan sien nie, hardloop sy tot tussen die bome. As hy terugkom, sal sy hom sien voor hy háár sien. Die motor se ligte sal hom verraai en dan sal sy wegkruip. En aanbeweeg. En wegkruip. Kat-en-muis totdat sy veiligheid bereik.

      Haar liggaam kan egter nie veel meer vat nie. Deirdre weet dit is nie lank voordat sy gaan inmekaarstort nie. Maar sy sal aanhou tot dan, dit belowe sy haarself.

      Sy sukkel deur die lang gras. Droë takke krap haar kaal bene en haar voetsole is al gaar, want haar skoene is sag en nie van die stewigste nie. Sy kom egter nie vir ’n oomblik tot stilstand om te rus nie. Sy kan dit nie bekostig nie.

      Bly aan die beweeg, moenie ’n stilstaande teiken word nie, por sy haarself aan.

      Tussen die bome gewaar sy ligte en dit spoor haar nog verder aan om deur te druk. Dit lyk soos straatligte en kan nie meer ver wees nie. Sy moet net uithou.

      En toe, uiteindelik, die pad.

      Sy staan op die strook grond langs die teerpad en sien kopligte aankom. Haar hart hamer in haar bors. Sê nou dit is hy?

      Die ligte kom nader. Verblind haar byna. Sy voel soos ’n nagdiertjie wat in ’n soeklig vasgenael is, heeltemal te lam om te beweeg.

      Dit maak ook nie meer saak nie.

      Die laaste bietjie energie verlaat haar. Toe die motor langs haar tot stilstand kom, gaan haar hand oop en besef sy dat sy nog die hele tyd die skroewedraaier vasgehou het. Sy hoor dit val.

      Dan vou haar bene onder haar in.

      HOOFSTUK 6

      Spierwit.

      Dit is wat Deirdre sien toe sy haar oë oopmaak.

      Oral is dit wit, behalwe vir die kort pastelgeel gordyne links van haar wat voor ’n venster hang. Ook die man met die fronsende gesig aan die ander kant van die bed dra ’n wit oorjas.

      Dit neem ’n paar sekondes voordat sy besef hy is ’n dokter – en die plek waar sy haar bevind ’n hospitaal. Toe sy om haar kyk en sien sy lê in ’n privaatsaal, spoel daar ’n gevoel van ontsaglike verligting oor haar.

      “Mevrou,” sê-vra die dokter en toe sy nie reageer nie, kom dit meer dringend: “Mevrou?”

      Hy moes haar trouring gesien het.

      Sy rig weer haar oë op hom, voel die dowwe klop in haar slape en wag dat hy moet voortgaan.

      “Mevrou, ek is dokter Halgryn. En u is in die hospitaal op Hermanus. Hoe voel u vanoggend?” Hy kyk ondersoekend na haar, amper asof hy verwag dat sy iets moet verduidelik.

      “Hoe het ek hier gekom?” vra sy en haar stem klink hol.

      “Om die waarheid te sê, dit is wat ek by u wil uitvind,” antwoord hy egalig, maar sy bespeur tog ’n waaksaamheid. “Van die personeel het u glo laas nag in ’n erge toestand voor die ongevalle-ingang aangetref. Die portier het u onmiddellik in ’n rystoel gesit en ingebring. Verder weet niemand van sout of water nie. Onthou u niks daarvan nie?”

      “Iemand het my opgelaai …” begin sy stamelend. “Ek weet nie wie …”

      Toe raak sy aan die bewe. Dit kom alles terug, so helder.

      “Kom ons los dan maar eers die moeilike vrae vir later.”

      Sy weet die dokter probeer haar gerusstel, maar sy word nie kalmer nie. Hy wink ’n verpleegster nader en vra dat sy ’n inspuiting moet voorberei.

      “Kan u vir my sê wat u naam is?” wil hy nog weet toe die verpleegster reeds ’n naald in haar arm druk.

      “O’Brien. Deirdre O’Brien,” antwoord sy en vryf oor haar keel.

      “En waar woon u?”

      “Murraybaai,” kry sy uit voordat sy weer in ’n donkerte wegsink.

      * * *

      Die beelde wat voor haar afspeel, skep saam ’n skrikwekkende indruk, soos in ’n rillerfliek. ’n Koevoet. ’n Stuk elektriese koord. Maskers wat grynsend deur glasbottels vir haar loer. ’n Oop venster. Bome, digte bome. ’n Lywige, sensuele rooikopvrou op purper linne. Naelstringe wat op die vloer lê en krul soos slange. Goue reën. ’n Skalpel. En sy dink aan die woord “Siembamba”. En “Pappa”.

      Niks maak sin nie. Sy onthou, maar onthou ook nie. Dit is ’n droomwêreld waarin sy haarself nie kan vind nie. Sy tas rond, vasgevang soos in ’n glashok met die waarheid koggelend aan die ander kant. Dit is daar, maar buite bereik. Al wat werklik en eg is, is haar lyf en die deurdringende pyn wat daarin woed.

      Sy raak weer bewus van ’n intense leegheid. Vryf oor haar opgehewe onderbuik, nou net ’n holte waarin geen lewe meer groei nie. Dit gaan die een of ander tyd na die normale toestand terugsak, asof daar nooit iets binne-in was nie.

      Fionn.

      Sy leun oor en druk die rooi knoppie langs die bed.

      Voetstappe kom haastig in die gang af en die jong verpleegstertjie loer by die deur in. “Mevrou? Kan ek help?”

      “Gaan roep die dokter, asseblief. Maak gou!”

      Die verpleegster hoef haar egter nie te gehaas het nie. Dokter Halgryn moes in die omtrek gewees het, want hy verskyn binne ’n halfminuut langs Deirdre se bed.

      “Mevrou O’Brien, wat makeer? Het u pyn?”

      “Ons moet die polisie so gou moontlik hier kry. Dit was hy!”

      “Wie?”

      Deirdre hou nie van die manier waarop hy na haar kyk nie. Hy dink sy yl, sy kan dit sien. Dat sy haar varkies verloor het.

      “Die moordenaar. Dit was hý!” roep sy uit.

      Hy kyk na die verpleegster, wat nader staan met ’n spuitnaald, maar Deirdre hou haar hand omhoog.

      “Moenie my inspuit nie! Ek onthou. Dit wás die moordenaar.”

      “Waarvan

Скачать книгу