Скачать книгу

en dan noem dat Piet Retief afgeslag is omdat hy met die swart mense probeer onderhandel het. Dit was God se straf omdat hy ongehoorsaam was aan die Skrif. Volgens Jan se interpretasie van die Bybel verbied God enige onderhandelings met iemand wat nie van dieselfde volk as jy is nie.

      Hy was ’n rassis. Toe ek op sy plaas gaan woon het was daar geen swart of bruin werkers daar nie, net die Hammonds, wat sekere take verrig het wanneer nodig. Jan was ’n stigterslid van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) in die ou Suidwes-Afrika. Hy het die k-woord openlik gebruik en gereeld teen die nuwe regering uitgevaar. Die enigste leesstof op die plaas was Adriaan Snyman se boeke oor die Boereprofeet Siener van Rensburg en erg rassistiese boeke wat voorspel het dat die swart mense die land gaan opneuk. Jan het baie sterk gefokus op sekere gedeeltes uit die Ou Testament, byvoorbeeld Deuteronomium 7 en 14 wat jou waarsku om nie met mense te trou wat nie van jou volk is nie, en ook nie toe te laat dat hulle oor jou heers nie. Die Nuwe Suid-Afrika en die nuwe swart regering was vir hom ’n reuse-doring in die vlees.

      Een van die gewilde teksverse was Deuteronomium 17:15: “Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel. Jy mag nie ’n uitlander, iemand wat nie uit jou volk is nie, as koning aanstel nie.” Om die kampvuur het die toekomstige terroriste besluit om swart en bruin mense met die “banvloek te tref”, want God verbied dit in sy Woord dat hulle oor Sy wit volk mag regeer. Hulle moes dus uitgemoor word.

      Daar is ook teksverse aangehaal waarin ’n verbod geplaas word op die oprig van tempels in jou land waarin ander gode aanbid word. Dan het hulle gesels oor al die moskees en groot kerke van ander geloofsgroepe wat volgens hulle ’n gruwel in die oë van die Here was. Omdat die Afrikanervolk toegelaat het dat hierdie tempels opgerig word, word hulle so gestraf, het hulle geredeneer.

      Nog ’n tema wat gereeld opgeduik het, is Pinehas. Hy was ’n priester in die Ou Testament en een van Eli se seuns. ’n Israeliet het met ’n vrou van ’n ander geloof geslagsgemeenskap gehad en Pinehas het ’n spies gevat en hom deurboor. Daarvoor het God Pinehas geseën. Ons het geglo dat God ons ook sal seën as ons iets soortgelyks doen.

      Een van my gunsteling-onderwerpe was die geskiedenis van die Boerevolk. Ons het veral baie sterk oor die Gelofte van 16 Desember 1838 gevoel en Geloftedag as ’n Sabbatdag herdenk. Ons het op dié dag bymekaar gekom en Jan het die Gelofte voorgelees soos wat ons voorvaders dit so lank gelede gedoen het. Ons het ook die Paardekraal-gelofte wat op 16 Desember 1880 afgelê is, voorgelees en herbevestig. In daardie voorafgaande week het tussen 6 000 en 8 000 burgers van die ou Zuid-Afrikaanse Republiek op Paardekraal, MW Pretorius se plaas in die distrik Krugersdorp, bymekaar gekom in reaksie op die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) deur Groot-Brittanje. Ons het besluit om die Vierkleurvlag van die ou ZAR as ons enigste landsvlag te erken.

      Jan het dit so aan my verduidelik: God het die wit mense in Suid-Afrika uitgekies as sy uitverkore volk. Wat in daardie tyd in die land aan die gebeur was, was dus ’n euwel in God se oë. Dit was duidelik dat die uur aangebreek het om op te tree teen alles wat in die land aan die gang was en God bedroef. Ons sou God se wapen word om dinge om te keer.

      Jan het my van ’n skaam teruggetrokke seun in ’n selfversekerde man verander. Vandag is daar talle boeke oor manwees omdat so baie mans hiermee wroeg. Ook oor wat jong mans daartoe dryf om haatmoorde te pleeg. Wat maak dat ’n gewone, intelligente seun in ’n moordenaar verander?

      In Maart 2018 het die 23-jarige Amerikaner Mark Anthony Conditt verskeie bomme in Austin, Texas laat ontplof wat die lewe van twee mense geëis het. Toe die polisie hom vastrek, het hy homself opgeblaas. Ondersoekers het waarskynlik presies geweet wat die bomme laat ontplof het, skryf Clint van Zandt, ’n voormalige FBI-agent, agterna in die aanlyntydskrif The Atlantic. Maar wat het in Conditt se kop gebeur wat hom tot sy daad gedryf het?

      In ’n artikel op die webblad Cracked wil die Amerikaanse joernalis Robert Evans weet wat iemand daartoe laat oorgaan om onskuldige burgerlikes dood te maak. Hy het ’n voormalige bomplanter van die Ierse Republikeinse Leër (IRL), Shane Paul O’Doherty, gevra.

      Jong mense word gewoonlik gewerf, het O’Doherty gesê, omdat volwassenes ’n werk, ’n gesin en verantwoordelikhede het. Daarom word 17- en 18-jariges as soldate vir die IRL en ander terreurorganisasies soos Al-Qaeda gekies – ook die Amerikaanse marinierskorps se rekrute kom uit dié ouderdomsgroep. “Hulle het baie energie en jy hoef hulle skaars te betaal.”

      Donovan Webster, ’n Amerikaanse joernalis, stem saam. Elke militêre aanvoerder weet hoe maklik dit is om ’n tienerseun wat daarna smag om deel te wees van iets groots in ’n moordmasjien te verander, skryf hy in sy artikel “The Making of a Sniper” in die tydskrif Vanity Fair.

      Ek neem volle verantwoordelikheid vir my aandeel aan die bomontploffings. Tog voel ek dat Jan sy ere-rol as vaderfiguur veragtelik misbruik het om my in ’n koelbloedige moordenaar te verander. Dieselfde het met my gebeur as wat met die 17-jarige Lee Boyd Malvo gebeur het. Malvo het in Oktober 2002 saam met die ouer oorlogsveteraan John Allen Muhammad tien mense in Washington DC, Amerika doodgeskiet.

      Carmeta Albarus, ’n maatskaplike werker, het in die hof getuig dat Malvo na ’n vaderfiguur in sy lewe gesmag het en toe met Muhammad deurmekaar geraak het. Dié het die seun gebreinspoel, rassehaat in hom aangeblaas en die ontvanklike tiener in ’n woedende, koelbloedige moordenaar verander wat absoluut niks vir sy slagoffers gevoel het nie.

      “Hy het my gekies omdat hy geweet het hy kan my vorm. Hy het geweet ek kan dit word wat hy wou hê ek moet wees. Hy kon nie ’n beter kind daarvoor gekies het nie,” het Malvo gesê.

      Sy woorde weergalm so duidelik in my verhaal. Dit is amper asof dit ek is wat daar praat.

      HOOFSTUK 6

      Cliffie, Koper en die lewe op die plaas

      Twintig mense is dood en 46 ernstig beseer in verskeie bomaanvalle waarby die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) voor 1994 se verkiesing betrokke was. Maar op daardie tydstip het ek nie van hierdie interessante stukkie voorgeskiedenis geweet nie. Op 24 en 25 April het elf AWB-lede pypbomme by verskeie taxistaanplekke geplant, onder meer in Bloedstraat, Pretoria, Breëstraat, Johannesburg en in Germiston. Hulle het ook ’n motorbom laat afgaan op die boonste parkeerarea van die Jan Smuts-lughawe, soos dit toe nog bekend gestaan het.

      Al elf is aangekeer en tussen drie en vyftig jaar tronkstraf opgelê. Vier – Nicolaas Clifton “Cliffie” Barnard, Etiene le Roux, Jan de Wet en Abraham “Koper” Myburgh – het daarna vroeg in 1996 uit die Diepkloof-gevangenis in Johannesburg ontsnap.

      Agterna het Etiene dit gou duidelik gemaak dat hy sy bande met die ander wil verbreek. Cliffie, Koper en Jan de Wet is toe na Andrew “Tommie” Thomson se plaas Erasmuskloof buite Hankey in die Oos-Kaap. Tommie was ook deel van die Israel Visie en het hulle skuilplek gegee. Jan se vrou, Sanet, het ook saam met hulle op die plaas gebly. Sy het glo “dinge gedoen” wat Cliffie en Koper gehinder het. Oor wat die “dinge” was, het hulle agterna verskil. Maar die twee het besluit om haar “stil te maak” en ’n plan beraam. Die mans moes bedags beurte maak om vuurhout bymekaar te maak. Eendag, toe Jan buite sig daarmee besig was, het Cliffie en Koper hul kans gekry. Hulle het Sanet oorval en terwyl die een haar vasgehou het, het die ander een haar met ’n kussing versmoor.

      Agterna het hulle verskil oor hoekom hulle Sanet vermoor het. Volgens een het Sanet ’n verhouding met ’n polisieman aangeknoop, wat ’n risiko vir hulle ingehou het. Die ander een het gesê dat Sanet hulle wou dwing om te getuig voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), wat later sou plaasvind. Die ergste vir my van die hele saak was dat Cliffie, wat gehelp het om Sanet te vermoor, die diens by haar begrafnis gelei het. Daar sou eers jare later geregtigheid vir Sanet de Wet wees toe die twee weens haar moord gevonnis is.

      Nou, hier op Jan se plaas, het my pad met dié van Cliffie en Koper gekruis. Koper en sy vrou, Irene, het op ’n dag op Jan Voetbol se plaas opgedaag. Jan het vir my gesê hulle is armblankes wat baie swaar kry en ook op die plaas gaan help. Ek was totaal onbewus van Koper se terreur-geskiedenis. Ons het dadelik ’n geskikte plek gesoek waar ’n tydelike boskamp met tente in ’n dig beboste gebied vir hulle ingerig is. Koper en Irene het

Скачать книгу