Скачать книгу

uit. In ’n volmaakte wêreld sou my herinneringe dié wees van ’n gelukkige gesin met ’n pa en ’n ma en vier kinders wat saam vakansie hou, kuier, lag en speel. Maar ons lewe nie in ’n volmaakte wêreld nie en dit was nie hoe my kinderdae verloop het nie.

      Ek kan nie onthou presies hoe oud ek was toe sy uit ons lewe verdwyn het nie, maar dit was waarskynlik kort voordat ek skool toe is of net daarna. Dis iets wat my selfs nou nog in die nagte laat wakker lê; wat heeltyd by my spook. Baie oggende word ek wakker met die gedagte: Hoe sou dinge vir my uitgewerk het as sy nie daardie dag besluit het om haar goed te vat en weg te gaan nie?

      Ek kan onthou hoe sy daardie dag die geld vir my gegee het. Op pad kafee toe het ek reeds geweet wat ek vir ons gaan koop: fireballs, ons gunsteling-lekkers. Net Lollo, my jonger suster, sou gewone niekerbols kry omdat sy nog te klein was en die fireballs haar mond gebrand het.

      By my teruggekeer was my ma nie in die huis nie. Aanvanklik het ek nie besef dat sy weggeloop het nie. Later, toe my pa van die werk kom en vra waar my ma is, het ek besef iets is fout.

      Al ander herinnering wat ek van my ma het is een van ’n dag toe sy in die kombuis gestaan en stryk het. Ek het by die tafel gesit en probeer om my naam te skryf. My ouers het my Stefan genoem en ek sou eers jare later, toe Johannes Benjamin van der Westhuizen in my lewe gekom het, Stefaans word. Ek het in die kombuis gesit en my naam met ’n swart pen op een van die houthangers geskryf. Die bondel wasgoed wat my ma moes stryk het langs my op die tafel gelê. STEFAN, het ek geskryf.

      Dit is al kleintydherinnering wat ek van haar het – die dag in die kombuis toe sy gestryk het en die dag toe sy weg is. Ek sou graag herinneringe wou koester van ’n ma wat ons kleintyd in die bed gesit het, ’n storie vir ons gelees het en ons nag gesoen het. Ek kan egter nie een so ’n oomblik onthou nie. Dalk het ek dit net te diep weggebêre.

      My vroegste herinnering is van ’n drieslaapkamerhuis op Virginia, op die Vrystaatse Goudveld. My pa, of Fielies, soos ons kinders en sy vriende hom genoem het, het nie op die goudmyne gewerk nie, maar wel op ’n asbesmyn.

      Ons het in ’n tipiese mynershuis met wit mure en ’n bruin dak in Cobaltweg 147 gebly. Ons erf was groot met lekker speelplek vir ons om te baljaar.

      Daar was nooit geld vir luukshede nie, maar tog is in al ons basiese behoeftes voorsien. Chris en Ina van Rooyen het links van ons gebly. Ons kinders het hulle “Oupa” en “Ouma” genoem, al was daar geen familieband tussen ons nie. Die laerskool Saaiplaas was net een of twee strate agter ons. Daar het ek leer lees en skryf.

      Ons is vier kinders en ek is die enigste seun, gedoop Daniël Stephanus Coetzee, gebore op 22 Oktober 1977 (dieselfde dag as die Leeu van Wes-Transvaal, die Boeregeneraal Koos de la Rey). Johanette is die oudste en ’n jaar ouer as ek. Ná my volg Lindi, ’n jaar jonger, en dan ons babasussie, Marjoré, wat vier jaar jonger as ek is. Ons het haar Lollo genoem.

      Ons was nog almal baie klein toe my ma ons huisgesin vir haar nuwe lewe verruil het. Saam met wie sy weg is, en waarheen sy gegaan het, weet ek tot vandag toe nie. Nie dat dit vandag meer saak maak nie.

      Iemand wat nog nie deur ’n soortgelyke ervaring is nie, sal nie weet watter impak dit op ’n klein seuntjie het nie. Jy soek onmiddellik die fout by jouself. Wat het ek verkeerd gedoen? Hoekom kom my ma nie terug huis toe nie? Gaan sy ooit weer terugkom? Wanneer gaan sy weer terugkom? Hoekom het sy my nie gegroet nie? Het ek haar kwaad gemaak? Dit is van die vrae wat die hele tyd in my kop bly draai het. Saans voordat ek aan die slaap geraak het, het ek gebid en vir Liewe Jesus gevra om asseblief my mammie weer huis toe te bring. Dit het nooit gebeur nie.

      Ek blameer nie my ouers vir my gewelddadige leefwyse nie. Maar tog kan mens nie die gevolge van ’n liefdelose ouerhuis miskyk nie. Dit is ook die vraag wat die Amerikaner Frank Meeink, ’n voormalige rassis en skinhead, gevra het: “Wat as ek beter ouers gehad het?” Gary Chapman noem in sy boek The Five Love Languages dat elke kind ’n sterk basiese behoefte aan liefde het en die wete dat hy of sy welkom is. Ashley Montagu, ’n bekende Britse antropoloog, meen kinders wat nie liefde kry nie, is biochemies, fisiologies en sielkundig baie anders as dié wat wel liefde gekry het.

      My ma was weg, maar ons lewe moes aangaan. Fielies het sy bes gedoen om ons te versorg, ondanks die feit dat hy homself byna doodgedrink het. Nadat my ma weg is, het hy al meer gedrink, so asof hy sy pyn wou wegsuip. Later kon hy nie meer sonder alkohol funksioneer nie.

      Daar was altyd kos op die tafel en skoon klere om aan te trek, maar ek dink dit het nogal baie van Fielies geverg om ons so op sy eie te versorg, om die dubbele rol van vader en moeder te vertolk. Sy chroniese drankprobleem het egter nooit gemaak dat hy aggressief raak en op ons vloek of skreeu nie. Smiddae wanneer hy by die huis kom, het hy kos gemaak en eers wanneer ons klaar geëet het, is hy kamer toe om verder te drink. Daar sou hy bly tot hy die volgende môre moet gaan werk, sonder om weer uit te kom.

      Fielies het vroeër jare in die gevangenisdiens as wag in die kombuis gewerk en daar het hy homself laat tatoeëer. Die lekkerste vir my en my sussies was dan, terwyl hy so sonder ’n hemp op die bed gelê het, half beneweld van al die drank, om al sy tatoes met ons kokipenne in te kleur.

      Al was hy nooit saans nugter nie, het hy elke aand vir ons stories uit die Kinderbybel gelees. Agterna het hy dan vrae gevra om seker te maak dat ons aandagtig geluister het. Een aand kon ek nie die vorige aand se dagstukkie onthou nie. Toe vra Fielies of ek die name van die vier Ninja Turtles (karakters in ’n destydse strokiesprent) kon opnoem. “Raphael, Donatello, Leonardo en Michaelangelo,” het ek dit afgerammel, sonder om te besef dat ek weer in een van Fielies se “strikke” getrap het. “Jy ken die name van comic-helde maar jy ken nie die name van God se geloofshelde nie,” het hy geantwoord. Dit was nie vir hom nodig om my te verbied om TV te kyk as straf nie, ek het my les geleer.

      Fielies was ’n lidmaat van die Volle Evangelie-kerk en hy het ons Sondae by die kerk gaan aflaai. Hy sou nooit self in die kerk ingaan nie. Ek dink hy het skuldig gevoel oor sy drankmisbruik, maar tog wou hy hê dat ons die Here leer ken en daarom het hy ons geneem en in die motor vir ons gewag.

      Fielies het ons ook aangemoedig om om die blok te draf. Dit was ’n taamlike groot blok en hy het ons altyd kans gegee om eerste weg te spring en wanneer ons al ’n hele ent gehardloop het, het hy agterna gekom. Hy het ons elke dag ingehardloop en ver gewen, maar dit het my net gemotiveer om nog harder te probeer. Ek het vas geglo daar gaan nog ’n dag kom wat ek my pa gaan wen, en boonop sonder ’n voorsprong.

      Vir my was Fielies ’n wonderlike pa en ek het, ten spyte van die drank, net goeie herinneringe aan hom. Waar geld tekortgeskiet het, het liefde die gapings gevul.

      Later in my laerskoolloopbaan het ek aan atletiek begin deelneem. Altyd lang afstande. Een van my sterkste teenstanders was Rudi Marx. Dan het Fielies sy bakkie buite die skoolterrein teenaan die heining geparkeer en in die bakkie vir my sit en kyk. Hy sou nooit in die skoolterrein inkom nie. Ek dink hy het geweet hy drink te veel en wou ons nie in die skande steek nie. Wanneer ek dan in die pylvak afkom, kon ek Fielies daar voor teen die draad sien en dan het ek alles uitgehaal vir hom.

      Ek en my sussies moes Fielies smiddae in die tuin help. Daardie jare was die A-Team ’n program wat die hele Suid-Afrika vasgenael voor die televisieskerms gehou het; ook in die Coetzee-huis was dit gewild. Terwyl die eerste deel van die A-Team aan die gang was, kon net die drie meisies kyk – ek moes voortgaan om die tuin nat te maak of ander werkies rondom die huis doen. Met die tweede gedeelte kon ek gaan kyk en dan moes my sussies weer tuin natlei. Ek het Fielies op ’n keer gevra hoekom ek nie die hele A-Team kon kyk nie. “Jy’s ’n man en al die aksie vind aan die einde van die program plaas, daarom moet jy daardie deel kyk,” was die antwoord. Ek het nooit weer daaroor gekla nie.

      Fielies was streng, maar nie onnodig streng of onbillik nie en hy het eintlik ’n baie goeie manier gehad om ons te dissiplineer. Ek kan nie onthou dat hy ooit sy hand vir enigeen van ons kinders gelig het nie, maar as hy straf uitgedeel het, was dit soms bitter swaar. Hy het my eenkeer ’n duur les met my duiwe geleer.

      Hy het my gehelp om ’n hok te bou sodat ek ’n paar duiwe kon aanhou. Ek het uit my sakgeld vir die duiwe voer gekoop en een maand het ek versuim om dit te doen. Fielies het eenvoudig die hok se deur oopgemaak

Скачать книгу