Скачать книгу

section>

      

      Azille Coetzee

      ’n Reis

      TAFELBERG

      Wie ben ik?

      Dis nog ’n Vrydagaand in Amsterdam.

      Ek sit in my gunstelingkroeg, Festina Lente, op die Prinsengracht. Buite is dit yskoud, pikdonker en papnat, maar binne, met die swaar fluweelgordyne, die verhitting, en al die asems en lywe, is dit heerlik gesellig.

      Festina Lente is ’n sogenaamde “bruin” kroeg, ’n verwysing na die donkerbruin hout waarvan die kroegtoonbank en vloere van die oudste kroeë in Nederland gemaak is, en die bruin rookvlekke teen die mure. Die besoekers is vanaand meestal Nederlanders. ’n Paar ou alkoholiste van die buurt sit in die een hoek en kaart speel, en by die kroegtoonbank staan ’n klomp jong hipsters met wit T-hemde, stywe broeke en oop enkels. Dis lekker luidrugtig, want die meeste mense is al hier van direk ná werk. Ek sit by die kroegtoonbank en drink ’n glas wyn terwyl ek vir ’n vriendin wag.

      Dan staan hy langs my, ’n mooi jong Nederlander – tipies van sy soort: lank en slank, met ’n golwende blonde kuif en ’n ironiese glimlag.

      “Heb je het naar je zin?” vra hy. Ek aarsel, soos wat ek deesdae altyd doen in oomblikke soos hierdie. Antwoord ek in my onsekere Nederlands, is ek baie minder sexy. Maar antwoord ek in Engels, dan lyk ek soos net nog een van die duisende toeriste in die stad. In beide gevalle ontmasker ek myself as buitelander die oomblik dat ek my mond oopmaak. En, het ek al geleer, daar is twee soorte jong enkellopende Nederlanders in Amsterdam se kroeë: die soort wat glad nie belangstel as hy besef jy is ’n toeris of ekspat nie, en die soort wat dan méér belangstel, maar op ’n ander manier. Albei soorte neem jou minder ernstig op, maar die tweede soort vind jou ook ’n bietjie eksoties en sien die potensiaal van ’n sagte teiken. Laasgenoemde reaksie is natuurlik nie veel beter as die eerste een nie, maar dit gee ’n mens baie meer om mee te werk.

      Ek stel my onvermydelike ontmaskering as buitelander nog ’n paar sekondes uit deur geen antwoord te gee nie, maar effens verleidelik te glimlag en te knik. Met my lengte, ligte hare en blou oë kan ek deurgaan as Nederlands, solank ek nie my mond oopmaak nie. Maar, hy is klaarblyklik gesout in hierdie soort kroeggeselsies en lees my aarseling en stilte heeltemal reg: “Oh sorry, I thought you were Dutch. I was asking, are you having a good time?”

      Half verlig en half verleë antwoord ek in Engels, terwyl ek myself stilweg verwyt dat ek ná ’n jaar in Amsterdam nog nie beter Nederlands kan praat nie. Maar gelukkig is hierdie Nederlander van die tweede soort, en lyk hy glad nie afgesit nie.

      “Where are you from?” vra hy.

      “South Africa.”

      En dan kom dit, die ongelowige reaksie: “But you are white! Where are you really from, originally?”

      A! Die prysvraag.

      Op nog ’n Vrydagaand in Amsterdam, soos baie ander van sy soort, kom ek weer eens te staan voor die vraag wat sny tot op die been van die wit Suid-Afrikaner. Waar kom ek vandaan?

      Wie is ek?

      ’n Paar uur later sit ek agter op die blonde Nederlander se fiets terwyl hy hard huis toe trap deur die stil, reënerige strate van die stad. Ek is nog steeds nie gewoond aan hierdie fietsryery nie. Fietsry maak sin op ’n mooi somersdag, maar dit voel absurd in die nag in weer soos hierdie, vlae yskoue reën wat deur al jou klere dring in die stormsterk wind. En hierdie weer is natuurlik glad nie die uitsondering nie. Dis die protestantse aandrang op eenvoud en spaarsamigheid en die trots wat hulle in swaarkry vind, spekuleer C altyd. Selfs om te stap is vir my beter, dis wat ek deesdae doen, ná te veel slegte ervarings op my fiets in die reën. Dis nie dat ek so gereeld val nie (nog net twee keer sover). Dis op my fiets, wanneer ek onervare en stadig maar seker my pad probeer vind deur die nat strate van hierdie land, tussen die haastige, selfversekerde Nederlanders wat jou sarkasties op jou plek sit as jy ’n draai te stadig vat, dat ek die meeste bewus is van my vreemdelingskap. Selfs hier, verál hier, faal ek in omgewingsvriendelike Europeesheid, in klokgebonde effektiwiteit, in vreeslose en selfversekerde Nederlandsheid.

      Maar dis heerlik as ’n Nederlander aanbied om vir ’n mens ’n lift te gee. Dan rits ek deur die strate soos iemand wat grootgeword het op ’n fiets, met spoed, ratsheid en doelgerigtheid. Ek het êrens heen om te gaan en ek weet hoe om daar te kom, doeltreffend en heeltemal ongeïntimideerd. Met die warm liggaam voor op die fiets wat my afskerm van die reën, die wyn in my lyf en die kanale wat blink in die straatlig, voel ek, dít is nou die lewe.

      Hiér is waar ek moet wees.

      Ek is in Amsterdam om ’n PhD in filosofie aan die Vrije Universiteit te doen. Ek het ’n visum en ’n beurs vir 22 maande, maar het reeds besluit dat ek vir ewig hier wil bly. Vir iemand soos ek, wat bang is vir dit wat ek nie kan beheer nie, wegskram van onsekerheid en gebuk gaan onder die skuld van witheid, is Nederland ’n droom. ’n Groot pretpark vir middelklas- wit mense, waar my wit vel nog lelieblank onskuld uitstraal, waar bevoorregting calvinisties geïnterpreteer word as die welverdiende vrug op harde werk, en waar ’n mens op alles kan vertrou om volgens plan te verloop.

      ’n Stiptelike, ordelike en voorspelbare bestaan.

      Hierdie is nie die eerste Europeër wat nie weet dat daar ook wit mense in Afrika is nie. En op grond hiervan my persoonlike selfverstaan op so ’n onvanpaste manier in twyfel trek nie.

      Dié soort bevraagtekening maak baie sin in Europa en veral in Nederland, waar ’n mens nie maklik jouself Nederlands kan of mag noem nie. Vir die Nederlanders is herkoms, ongeag hoeveel generasies van jou familie al in Nederland woon, deurslaggewend vir identiteit, veral as jy nie heeltemal wit is nie.

      So, as die blonde Nederlander in Festina Lente nie my aanspraak op Suid-Afrikaansheid, op ’n Afrika-identiteit, wil aanvaar nie, dan weerspieël dit hierdie koloniale fiksasie met rasse- of etniese herkoms. Maar dit bring ons by ’n groter probleem. Want as ek dan sou sê dat die eerste lede van my familie driehonderd jaar gelede uit Zeeland (of waar ook al) Kaap toe is, sou dit impliseer dat ek eintlik Nederlands is, en – sien ek ook in sy glimlag – dit is duidelik nie die geval nie.

      Ek is te wit vir Afrika, maar nie heeltemal “wit” genoeg vir Europa nie.

      In Suid-Afrika word my tuishorendheid voortdurend in twyfel getrek, deur wit Suid-Afrikaners sélf, wat ons witheid as teken van ons Europeesheid beskou. En deur baie swart Suid-Afrikaners wat uit begryplike woede en misnoeë ’n beroep doen op wit Suid-Afrikaners, wat nog steeds meestal ’n monopolie het op land, hulpbronne en voorregte, om liewer pad te vat “terug” Europa toe.

      Nie eens in my Afrikaansheid self vind ek ’n maklike antwoord op my identiteit nie. As ek sê ek is ’n Afrikaner, dan is dit ’n aanspraak wat verwarring, en baie ander moeilike emosies, soos skaamte en skuld, oproep. As “progressiewe” Afrikaner distansieer ek my van die meeste dinge wat “tradisioneel Afrikaans” is omdat dit so duidelik die afdruk van die ou Afrikanernasionalisme toon. En, behalwe daarvoor, is “tradisionele” Afrikaanse kultuur opmerklik uncool.

      Trouens, wat ís ons kultuur? Is dit al die boeretradisies (daardie two-tone hemde?), en die godsdiens? Is dit die boerekos? Is braai al wat oorbly? Die kontemporêre Afrikaner-identiteit bestaan in ’n soort kulturele leegte. Ek het geen tradisionele kulturele register waarin ek tuis voel en wat polities heeltemal aanvaarbaar is nie.

      Omdat so baie mense in postapartheid-Suid-Afrika besig is met belangrike en moeilike identiteitskuiwe, het ek nie besef dat daar groepe mense is wat so seker is van wie hulle is, en so trots op hul kultuur en taal is, soos die Nederlanders nie. Die Nederlanders wéét wie hulle is. Hulle weet waar hulle vandaan kom en waarvoor hulle staan. Hul taal en kultuur is ondubbelsinnig, en skaamteloos, húlle s’n. Hulle kan wel spot met dit wat “gewoon echt Nederlands” is, ironies daarmee omgaan, of soms aspekte daarvan bevraagteken,

Скачать книгу